Skip to main content

Uittreksel | Roekeloos verlief

Een

Steffie bekyk haar handewerk met genoegdoening, lig dan die pers spieël en laat die gelukkige klant haar pragtige beeld bewonder. Die gesonde ligbruin hare is stylvol gekap, boonop met natuurlike lig­strepe en ’n kuif net-net uit die sielvolle bruin oë wat van genoegdoening traan. Selfs die tande blink spierwit toe sy haarself glimlaggend bekyk. Die lig­pienk naels wat na die spieël toe uitreik, glinster van perfeksie.

“Camille, jy gaan al die mans by die troue na jou laat smag,” sê Steffie tevrede. “Net ’n pienk strikkie, en jy’s reg om daardie bruid se kalklig te steel.”

Die mobiele troeteldierspa se deur gaan op ’n skrefie oop en haar jong assistent, Alisa, loer in, die bos donker hare woes en wild. Sy probeer blyk­baar sag praat, maar slaag nie heeltemal daarin nie. “Steffie, hier’s ’n nuwe klant. ’n Inloper. ’n Bielie van ’n ou en hy lyk nie juis vriendelik nie. Het jy tyd vir nog ’n was en sny?”

Haar polshorlosie wys vyfuur en dis Vrydagmid­dag. “Ek kom, dankie.” Sy knip Camille se leiband vas en tel haar van die tafel af. Haar stem verander in lawwe hondetaal. “Kom, Camille, jou mamma gaan jou opvreet van liefde. Wie’s die mooiste meisie in die buurt?!”

Die Yorkie-tefie blaf opgewonde, haar lyfie bewe van opwinding.

“Ja, jy is, Camille!” Steffie stoot haar ingerigte paneelwa se agterste deure verder oop en Camille spring in haar mens-ma se wagtende arms.

“Dankie, Steffie . . . Sy lyk pragtig,” sê die statige ou dame. “En dankie dat jy my so laat op ’n Vry­dagmiddag ingepas het. Camille moet môre mos die ringe dra by my kleindogter se huweliksbeves­tiging.”

“Dis ’n plesier, Mevrou. Geniet die troue.” Steffie waai vir haar terwyl sy by haar tuin in die sekuriteitskompleks in Pretoria-Oos verdwyn, dan kyk sy na die onvriendelike donkerkopman en sy wolf­hond. Glad nie onaantreklik nie. Beide van hulle. Die lenige man is geklee in ’n donkerblou chino, ligblou hemp en das wat tekens wys van ’n uitmergelende dag; die moue is opgerol en die gespierde voorarms is voor sy bors gevou. Haar oog vang die blink van sy trouring. Die Duitse herdershond langs hom bekyk haar met ’n skewe kop.

“Ek het die uncle gesê Camille was jou laaste ap­pointment.” Alisa se kake werk ’n bol kougom deur en haar hele houding sê dat sy nie op ’n Vrydag laat wil werk nie. Sy lyk komieklik kort langs die lenige man. Sy bruin oë wat nogal dieselfde sjokoladebruin kleur is as die hond s’n, takseer Steffie op en af en karring aan ’n senuweepunt wat moeg geskaaf is. Die rede: Sy het al seweuur vanoggend begin met troeteldiere was en sny en die meeste van hulle was nie maklike klante nie.

“Ek is Ivan von Beneke; die bielie van ’n ou wat nie juis vriendelik lyk nie, want sy dag was twintig uur lank.” Hy glimlag nie, frons net. Daar is diep kuiltjies in sy wange wat aandui dat hy wel ’n mooi glimlag behoort te hê. Sy hond wat haar nét so stink uitgekyk het, blaf nou ’n lawwe blaffer en hou sy poot uit. Blykbaar aanvaar hy haar as mens en die feit dat sy nou vir hom oortyd moet insit.

Iemand het darem maniere. Sy buig vooroor, haar lae rug protesteer van heeldag se gestaan, en skud sy poot. “Goeiemiddag . . .” Dan kyk sy vraend na Ivan.

“Max.” Dit lyk of die frons in sy voorkop gegraveer is; iemand wat baie stres het, of sommer net bloot foutvind met als.

