Uittreksel | Seenimf en die skeepsdokter
Een
Kira hys haar oor die muur en spring aan die ander kant af. Sluip deur die klein tuintjie en gaan klop aan haar vriendin en buurvrou se deur. Haar asem jaag en sy bibber van die koue, want haar sweetpak en trainers beskerm haar nie juis in die middernagtelike uur teen die herfskoue nie.
Terselfdertyd sweet sy van angs. Die lig gaan binne aan en skyn deur die vensters.
Sy hoor ’n geskuifel en vermoed Alma kyk nou deur die loergaatjie. Die slot knars en die deur gaan oop op ’n skrefie. Die veiligheidsketting is egter aan. Alma se verskrikte gesig kyk na haar.
“Hemel tog, Kira! Wat makeer? Dis al middernag.”
“Kan ek asseblief inkom? Daardie mal man wat my nie kan uitlos nie, is by my huis.”
Alma verwyder die ketting, trek haar in en sluit weer. “Agge nee, nou kom hy wragtig sommer in die nag ook by jou aan!”
“Hy kry my nie in die dag in die hande nie, al bel hy heeltyd. Ek sit die foon op silent en delete al sy boodskappe. Hy spioeneer op my en het my natuurlik huis toe gevolg. Nou weet hy waar ek woon, en kom teister hy my hier. As ons in ’n veiligheidskompleks was, sou die hekwag hom kon weghou. Ek dink ek moet na so ’n plek trek. Ek het my voorhek gesluit, maar soos jy weet, is die muur nie juis hoog nie. As iemand wil inkom, sal hy dit maklik regkry. Ek het iets by die venster gehoor en uitgeloer, en dit was hy. Toe sluip ek by die agterdeur uit na jou toe.”
“Foeitog, kyk hoe bewe jy! Ek dink ons bel die polisie en ek maak vir jou lekker soet tee.”
“Dankie. Ek kon seker die polisie gebel het, maar wat sê mens vir hulle? Daar’s ’n mal man wat my stalk, ek is bang vir hom, help my?”
Alma frons. “Jong, as dit te erg raak, kan jy aansoek doen vir ’n interdik teen hom. Dis ’n helse proses, maar dit sal dalk nodig word. So kan dit wragtig nie aangaan nie. Hy’s totaal obsessief oor jou vandat jy hom in die hospitaal verpleeg het. Hy kan jou eenvoudig nie uitlos nie, en dis regtig scary. Kom ons gaan maak tee in die kombuis, dan bel jy die polisie veiligheidshalwe. Dalk kom jaag hulle hom weg. Ons kan net probeer.”
Kira sit op een van die hoë stoele by die kombuistoonbank en soek op haar selfoon na die polisie se nommer. Intussen skakel Alma die ketel aan.
Iemand by die klagtekantoor antwoord en Kira stel haar saak. “Die man agtervolg my en probeer my heeltyd in die hande kry. Hy’s nou by my huis en ek het oor die heining na my buurvrou se huis gevlug.”
Die polisiebeampte vra die adres. “Ons stuur ’n voertuig uit.”
“Baie dankie.”
Sy lui af en kyk na Alma. “Die polisie kom kyk. Ek hoop dit maak hom skrik.”
“Hoe lyk sy motor?”
“Ek weet nie, maar daar staan seker een in die straat. Kom ons loer by die venster uit.”
Alma skakel die sitkamerlig af en hulle staan in die donker by die venster.
“Ek sien ’n yslike dubbelkajuitbakkie daar oorkant,” sê Kira. “Met niemand in nie. Dit kan syne wees.”
“Daar beweeg iets in jou voortuin. Dis seker hy wat daar rondsluip, die vervlakste crank!”
“Ek hoop die polisie kom gou.”
