Uittreksel | Saggies ontwaak my hart
Een
“Jy weet, Karen, ek kan nog steeds nie glo wat hier gebeur het nie. Ek misgis my tog seker nie, of hoe?”
Karen sug liggies. Retha sal nie rus voordat sy die antwoord gekry het waarop sy reken nie. Dit beteken sy sal moet erken dat sy verlief is, al strook dit glad nie met haar dikwels uitgesproke verklaring dat sy nog lank nie ’n spesiale man in haar lewe wil hê nie. Sy het dit duidelik uitgespel dat sy volkome in staat is om op haar eie twee bene te staan en die lewe se uitdagings sonder enige manlike ondersteuning die hoof te bied. Haar pa het haar immers geleer hoe om motorbande om te ruil en muurproppe reg te maak. Eers oor agt jaar, wanneer haar dertigste verjaarsdag naby is, sal sy dalk daaraan begin dink om een van die vele belangstellendes ’n kans te gee om haar regtig goed te leer ken.
Toe ontmoet sy George Ferreira . . .
“Wat dink jy het gebeur, Retha?” wil sy darem eers ontwykend weet.
“Ek dink, liewe onafhanklike koelkopvrou van die een-en-twintigste eeu, dat jy week geword het toe twee pragtige blou oë in joune afgekyk en ’n lang man met ’n diep stem te kenne gegee het dat hy mal is oor jou. Dit is in elk geval hoe die tweeling hom om die beurt Saterdag vir my beskryf het. Toe, ek is jou heel beste maatjie en ek was nou lank weg. Vertel!”
Retha is vroeg in Januarie terug na haar ouers in Middelburg. Haar ma het sedert Kersfees baie vinnig begin verswak na ’n jare lange stryd teen kolonkanker. Tydens die eerste besoek aan die onkoloog in die nuwe jaar het sy dit duidelik gestel dat sy nie kans sien vir verdere chemoterapie nie. Die spesialis en haar man het dit so aanvaar en daar is besluit om voortaan net pynbeheer toe te pas en haar so lank moontlik tuis te versorg. Toe Retha se pa haar laat weet het dat dit die terminale fase van die siekte is, is sy terug om haar ouers te gaan ondersteun. Sy het net ’n jonger broer wat op die oomblik oorsee is. Gelukkig kon sy reëlings tref met die dosente wat vir die eerste modules van die Sielkunde-honneurskursus verantwoordelik is. Daar is hoofsaaklik leeswerk, en die eerste taakopdragte word in elk geval elektronies ingestuur.
Die laaste fase het nog ’n uitmergelende drie maande geduur, maar twee weke gelede het Retha laat weet dat haar ma se lyding genadiglik verby is. Sy wou nie hê Karen moet Middelburg toe ry vir die gedenkdiens nie. Hulle gaan dit klein hou en vinnig afhandel want haar pa is baie uitgeput en broos, en sy suster-hulle wil hom saamneem wanneer hulle terugry Mosselbaai toe.
Saterdag, die dag nadat sy terug was van Middelburg af, sê Retha nou, wou sy by Karen kom inloer. Toe moes sy by die tweeling, twee vrolike rooikopmeisies wat nou ook al twee jaar in die kommune woon, hoor dat haar vriendin en die se mooi kêrel gaan fliek het. Sy het seker vir hulle taamlik skepties gelyk, want hulle het dadelik in liriese taal uitgewei oor die man se indrukwekkende voorkoms en haar verseker dat Karen en hy ewe mal is oor mekaar. Daar het duidelik terwyl sy weg was groot veranderings in Karen se lewe gekom en sy kan nie een dag langer wag om alles te hoor nie.
Hulle sit saam in Karen se kamer in die kommune, Retha met opgetrekte bene op die bed en Karen op een van haar strooikussinkies op die mat.
Waar sal sy begin? Dit het eintlik so vinnig gebeur.
