Skip to main content

Uittreksel | Seestrome

Een

Tanya knipper haar oë teen die helder sonskyn. See­meeue krys hoog in die lug bokant haar, hulle wit lywe duidelik afgeëts teen die blou hemel in hulle swerftog oor die strand waar die branders speel. Sy sug tevrede, vry om weer te voel dat sy leef en self die rigting van haar lewe bepaal. Al het sy soms getwyfel oor haar voorneme om hier langs die see op Dwarskersbos na haar verlore menswaardigheid te kom soek, weet sy vandag dit was die regte besluit.

Al kon niemand verstaan waarom sy haar stoksielalleen aan die Weskus wou kom vestig nie, is dit presies hier waar sy wil wees. Sy gee nie om dat dit byna elke sent van jare se spaargeld asook haar ouma se erfporsie gekos het nie. Hier op die drum­pel van die see gaan sy die lewe weer met al twee hande aangryp en Ben se invloed op haar lewe vir altyd agterlaat. Hier sal sy vernietigende woorde vervaag en net ’n slegte ondervinding in haar lewe word. Iets waaruit sy kon leer.

Die seebries pluk aan haar moeselienbloes wat net tot onder haar borste hang en haar dun mid­deltjie skaamteloos vir die son wys. Sy besef dit is ’n effens uitlokkende prentjie so met die kortbroek wat laag op haar heupe sit en ook haar lang, goedgevormde bene ten toon stel, maar daar is geen siel in sig nie. Vandag behoort die strand net aan haar.

Sy maak haar hare uit die haarknip los en die kersieblonde vag val sag oor haar skouers tot in die middel van haar rug. Sy skud haar kop liggies sodat die wind daarin kan speel. Die son prik haar arms, maar sy gee nie om nie. Sy wil die son en die see op haar vel voel. Haar lyf is gelukkig gewoond aan son, daarvan getuig haar diep sonbruin kleur.

Sy lig haar gesig na die hemel en laat haar blou oë onder haar lang wimpers teen die skerp lig skuil. Die son soen haar hoë wangbene en haar fyn neusbrug. Sy weet dat daar na dese dalk ’n konstante blos op haar wange gaan pryk. Selfs dit sal sy met grasie aanvaar. Sy trek die vars seelug diep in haar longe en proe die souterigheid op haar tong. Nes die see­meeue, is sy vry om ten volle haar menswees te geniet, sonder die kettings van ’n verhouding met ’n man wat aan selfverafgoding ly. Die sagte sand kielie haar kaal voete wat hulle in die rigting van die branders draai. Sonder om veel aandag te gee aan waar­heen sy stap, laat sy die onthou terugkruip.

Vier jaar lank het sy dokter Ben Lategan toege­laat om vir haar voor te sê asof sy nie ’n wil van haar eie gehad het nie. Sou sy hom teëgaan, het hy haar afgebreek tot ’n waardelose bondel. Wat sy nie kan kleinkry nie, is haar reaksie daarop. Al die gevaarligte het geflikker, maar haar verliefde hart het die een verskoning ná die ander uitgeryg vir sy gemeenheid. Later het sy bowendien geglo sy verdien dit, selfs die feit dat hy geen geleentheid onbe­nut gelaat het om met elke gewillige meisie in die bed te spring nie.

Tot die oomblik van waarheid wat sy besef het sy kan nie één dag langer so voortgaan nie, want iewers langs die pad het sy opgehou leef. Daardie dag het sy besluit om haar lewe terug te vat. Sy het alle vrees uit haar hart verban en met elke greintjie krag wat oorgebly het, in haarself probeer glo.

Nou is sy hier. Ver weg van alles en almal. In haar eie huis waar net sy en die vrede woon met die klank van walsende branders as sy die vensters oopmaak in haar ore. Aanvanklik het sy die liefde afgesweer, maar soos die dae maande word, het sy vrede gevind en weet sy sy sal weer eendag iemand liefhê. Sy sal egter katvoet wees en nooit weer oor­haastig in ’n verhouding spring nie.

Bowenal is daar ’n voorwaarde wat nooit onder­handelbaar sal wees nie. Sy moet doodseker wees dat die man in haar lewe regtig is wie hy voorgee om te wees. Hy moet haar aanvaar en liefhê vir wie sy is en nie ’n idee of illusie van wie hy wil hê sy moet wees nie.

Sy raak bewus van die branders wat oor haar voete spoel en gril liggies toe yskoue, fyn borrels teen haar kuite uitklim. Sy vlug ligvoetig terug na die droër gedeelte en haar skaterlag bokspring oor die seesand.

Die Weskus se seewater is baie kouer as wat sy verwag het. Geen wonder die mense sê dit is nie ’n plek waar jy in die see swem nie. Sy kyk na waar die horison eindig. Koud ofte nie, sy het klaar haar hart in die branders verloor. Hier in haar eie stukkie paradys.

