Skip to main content

Uittreksel | Salemstraat

PROLOOG

Emilee

Die kraaie kom in die middel van die nag.

In die huis is dit donker, maar die tuin is helder verlig deur sekuriteitsligte. Sy weet nie hoe lank sy al hier sit nie. ’n Uur, ’n dag, ’n leeftyd.

Sy staar na die grasperk. Die ysig blou neonlig suig al die kleur uit die tuin. Daar is geen pienk, groen of rooi nie. Als is ongenaakbaar helder en blouwit.

Sy skrik toe die kraai fladderend op die grasperk land. ’n Kraai met ’n wit bors, sy vlerke swart en glad. Die kraai maak sy bek oop en skreeu. Skril. Skokkend kras. Kraaaaau! Kraaaau!

’n Antwoord weerklink uit die stikdonker.

Kraaau! Kraaau!

Weer ’n gefladder. ’n Geklap van vlerke.

Meteens is die hele dak vol kraaie. Ses kraaie. Tien. Later maklik vyftien.

’n Kras koor van kraaie bars los.

Kraaau! Kraaau!

Dis asof hulle vir haar iets probeer sê, ’n dringende boodskap waarop sy ag moet slaan. Sy hoor nie die voetstappe nie. Toe is hy by haar, sy hand op haar skouer. Haar man.

“Wat gaan aan?” vra ML.

Die kraaie styg op soos ’n onweerswolk. Die dak is ewe skielik leeg, asof dit net ’n droom was. Toe hy na buite loer om te sien waarna sy gekyk het, is die kraaie weg.


Maart 2022

Hoofstuk 1

Ann

James, toegewikkel in een van sy gehekelde kombersies, snork lig­gies. Haar ou oodle-noodle. Soms voer sy denkbeeldige gesprekke met haar getroue bulterriër ná ’n lang dag met haar kliënte.

Vandag was nou regtig ’n goor dag, James.

H’m. Is die yskas leeg, Ann?

Nee, James.

Het die huis afgebrand?

Nee, James.

Gaan jy my ’n drukkie kom gee?

Natuurlik!

Nou ja, toe. Dan is dit ’n goeie dag.

Deesdae is die goeie dae darem meer as die slegtes. Vandat sy as staatspsigiater bedank het, is sy gelukkig om privaat werk van die huis af te doen met net haar liewe James as kollega.

Die ure by die kriminele afdeling van die Molenberg-psigiatriese hospitaal was ondankbaar en uitmergelend lank. Mens kan net só lank met ernstig misdadige psigiatriese gevalle werk voordat dit jou besmet. Waansin is natuurlik nie aansteeklik nie, maar vrees is.

Omtrent elke week was daar ’n insident. Geweld. Gevaar. ’n Skisofreen het ’n medepasiënt in sy slaap verwurg. Kort daarna het ’n sekshandelsindikaat van hul vrouepasiënte ontvoer. Een is dood gevind in ’n rivier. Verlede jaar het ’n pasiënt een van hul personeel­lede, George, met ’n stuk gebreekte glas keelaf gesny.

In een stadium wou sy nie eens meer uit die bed opstaan om Molenberg aan te durf nie. Die monsters was nie meer onder die bed nie, maar in haar werkplek. Die ongediertes het voor haar gesit, in haar kantoor, in haar stoel. Hoeveel wreedaardighede moes sy nóg aanhoor? Kinderverkragtings. Kannibalisme. Nekrofilie. Die jag van mense soos diere. Buig haar vooroor, sny haar kop af. Siem­bamba, dan is sy dood.

Sy gaan sit agter haar lessenaar en skakel haar rekenaar aan. Die bloedspoor van waansin en geweld het elke dag net dieper en bloederiger deur Molenberg begin loop. Vrees het druppel vir drup­pel deur die ou hospitaal se muwwe mure gesypel waar dit uitgelek en aan haar bly kleef het. Sy kon saans nie meer die angs wegwas nie. Haar geliefde joejitsoe-vegkuns het nie meer gehelp nie.

Die monsters was besig om in haar kop te klim. Toe bedank sy.

Deesdae fokus sy op mense wat gehelp wíl word. Oorkant haar, op sy stoel, maak James sy een oog oop, so asof hy haar gedagtes lees. Worrie jy al weer, Ann? Kom krap eerder my kop, toe.

Terwyl die rekenaar laai, staan sy op en stap na die boekrak waar haar lêers vir vandag lê en wag. Op pad soontoe gee sy James ’n krappie. Hy los ’n ligte, behaaglike poep.

Sy tel die eerste lêer op: Emilee Lambrecht en Markus Louis Lambrecht. Huishoudelike geweld. Vrou het haar man doodgeskiet. Liz, wat die vrou gaan verdedig, het versoek dat sy ’n sielkundige verslag saamstel. Sy sal in die vrou se kop moet klim. Uitvind of sy mishandel is tot oor die drumpel van normaliteit – en of sy toerekeningsvatbaar tydens die daad was of nie.

’n Koue snoet druk teen haar been. Sy tel vir James op haar skoot. Hy gee haar ’n sielvolle kyk.

Mense is ook maar opgefok, James.

Nou praat jy, Ann.