Hulle wag in spanning en loer na buite. Die persoon in die voortuin loop na die muur en hulle sien hoe hy oorklim. Net so vinnig en maklik soos wat Kira na Alma oorgeklim het. ’n Enjin brul en met ’n vaart trek die bakkie weg.
Kira kan huil van teleurstelling. “Ag nee, hy kom sowaar weg voordat die polisie opdaag!”
“Daar kom hulle nou. Nét te laat.”
Kira sien blou ligte flits en die polisievoertuig hou in die straat stil. Sy en Alma gaan uit om met die beamptes te praat.
“Die man wat my teister, is pas hier weg,” sê Kira vir die konstabel wat uit die voertuig klim. “Hy was in ’n dubbelkajuitbakkie wat seker by julle verbygery het.”
Onder die straatlig kan sy sien die polisieman lyk skepties. “So, hy’s weg, dame?”
“Ja, hy’s weg. Jammer dat julle hom nie gekry het nie. Jammer dat julle tyd gemors is terwyl julle soveel ander probleme het om te hanteer. As julle net vinniger hierheen gekom het, sou julle hom betrap het.”
“Laat maar weet as dit weer gebeur, dame,” sê die polisiebeampte beleefd, klim in die voertuig en ry weg.
“Wil jy veiligheidshalwe vannag by my oorslaap?” vra Alma.
“Ja, asseblief. Sommer op jou rusbank. Die vervlakste Jeremy Bothma maak my lewe hel. Ek kan nie so in spanning en vrees lewe nie.”
Die volgende oggend maak Alma haar met koffie en beskuit wakker waar sy op die rusbank vas aan die slaap geraak het.
Sy sit regop. “Hoe laat is dit?”
“Halfsewe. Hoe het jy geslaap?”
“Ek het eers lank wakker gelê, toe raak ek natuurlik aan die slaap kort voordat ek moet opstaan.” Sy neem die koffie en beskuit. “Dankie, jy’s ’n pel duisend.”
Alma sit op ’n stoel ek kyk hoe sy haar beskuit in die koffie doop en ’n hap vat. “Dié Bothma-vent stalk jou nou al hoe lank? Twee weke?”
Kira sluk. “Ja, omtrent.”
“Dit sal natuurlik ’n oplossing wees om ’n ruk lank weg te gaan, waar hy jou nie kan opspoor nie.”
Kira frons vir haar. “Waarheen? Ek moet werk, ou sussie. Ek kan nie sommer net verlof neem nie.”
“Gaan op ’n skeepsreis.”
“Wat?” Kira lag spottend. “Is jy van lotjie getik? Dis veels te duur vir my.”
“Soek werk op ’n skip. Die groot cruise liners het almal mediese personeel. My kleinneef werk as ’n dokter vir Dream Cruises. Daardie groot wit skepe lyk mos soos drywende stede. Hy’s juis nou in Kaapstad vir ’n kort vakansie. Kuier by sy ma. Moet ek hom vra of hulle ’n vakature vir ’n verpleegster het?”
Kira kyk oorstelp na haar. “Dit sou wonderlik wees, maar ek twyfel of hulle op so ’n kort kennisgewing ’n vakature sal hê.”
“Wel, ek bel hom vanoggend en vind uit. Dit sal jou probleme oplos.”
“Asseblief.” Hoop vlam in haar op, maar twyfel temper dit.
Kira loop in die hospitaalgang af. ’n Man kom van die teenoorgestelde kant af aangeloop. Sy skrik haar yskoud toe sy Jeremy Bothma se fris lyf, vaal hare en verbete gesig herken. Hy is ’n ryk boer en kom normaal en alledaags voor, maar hy is allesbehalwe normaal.
Sy draai om en loop vinnig terug, maar hy hardloop agter haar aan, gryp haar aan die skouers en draai haar om. “Dit help nie jy vlug heeltyd vir my nie, Kira,” hyg hy. “Ek wil jou hê, en ek sál jou kry.”
