Skip to main content

Uittreksel | Rusplek vir die hart

Een

“O genade, wat het ons hier?! Prins Harry uit­geknip!” Olivia moet haar oë ’n oomblik sluit, maar ja, hy staan steeds voor haar. Pure prins Harry, rooi hare en sjarmante glimlag kompleet. En hy hou ’n plakkaat vas met haar naam windskeef daarop gekrabbel. Punte vir handskrif kry Shaun Mouton beslis nie. Maar vir voorkoms? Tien uit tien. Minus vyf vir die ongekamde rooi boskasie en nog vyf vir die stoppelbaard wat seker veronderstel is om baie cool te lyk.

“Ag nee, tog nie jy ook nie!” Hy knyp die plak­kaat onder sy blad vas, vat haar trollie sonder om­haal by haar oor en begin met lang treë aanstap sodat sy met haar hoë hakke moet uithaal om by te bly. Skuins oor sy skouer kry hy vinnig ’n stekie van sy eie in: “Gelukkig sal niemand jou met die graatjie Meghan verwar nie.”

Nee wat, dit help nie om vir sy soort kwaad te word nie. Haar bestie, Elsbet, het haar mos hoeka gewaarsku dat “Shaunie” nie een vir woorde tel en mooi broodjies bak is nie. Hy praat eers en dan dink hy. Dis nou indien hy hoegenaamd dink. Nie dat Elsbet hierdie stukkie bygevoeg het nie. Sy het mos ná hulle aanvanklik behoorlik vasgesit het, vrees­lik erg gaan staan en gaande raak oor haar geliefde Brent se beste pel. Dis net haar bad luck dat Brent en Elsbet vandag kastig te besig is om haar by die lughawe te kom haal en terstond vir Shaunie moes stuur. Wel, Shaunie gaan haar nie onderkry nie. Hy moet maar sommer gou-gou gewoond raak dat Olivia October ook nie op haar bek geval is nie. Jare se netbal in die buiteland het van haar niks minder van ’n Kaapse meisie gemaak nie. “Jy reken ek is dik, nè? Die laaste ou wat sy bek oor my lyf gerek het, was lánk in die hospitaal, hoor!”

Hy steek so skielik vas dat sy hom amper uit die aarde loop. Hy is lank, maar so skraal soos ’n wilgerlat, weeg sweerlik nie ’n gram meer as sy nie. “O hel, amper loop jy my sommer met die bymekaarkom ook in die hospitaal in. G’n wonder Elsbet vertel so graag hoe jy die girls van die baan af gespeel het nie.”

Nou raak sy teen haar sin tog lekker warm onder die kraag. Aan opmerkings oor haar rojale lyf is sy lankal gewoond, maar aan haar integriteit as net­balspeler moet hy wragtig nie karring nie. “Luister jy nou mooi vir my, prins Harry, ek speel binne die reëls. As die opposition vir my bang is, is dit omdat hulle weet ek kan met hierdie groot lyf en al, kringe om hulle hol. Rondom hulle, let wel, nie dwarsdeur hulle nie.”

Sy lag weerklink in die ruimte van die parkeer­garage. “Elsie het gesê jy’t ’n bek aan jou, maar ek het nie besef jy’s só ’n geitjie nie.”

Sy is nie lus vir saamlag nie. Sy pen hom vas met die kyk wat haar teenstanders op die baan laat vries het. “Shaun Mouton, is jy ’n chauvinis?”

Sy lag het ook verdamp. “Olivia October, is jy ’n feminis?” Hy probeer haar ook met ’n kyk onder­kry, maar dit werk nie. Sy twee bruin oë met donker wimpers is heeltemal te mooi om iemand dood te kyk.

Wat wel gebeur, is dat ’n onverwagse warm kol­letjie diep in haar binneste begin gloei. ’n Kolletjie wat haar groot laat skrik en haar op die verdediging plaas. “Jip, as feminis beteken dat ek nie bollie van kabouters vat nie, is ek sekerlik een.”