’n Skaduwee val oor haar voete en sy kyk on­willig in die rigting van waar dit kom. ’n Entjie weg staan ’n man hande in die sye na haar en kyk. Sy ontmoet die sagste goudbruin oë wat sy nog gesien het, en tog voel dit of hulle tot diep in haar siel kan kyk. Haar oë vlug langs sy reguit neus af en talm ’n oomblik op die vol lippe wat beslis ’n vrou kan soen tot sy smeek vir meer.

Sy laat haar oë vinnig agter haar oogwimpers wegkruipplek soek. Sy weet ’n blos het reeds haar wange ingekleur en dit is beslis nie die son se skuld nie. Wat besiel haar om aan sulke snert te dink? Sy loer onderlangs na die man. Hopelik het hy nie haar skaamtelose bewondering opgemerk nie.

Sy is self nie van die kortste vrouens nie, nog­tans troon hy ’n koplengte bokant haar uit. Sy ok­kerneutbruin hare hang in perfekte klein spiraalkrulletjies tot laag in sy nek en die wind speel met die ligte sonstrepe daarin.

Die wit halfoopgeknoopte hemp span oor ’n gespierde borskas, net laag genoeg sodat ’n paar borshare parmantig kan uitloer. Kaalvoet, met sy denim opgerol tot onder die knieë. Sy lyf begeerlik sonbruin. Sy vermoed dat daar nie ’n greintjie vet tussen sy spiere wegkruip nie.

Sy ruk haar oë weg toe sy merk dat hy haar nou self op en af staan en bekyk. Sou hy ook hou van wat hy sien? ’n Skielike benoudheid oorval haar met hierdie gedagte wat sonder waarskuwing sy opwagting maak. Raak sy nou besimpeld om hier te staan en ’n wildvreemde man aan te staar en boonop om te gee wat hy van haar uiterlike dink?

Haar een wenkbrou wip omhoog ten aanskoue van die lag wat aan sy mondhoeke pluk. Sou hy haar ooglopende verwarring amusant vind? Laat sy eerder loop voordat sy van haarself ’n groter gek maak.

Sy draai om en begin wegstap, maar hoor die man se stem bokant die branders se gedruis na haar roep.

“Ek hoop nie ek het jou laat skrik nie? Ek was net nie seker of jy heeltemal bewus is van jou omgewing nie.”

Sy oorweeg dit om eenvoudig net aan te hou stap, maar om een of ander rede wil sy nie hê die man moet dink sy is onbeskof nie. Sy draai stadig om en frons liggies toe die vreemdeling weer ’n paar tree nader aan haar gee.

Die mooi mond glimlag nou vir haar onder sy kortgeknipte snor wat afloop tot in ’n goed versorgde ringbaard. Haar oë volg die duidelike adamsappel wat op en af beweeg. Die warm stem pas by die eienaar se uiterlike. Sy kyk grond toe en sukkel om van die fladdering in haar binneste ontslae te raak. Wat is met haar aan die gang? Hy is tog nie die eerste aantreklike man wat haar pad kruis nie.

Met ’n vinnige handbeweging vee sy die hare, wat die wind speels in haar gesig gewaai het, oor haar skouer weg. Sy moet nou nie gaan staan en stuitig raak oor die vent nie. Net omdat hy haar verbeelding aangegryp het, beteken dit nie dat sy ’n begeerte het om geselsies met hom aan te knoop nie, maar sy kan ook nie kinderagtig wees en hom ignoreer nie. Sy probeer haar stem so gewoon moontlik hou.

“Toemaar, ek skrik nie so maklik nie. Ek het net die branders geniet wat oor my voete spoel.”

Die man knik glimlaggend. “Dit kon ek sien, ja. Soos ek gesê het, ek was bekommerd jy besef nie jy is reeds in die pad van die systrome nie. Die see lyk rustig, maar is soms onvoorspelbaar, en die gety is besig om in te kom.”

Haar oë vernou effens. “Ek is nie onnosel nie, maar dankie. Hierdie water is in elk geval te koud om daarin te wil verdrink.” Sy merk ’n plaerige glim­lag op wat steeds om sy lippe speel. Dan het die vent boonop ’n vreemde sin vir humor ook! Niks hieraan is egter vir haar snaaks nie. Sy het genoeg gehad van ’n man wat dink sy is net ’n onnosele blondine.

Hy beduie met die hand. “Al gluur jy so na my met daardie deurdringende blou oë van jou, sou ek jou beslis gered het. Selfs al beteken dit dat ek self kon verkluim, sou ek dit vat soos ’n man.”

Sy is seker dit is nie al wat hy kan vat soos ’n man nie. Sy verwens die gevoel wat die gedagte in haar hart laat losbreek. Dit is nie moontlik om so gou ná Ben na iemand in haar lewe te verlang nie. Dit is eerder absurd. Sy het besluit op eendag, nie nou nie!