Sy is gewalg en spartel woes, maar hy is sterk en probeer haar soen. Sy gil en hoor mense aangehardloop kom. Dis een van die dokters in sy operasieklere en ’n ander verpleegster.
“Help,” smeek sy.
“Los haar!” beveel die dokter.
Jeremy Bothma laat haar gaan en sy tree bewend tru. “Dokter, dié man is ’n oudpasiënt wat my verpes.”
“Verpleegster, gaan roep sekuriteit dat hulle dié man kom arresteer,” beveel die dokter.
Jeremy Bothma vlieg om en storm weg, verdwyn om ’n draai in die hoofingang se rigting. Kira bewe van kop tot tone. Die dokter is middeljarig en vaderlik.
“Jy’s doodsbleek, Suster. Kom ons gaan kry vir jou soet tee vir die skok.”
Sy loop saam met hom na die teekamer, wil amper by hom inhaak, só groot het sy geskrik.
“Het jy al die man by die polisie verkla?” vra die dokter. “Hy lyk vir my versteurd en kan gevaarlik wees.”
“Ek het, maar hulle het niks gedoen nie. Ek lewe omtrent in vrees.”
Hy wag dat sy vir haar tee maak. “Ek moet ongelukkig nou gaan. Wees versigtig, Suster. Laat ons sekuriteitsmense jou beskerm, so ver dit moontlik is, en kyk of jy ’n interdik teen die man kan kry.”
Sy roer suiker in die tee. “Dankie vir die hulp, Dokter. Ek sal iets moet doen, want dié man maak my bang.”
Hy glimlag. “Dis ook maar moeilik om so mooi te wees, nè?”
Hy gaan na buite en Kira teug aan die tee. Ongelukkig trek sy te dikwels die verkeerde soort aandag. Dis nou maar ’n las wat sy moet dra. Haar hande bewe steeds van skok en sy is net duskant ’n angsaanval. Hopelik sal die tee help om haar te kalmeer.
Nou wil sy met alle geweld weggaan na iewers waar die walglike man haar nie in die hande sal kry nie.
Terwyl sy later middagete in die hospitaal se kafeteria eet, lui Kira se selfoon. Dit is ’n onbekende nommer en sy is bang om te antwoord. Dalk is dit die maniak. Sy vat ’n kans.
“Ja?” antwoord sy, gereed om die foon dood te druk.
“Is dit Kira Louw?” vra ’n diep stem in Engels.
“Ja. Wie praat?”
“Ek is Albert Dorell, Alma Bester se kleinneef.” Hy spreek sy naam op die Franse manier uit. Dit klink soos Albêr.
Kira se hart begin sommer vinniger bons. “Die dokter op die cruise liner?”
“Ja. Ek werk op een van Dream Cruises se skepe, die Sea Nymph. Alma sê jy soek dringend werk.”
“Ja. Het sy jou vertel van die man wat my stalk?”
“Sy het.”
“En? Het julle dalk ’n vakature vir ’n verpleegster?”
“Ek kan hoor jou Engels is goed. Dit is ’n vereiste. Ek sal kyk wat ek kan doen, maar ek wil jou eers ontmoet. Kan jy vanaand na die Waterfront kom?”
“Ja, ek kan. Baie graag. Waar en hoe laat?”
“Sesuur in die sitkamer van die Table Bay Hotel. Is dit reg so?”
“Ja, ek sal daar wees. E . . . hoe lyk jy?”
“Lank en donker, maar ek sal die personeel by Ontvangs sê ek verwag iemand. Vra net vir hulle waar ek is.”
“Dankie.”
Daardie aand trek sy haar mooi aan, was en stileer haar roesbruin hare en grimeer liggies. Haar groen oë is gewoonlik vir mense opvallend. Sy het nie nodig om veel ooggrimering te gebruik nie.