Hulle het intussen darem tot by sy ryding gevorder. Nou nie heeltemal ’n skedonk nie, maar niks om oor huis toe te skryf nie. Hy boender haar bagasie sonder plan in die kattebak, plak dié wat nie inpas nie op die agtersitplek neer. Tussen dié aksies deur kyk hy kort-kort na haar en snork dan van voor af van die lag: “Bollie van kabouters? Is jy te bang om die regte woord te sê?” Hy hou sowaar die motordeur vir haar oop, maar sy kommentaar kry nie end nie: “Of hou jy jou net ordentlik om my te impress?”

Sy klim in, knik moedswillig kastig uit die hoogte ’n dankie vir hom en skuif dadelik die sitplek agter­toe om vir haar bene plek te maak. “Vervoer jy mug­gies in hierdie kar van jou?”

Hy kyk haar effens verstom aan, stap met lang treë om die motor en kom val agter die stuurwiel neer. “Muggies? Waar val jy nou uit?”

Sy sug oordrewe, kry hom ’n bietjie jammer. Die arme man is blykbaar met meer skoonheid as ver­stand geseën. Nie dat skoonheid die beste woord is om hom te beskryf nie. Liewer iets soos “ruggedly attractive” of “dangerously charming”, mits jy van sy soort hou. “Klein mensies, Mouton! Is jou girl­friend een van daai blonde goedjies wie se grimering meer as hulle lyf weeg?”

“Hou jy maar jou mond van my meisies af, hoor.” Hy trek weg asof die duiwel agter hom is. Of dalk is dit maar hoe Suid-Afrikaners deesdae ry.

“Meisies in die meervoud, nè?” Sy trap onwille­keurig briek toe hulle op die eerste robot afpyl en flink oorskiet; ’n breukdeel van ’n sekonde voor die oranje na rooi verander. “Ek sal jou meisies uitlos as jy soos ’n beskaafde mens sal ry,” kap sy terug.

“Ek het nie tyd vir hanna-hanna nie. Jy’s nie meer in Oz nie, sussie, hierso ry ons om anderkant te kom.”

“Dit lyk vir my meer of daai ‘anderkant’ die warm­plek kan wees. Ek’s terug om die next chapter van my lewe te kom aanpak, nie om my heiland sommer by die eerste robot te ontmoet nie.”

Hulle is nou op die N1 en hy laat loop. “Ek het nie gedink so ’n geitjie kan ’n bangbroek wees nie,” lag hy. “Dalk het jy net ’n bietjie Afrikalug nodig.” Onver­wags druk hy die knoppies vir albei voorste vensters sodat die wind haar skielik voluit vang.

Sy maak nog haar mond oop om te protesteer, toe tref die Afrikalug haar só dat sy skoon haar woorde verloor. ’n Koel wind, hier teen sononder, maar vol van die geure wat sy al amper vergeet het. Geure en klanke spoel oorweldigend op haar af. Voor sy haar kom kry, loop haar trane. Sy probeer nog ongemerk afvee, maar dit help nie. As Olivia October die slag tjank, dan doen sy dit ordentlik.

Toe sy hand op haar bobeen beland, vat sy dit stewig vas voor sy besef wat sy doen. “Wat nou?” grinnik hy. “Jy’t verlang na hierdie verdomde land, nè?”

“My vrek verlang,” sukkel sy dit tussen die snikke deur uit. “Daar’s maar net één Mzansi.”

Hy vat sy hand weg, konsentreer darem mooi toe hy die hoeveelste lorrie verbysteek. “Ek hoop nie jy het met té veel sterre in jou oë hier aangekom nie. Dit bars maar deesdae in Mzansi, hoor.”

“Jip, ek lees die nuus.” Sy woorde laat haar trane van blydskap vinnig ophou. “Wel, ten minste sal die sterre in my oë lekker kan skyn met loadshedding.”

“Ag hel, nog ’n optimis ook,” sug hy oordrewe. “Toxic positivity is ’n lelike ding, hoor, en dit pas nie eintlik by ’n klipharde feminis nie. Dis mos cool vir julle soort om sinies te wees en als wat mooi is, af te skiet.”