Sy skud haar kop opstandig. “Moenie moeite doen nie.” Sy draai om en begin dadelik wegstap.

“Hopelik sien ek jou weer, rissiepit. Voor jy te ver loop, ek is Ryno. Ryno van den Berg,” roep hy agter haar aan.

Sy antwoord skuins oor haar skouer. “Hopelik nie gou weer nie, Ryno van den Berg.” Haar hart stem skielik nie saam nie en sy byt haar onderlip ontsteld vas. Wat makeer haar? Sy ken die man van geen Adam se kant af nie.

Haar voete vind vanself hulle pad na waar die duine ’n ent verder weg begin. Sy vee stringetjies lastige hare weer oor haar skouer. Die see en Ryno verdwyn agter die eerste duin maar sy het ’n groter afstand tussen haar en die man met die sagte oë nodig. Dalk het sy volgende keer beter beheer oor haar emosies.

Sy raak liggies aan haar borskas en voel die on­stuimige hartslag onder haar vingers. Haar hart moet nou nie gaan staan en neuk om aan die klop te gaan net by die gedagte aan ’n moontlike weersiens nie. Al het sy besluit sy sal eendag weer ’n man wil liefhê, is sy allermins gereed daarvoor. Nee, hierdie gewaar­wordinge wat sy met die ontmoeting van Ryno van den Berg ervaar, is slegs ’n menslike behoefte aan aanvaarding. Daar is in elk geval nie nou tyd vir ’n man in haar lewe nie. Haar eerste prioriteit is om haar beroep voort te sit. Om weer haar selfvertroue in verpleging terug te kry. Nog iets wat Ben van haar gesteel het.

Sy talm waar die grys sandroosbosse op die duinsand groei en sak uitasem tussen hulle neer. Sy draai om sodat sy terug kan kyk in die rigting van waar sy gekom het. Met haar bene tot onder haar ken opgetrek, sluit sy haar arms om haar knieë. Sy laat haar oë op die horison agter die see kuier.

Die drie maande wat sy werkloos was, het sy tol finansieel geëis, en dit is nog ’n rede waarom sy dadelik moet begin werk soek. Dit was seker nie ’n deurdagte besluit om binne vier en twintig uur uit haar pos by die hospitaal te bedank nie. Sy kon een­voudig nie ’n dag langer in Ben Lategan se gesig vaskyk nie. Dit sou onafwendbaar wees om hom in die hospitaalgange raak te loop. Al het sy gevra om na ’n ander afdeling in die hospitaal oorgeplaas te word ken sy hom goed genoeg om te weet hy sou sy posisie as dokter gebruik het om seker te maak sy kan nie vlug nie.

Die afgelope tyd het genadiglik vir haar vuisvoos hart genesing gebring. Ben kon nie haar geloof in die liefde steel nie. Sy het besluit dat een verkeerde keuse nie die verloop haar lewe gaan bepaal nie. Daar sal weer eendag ’n man in haar lewe wees, maar beslis nie nou al nie – al raak haar hart opge­wonde ten aanskoue van die aantreklike Ryno van den Berg.

Sy frons diep. Hoekom bly die sielvolle bruin oë dan voor haar, al het hulle eienaar reeds iewers heen verdwyn? Waarom kry die vreemdeling dit reg om haar te laat voel daar ontbreek iets in haar lewe?

Sy het tog nie ’n man nodig om gelukkig in haarself te wees nie. Hoekom bly haar gedagtes terugdraf na hom toe, asof sy nie bestand is teen die indruk wat hy op haar gemaak het nie?

Dalk woon hy saam met Neptunus onder die see en is hy net ’n dagdroom. Genade, nou raak sy skoon verspot. Hy is beslis van vlees en bloed. Sy moet egter toegee, gemeet aan sy uiterlike, is hy beslis ’n warmbloedige man wat menige vrou se knieë kan lam maak. Sy skud haar kop beslis. Sy weier egter om een van hulle te wees.

Die reuk van son en see slaan teen haar vas. Sy is seker dit sal ook die reuk op Ryno se vel wees, sou sy hom toelaat om naby genoeg aan haar te kom. Iets wat nie weer mag gebeur nie. Veral nie terwyl haar hart met hierdie voortydige versugtinge in laagwater is nie.

Sy skud haar kop liggies en haar hare dans in die wind. Nee, dit is tyd om huiswaarts te keer. Daar waar sy tussen vier mure van vandag se gebeure en die verlange wat dit in haar losgebreek het, kan ver­geet.

Sy staan lui-lui op en begin die terugtog. Sedert die eerste draai van die sleutel in hierdie huisie se slot het sy geweet sy kon nie vir beter vra as dié pragtige uitsig oor die strand direk van haar voor­stoep af nie. Behalwe vir die effens bedompige reuk van te lank toestaan, was sy dadelik ingenome met wat sy gesien het.