Dalk sal botox help, dink sy, maar groet vriende­lik. “Goeiemiddag, Max. Is jy nou nie te aantreklik en ordentlik nie?” Steffie rek haarself dan in haar volle lengte uit en sorg dat haar kykers die eienaar s’n op byna dieselfde vlak ontmoet. Sy kan nie help om sarkasties te vra nie: “Ek wil net seker maak. Is jy die klant, Ivan, of is dit Max wat die bad nodig het?” Hy besef sy flater en ’n glimlag wil-wil aan sy mondhoeke pluk, maar die frons stoot dit eenkant toe. “Max. As jy dalk tyd het, sal ek bly wees indien jy hom net ’n goeie bad kan gee. Hy het hard gewerk vandag en moet môre ’n vertoning lewer. Ek sal ekstra betaal vir oortyd.”

Steffie bekyk die hond meer aandagtig. Hy is vol stof en lyk sommer vaal. “Hoekom is jy so vuil, Max? Het jy katte gejaag?”

“Nee, hy jaag nie katte nie. Hy is ’n opgeleide K9-lid van die SAP, eintlik afgelê, maar hy help my nog wanneer ek hom nodig het.” Sowaar skemer daar trots deur in die streng stem.

Sy grinnik. ’n Regte pappa en sy seuntjie.

Hoekom sal sy nie oortyd werk nie? Sy het mos nie ’n lewe nie. Geen man wat tuis vir haar wag met die braaivleisvure wat Vrydagaand vroeg reeds brand en ’n glasie wyn op die stoeptafel nie. Net ’n leë meenthuisie. En ’n nog leër bankrekening wat reeds hande klap toe die woorde, ekstra betaling, geuiter is. “Ek sal jou bad, Max.”

Sy torring die rekkie uit haar steil blonde hare en bind die slierte wat deur die dag losgekom het, or­dentlik bo-op haar kop vas. Partykeer wens sy sy het sulke welige, digte krulle gehad soos party van haar klante. Soos daai Franse poedel van ouma Leen. Nee, al wat sy het, is ’n gesig vol sproete soos ’n gevlekte cocker spaniel. En lang reguit hare wat nie eens in reënweer ’n kroesie van ’n krul wys nie. “Alisa, jy kan jou broer vra om jou te kom haal. Dis nie nodig dat jy my help nie. Max is mos ’n slim hond.”

“Dankie tog. Sien jou Maandag. Cheers.” Alisa begin wegstap, maar draai eers na Ivan en wys na die bussie waarop staan: Doggos & Gatos Troeteldierspa. “FYI – volgende keer vat jy die nommer op die kant van ons bussie en maak ’n afspraak soos enige normale mens, nè?” Sy stap heupswaaiend na die sekuriteitshek se kant terwyl haar vingers op ’n selfoon rondkarring.

“Jammer. Sy’s nog jonk. Het nie bankskuld om af te betaal nie.” Steffie voel eintlik net soos Alisa, maar sy mag dit nie hardop sê nie.

“Dankie vir die moeite.” Dis duidelik nie maklik vir Von Beneke, of eerder, die beneukte man, om dankie te sê nie.

“Dis niks. En Max kan mos nie só vuil gaan slaap nie.” Steffie trek die helderblou vollengtevoorskoot met die letters D&G daarop reg, skud ’n paar hon­dehare af. “Kom, Max.”

Hy wag eers vir sy baas se kopknik voordat hy haar die bussie in volg.

Die man se houding versag tog effens, veral toe sy oë sy hond volg. Beslis sy beste vriend. Dalk die enigste, te oordeel na sy ontevrede, oorwerkte ge­sigsuitdrukking. ’n Polisieman by die honde-een­heid, dus? Hy staan in die deur terwyl sy werk. Kyk seker dat sy nie sy seun beseer nie. Die man kan aantreklik wees soos hy wil, maar die frons ontsenu haar. Ook die feit dat hy haar werk so krities staan en bekyk. Wat maak hom so moerig? Sy het hoegenaamd nie lus vir mans se drama en grille nie. Nie ná haar vreeslike ervaring met die skelm José nie. Haar gesig word warm wanneer sy aan haar eie naïwiteit dink. Sy skud haar kop om van die spinnerakke ontslae te raak.