Haar gunstelingneef wat in die Kaap werk, was in die laaste week van Januarie vir ’n paar dae vir sy werk in Pretoria en hulle het afgespreek dat hy haar Saterdagmiddag by die kommune sal kom op laai vir koffie. Sy het uitgesien na hulle kuiertjie en na die nuutste brokkies oor Judy, hulle flambojante niggie wat ’n loopbaan as aktrise in Hollywood najaag. Steyn hoor alles by sy ma, wat dit weer by Judy se ma hoor.
Karen was bietjie afgehaal toe sy die middag saam met haar aantreklike neef na sy motor toe loop en sien daar is iemand op die agterste sitplek.
“O, terloops, nig,” sê Steyn effens verskonend, “ek het ’n vriend van my genooi om saam te kuier vanmiddag. Ons was pelle op skool, maar ons het kontak verloor totdat hy ook in Kaapstad kom werk en ons mekaar toevallig raakgeloop het. Daarna het ons gereeld saam uitgehang. Nou het sy firma hom Pretoria toe verplaas, waar hy geen mens ken nie. Al sy familie en vriende is Bolanders. Hy weet van my niggie wat hier woon, want ek spog graag met jou, en toe hy hoor ek kom Pretoria toe . . .”
“Jy weet goed, Steyn van Deventer, dat ek nie op die uitkyk is vir ’n man nie,” onderbreek sy hom vies.
“Nee, wag nou, Karen,” keer hy haastig, “jy verstaan verkeerd. Ek weet mos jy is uitgesproke gekant teen vaste verbintenisse op jou jeugdige ouderdom. George soek ook nie dringend vrou nie. As hy nou al een wou hê, sou hy kon kies en keur, want die vroumense is gaande oor hom. Maar hy wil net graag deel word van ’n groep vriende saam met wie hy soms goed kan doen. Hy sê hy glo nie daaraan om buite werktyd kollegas se drumpels stukkend te trap nie. Jou rol sal net wees as sy vriendskapbestuurder – ’n soort PR.”
Dit sal seker haar neef in die verleentheid stel as sy nou sou weier om in die motor te klim. Buitendien sit die vriend darem nie vir haar en wag met ’n huweliksaanbod gereed nie!
Die man klim uit toe sy en Steyn nader kom en staan beleefd en wag dat Steyn hulle aan mekaar voorstel.
“Karen,” sê haar neef plegtig, “ontmoet George Ferreira. George, dis nou my lieflingniggie, die mooiste, slimste, oulikste . . .”
“Hou nou maar op nonsens praat, Steyn.” Sy knik koeltjies vir sy vriend, maar laat rus toe tog haar hand vir ’n oomblik in sy uitgestrekte een. Hy moet darem nie dink Pretorianers het swakker maniere as Bolanders nie. Sy kyk net vlugtig in die vreemdeling se gesig op – en dis nogal ver om op te kyk – maar dit is dadelik vir haar glashelder waarom Steyn kon beweer dat die vroumense gaande is oor George. Alles omtrent sy voorkoms tel in sy guns: sy lang, lenige lyf, helderblou oë, netjiese neus en verbrands mooi mond. Die “Middag, Karen” klink ook veelseggender as net twee woorde omdat die man se stem so buitengewoon diep is.
Hulle gaan drink koffie by ’n buitelugrestaurant in ’n groot kwekery. Vooraf loop hulle eers ’n tyd lank tussen die mooi plante en waterfonteine rond. George vra haar tussendeur vriendelik uit oor haar studie en loopbaanplanne, maar nie so dat dit haar ongemaklik laat voel nie. Op haar beurt vra sy oor sy werk. Toe hy antwoord dat hy na lang studiejare twee jaar tevore as aktuaris by ’n konsultasiefirma begin werk het, merk haar neef terloops op dat die pos in Pretoria bevordering is.