“Óns soort?” Nou sien sy rooi. “Toxic positivity? Liewe hel, ek kan nie wag om by die huis te kom nie. Vir wat kon Elsbet my in elk geval nie kom haal het nie? Sy was altevol vaag oor die saak.”

Die irriterende mansmens is ongelukkig nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. “Ook maar lekker dun van nerf, nè? Lekker upset oor jou bestie jou nie self kom haal het nie.”

“Dis eintlik net teen die plaasvervanger wat ek dit het,” kap sy terug. “Gelukkig kan jy my net aflaai en dan hoef ek hopelik nie gou weer in jou bakkies vas te kyk nie.”

“Ek het nuus vir jou, girl.” Hy lyk soos ’n gemmer­kat wat ’n hele piering room verorber het. “Ek bly ook by Brent se plek, so jy gaan elke liewe dag in my bak­kies moet vaskyk.”

“Donner tog,” is al wat sy kan uitkry.

“Ek het so ’n nare gevoel jou bestie en haar groot liefde het vandag ’n ring gaan koop,” kap hy doodluiters die volgende spyker in haar spreekwoorde­like doodskis.

“Wat? Jy speel seker! Elsbet het my niks gesê nie.”

Hy kyk skuins na haar voor hy nog ’n lorrie verbysteek. “Elsbet is seker nie verplig om jou van elke liewe dingetjie in haar lewe te vertel nie?”

“Dis nie elke liewe dingetjie nie, Mouton! Dis haar toekoms!”

Net vir ’n oomblik raak sy linkerhand aan hare. “Moenie jou bolla in ’n knoop kry nie, sussie, hulle het vir niemand iets gesê nie. Ek raai ook maar. Ek is net vertel hulle moet vir die dag uitgaan, dis al. Geen redes nie; dis nogal weird vir my.”

Sy pluk haar hand onder syne uit. “Ek’s nie jou sussie nie, Mouton.” Sy gaan hom nie nog skietgoed gee deur verder oor Elsbet en Brent se planne te praat nie.

Haar sussie-opmerking laat hom kliphard lag. “Daarvoor sal ek ewig dankbaar wees!”

Sy vra liewer nie wat presies hy bedoel nie. Per­soonlik sou dit haar gepas het as hulle familie was, want dan sou sy sekerlik nie die onverwagse aantrekkingskrag ervaar het wat haar nou so senu­weeagtig maak nie. Sy hou liewer haar mond en kyk hoe die aand oor die Boland neerdaal. Nie te veel dink nie, Olivia, geniet net die oomblik. Moenie dink oor wat agter jou lê óf wat jou inwag nie. Moet veral nie dink oor die man hier langs jou nie. Hy is suiwer moeilikheid, dis wat hy is. Sy is nog só stukkend, sy durf haar nie al weer in ’n situasie met ’n man be­gewe nie.

“Livvie, jy’s hier!” Elsbet kom soos ’n warrelwind die trappies af en val Olivia om die nek nog voor sy behoorlik uit die motor is.

Tot haar verbasing is sy nie die enigste een wat in trane is nie. Dis lekker om te weet Elsbet het ook ver­lang. Hopelik is hulle vriendskap nog sterk genoeg om die dinge te hanteer wat mettertyd gesê moet word. “Girlfriend, en hierdie trane nou? Jy’s mos nie een wat jou blaas tussen jou oë dra nie.”

Elsbet snuif en staan ’n treetjie terug, skielik ern­stig. “Ek het leer huil vandat ek terug is in die land, Livvie. Ek het baie dinge geleer; die tyd in die kliniek, en die twee jaar daarna. Ek krop nie meer alles op nie; ek kan nou laat waai as die oomblik reg is.” Sy slaan haar arm om Olivia, begin met haar aanstap voordeur toe. “Vandag is die oomblik beslis reg. Ek is só bly jy’s hier. Is dit regtig vir altyd?”

“Forever and ever, girlfriend. Jy gaan nie weer van my ontslae raak nie.”

