Skip to main content

Uittreksel | Riviere in die wildernis

INLEIDING

Elah, my terebint

Waarheen sal die wind en wolke gaan
sonder die stem van God?
Wie sal op die uithoek van die aarde staan
en roep: Keer terug vanwaar Ek jou geplant het?
Jy soek-soek en vind niks.
Ek roep-roep in jou binneste in.
Hoor My vandag as Ek jou naam noem.
Elah, my terebint,
geregtigheid laat die son skyn en die takke bloei.
Staan jy op na waar Ek roep.
Jou tuiste is die Eden-plek.
Jy hoor, jy stap, jy vind jou weg.
Let op hierdie een van My,
sy het haar skuilplek vanuit die ooste verkry,
geroep deur die ware geluid,
genoem terebint van geregtigheid.

 

Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ’n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.
– Jes. 43:19, AFR53

Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.
– Matt. 5:43-45, AFR53

Vir my vyf kinders: Eliah, Daniël, Evah, Elah en Johannes Samuel. Sodat julle saam met my iets kan onthou van ’n wandeling buite tyd saam met God in die aandwind.

Ek kan julle nie eintlik myne noem nie omdat alles uit God gebore word.

Julle het my toegelaat om die hoogste vorm van liefde en die diepste plekke van pyn te beleef. Tot en met julle het ek nog net aan die oppervlak van liefde en pyn geraak. Alles was nog net in fraksies. Dis soos om die see van buite te beleef sonder dat jy ooit jou kop daarin kan druk om te sien wat onder die water leef. Dit is ook soos om te leef sonder dat jy jou oë onder die water oopmaak en ophef na die hemele om die blou lug te aanskou. Julle koms na die aarde het vir my ’n venster oopgemaak na hemelse plekke. Ek kon roetes na skatte en ’n brief gebêre op ’n Allerheiligste binneplek onder ’n versoendeksel ontdek.

Aan Eliah en Daniël wat die eerste sleutels vasgehou het van die verhulde kamers van my hart. Die kamers was donker, maar julle het ’n plek gehou vir die lig. Julle is my kompas na die ooste wat my herinner het aan my roeping van ’n voortyd.

Aan Evah. Jy het my leer halleluja sing terwyl ek dood in my arms vasgehou het. Al was jou fisiese bestaan kortstondig het jy my iets laat sien van die lewendes wat dood verklaar is. ’n Wolk van getuies. Deur jou bestaan kon ek besef daar is ’n onsienlike spasie waarin ek God in my pyn kan prys.

Aan Elah. Met jou oë vol lig en jou lag gesetel in ’n vreugdevolle verstaan van vergenoegdheid binne die vallei is my lam knieë en swak arms weer opgerig. Jy het my gebring tot op ’n  plek waar ek my kop soos Jakob op ’n klip kon neerlê en die leer tot die hemele kon raaksien en uitroep: “Hierdie is die huis van die Here! Waarlik dit is!” Jou siekte het my geleer hoe om God te soek en te vind dat Hy nooit ver is nie.

Johannes Samuel, jy het my laat ervaar hoe dit voel om jou pasgebore baba in jou arms te mag vashou. Jy het dit wat van my weggeruk was, kom teruggee. Jou boodskap vir my was die verskil tussen die ware evangelie van Jesus en die vervalsing. Hoe om God vrylik te kan hoor al slaap jy in ’n huis van ’n Levitiese priesterorde wat met mensehande gebou is.

Vir Joe, die liefde van my lewe. Jy lees nie Bybel nie, maar ek dink jy bid soms. Jy loop wye draaie om die kerk, en tog kom baie van God se woorde tot my deur jou mond. Hy leef in jou handel en wandel. Hy leef in jou lag.

Vir my eerste man deur wie ek die diepte en essensie van Jesus se woorde, “Jy moet jou vyand liefhê” , kon begryp en deel maak van wie ek is.

Vir my ouers. Mag hierdie legkaartstuk ons almal van gebroke verledes bevry.

Ek was eens soos die baba op die Nyl in pyn laat gaan met die hoop op lewe. Veilig in ’n arkie, ’n oeroue tabernakel, met oë wat my soos Mirjam dophou tot ek veilig uit die water van menslike voorsiening gehaal is om weer teen die bors van my Vader te rus.


Hoofstuk 1

’N TYD VOOR TYD

EK... ek ...

Sal ek hierdie boek met die woordjie “ek” begin? Dis ’n term waarvan ek amper vervreem het omdat ek deel het aan ’n kollektiewe samestelling wat ek ’n vermeerdering noem. Hulle name is Joe, Eliah, Daniël, Evah, Elah en Johannes Samuel.