“George is besig om die suksesleer te klim,” sê Steyn droogweg, “en die rande gaan nou al hoe vinniger inrol.”
Haar neef ken haar mos darem goed genoeg om nie sy vriend aan haar te probeer opveil omdat hy blykbaar skatryk gaan word nie. Haar ouers is albei onderwysers en hoewel hulle vier kinders nooit een dag honger gely het nie, het die rande vinniger uit- as ingerol omdat daar soveel gate toegestop moes word. Soos haar ouer broer en suster, wat al twee nou al werk, het sy ook geweet sy moet goed vaar in matriek om in aanmerking te kom vir ’n studiebeurs wat ’n deel van haar uitgawes op universiteit kon dek. Haar jonger broer is darem nou in matriek, en die druk op haar ouers se inkomste word minder.
Sy het nietemin tot nou, in haar laaste voorgraadse jaar, nog in die kommune aangebly eerder as om op Retha se voorstel saam met haar in ’n woonstel in te trek. Sy wil haar verblyfuitgawes so min moontlik hou omdat haar pa dit nog betaal. Volgende jaar, wanneer sy hopelik ’n goeie werk in die voedselbedryf gaan losslaan, kan hulle weer gesels, het sy haar vriendin belowe. Daar was dus altyd beperkinge op geldelike gebied, maar hulle hegte, liefdevolle gesinsbande beteken veel meer as wat sakke vol geld ooit sal kan koop. As sy eendag lief raak vir ’n ryk man sal dit ’n bonus wees, maar dis nie ’n absolute voorvereiste nie. Innerlik glimlag sy vir haar eie gedagtes.
Steyn en George het intussen by die struike-afdeling gaan stilstaan. Haar neef was van kleins af ’n tuinentoesias en weet alles van blomplante, struike en bome wat daar te wete is. Karen lei uit hulle gesprek af dat George ’n meenthuis in ’n splinternuwe uitbreiding in die ooste van Pretoria gekoop het. Daar is glo nog geen teken van ’n tuin nie en George vra nou raad by sy vriend oor die regte bome en struike om te plant. Hy staan eers aandagtig na Steyn en luister en haal toe sy foon uit om name van struike in te tik.
Hy het goeie kommunikasievaardighede. Seker noodsaaklik in sy soort werk omdat hy kliënte sal moet oortuig om van sy uitmuntende dienste gebruik te maak, is haar ietwat siniese tweede gedagte. Net toe draai George na haar toe en betrek haar ook vriendelik by die gesprek. Miskien kom sy goeie kommunikasiestyl vanself en is dit nie ingeoefen nie, dink sy bietjie verleë. Ook toe hulle daarna gaan koffie en melktert soek, vlot die geselskap en kan sy sien dat Steyn tevrede lyk omdat sy vriend en sy niggie skynbaar goed kliek.
Dit was die begin, nou amper drie maande terug . . .
“En toe?” wil Retha dadelik weet toe Karen ’n oomblik stil is. “Ek is seker dis nie al nie. Jou oë blink en ek sien ’n ongewone blos op jou wange elke keer wanneer jy die man se naam noem. Vertel verder!”
Ná daardie eerste kennismaking kon sy geen rede sien om George nie in hulle vriendekring te betrek nie. Hy is immers intelligent, sjarmant en vir seker iets vir enige meisie se oog.
Daar is drie paartjies in hulle groter groep, maar ook ’n hele paar “loslopendes” van albei geslagte. George was dadelik baie gewild by die meisies. Karen het egter mettertyd agtergekom dat hy haar subtiel uitsonder. Aanvanklik het sy gedink dis maar omdat sy hom eerste leer ken het en aan die vriende voorgestel het. Boonop is hy haar dierbare neef Steyn se vriend. Op ’n aand vroeg in Maart, toe ’n paar van hulle besluit dat hulle liewer wil gaan dans as om in ’n fliekteater te sit, verander alles egter onverwags.