Terwyl sy by Max kniel om sy hare met ’n kam uit te borsel, vra sy vir Max asof Ivan nie daar is nie. “En watse werk doen jy by die polisie, Max?”

Hy blaf ’n antwoord en kyk na Ivan asof hy ver­wag Ivan moet as tolk optree.

“Hy ruik onder andere dwelms uit. En ek vang die skelms. Ek is ’n speurkaptein en doen ook afrigting by die honde-eenheid waar ek nog baie betrokke is.”

Sy kam voort, konsentreer dan op ’n koek wat sy versigtig afknip, dankbaar dat sy nie een van daardie skelms is nie. As Ivan só lyk wanneer hy ontspanne is, kan sy net dink hoe hy lyk as hy met die volle vuis van die gereg op jou afkom.

Ivan voel blykbaar hy moet meer sê. “Die sig in Max se een oog is nie meer goed nie as gevolg van ’n ongeluk. Dis hoekom hy afgetree het. Ek het gevra om hom aan te neem.”

Kyk, as ’n man nou in haar goeie boekies wil kom, moet hy ou, siek honde aanneem. Sy kyk hom goed­keurend aan, fokus dan vinnig weer op Max toe hulle oë ontmoet en haar maag ’n spontane draai maak. ’n Heel lekker draai. Nee. Dis omdat sy oë dieselfde bruin is as sy hond s’n en sy het mos ’n sagte plek vir sulke honde-oë. Enigste verskil: Sy is nie goed met nukkerige mans nie. Met honde is sy goed bekend: hul nukke, hul emosies en hul onblusbare liefde.

Sy kom orent, roep Max na die bad-en stortarea; hy spring sommer vanself in en sit en wag vir die waterspuit. “Jy is ’n gehoorsame hond, Max!”

Nadat sy die sjampoe oor hom uitgespuit het, gebruik sy die spuitkop met louwarm water om die skuim aan te help. Sy masseer sy dik pels met haar vingers en spuit hom skoon. Deurentyd gesels sy rustig met hom. “Jy verdien ’n warm bad, Max. Ná ’n lang dag se werk verdien jy ’n bietjie pamperlang en vanaand slaap jy lekker saam met jou pappa in die bed.”

’n Prentjie van die speurder met sy ewe lenige vrou tussen die lakens, laat haar bloos. Niks met haar te doen nie. Dink eerder aan haar eie leë bed wat haar elke aand begroet. En haar gewoonte om aangetrokke te voel tot elke lieplapper wat bestaan. Dom. Dom. Dom. Hoe kon sy José so maklik glo? Al daardie geld wat sy hom gegee het, nee, in die water gegooi het. Mag die polisie hom uit sy nes lok en hom vir iets, énigiets, vastrek. Boereverneuker, het haar pa gesê. Veral toe hy wegkom en haar nie ’n sent hoef terug te betaal nie. Want sy het vrywil­liglik belê in sy nonsens.

Met ’n handdoek droog sy vir Max ordentlik af, blaas dan sy lyf met die haardroër droog. Toe hy sy lyf en hare plesierig skud, sê Ivan van die agterste deur van die bussie af. “H’m, nou lyk jy omtrent goed genoeg vir ’n date, Max.” Die hond kom na hom toe en swaai sy stert toe Ivan sy hande om sy gesig plaas en hom liefderik aankyk.

“Kan ek jou sommer kontant gee?” vra Ivan heel inskiklik.

“Natuurlik.” Steffie maak die bestuurskajuit se binnedeur oop om haar faktuurboekie te kry. Geluk­kig is die paneelwa lekker ruim en hoog genoeg so­dat sy hier binne maklik rond kan beweeg.

Skielik is Max tussen haar bene deur en skiet soos blits tot voor in die kajuit. Hy maak opgewonde blaffies en krap met sy voorpote teen die passasier­sitplek.

“Wat is dit nou, Max? Wil jy saam met my ry?” lag Steffie.

Verbaas kyk sy om na Ivan wat ook nou reg ag­ter haar staan.

Die frons keep dieper toe hy sê: “Hy maak só wan­neer hy dwelms ruik.”