Dit laat my dink aan die seuntjie wat twee vissies en vyf brode vir Jesus bring om duisende mee te voer. Wanneer die kleinste, die een met die minste, gee wat in sy hand is, vermeerder dit van ’n tekort tot oorblyfsels. Jesus het die pad van vermeerdering geword toe Hy kies om as ’n koringkorrel in die grond te val en sterf. Dit het veel vrug gedra en baie nasate tot gevolg gehad.

Ek sien myself amper nie eens raak teen die agtergrond van die geverfde kosmos waarvan ek  ’n deeltjie uitmaak nie. Ek sien my man, my kinders, my pa, my ma, my broer, my suster, my eksman, ons huishulp, Jesus, die vrou langs die pad, die sterre, die wind en die weerlig. Ja, ek dink ek het ook vermeerder in elkeen van hulle, ingeskryf as ’n woordjie, ’n elektriese golf, ’n frekwensie.

“I am, I said, to no one there,” sing Neil Diamond. Dis meeste van die tyd hoe ek voel. Ek sê eerder wanneer ek alleen is aan geeneen in ’n vleeskleed: “Ek is...” Want in meeste gesprekke hoor ek by ander wie ek is. Ek luister, maar ken haar nie soos hulle haar ken nie. Sy het ook vir my iemand geraak van wie ek al in ’n tydskrif gelees het of iewers oor ’n radio gehoor het. Al waar ek waarlik hoor, is in die stilte van ons huis. Dis soos ’n tabernakel vir my, waar die waarheid van my binneste soos ’n bliksemstraal van die aarde af op hemele toe skiet, en ek weet ek is.

As kind het ek gehoop om raakgesien en gehoor te word deur ’n geliefde. As volwassene wil ek net hê die berge moet my sien en die aandwind moet my hoor. Die behoefte van die eie ek het gekies om te sterf. Soos wurmpie Jakob het ek vir my vlees ’n kokon gevleg. Eers was ek sonder fasette-oë, ’n onversadigbare vreter. Ek het die dag sien breek, maar lig kon nie my oog penetreer tot op ’n retina wat ’n omgekeerde prentjie kon herken nie. Ook het ek gevreet aan komplimente en sierlike mantels totdat daar niks meer waarde vir my daarin gelê het nie. Ek het stil gelê en ophou herkou aan ou brood uit kake wat oudergewoonte nooit ophou beweeg nie. Ek het vervel totdat mensgemaakte mantels nie meer om my lyf gehang het nie. Tot ek naak kon staan in ’n tuin waar die Skepper langs my in stilte kom staan het in die skemer en ek vir die eerste keer myself in Hom kon sien. Ek is.

As ek nou die woordjie “ek” uiter, besef die klein ek hoe sy deel is van die groot Ek Is. En as ek die boek sou begin met “ek”, sal dit maar net een sterstofdeeltjie wees van ’n totale uitlating van ’n gematria van saamgestelde woorde wat ook weer tot stof kan kom. Of dit word ‘n ligstraal wat in die kosmos van tyd my miskien sal kan laat terugkyk en onthou van ’n tyd voor tyd, waar my oog iets meer kon waarneem as net die hier en nou.

Die fisiese liggaam waarin ek en jy vasgevang is om ’n bepaalde merk te tref in ’n onsienlike narratief, kom tot niks. Ek bestaan in die niet, in die nou, asof daar twee van my as een loop op dieselfde tyd in verskillende tydgrepe van kronos en kairos. Aan die een kan ek vat. Aan die ander kan ek my vinger nie sit nie en tog saam skep soos ek as die klein woord uit die mond van God openbaar word, eers aan myself en dan aan ander. Dis die woord wat God oor my geroep het, soos Hy dit onthou en spreek.

Die Griekse woord “rheō” beteken “to flow, to speak, to say”. Dis die klein woord wat ek is in die Groot Woord wat God is. Die Griekse woord “rhema” beteken ’n uiting, uitlating of uitspraak en verwys na die gesproke en persoonlik toegepaste Woord van God.

Die woord “Logos” verwys na die totaliteit van die geïnspireerde Woord van God en na Jesus, die lewende Woord. Dit word ook gebruik om te verwys na die openbaring van God in die wêreld. Soos Tom Gouws gesê het: “As God die saamgestelde gedig is, is ons die woorde in die gedig” God is die totale en algehele uitlating en ons is die kleiner uitdrukkings daarin.