George dans die aand feitlik net met haar. Karen en van haar skoolvriendinne het voor hulle matriekafskeid ’n tyd lank dansklasse geneem en sy het vinnig verskillende style bemeester. Of George ook voorheen les geneem het, vra sy nie, maar hy is ’n uitstekende danser en sy geniet elke oomblik dat hulle saam dans van harte.
Toe Rolf, die vriend saam met wie hulle gery het, beduie dat hulle amper op pad is, gaan staan George stil op die dansvloer en kyk vraend na haar. Toe lei hy haar met haar hand steeds in syne by die oop glasdeure uit na die dofverligte tuin van die klub.
Die geur van rose, frangipani’s en verbleikblommetjies is amper bedwelmend soet, die sagte klanke van ’n meesleurende laaste wals bring verdere betowering. Toe George haar in sy arms vastrek en afbuk om haar te soen, word die genotvolle aand meteens volmaak. Sy bied geen oomblik weerstand nie, smelt eerder weg in die man se sterk arms en soen hom met oorgawe terug. Eers toe dit tot Karen deurdring dat daar na hulle geroep word, maak sy haar onwillig uit George se arms los en fluister bietjie hees dat hulle moet ingaan. Hulle word dadelik goedig geterg toe hulle hand aan hand van buite af ingeloop kom, en Karen is redelik seker dat haar vuurwarm wange vir almal duidelik maak wat in die tuin gebeur het. Vreemd genoeg pla dit haar egter glad nie.
“En dit was die droomaand toe ek geweet het dat ek, teen my eie voorneme om nog lank sonder ’n man in my lewe reg te kom, nie meer alleen wil wees nie. Jy het raak geraai, vriendin, ek is verlief . . .”
Toe sy klaar vertel het, vra Karen eers deernisvol uit na Retha se ma se laaste dae. Daar was darem deurgaans morfien vir die pyn, sê Retha stilweg, en teen die einde was haar ma eintlik meestal aan die slaap, moontlik selfs in ’n ligte koma. Die middag voor haar dood het sy egter onverwags haar oë oopgemaak en na haar man en dogter langs haar bed gekyk. Sy het bewerig ’n maer hand na elkeen van hulle uitgesteek en skaars hoorbaar gefluister dat sy lief is vir hulle . . . en vir Freddie. Toe het sy haar oë toegemaak en nie weer gepraat nie. Sy is vroeg die volgende oggend oorlede.
“Dis beter so, vriendin,” sê Retha toe Karen opstaan om haar ’n drukkie te gee. “Sy het vir omtrent ses jaar teen die kanker baklei en moedig deur al die chemobehandeling gegaan, net sodat Freddie en ek ouer kon word en meer onafhanklik. Dit was vir haar wonderlike nuus toe ek keuring vir die Sielkunde-honneurs gekry het. Vir Freddie het sy na sy matriek verlede jaar aangemoedig om later te besluit oor sy loopbaankeuse en ’n jaar lank met ’n rugsak deur Europa te gaan toer. Hy’t eers geweier om te gaan omdat hy geglo het as hy naby haar bly hy seker kan maak dat sy nie doodgaan nie. Sy het toe mooi met hom gepraat en uiteindelik is hy weg. Toe ons hom wou laat weet van haar dood, was hy buite selfoonbereik saam met ’n bergklimgroep wat kans gesien het om in April, wanneer dit nog baie koud kan wees, die Switserse Alpe aan te durf. Hy het toe eers ’n paar dae later die nuus gekry, maar ons kon hom verseker dat haar heel laaste woorde was dat sy lief is vir hom.
“Maar ons het darem nou te lank sit en praat,” sê Retha, doelbewus weer lighartiger, “en ek is nou bitter lus vir jou lekker koffie en die tuisgebakte koekies wat jou ma altyd vir haar dogtertjie inpak wanneer jy by die huis was.”