“Dis die beste nuus ooit.” Hulle twee gaan staan in die middel van die tuinpaadjie, kyk na mekaar en gaan aan die lag. Sy weet mos lankal lag en huil lê soms na aan mekaar en nou het Elsbet dit ook uit­gevind.

Op die stoep wag Elsbet se Brent, donker en stem­mig, soos sy hom al oor Skype leer ken het. “Welkom, Olivia.”

Hy steek sy hand bedeesd uit om te groet, maar sy gee hom ’n behoorlike druk. “Dankie, Brent. Ek sien jy het mooi na my pel gekyk.” Elsbet lyk regtig goed; tonne beter as toe sy destyds uit Australië weg is om hier behandeling vir haar depressie te kom kry. Dat sy toe vir Brent hier kom kry het, was natuurlik die kersie op die koek.

Brent se aantreklike gesig bly ernstig; dis nie ’n man vir ’n onnodige gejil hierdie nie. “Eintlik het Elsie na haarself gekyk, Olivia. Sy het self besluit om vir be­handeling te kom, kliniek toe te gaan, die nodige me­dikasie te neem en leefstylveranderinge te maak. Sy is nie ’n vrou wat deur ’n man gered hoef te word nie.”

Jene, waar vererg sy haar vir die man! Hy het die potensiaal om ’n propperse pyn in die . . . wel . . . die nek te wees. “Wat het ek gedoen om só ’n preek op die lyf te loop? Ek weet al daai goeters wat jy nou voor my kop gooi, dankie.”

Voor Brent kan antwoord, haal Shaun hulle van die motor af in; belaai soos ’n pakdonkie met haar aardse besittings. “Ou sussie, Brent lyk maar net of hy ’n stok in sy . . . uhm . . . of hy ’n laaistok ingesluk het. Gee hom kans, hy kyk ’n mens eers behoorlik uit voor hy aan jou vat kry.”

“Ek wil liewer nie weet op watter gronde hy aan jóú vat gekry het nie,” kap sy terug. Hierdie mooie man – al het sy nog nooit gedink rooikopmans is aantreklik nie – weet net presies hoe om haar ver­keerd op te vryf.

“Jy sal nog sien ek’s ’n ou met baie verskuilde dieptes,” lag hy onbesorg. “Ek neem aan ek sit Livvie se goed in die pienk kamer, Elsie? Dis nou tensy sy liewer met my wil deel. ’n Mens voel nogal maklik ’n bietjie alleen en afgeskeep in die huis saam met hier­die twee duifies,” grap hy met ’n stout knik na Elsbet en Brent, wat inderdaad vir mekaar staan en glimlag asof hulle mekaar maande laas gesien het.

“Behoede my van deel met jou!” spoeg Olivia na sy kant toe, skaam haar dan ’n bietjie en stap tjoep­stil agter Elsbet aan. Sy sal haar tong in toom moet hou. Sy durf nie ’n vyand van Brent maak nie, want dan gaan sy die beste vriendin verloor wat sy nog ooit gehad het. Vir Shaun wil sy eenvoudig nie nog skietgoed gee om haar siel verder mee uit te trek nie.

“Livvie, jy’s moeg,” lees Elsbet die situasie perfek. “Kom, hier’s jou kamer. Presies die kamer waar ek destyds oorhoeks en gedaan aangekom het.”

Olivia laat val haar skouersak op die vloer en vat Elsbet nog ’n keer in ’n stewige omhelsing vas. “Girlfriend, ek kan nie vir jou sê hoe nice dit is om met my eie twee oë te sien hoe gesond jy hier kom raak het nie. Nice is eintlik ’n understatement, dis frieken fantasties!”

Elsbet staan na ’n paar oomblikke terug, kyk ern­stig na Olivia. “Jy moenie vir Brent verkeerd opneem nie, Livvie. Hy het ’n bietjie van ’n ding oor mense wat reken dis ons twee se verhouding wat my uit my depressie laat kom het. Asof ’n mens nou sommer soos vingers klap uit depressie kan ontsnap. Ons het baie geleer oor al die wanpersepsies, die geweldige stigma wat daar nog bestaan. Hy’s lojaal, hy wil nie krediet neem vir wat ek bereik het nie.”

