Uittreksel | Rolbosliefde

Een
Mark Lessing luister na die ritmiese klap van sy drafskoene op die nat sand van Hartenbos se strand. Hy probeer die geraas in sy kop ignoreer. Sy ma se nuutste plan vir hom het hom vroegoggend reeds uit die huis uit gedryf. ’n Lewensafrigter? Hy’t mos nie ’n vreemdeling nodig om hom te vertel hoe hy moet leef nie. Om aan die voete van die een of ander wysgeer te gaan sit en filosofeer oor die lewe, is nie vir hom nie. Hy weet wat fout gegaan het en hy sal self die pad vorentoe kies.
Die pandemie het sy besigheid ’n knou toegedien waarvan hy eenvoudig in die jare daarna net nie kon herstel nie. Hardkoppig soos gewoonlik, het hy geweier om moed op te gee, maar uiteindelik was hy verplig om die spreekwoordelike handdoek in te gooi. Sy hele erfenis is daarmee heen en hy moes stert tussen die bene by sy ma in haar aftreehuis kom woon terwyl hy besluit wat hy volgende gaan doen. Hy grom in sy keel. ’n Man wat op twee en dertig nog by sy ma woon, is ’n klaaglike mislukking.
Sy lewensplan was eenvoudig: Neem die familiebesigheid oor, bou op sy pa en oupa se suksesse en werk hard om dit uit te brei. Lessing Restaurante bestaan egter nie meer nie. Daarsonder weet hy nie wie hy is of wat om met die res van sy lewe te maak nie. Sedert hy die laaste een van sy restaurante se deur agter hom toegetrek het, is daar ’n klip in sy binneste. Hy mis sy besige, betekenisvolle lewe. Hy mis die rede om soggens op te staan, of liewer, uit die bed te vlieg en die dag met spoed tegemoet te gaan.
Mark draf al vinniger, maar die eggo’s in sy kop wil maar nie die wyk neem nie. Uiteindelik is hy verplig om te stop. Hy buig vooroor en stoei om sy asem terug te kry. Geen lewensafrigter kan sy uiters suksesvolle ketting restaurante terugbring nie. Nog minder kan enigiemand vir hom kom staan en vertel hoe hy sy lewe moet organiseer. Sy ma kan vir hom preek tot sy blou in die gesig is, maar hy weier om daardie verdomde afspraak vanmiddag na te kom. Hy is nie ’n sielkundige geval nie, hy beleef bloot ’n tydelike terugslag.
Die punt wat die land daar op die horison by Mosselbaai maak, hou sy aandag vir ’n paar tellings voordat hy omdraai en die terugtog heelwat stadiger aanpak. Net soos die kuslyn daar ’n ander rigting inslaan, het hy ook ’n keerpunt in sy lewe bereik, maar hy alleen sal besluit watter nuwe rigting om te kies, niemand anders nie.
Lize de Beer kyk op toe haar ontvangsdame haar kop by die spreekkamer se deur insteek. “Meneer Lessing is hier. Die een wie se ma die afspraak namens hom gemaak het.” Sy rek haar oë en fluister. “Op ’n skaal van een tot tien is hy ’n soliede negentien.” Met twee duime na bo beduie sy.
“Sunet! Hierdie plek is nie ’n dating site nie,” fluister sy gemaak kwaai terug. “Laat die man in, asseblief.”
“As jy maar net ’n man wil inlaat, my mater, sal ek baie bly wees,” laat Sunet weer dubbelsinnig van haar hoor. “As dit is hoe ons kliënte lyk, moet ons miskien ’n dating site op die sideline bedryf.”
Lize maak ’n siniese blaasgeluid. “Jy is skoon laf. Hou op om vir my ’n man te soek. Laat meneer Lessing inkom, asseblief.” Sy waai haar vriendin met ’n handbeweging by die deur uit.
Toe sy weer opkyk, staan hy in die deur, dikbek en skoorvoetend soos ’n sesjarige kind in die skoolhoof se kantoor. Mamma-se-seuntjie, is haar eerste gedagte, maar sy sê liewer niks. Haar vinnige mond bring haar knaend in die moeilikheid. Toe sy ’n gewilde filmster in Hollywood was, het mense gedink dis oulik, maar in haar redelik nuwe beroep is dit onaanvaarbaar.
Hy maak egter sy mond oop en blaf vir haar. “Ek het nie afrigting nodig om my te vertel hoe ek my lewe moet reël nie. Merk my net op jou lysie af sodat my ma kan weet ek was hier.” Hy draai om en mik terug na die ontvangslokaal.