Haar hart trommel behoorlik ’n deuntjie toe sy by die groot luukse hotel se ingangsportaal instap. Sy loop na Ontvangs. “Goeienaand. Ek het ’n afspraak met dokter Albert Dorell. Kan u my sê waar hy is, asseblief?”
Die meisie beduie na ’n man wat aangeloop kom. “Daar is dokter Dorell, dame.”
Kira is so onkant betrap dat sy vergeet om dankie te sê. Die man wat al nader kom, slaan behoorlik haar voete onder haar uit. Hy is baie lank, met donker hare. Sy spierwit hemp beklemtoon dat hy bruingebrand is. Hy het breë skouers en ’n lenige lyf, lang bene in swart denims en ’n selfversekerde houding. Hy is die manlikste, mees opvallende man wat sy nog ooit gesien het. Haar hart spring amper by haar keel uit toe hy voor haar kom staan en sy hand uitsteek. Die skok van sy aanraking spoel deur haar lyf.
“Kira Louw? Presies ’n meisie met roesbruin hare soos my niggie beskryf het . . .”
“Ja, dis ek.” Ag, hoekom klink haar stem tog so asemrig? Hierdie man is seker alte gewoond daaraan dat hy op enige rooibloedvrou ’n impak sal hê. Sy ruk haar reg. “Dankie dat jy bereid is om my te sien.”
Indien hy haar wil sien, is haar kanse vir ’n pos seker nie nul nie . . .
“Kom ons gaan sit, dan bestel ek vir ons iets om te drink.”
Hy lei haar na ’n bank en twee gemakstoele by ’n lae tafel. Sy gaan sit en kyk hom reguit aan. Probeer om nie te wys hoe sterk hy haar beïndruk nie.
Hy wink ’n kelner nader. “Wat drink jy? Tee of iets alkoholies? Ek gaan vir my ’n drankie bestel.”
Sy kyk na die kelner. “A single gin and tonic, please.”
“Scotch and soda for me, thanks,” sê die dokter en noem ’n duur whisky.
Hy gaan sit en kyk haar ondersoekend aan. Begin haar uitvra oor haar kwalifikasies en ondervinding. Sy het afskrifte saamgebring en haal dit uit haar handsak, oorhandig dit aan hom. Hy kyk daardeur en sy hou hom stip dop.
“Jy het ’n gevorderde noodhulpkursus gedoen,” sê hy oplaas. “Jy’s reeds ’n suster, al lyk jy nog so jonk.”
“Ek’s al sewe en twintig; nie meer so jonk nie.” Sy is toegewyd en hardwerkend, maar dit moet hy maar self aflei.
Hy glimlag, sy tande spierwit en volmaak. Hoe kan ’n gewone man wat nie ’n model of filmster is nie, so vervlaks stunning wees? Hoe oud sou hy wees? In sy dertigs, skat sy. Lyk hy ook jonger as wat hy werklik is? Hy is tien teen een getroud, met kinders. Sy sal vir Alma oor hom moet vra. Só ’n hunk het sy sowaar nie verwag nie.
Hulle drankies kom. Sy’s erg op haar senuwees en is bang hy sien haar hand bewe. Sy neem ’n vinnige sluk. Hy, daarenteen, neem rustig ’n eerste sluk en sit sy glas op die tafel neer. Kyk haar priemend aan met sy grys oë wat die kleur is van donker wolke op ’n onweersdag.
“Ons het reeds ’n hoofverpleegster. Indien jy ’n aanstelling kry, sal dit ’n laer rang wees as jou huidige een in ’n hospitaal, maar die betaling is goed. Ons het drieduisend passasiers om na om te sien. Ook bemanning. Ons mediese afdeling bestaan uit twee dokters, drie verpleegsters, twee fisioterapeute en twee ontvangsdames. Die skip vertrek eers oor ’n week vanaf Kaapstad, vaar om die weskus van Afrika na Gibraltar, Malta, Sisilië en Sardinië. Oral meer dit vas sodat die toeriste binnelandse toere kan doen. Daarna vaar dit terug om Afrika na Kaapstad.”