“Jy hoef hom nie te verdedig nie, Elsie. As jy vir hom lief is, sal ek vir hom lief raak, al bars die bottel ook.”

Elsbet lag ’n bietjie verleë. “Ek wil nie hê enige bottels moet bars nie, vriendin. Ek wil eintlik hê julle moet sommer vanself erg raak oor mekaar. Jy en Shaun ook. Hy is ’n dierbare man, al het hy nie die vermoë om eers te dink voor hy ’n ding sê nie.”

“O, dit het ek al deeglik agtergekom!”

“Praat julle tweetjies dalk van my?” Die einste Shaun staan in die deur met ’n groot glimlag en Olivia se berg bagasie.

“Ek sê net vir Livvie hoe dankbaar ons is jy kon haar op die lughawe gaan kry.”

“Ek sal nou nie sê dit was ’n vreeslike plesier nie,” beduie Shaun terwyl hy haar bagasie vloer toe laat val. “Verál nie wanneer sommige mense nie besonder dankbaar gelyk het nie.” Met ’n duidelike kopknik na Olivia toe.

Sy het genoeg van ’n skuldige gewete om warm te word van verleentheid. “Dankie, Shaun, ek waar­deer dit,” kry sy dit met heelwat moeite uit. Sy sluk ’n slag, ploeter verder: “Dit spyt my waternat as ek my maniere vergeet het. Ek is vodde ná die lang vlug, miskien moet ek maar sommer dadelik gaan inkruip.”

“Ek het nie die indruk gekry daar is enigsins maniere om te vergeet nie,” kap hy terug, onverwags ernstig.

“Shaunie!” Elsbet vat hom besorg aan die arm. “Wat’s dit met jou? Ek ken jou darem nie as ’n gemene persoon nie.”

Hy skud haar hand summier af en draai deur toe. “Jammer, Elsie, maar dit lyk nie vir my hierdie bestie van jou gaan maklik ’n pel van my word nie.”

“Wat is miskien verkeerd met my?” Olivia plak haar stewig in sy pad neer en kyk hom vierkant in die oë. “Is jy dalk ’n closet racist, Mouton?”

Hy kyk haar koeltjies op en af. “’n Mens hoef nie ’n rassis te wees om ’n gly in jou te vang nie, Olivia October.” Daarmee draai hy om en maak hom uit die voete.

“Wel, wel, wel.” Elsbet staan en kyk hom vir ’n oomblik agterna. “Só het ek hom nog nooit gesien nie. Wat het jy aan die man gedoen, Livvie?”

Olivia snork onvroulik en probeer haar aandag by haar bagasie bepaal. Sy het nie die vaagste idee wat sy aan die man gedoen het nie. Sy weet egter skokkend helder wat hy aan haar gedoen het: Hy het haar vir ’n volle vyf en sewentig minute – sy maak gou seker op haar selfoon – van Jack laat vergeet.


Voor Shaun hom kom kry, sit hy in sy motor. All revved up, but nowhere to go. Van die stoep af roep Brent na hom, maar hy maak net ’n vae gebaar met sy hand en maak dat hy wegkom. Al weet hy nie waarheen nie. Enigiets is beter as ’n minuut langer in die Olivia-vrou se geselskap.

Natuurlik vat sy kar hom reguit na Marike; soos so dikwels in die verlede wanneer hy nie geweet het watter kant toe nie. Die een of ander tyd sal hulle twee se dinge tot ’n punt moet kom, dit weet hy. Tog net nie vanaand nie, asseblief. Vanaand voel hy omvergegooi, ietwat van balans af.

Dis tog nie dat hy niks van Olivia af geweet het nie. Hy het selfs al ’n paar keer oor Skype vir haar gewaai wanneer Elsbet met haar aan die gesels was. Sy was vir hom ’n groot bos hare met ’n nóg groter glimlag, spierwit tande teen die donker vel, stout donker oë wat altyd lag. Haar lyf het hy egter nooit gesien nie, ook nie daaroor gedink nie. Net­balspelers is gewoonlik hemelbesems met bene wat net duskant Antarktika ophou, skraal en fiks, soos Elsbet na wie hy en Brent albei so effens moet opkyk.