“Wow! Hokaai nou . . .” Steffie word uit die pad gestoot en Ivan roep Max agtertoe. Die hond gaan sit opgewonde langs Steffie wat terstond paniekerige hartkloppings kry. Hoe kan hier dwelms in haar bus­sie wees?! Dalk raak Max te oud vir sy werk en is sy reuksintuig nie meer so goed nie. Boonop het hy nog ’n amperse blinde oog ook. Siestog. Sy is die laaste persoon wat dwelms sal gebruik. Sy is, en wás, nog altyd te vrek bang; veral ná daar­die een onbesonne dagga-insident op universiteit.

Haar asemhaling is omtrent benoud toe Ivan onder die passasiersitplek rondvoel. Hy haal sy sakdoek uit en bring dan ’n klein plastiekpakkie wat gevul is met ’n wit poeierstof te voorskyn.

Al ken Steffie nie dwelms nie, kyk sy genoeg misdaadreekse op Netflix om te weet dié pakkie is vol kokaïen.

“Dis minstens ’n honderd gram! Mooi so, Max.” Ivan kyk haar veroordelend aan soos daardie einste polisiemanne op televisie maak.

Haar mond klap oop en toe. Haar kop draai. Wat gaan aan? Is dit Alisa s’n? Kan nie wees nie.

“Kyk, dis vir seker nie myne nie. Ek . . .”

“Dit is wat alle dwelmsmouse sê.” Hy stoot haar by die agterdeur van die waentjie uit tot in die straat. “Is daar nog waarvan ek moet weet?”

Steffie wil huil, gil en lawaai. Maar sy skud net haar kop verdwaas. Wat? Hoe?

“Waar kom dit vandaan?” Hy staan hier in haar gesig. Gebiedend en kwaai.

Haar oë rek net al hoe groter, haar stemmetjie yl. “Dis nie myne nie!”

“As jy nou praat, sal die aanklaer dalk genadig met jou wees.” Sy bruin oë is ongenaakbaar.

Steffie se hart bewe, haar brein die ene jellie. Sy sit op die bussie se agterste trappie, druk haar kop tussen haar knieë in, haal moeilik asem. Daar is ’n skielike kramp waar haar hart moet wees. Asem­haal. Asemhaal. Angsaanval. Sy weet goed hoe dit voel. Ná José het sy dit al ’n paar keer oorgekom.

“Is jy oukei?” hoor sy hom vaagweg vra. Max snuf aan haar hare, lek haar wang.

“Steffie?”

Sy wieg soos wanneer ’n mens ’n baba troos. Hou haar hande oor haar kop. Gedagtes maak haar duiselig. Haar ma en pa? Wat gaan hulle dink? Wie gaan haar hondesalon oorneem? Sy kan nie tronk toe gaan nie! Wie sou so iets aan haar doen? In haar bussie?

“Steffie,” praat Ivan nou rustig, sy hand warm op haar skouer.

Dit ruk haar tot aksie. Sy vlieg op, gooi haar hande in die lug. “Glo my net. Dis nie myne nie!” Dan gryp sy hom met beide hande voor aan die hemp. Hy moet luister. “Ek weet nie wie dit daar sou wou sit nie. Ek kan nie tronk toe gaan nie! Ek is kloustrofobies. Ek lyk sleg in oranje. Ek kan nie iemand se tronkwyfie wees nie. Ek kneus maklik.” Sy probeer haar trane wegsluk. “En ek is op ’n Keto-eetplan. Wel, meestal. Daardie olierige tronkkos gaan my siek maak. Ek is glutensensitief en wit stysel verstop my kolon vir dae aanmekaar.”

Die verbaasde oë voor haar laat haar oombliklik bedaar. Sy los sy hemp, probeer die kreukels wat sy veroorsaak het, met haar palms wegstryk. Sit dan haar hande oor haar warm wange. Skaam. Mórs­doodskaam.

Stilte.

Sy wurg na asem, probeer die trane wegvee en ontspan.

Ivan en Max kyk haar ewe angstig aan. Duidelik nie gewoond aan ’n histeriese vrou nie.