Hulle loop in die gang af verby die ander vier kommune-inwoners – die rooikoptweeling en twee jonger manstudente – se kamers. Waar die gang na die kombuis toe draai, loop hulle verby ’n houtdeur wat dig toe is.
Retha sit met ’n teatrale gebaar haar vinger voor haar mond en rek haar oë doelbewus groot oop. “Hoe gaan dit nog met die kreupel kluisenaar?” vra sy in ’n fluisterstem.
“Skaam jou om die man so te noem, Retha!” betig Karen haar vriendin streng. In die kombuis skakel sy die ketel aan en kom sit toe langs Retha by die kombuistafel.
“Werner Scholtz hou hom eenkant omdat hy ouer is as almal van ons,” sê sy ernstig. “Hy is al klaar met sy MSc. Hy hoef ook nie in die kommune se kombuis te kom nie, want hy het ’n hele woonstel met sy eie kombuis.”
“Maar jy kan nie ontken dat hy asosiaal is nie, Karen. Ek kuier al vandat ons by die eerstejaarskamp beste maters geraak het – en dis meer as drie jaar terug, kan jy glo? – so baie hier dat ek voel asof ek hier woon, en in die tyd het ek hom miskien twee keer uit sy kluisenaarsgrot sien kom. Nie om ’n geselsie aan te knoop met die gepeupel nie, maar met die een of ander vraag of beleefde versoek.”
Karen staan op om die ketel af te skakel en gooi gemaalde koffie en toe kookwater in die dompelpot. Toe haal sy twee bekers, die suikerpotjie en ’n blik koekies uit haar kas en bring alles na die klein tafeltjie toe. Die kombuis vorm ’n L en daar is ’n twaalfsitplektafel en stoele in die lang been. Die studente verkies egter die klein houttafeltjie met sitbankies aan al vier kante. Elkeen van die vyf inwoners in die kommune se naam is op ’n kasdeur in die kombuis geplak en hulle het sleutels, maar die onderlinge vertroue maak toesluit eintlik onnodig.
Karen skink die koffie in en Retha loop yskas toe om vir haarself melk te kry.
“Lekker tuis hier by julle, né?” sê sy tevrede toe sy weer kom sit het. Sy neem vir haar twee hawermoutkoekies uit Karen se koekblik en begin proe-proe haar koffie drink.
“Eintlik weet ek nie,” sê Karen nadat hulle ’n tyd lank in stilte gedrink het, “waarom Werner Scholtz nog hier woon nie. Ek het by Truida, wat vanjaar Chemie as hoofvak het, gehoor hy’t ’n lektorspos by die departement gekry en hy help glo ook op ’n vryskutbasis ’n aptekersgroep met hulle navorsing. Dit beteken sekerlik dat hy genoeg verdien om ’n woonstel of selfs ’n meenthuis te huur. Om die een of ander rede het hy nogtans besluit om vir eers hier aan te bly. Hy verkies nietemin baie duidelik sy privaatheid en kom soek nie ons geselskap op nie.”
“Dan is ek mos reg as ek hom ’n kluisenaar noem.”
“Of dalk net ’n gereserveerde mens, of ’n introvert. Maar in my eerste jaar, toe ek Chemie moes neem omdat dit ’n verpligte eerstejaarsvak is vir my graad, was hy die toeganklikste van al die nagraadse studente wat as laboratoriumassistente gehelp het. Hy was geduldig en altyd bereid om ons ’n tweede keer te laat probeer as ons eksperiment ’n flop was.”
“Hmmm,” brom Retha, duidelik nie heeltemal oortuig nie. Sy haal nou eers vir haar ’n gemmerkoekie uit die blik, neem ’n happie en glimlag tevrede.
“Nou goed, tjom,” gee sy toe, “miskien is ‘kluisenaar’ bietjie sterk gestel om die professor te beskryf.”
“Lektor, Retha. Dis nog ver van ’n professor af!”