Nou kan sy haar familie en vriende gerusstel.

Dit was nie ’n fout om hierdie gemeubileerde huis ongesiens te koop nie; sy hoort hier in haar baksteenhuisie met sy witgeverfde mure en ’n kaggel in die een hoek van die sitkamer vir die nat, koue winteraande as die mis oor die see instoot. Sy kort nog net ’n kat om dit met haar te deel. Of die man met die sagte bruin oë, terg die stemmetjie in haar kop.

Sy snork vies onderlangs. Waar sou dié gekke idee vandaan kom? Sy dwing haar gedagtes met mening terug na haar nuwe tuiste. Sy wil haar omgewing ontdek en dit haar eie maak. Nes hierdie stuk strand en die see wat daarop speel. Gisteraand het die romantiese prentjie deur haar kamervenster van die wit maanhaarbranders wat in die dowwe maanlig oor die strand breek, haar weereens laat besef hoe klein haar wêreld in werklikheid was.

Haar oë dwaal na twee figure wat met iets op die strand besig is. Dit lyk of hulle mossels uitwikkel.

Seekos. Dit is nog ’n vreemde gedagte. Veral die seekatpootjies. As Vrystater is sy gewoond aan skaapboud en gebakte aartappels, maar as sy ’n ware Weskusmeisie wil word, sal sy seker moet leer om seekos te waardeer.

Danksy haar gene, het sy nog nooit nodig ge­had om die skaal te vrees nie. Haar lyf bly rietskraal, maak nie saak wat sy eet nie. Sy kon net altyd glim­lag as haar vriendinne bely het dat hulle haar haar perdebylyfie met verleidelike kurwes op die regte plekke beny. Dieselfde lyf wat sy vir lank nie meer as ’n bate beskou het nie, aangesien dit al was wat Ben wou hê. Sy as mens was niks werd nie.

Sy hou die seemeeue dop wat op en af in die lug vlieg-duik terwyl hulle hard skree. Die branders rol ver uit oor die wit sand en trek diep terug, die see in. Haar voetspore lê afgeteken in die nat sand. Sy dink aan die woorde van ’n bekende liedjie. Ons is gemaak om spore te los. Wag, voordat sy poëties raak, laat sy eerder huiswaarts keer.


Laatmiddag stap sy uit op haar stoep en staan ver­stom ten aanskoue van die son wat ’n sak goud in die see gegooi het. Die branders skiet baldadig goue druppels hoog in die lug op, net om hulle weer te vang. Purper wolke met goue omboorsels lê laag op die horison. Sy gaan sit pens en pootjies bo-op die stoepmuurtjie en laat rus haar rug teen die pilaar terwyl die laaste sonstrale in die see ver­drink.

Die eensame figuur wat afgeëts teen die goue gloed al langs die strand draf, lyk vir haar bekend. Ryno van den Berg. Veerkragtig al verder weg, tot­dat hy oor die duine verdwyn.

So, Neptunus se seun bly iewers hier naby. Seker ’n vakansieganger nes al die ander. Sy moet erken, hy is ’n deksels aantreklike een. Miskien is dit die sagte kyk in sy oë, maar iets aan die man fassineer haar, al is dit teen haar beterwete.

Sy wip van die muurtjie af. Laat sy eerder gaan stort en ’n boek soek om haar gedagtes mee besig te hou. Dit moet die seelug wees wat haar aantas. Dié dat sy sit en dagdroom oor ’n totale vreemdeling terwyl sy weet dit is te gou vir enige romantiese aspirasies. Net om daaraan te dink laat haar keel toetrek.

Sy moet eerder al haar energie gebruik om so gou moontlik ’n werk te kry. Hopelik is daar vakante poste by die plaaslike hospitaal, maar op hierdie stadium sal sy enigiets vat wat sy kan kry.

Later sit sy opgekrul op die rusbank. Met die leeslamp as enigste lig, staar sy nikssiende voor haar uit, die boek op haar skoot reeds vergete. Haar gedagtes loop al weer vanself terug na die oomblik wat haar pad met dié van Ryno gekruis het. Wat sou hy vir ’n lewe doen?

Sy frons diep. Hoekom kan sy nie net aan hom dink as ’n toevallige man wat op dieselfde tyd as sy langs die see gaan stap het nie?

Sy staan op en skakel die leeslamp af. Dalk is dit beter dat sy vroeg in die bed kruip voordat haar ver­beelding heeltemal die kluts kwytraak en sy meer aandag daaraan gee as wat nodig is.

Al knyp sy haar oë styf toe, iewers in die ske­merte wag ’n figuur met goudbruin oë en ’n stem wat haar lok om nader te kom.