“Nie so vinnig nie.” Sy staan op en stap om haar lessenaar. So maklik kan sy hom darem nie daarvan laat afkom nie. “Die minste wat jy kan doen, is om my te vertel hoekom jou ma dink jy het lewensafrigting nodig en jy nie.” Sy beduie dat hy op een van die leunstoele moet sit.
Sy oë vernou, maar hy draai darem terug. “Jy en my inmengerige ma het gekonkel, dis hoekom ek hoegenaamd hier is.” Beskuldiging straal uit sy hele houding.
“Nee, ons het beslis nie. Ek het nog nooit met jou ma gepraat nie. Sy sou met die ontvangsdame gesels het toe sy gebel het om die afspraak namens jou te maak, nie met my nie. Kom in, asseblief. Jy is nou hier, jy kan netsowel sit.” Lize hou haar stem kalm. Sy is gewoond daaraan dat die meeste mense aanvanklik onwillig is om van haar dienste gebruik te maak, veral mans soos hierdie een. Haar oë loop oor hom. Sunet was reg. As ’n mens die frons tussen sy oë en die teësinnige trek om sy mond ignoreer, is hy nogal aantreklik op ’n ruwe, manlike manier. Dis egter nie wat haar interesseer nie; die breë skouers wat vasberade agtertoe gestrek en die sterk ken wat uitdagend vorentoe uitgestoot is, trek veel eerder haar aandag. Hierdie mansmens is nie ’n mamma-se-seuntjie nie, dis ’n baie omgekrapte man wat deur omstandighede in ’n hoek gedryf is. Dit is die soort ding wat haar uitdaag om haar bes te doen om te help. Daarmee sal sy wel kan werk.
Onwillig neem hy op die puntjie van die stoel plaas. “Ek is nie ’n pateet wat hulp nodig het nie.”
Sy gaan sit op die ander leunstoel teenoor hom. “Jy lyk allesbehalwe na ’n pateet. Dit verg egter durf om te erken dat jy ’n probleem het. Jou hele houding vertel my dat jy ’n man is wat weet wat hy wil hê. Ek kan ook sien dat jou ma se inmenging jou dwars in die krop steek.”
Hy snuif en vou sy arms oor sy bors. “Om die minste daarvan te sê.”
“Jou lyftaal sê hard en duidelik dat jy erg omgekrap is daaroor en daarmee kan ek nogal identifiseer.”
Hy vou sy arms oor sy breë bors. “Ek is nie hier om jou te help om met wat ook al te identifiseer nie. Ek is hier om my ma van my nek af te kry. Dis erg genoeg om op my ouderdom genoodsaak te wees om weer by haar te woon.”
“Hoekom is jy verplig om weer by jou ma te woon?”
“Dis nie van belang nie.” Hy ontknoop sy arms en strek die een oor die rug van die leunstoel. Die ene uitdaging. Jip, die man is omgeëllie.
Lize se belangstelling is nou behoorlik geprikkel. Wat sou sy storie wees? “Ek dink dit is van die uiterste belang, want dit het jou hier na my toe gebring, al is dit teen jou sin.”
Hy reageer nie, bekyk haar net met daardie intense bruin oë waaragter storms broei. Dis duidelik dat hy nie van plan is om vandag teenoor haar oop te maak nie.
Sy besluit om van taktiek te verander. Gewoonlik moedig dit kliënte aan om haar in te laat wanneer sy die opening verskaf. “Ek het ook ’n ma wat my lewe tot onlangs gereël het.”
Sy vreugdelose lag vul die vertrek. “Ek sien wat jy doen. I show you mine, then you show me yours?”
Lize lag onwillekeurig saam. “So iets, ja. Komaan, hoekom is jy regtig hier? Sekerlik nie om oor jou ma te kla nie.”
Die storms in sy oë word pikdonker en hy sit weer effens terug. “Ek het my ganse erfenis verloor en Ma dink ’n geween en ’n gekners van tande hier by jou gaan dit alles terugbring. Asof ’n towerstaf my hele string restaurante wonderbaarlik weer oop en operasioneel sal maak.”
’n Lig gaan vir haar op. “Jy is die Mark Lessing wie se ketting restaurante ná substansiële verliese as gevolg van die pandemie ondergegaan het?” Sy draai haar potlood om en om tussen haar vingers. “Jy het langer vasgebyt en probeer om jou besigheid te red as die meeste entrepreneurs wat dieselfde skade gely het. Ek het daarvan in die media gelees.”
Sy skouers lig en sak soos hy sug. “Ja, wel, dan weet jy ook dat al my pogings misluk het en dat ek met net die klere aan my bas daarvan afgekom het.”