“Nietemin so jonk al op pad daarheen. Hy kan seker nie ouer wees as ses of sewe en twintig nie. Hy is miskien nie heeltemal ’n kluisenaar nie, maar jy kan nie stry dat hy kreupel is nie. Ek spot nie daarmee nie,” val Retha haarself vinnig in die rede toe sy Karen sien, “ek konstateer net ’n feit.”
“Nee, dis ook nie reg gestel nie,” weerspreek Karen haar vriendin nog ’n keer. “Hy loop wel mank omdat sy een been duidelik korter is as die ander een, maar in die laboratorium het hy vinnig beweeg sonder enige hulpmiddel. Dis net wanneer hy kampus toe loop, wat hy blykbaar verkies eerder as om met sy motor te ry, dat hy ’n stapstok gebruik.”
“Weet jy of hy so gebore is en of dit later gebeur het?”
“Nee, ek weet nie, en ek het ook nie vrymoedigheid om te vra nie,” antwoord Karen bietjie kortaf. Sy voel meteens ongemaklik om so oor die man te sit en bespiegel. Dis amper asof hulle sodoende juis sy privaatheid skend.
Retha voel sekerlik aan dat Karen nie verder oor die enigmatiese Werner Scholtz wil praat nie. “Sê liewer vir my,” wil sy nou met ’n ondeunde glimlag weet, “wanneer die uwe nou die eer sal hê om haar beste vriendin se splinternuwe geliefde van aangesig tot aangesig te ontmoet.”
“Daar is voorlopige reëlings tussen ons vriende vir ’n bring-en-braai by die sportterrein Saterdag,” antwoord Karen ook nou weer glimlaggend.
“George gaan my kom haal en ons sal dan sommer vir jou kom oplaai om saam te ry.”
“Ek weet darem nie. Aan die een kant is ek rasend van nuuskierigheid om die man te ontmoet wat my koelkopvriendin se voete onder haar uitgeslaan het, maar ek is darem ook nie gewoond daaraan om derdemannetjie – of dan tweede vroutjie – te speel nie!”
“En jy het nooit nodig om dit te doen nie, want daar is seker vyf of meer manne wat toustaan om jou hulle nommer een te maak. As jy hulle maar net ’n kans wil gee,” troef Karen haar.
Kort hierna gaan sien Karen haar vriendin by haar motor af en maak weer die motorhek met haar afstandbeheerder toe. Daar is afdakke met kettings wat aan die oop kant vasgemaak kan word vir die inwoners met motors, en drie aangeduide parkeerplekke vir besoekers. Sy stap ingedagte na die agterdeur toe, maar gaan sit toe eers weer op die houtbankie wat onder ’n groot karobboom staan. Daar waai nou ’n ligte windjie nadat die herfsdag ongewoon warm was en sy geniet die lawende koeligheid en die sagte geur van die rose wat oor die tuinmuur rank.
Die buitedeur van Werner Scholtz se woonstel gaan oop. Hy kom uitgeloop, stapstok in die hand, op pad na die voetgangerhekkie, maar toe hy haar daar sien sit, kom hy eers nader tot langs die bankie. Met Retha en haar gesprek oor hom kort tevore in gedagte, voel sy meteens verleë en amper half skuldig. Hy sal seker vies wees as hy moet weet dat hy die onderwerp van hulle – of dan veral van Retha se – bespiegelinge was.
“Goeiemiddag, Karen. Alles wel?”
“Ja, dankie, Werner, en met jou?”
Hy knik net, en dit lyk asof hy gaan wegdraai, maar hy bly staan en kyk ernstig na haar toe af.
“Jy is nou in jou finale jaar, nie waar nie? Ek verstaan Voedselbestuur is ’n stywe kursus en die vierde jaar veral uitdagend. Sterkte daarmee.”
“Dankie.” Sy is nogal verbaas dat hy weet in watter studiejaar sy is.