“Kyk, Steffie. Ek wil jou glo. Kom.” Hy sit sy arm om haar skouers en trek haar iewers heen.

“Wat nou?” Sy rem terug. “Arresteer jy my? Gaan jy my hier voor al die mense boei?” Haar gesig gloei van skaamte.

In die tuine rondom hulle staan ’n paar mense en staar.

“Nee, ek wil jou na my huis vat waar ons kan praat. Dis net hier oorkant.” Sy arm om haar skouers is beskermend, maar steeds voel dit asof sy na haar dood gelei word. Langs haar spring Max opgewonde op en af. Die verraaier. Ná sy hom so mooi gebad het, blaker hy al haar sondes aan die ganse buurt uit. Háár sondes?! Nee, beslis nie. Maar wie s’n dan?

Hulle volg Max wat vol baldadige vreugde na ’n enkelverdiepinghuis oorkant die pad hardloop; skynbaar verheug daaroor dat sy baas ’n besoeker kry.

Ivan stoot die voordeur oop en lei die lam ter slagting na binne. Hy maak die deur agter Max toe.

Betraand staar Steffie na die eenvoudige opset. Net die minimum meubels en noodsaaklike gor­dyne. Amper soos ’n bachelor se blyplek. Maar hy dra dan ’n trouring? Net sy sal oor só iets wonder te midde van ’n krisis soos hierdie.

Steffie gaan sit op een van die sitkamerbanke. Nogal egte leer. Max kom sit langs haar op die vloer, sit sy een poot op haar knie en lyk heel ingenome met sy vangs.

Ivan vroetel in die kombuis rond en kom met twee glase whiskey met ys in terug.

“Drink.” Hy sit die glas in haar hand. “Dit lyk of jy dit nodig het.”

“Ek weet regtig nie hoe . . .”

“Drink rustig, ontspan. Ons gaan die ding nou uit­sorteer.” Hy drink self ’n paar groot slukke en gaan sit op ’n gemakstoel oorkant hare. Die teetafel is darem tussen hulle en dit voel nie heeltemal soos die polisie se intimidasiekamer nie.

Die whiskey gloei warm in haar keel af, gaan lê op die krop van haar maag en maak haar sowaar rustiger. Of dalk is dit Max se poot op haar knie wat haar veilig laat voel. Of dalk die man se bruin oë wat nie meer so veroordelend lyk nie. Hy lyk aantrekliker wanneer hy nie frons nie, skiet ’n gedagte haar te binne. Nee, stop. Mans is taboe. Veral ná José. Veral een wat haar enige tyd gaan toesluit. Sonder om ’n oog te knip. En boonop getroud is.

“Is daar iemand wat iets teen jou het? Wat jou in die moeilikheid sal wil bring?” vra hy kalm, sy elm­boë op sy knieë en sy oë stip in hare. Tipies speur­der. Mis niks. “Ek besit ’n hondesalon. Wie kan my só erg haat?” Haar gedagtes soek verward rond na iemand wat ontevrede was oor hul hond of kat se behandeling of haarsnit. Wie? Daar is niemand wat gekla het nie.

Hy glimlag effens, die kuiltjies in sy wange dans. Sluk weer van sy drank. “Ek weet, maar dink meer persoonlik? ’n Eks dalk? Iemand in jou verlede?”

Haar brein skarrel rond tussen José en die paar mans wat sy al op sosiale media ontmoet het. Sy het mos nie tyd om iemand op die normale manier raak te kuier nie. Werk te veel en wanneer sy nie werk nie, maak sy huis skoon en was klere.

“Ek’t ’n erg vervelige lewe. Die enigste opwinding, of eerder ellende, was my laaste kêrel, José Domin­guez.” Dis ’n uiters persoonlike en vernederende sto­rie.

“Vertel?”

Sy ken hierdie man skaars en nou wil hy skielik die pynlike feite oor haar liefdeslewe weet? Dis seker hoe kriminele voel. Geen privaatheid. Die frons wat weer op Ivan se voorkop verskyn, laat haar spontaan praat.