“Dit klink na ’n heerlike toer.”
“Ja, maar ons is daar om te werk, nie vakansie te hou nie. Hoewel ons darem ook by aanmeerplekke aan wal kan gaan. Ons kry verlof wat ons shore leave noem; ons moet mekaar aflos sodat daar altyd iemand aan diens is.”
“Die mense op die skip is seker ’n wye verskeidenheid.”
“O, ja. Die passasiers is ’n bonte mengelmoes van tale en kulture. Die skip is baie luuks en die mense verwag natuurlik uitstekende diens, veral dié in die duurste kajuite. Daar is heelwat restaurante, sitkamers, kroeë, ’n nagklub, spa en gim, boetieks, skoonheidsalonne, swembaddens, ’n casino én ’n groot balsaal wat ook ’n konsertsaal is. Om die mense te vermaak, is daar vertonings, kabarette, danse, verrykingsprogramme en speletjies. Alles waaraan ’n mens kan dink. Dis eintlik ’n mikrokosmos. Op só ’n plesiervaart gee mense hulle oor aan allerlei lewensgenietinge, en die oordaad het soms slegte gevolge. Veral as hulle aan hoë bloeddruk of cholesterol ly.”
“Hoe lyk die mediese fasiliteite, Dokter?”
“Ons mediese sentrum het binnepasiëntbeddens, een hoësorgkamer, ’n ontvangslokaal, ’n X-straalkamer en behandelingskamer. Ons verskaf self medikasie, maar daar is ook ’n apteek op die skip. Ons het goeie toerusting. Defibrilleerders, EKG-masjiene, ventilators, hartmoniteringstelsels en infusiepompe; alles wat nodig is, selfs rolstoele, krukke en so aan. Soms kry ons met krisisse soos hartaanvalle te doen. As pasiënte ernstig siek word, moet ons hulle per helikopter evakueer. Ons wil nie sterftes op die skip hê nie.”
“Klink of julle omtrent goed ingerig is . . .”
Sy wil verwelk onder daardie blik wanneer hy haar so stip aankyk.
“Dis nie baie groot nie. Die meeste kwale wat ons behandel, is maar seesiekte, voedselvergiftiging, tropiese peste, gewone virusse en ernstige sonbrand; soms klein ongelukkies, migraine, en so meer.” Hy grinnik. “Natuurlik ook ipekonders en neuroses. Ons werk skofte en het kliniekure twee keer per dag.”
Hy sluk van sy whisky. “Kry jy die prentjie? Jy moet weet waarvoor jy jou inlaat. Soos ek sê, dis nié ’n vakansie nie, maar dis ook nie doodwerk nie. Kan jy geduldig wees met mense met allerhande ipekonders?”
Sy lag. “Ek was al geduldig met sulke mense. En ja, ek is van nature geduldig. ’n Verpleegster moet mos maar wees.”
“Ek het al voorheen gekla dat ons te min personeel het. Daarom gaan ek kyk of ek toestemming kan kry om jou ook aan te stel. Ek hoop ek slaag daarin. Ek wil jou nie valse hoop gee nie, maar ek wil ook nie hê jy moet moed verloor nie. Ek sal jou binne twee dae kan sê wat my base besluit het. Is dit reg so?”
“Ja dankie, Dokter. Dis natuurlik reg so.”
Vir dié werk gaan sy aanmekaar bid. Behalwe dat dit haar in staat gaan stel om weg te kom van haar teisteraar, sal sy darem alte graag saam met dié uitsonderlike man wou werk.
Gaan sy hom weer sien, of sal hy haar oor die foon laat weet dat hy haar nie kan aanstel nie, wonder sy opeens. Hy’s nie ’n man wat sy sommer sal kan vergeet nie, want gewis maak hy ’n onuitwisbare indruk.