Dis nou al sterk skemer en toe Werner by die hekkie uit is, staan sy op om in te gaan. Waarheen sou hy op pad wees? wonder sy meteens bietjie onrustig. Hy behoort nie so in die skemer te loop nie. Dis netnou heeltemal donker. Daar is dikwels van die straatligte uit en hy kan val. Die groter gevaar is egter dat hy aangeval kan word deur opportunistiese skollies omdat hy mank loop en nie baie weerbaar voorkom nie.
In haar kamer gaan sit sy dadelik by haar studeertafel. Daar is nog voorbereiding wat sy moet doen vir môre se lesing en klasgesprek oor die opstel van begrotings vir verskillende spysenieringsgeleenthede. Sy kyk darem eers op haar selfoon en glimlag toe sy George se boodskap lees. Hy weet hy mag nie op ’n Maandagaand kom kuier nie, maar hy wil darem net sê hy verlang hom dood. Onderaan die WhatsApp is ’n huilende gesiggie.
George was bietjie gesteurd toe sy, kort nadat hulle amptelik “saam” was, te kenne gegee het dat hy net een weeksaand, verkieslik Woensdae, mag kom kuier. Saterdae kan hulle van vroegmiddag tot middernag saam wees, het sy belowe, en Sondae kan hulle gaan piekniek hou of uiteet of sy kan vir hulle kos maak en die aand kan hy saam met haar kerk toe gaan as hy wil. Sy is dit egter aan haar ouers – en haarself – verskuldig om ná al die opofferings die afgelope drie jaar hard te werk in haar finale jaar en haar graad so goed moontlik te slaag. Dit sal haar kanse om volgende jaar ’n goeie werk te kry, soveel beter maak.
Toe George nonchalant opgemerk het dat hy self dalk oor ’n jaar of twee vir haar ’n goeie werk kan gee sonder dat sy buite die huis hoef te beweeg, het sy dadelik walgegooi. Sy is nog te jonk en te selfstandig om so gou al van hom afhanklik te wees. Buitendien sien sy baie daarna uit om haar kennis in die praktyk te gaan toepas.
George moes maar gelate haar reëlings aanvaar en Karen het haarself gelukgewens: Dat sy verlief geraak het op die lang man met die mooi blou oë, het gelukkig darem nie meegebring dat sy haar onafhanklike gees kwyt is nie!
Dit neem haar nie lank om notas vir die klas te maak nie. Vreemd genoeg bly sy egter deurentyd onrustig oor Werner Scholtz met sy stapstok in die donker. Sy wil nog gaan stort voor sy in die bed klim, maar op ’n skielike impuls sluit sy eers die buitedeur op die punt van die gang oop en loop toe om die hoek van die huis. Van waar sy nou staan, kyk sy op Werner se woonstel en tot haar verligting sien sy dat ligte in albei vertrekke brand. Die blindings voor die vensters is afgetrek en sy kan hom daarom nie sien beweeg nie, maar sy is seker hy sou nie al twee ligte aangesit het voordat hy vanmiddag weg is nie.
Toe sy na die stort in die bed is en haar leeslamp afgeskakel het, raak sy nie dadelik aan die slaap nie. Sy onthou weer George se boodskap en glimlag toe sy daaraan dink dat dit nogal pret is om nou, soos baie van haar vriendinne, ’n eie “kêrel” te hê. Dit is egter nie George nie, maar Werner Scholtz wat hierna haar gedagtes besig hou. Die man bly vir haar ’n raaisel.
Toe haar ouers haar voordat die lesings in haar eerste jaar sou begin, kom help het om haar kamer in te rig in die kommune wat gerieflik binne stapafstand van die kampus af is, was dit Werner Scholtz wat hulle ontvang het. Meneer De Swart, die eienaar, is nog in Hartenbos met vakansie, het die skraal jongman met die donker hare en bruin oë verskoning gemaak nadat hy haar ouers beleefd gegroet en vir haar gesê het hy hoop sy gaan lekker daar woon. Dit was eers toe hy voor hulle in die gang afloop om haar kamer aan die onderpunt te gaan oopsluit, dat sy opgemerk het hy loop mank.