“Wel, my filosofie is dat wanneer jy plat teen die grond is, daar net een pad oop is en dit is boontoe.”
’n Snorkgeluid ontsnap uit hom. “Ja, right!”
Haar kop sak skeef. “Ek sien jy verkies om tussen die vloer en die politoer te bly lê. As dit is wat jy wil hê, bly lê gerus.” Sy staan op om aan te dui dat die afspraak verby is.
Mark spring op. “Ek gaan nie bly lê nie, maar ek sal myself help om weer op te staan. Geen kopkrimper gaan dit namens my doen nie!”
Sy tuit haar lippe. Haar opsomming van sy karakter was in die kol. Hierdie ou is nie ’n swakkeling wat na Mamma toe gehardloop het toe dinge moeilik geraak het nie. “Bewys dan dat jy jouself wil help deur ’n opvolgafspraak met my ontvangsdame te maak wanneer jy hier uitstap. Jou restaurante kan miskien nie meer gered word nie, maar ek kan jou wel help om die pad vorentoe vir jouself te ontdek. Ek help mense om hulleself te kan help.” Daarmee draai sy weg en gaan sit agter haar lessenaar. “Die keuse is joune en beslis nie jou ma s’n of myne nie,” sê sy uitdagend.
“Hy’t nie lank gebly nie,” sê Sunet toe sy ’n rukkie later vir hulle elkeen ’n koppie tee bring.
“Ek kan nie iemand help wat nie gehelp wil wees nie.”
“Inteendeel. Hy het op ’n afspraak vir môre aangedring voor hy hier weg is,” vertel Sunet met ’n breë glimlag. “Wat het jy gesê wat hom oorreed het om weer te kom?”
Lize se wenkbroue lig. “Het hy? Ek was seker dis die laaste sien van hom.” Sy roer haar tee ingedagte. Miskien was haar vermoedens tog reg oor hom.
“Hy is beslis sag op die oog. Daai paar skouers sal die wêreld se laste kan dra,” sug Sunet met ’n dromerige uitdrukking op haar gesig. “Dit sal nie ’n straf wees om hom weer te sien nie. Ek het hom gegoogle. Weet jy . . .”
“Sunet! Jy kan dit mos nie doen nie. Dis skending van sy privaatheid.”
“Dit is nie. Dis inligting op die internet wat daar is vir enigeen om te sien.” Sy sit vorentoe om lekkerder te kan gesels. “In elk geval, hy het ’n MBA en talle ander kwalifikasies in die soort ding wat ’n mens nodig het om te weet as jy ’n string restaurante bestuur. Hy het selfs in Parys gaan leer om Franse kos voor te berei. Ek sal nie verbaas wees as die een of ander hotelgroep hom opraap om vir hulle te werk nie.”
Lize se gesig verhelder. “Miskien is dit die nuwe rigting wat hy moet inslaan. Kyk ’n bietjie op die internet of daar enige sulke poste beskikbaar is. Dalk kan ek hom aanmoedig om aansoek te doen.”
“Sterkte daarmee. Dit lyk my die man is ’n hardekop en het ’n wil van sy eie.” Sunet grinnik beterweterig.
“Dis my werk om hardekoppe sag te maak.”
Sunet lag hardop. “Inderdaad. Meneer Lessing weet nie wat hom gaan tref nie.”
Lize glimlag en klap die nuwe lêer wat sy vir Mark begin het toe. “Dis vir seker. Hier. Liasseer asseblief sodra jy die vorm met sy besonderhede ingevoeg het.” Sy gee dit vir Sunet aan. Sy kyk op haar polshorlosie. “Dis twaalfuur. Gaan ons iets te ete by die pizzaplek soek? Ek is nie lus vir toebroodjies nie.”
Sunet staan op en tel hulle gebruikte teekoppies op. “Ek dog jy vra nooit. Jou volgende afspraak is eers tweeuur.”
“Wie is dit?”
“Dis meneer Badenhorst, die ou wat hier kom aftree het en nou nie mooi weet wat om met al sy vrye tyd te maak nie. Ek kry gou my handsak,” antwoord Sunet vanaf die deur.
Lize tel haar handsak ook op. “Dis die meeste mans se probleem. Hulle wy hul ganse lewe aan ’n beroep en wanneer dit tyd word om af te tree, is hulle verlore.”
“Pleks dat hulle hul midlife crisis gebruik om stokperdjies te begin waarmee hulle kan voortgaan wanneer hulle aftree,” kom Sunet se stem vanuit die gang. “Ons moet wikkel voordat die vakansiegangers al die beste sitplekke op die dek aan die seekant gryp. Dis ’n heerlike dag om buite te sit.”