“Ek het hom op ’n dating site ontmoet.” Ja, natuurlik blyk veroordeling in sy hele houding. “Ek wil ook mos liefde hê en ’n oulike ou ontmoet. Waar sal dit gebeur? Ek werk heeldag met troeteldiere.” Sy sluk haar verdediging terug en probeer saaklik verder praat. Kyk na Max wat darem lyk of hy ver­staan. Sy warm oë moedig haar sagkens aan. “Eers het ons net lekker gesels. Online. Ná so twee weke wou hy my ontmoet. Dit was of hy my omtrent geken het. Geweet het waarvan ek hou en als.”

“Jy weet natuurlik dat hy alles van jou op jou Facebook-blad gesien het? Jy lyk soos iemand wat met haar hart op haar mou rondloop en geen ge­heime vir enigiemand het nie.” Dit klink soos ’n beskuldiging. Is dit dan nie ’n goeie ding nie?

“Ek het ook geheime.” Nee, sy het nie. En hy is reg. Alles wat sy is en nié is nie, is op Facebook. En Instagram. Selfs op TikTok. Ook video’s van haar wat verskillende honde en katte was en skeer. Dis tog be­marking? “Oukei, ek probeer net myself en my hon­desalon adverteer en sosiale media is ’n goeie plek. Mense wil weet wie jy is as hulle hul troeteldiere aan jou sorg toevertrou. Hulle wil beslis nie hê die een of ander psycho moet met ’n skêr en ’n mes naby hul liefies kom nie.” Dis tog waar, of hoe?

“Ek verstaan. Veral deesdae met honde-ontvoerders wat orals kop uitsteek. Vertel my meer van José.” Hy tik iets op sy selfoon in; seker notas wat hy later in ’n hof teen haar wil gebruik, dink Steffie.

Verdomp. Maar sy moet hom van haar onskuld oortuig. Sy slaap nie vanaand, of enige ander aand, in ’n sel nie.

José? Sou hy sowaar iets so laag en gemeen kon doen? Omdat sy hom by die polisie gaan verkla het?

“Hy was sjarmant. Het deeltyds vir ’n private dierebeskermingsorganisasie gewerk. Net hier buite Pretoria. Of so het hy gesê. Hy het my nogal eendag daar gaan rondwys en het almal geken en gegroet. Daar was geen rede vir my om te dink hy jok oor enigiets nie.” Sy sluk haar skaamte weg. Hoe kon sy so dom wees? “Toe kom hy een aand laat by my aan en is vol bloed en dit lyk of hy aangeval is. Hy het gesê hy het gehoor die bestuur daar is met skelm dinge besig; hulle verkoop die ou diere aan leeu­parke vir kos en gebruik van die honde vir onwet­tige hondegevegte. Boonop is die polisie glo hand om die blaas met hulle en deel van die ding. Ek was histeries van bekommernis.”

“Hoekom is hy toe aangeval?”

“Want hy het hulle mos uitgevang en kon moei­likheid vir hulle maak.” Hy was só opreg en het selfs gehuil oor daardie diere. Sy het nog nooit ’n man sien huil nie. En sy was lief vir hom. Was sy? Seker? Dalk meer verlief op die gedagte van verlief wees op iemand wat goed en ordentlik is. “En toe dreig hulle hom verder en sê hulle gaan sy ouers en sussies en boeties vermoor as hy uitpraat.”

Ivan kyk haar sonder emosie aan. Weet seker wat kom. Max gee ’n paar meelewende blaffies, lek haar hand.

“Hy het ’n aanbod gemaak om die plek te koop. Om die diere te red van daardie veghokke en van leeukos word. Die eienaars wou twee miljoen rand vir die plek hê.” Sy sluk haar skaamte terug. “José kon ’n lening kry, maar moes tweehonderdduisend vir ’n deposito neersit. Hy het dit nie gehad nie. Sy gesin is maar arm. Hy was self blykbaar net ’n adminklerk in ’n bank en het nie sulke kontant gehad nie. Hy het my gevra of ek die geld sou kon voorskiet, en dan is ek ’n aandeelhouer. Ek kon so my eie besigheid uitbrei.” Sy sit haar hande oor haar oë. “Ek weet ek was dom. Ek wou net daardie diere red. Daar was ’n kreupel llama ook. En gesinnetjie Pirenese bergbokkies. En ’n paar donkies. En vlakvarke. Almal gered van slegte eienaars. Hulle sou geslag word vir hondekos.” Haar oë is ernstig op Ivan gerig. Hy moet tog verstaan.