Toe haar pa beduie dat hy nog van haar goed uit die motor moet gaan haal, het Werner saamgestap om te help dra. Nadat alles ingedra was, het hy egter dadelik haar ouers met die hand gegroet, vir haar gesê hy sal later vir haar sleutels vir die buitedeure en die voetgangerhekkie bring, en in die gang af verdwyn. Sy het hom nie daardie dag weer gesien nie.
Die klop aan haar deur het gekom net nadat sy klaar nesgeskop het. Gelukkig het die kamer al heeltemal gesellig gelyk. Haar klere en ander persoonlike goed was opgehang of weggepak in die ingeboude kas en haar tas en los sakke bo in die kas weggebêre. Die kommune se neutrale naaswit gordyne het voor die groot venster gehang en daar was ’n ligbruin volvloermat, maar haar eie beddegoed, duvet en ’n paar los kussinkies was nou op die bed, haar uitgesoekte “hartboeke” op die boekrak bokant die studeertafel en oor die losstaande laaikassie was daar ’n veelkleurige lap. Sy sou net nog ’n mooi potplant of twee kry.
Toe sy die deur oopmaak, was dit nie Werner Scholtz met die sleutels soos sy verwag het nie, maar ’n klein meisie met ’n dik bos krullerige bruin hare, gedeeltelik getem met ’n rekkie bo-op haar kop.
“Hei . . . Karen . . . né?” het sy met ’n breë glimlag gesê-vra. “Isabelle Jansen. Welkom. Hoop jy gaan happy wees hier. Dis al my derde jaar in die kommune. Ek beplan om einde van die jaar my papiere te kry. Drama. Dit lyk my ek is vanjaar die hoofmeisie hier, want Werner het gevra ek moet vir jou die sleutels bring en sê van die badkamers en die kombuisreëlings. Laat ek beduie . . .”
Karen glimlag nou onwillekeurig terwyl sy aan Isabelle se vrolike geklets die eerste aand en baie aande daarna terugdink. Sy was eintlik jammer toe die ouer meisie wel die einde van daardie jaar haar dramagraad verwerf en uit die kommune getrek het.
Sy het Werner na daardie eerste dag nie een maal in die volgende twee weke weer gesien nie. Hy het toe al in die woonstel gewoon en feitlik nooit in die res van die kommune gekom nie. Haar eerste kontak met hom was eers weer toe sy saam met die res van haar groep in die laboratorium ingeloop het vir hulle eerste praktiese klas.
Hulle was baie studente in Chemie 1 en is dus volgens hulle vanne in kleiner groepe ingedeel. Werner was een van die twee nagraadse studente wat om die beurt by hulle groep gehelp het. Hy moes haar sekerlik herken het as die nuwe meisie in die kommune, maar hy het glad nie laat blyk dat hy haar al voorheen ontmoet het en as ’t ware ’n onderdak met haar deel nie. In die laboratorium was hy baie behulpsaam en geduldig. Toe sy hom egter daarna wel ’n keer in die kommunekombuis raakgeloop het, besig om iets by Isabelle uit te vind, het hy haar gegroet, maar glad nie verwys na haar teenwoordigheid in die praktiese sessies nie. Dit was toe vir haar duidelik dat hy die twee fasette van sy lewe – die assistentwerk by die universiteit en sy privaat lewe in sy woonstel in die kommune – heeltemal geskei wou hou.
Vreemde, onverstaanbare man, dink Karen, nou al vaak. Haar laaste gedagte voordat sy aan die slaap raak, is dat Retha eintlik nie baie ver verkeerd is met die “kreupel kluisenaar” nie.