Toe sy met haar oorlaaide trollie uit die aankom­saal aangestap kom, moes hy ’n paar keer kyk om seker te maak dis sy. Die hare en die skitterglimlag was daar, ja. Dis die lyf wat hom omvergegooi het. Olivia is ’n groot meisie met ’n oorvloedige lyf, die ene rondings en kurwes en sy dra daai lyf met die grootste selfvertroue. Stywe jeans met ’n bloedrooi hempie wat klou om haar bors, ’n paar hemelhoë skoene; só het sy van die vliegtuig afgeklim. Sy is een van die min vrouens wat hy nog gesien het wat ordentlik kan stap met sulke belaglike skoene. Bloedrooi lippe en naels om by die hempie te pas, wimpers swaar van die maskara. Presies die soort prentjie wat hom in die verlede glad nie aangestaan het nie. Hy het nog altyd van sy meisies rietskraal en effens minder opvallend gehou. Olivia is die top­punt van opvallend; hy het verskeie koppe in haar rigting sien draai terwyl sy met daardie stap na hom toe aangekom het.

Die grootste skok was egter die effek wat sy op hom gehad het. Onmiddellik, nog voor sy hom met sy simpel plakkaat raakgesien het. Hy kan sweer elke senupunt in sy lyf het orent gespring. Turned on, dis wat hy was. Instantly turned on, die oomblik toe hy sy oë op haar lê.

Sugtend parkeer hy in die straat voor Marike se woonstelblok, sit ’n paar oomblikke tjoepstil om tot bedaring te kom en whatsapp haar dan. Het jy koffie?

Gou, té gou, kom die antwoord: Ek het wyn.

Nou daar. Hy wag ’n rukkie voor hy uitklim sodat sy hopelik nie besef hy was al voor haar plek toe hy die boodskap gestuur het nie. Die vae ongemak­likheid wat hy oor sy verhouding – ás ’n mens dit ’n verhouding kan noem – met Marike het, is vanaand sterker as tevore.

Hy het skaars met sy kneukels aan die deur geraak, toe gaan dit oop en Marike wag hom met ope arms in. Letterlik en figuurlik. Hy gee haar ’n half­hartige drukkie, skaam hom, maar ontwyk tog haar poging tot ’n ordentlike groet. “Jis, hoe lyk dinge?”

“Dinge lyk altyd lekker as jy in die nabyheid is, Shaun.” Vir die eerste keer sien hy iets hartseer in haar glimlag. “Dit weet jy tog.”

“Gaan jy my heelaand laat wag vir daai wyn waar­mee jy gespog het?” Hy val op sy gewone plek op haar bank neer, vat outomaties die afstandbeheerder en begin tussen die kanale op haar TV spring. Sug­tend ontvang hy die glas wyn waarmee sy inkom, vat ’n lang sluk en plak dit op die koffietafel neer sonder om die plekmatjie te gebruik.

“Shaunie, my tafel!” Sy sit die glas waar dit hoort, skuif dan só dat sy hom behoorlik in die oë kan kyk. “Wat gaan aan? Jy’s onderstebo en ek wil weet hoekom.”

Hy sit lank botstil terwyl sy geduldig wag. Einde­lik sê hy die woorde wat hy lankal moes gesê het: “Marike, jy’s ’n lieflike mens, maar jy mors jou tyd met my. Daar’s nie ’n toekoms vir ons twee nie.”

Sy sê nie ’n woord nie; kyk net vir hom met twee oë waarin die trane stadig poeletjies maak. Toe staan sy op, keer haar glas wyn koeltjies oor sy kop om en hou die voordeur woordeloos vir hom oop. Terwyl die wyn oor sy gesig tot in sy nek afloop, stap hy uit sonder om een keer terug te kyk. Hy kan nie kla nie; hy het presies gekry wat hy verdien.