“En toe gee jy vir hom die geld?” Nou vou hy sy arms. Seker om homself te beskerm teen soveel on­noselheid wat dalk aansteeklik kan wees.

“Ja. Ek het dit gaan leen. By die bank. Op my be­sigheid se naam.”

“En toe verdwyn hy?”

“Ja.” Sy sluk dapper. “En toe gaan sien ek die eienaars van die diereorganisasie en hulle sê hy werk af en toe daar as vrywilliger. Niks meer as dit nie. Niks dieregevegte nie. Niemand koop die plek nie. En toe gee ek hom by die polisie aan. Hulle het hom ondersoek, maar ek het die geld vrywilliglik gegee. Daar was nog nie ’n kontrak nie, want dit moes haastig gebeur.” Sy skud haar kop heftig, trek haar rekkie uit haar hare en bind die spul weer moede­loos in ’n fonteintjie bo-op vas. “Ek weet. Ek was só dom.” Sy gooi die res van die whiskey in haar keel af. ’n Rilling gly deur haar lyf. “En toe maak hy jou bang met allerhande dreige­mente?” Ivan weet duidelik hoe sulke swendelaars werk.

“Ja.” Sy sidder nog wanneer sy dink aan sy WhatsApps. Hy sou haar inwag en sorg dat sy met haar bussie verongeluk. Hy sal haar ouers gaan besoek en iets aandoen. “Ek het later ’n beskermingsbevel teen hom gekry.”

Ivan se foon lui. “Jammer.” Hy tel op, luister aan­dagtig, sê ’n paar woorde en lui af.

“Ek het, terwyl jy gepraat het, José se naam vir ’n kollega gestuur en dis hy wat nou teruggebel het. Klink my José is nogal besig. Orals in Gauteng. Die polisie soek hom tans vir verskeie bedrogsake. En nog twee van sy vorige meisies, oftewel slagoffers, is soos jy deur hom gedreig en is ook met versteek­te kokaïen in hul besit gevang.”

Steffie kan sien hoe die ratte in sy kop werk. Die speurder is aan die dink; hopelik beteken dit sy’s nie ’n verdagte nie. Daar is immers geen vingeraf­drukke van haar aan daardie sakkie dwelms nie. Dit tel seker?

Sy staan op, loop op en af in die vertrek.

“Kan ek maar huis toe gaan?”

“Jy kan, ek sal jou Maandag kontak oor José en ook ’n verklaring van jou afneem. Gee my jou selfoonnommer, asseblief.” Hy staan reg met sy foon en sy rammel die nommer af.

Sy haat dit om die jammerte, of eerder die totale veroordeling, in sy oë te sien. Mans weet nie hoe broos vroue is nie; veral as hulle soek na die liefde van hul lewe. Die ridder op die wit perd wat haar van haar voete af swiep met sy romantiese woorde en dade. Die jare stap aan en sy is al vyf en dertig en sy sit net met ’n snobistiese Siamese kat en ’n Skotse terriër wat haar saans geselskap hou. Al wat sy het om mee te spog, is ’n rits verhoudings wat uitmekaar geval het nog voor dit begin het, want sy kies mos die laagste gespuis op die rak van hubare mans. Dis haar superpower. Behalwe nou vir haar eerste universiteitsliefde, Danny, wat baie ordentlik was. Ná vier jaar van uitgaan los hy haar toe vir ’n ander man. Haar selfvertroue, én die vrou in haar, het hard en ver geval. Dalk was sy só vrot in die bed dat Danny vir die ander span begin speel het? Sedertdien voel sy nooit vrou genoeg of verleidelik genoeg vir enige man nie. Hierdie gefokusde speur­der sal beslis nie haar dilemma verstaan nie.

Met ’n knop in die keel klim sy in haar Doggos & Gatos-paneelwa en ry na haar meenthuis sowat vyftien kilometer van daar. Die lewe is soms niks lekker nie. Veral nie vir ’n alleenloperoujongnooi nie.