Skip to main content

Uittreksel | Rimpelinge

Een

Elani Neethling versnel haar pas vir die soveelste keer. Die man wat haar nou al ’n geruime tyd agter­volg, is besig om haar in te haal. Sy kyk benoud op die strand rond, maar sien geen moontlikheid om van sy teenwoordigheid te ontsnap nie. Aan haar een kant is die oseaan en aan die ander is onbe­gaanbare terrein met skerp rotse.

“Hei, jy het nie nodig om soos die Road Runner weg te hol nie. Ek is nie ’n bylmoordenaar nie, ek wil net kennis maak,” roep ’n diep stem bo die geruis van die branders uit.

“Ja, right. Jy is (hyg) ’n Sondagskoolonderwyser (hyg) en op ander dae help jy ou tannietjies oor die straat. Gaan net (hyg) weg, asseblief!” Elani stop en hang vooroor om asem te skep, nie in staat om ’n enkele tree verder te hardloop nie. As hy haar iets onheiligs wil aandoen, moet hy dit nou maar doen, haar gô is uit.

Hy kom sak langs haar op die sand neer en neem ’n rukkie om self ook sy asem onder beheer te kry.

Elani loer deur skrefiesoë verblind deur sweet na hom. Hy lyk darem nie te wreedaardig nie en is duidelik te uitgeput om haar enige leed aan te doen. Sweet drup ook uit sy donker hare en kleef aan baardstoppels. ’n T-hemp klou deurweek aan breë skouers en welgevormde spiere. Die man se voorkoms is dié van ’n model uit ’n tydskrif vir jong sportlui. Hy boer seker in die gim. As sy nou so ver­lief op die liefde was soos haar woonstelmaat, kon sy hierdie situasie miskien as ’n romantiese ontmoeting beskou, maar sy bly immer versigtig. ’n Mens weet nooit. Hulle sê mos reeksmoordenaars lyk gewoonlik doodnormaal.

“Daai mooi bene van jou kan nogal beweeg, hoor,” verklaar hy asemrig. “Ek kon skaars byhou.”

“Seriously? Jy sê jy is nie ’n bylmoordenaar nie, maar hoe moes ek dit nou weet? Ek het gedink ek vlug vir my lewe.”

Hy lag en vee sweet uit sy oë. “Hier op Bietjiebaai gee ons mekaar nog die voordeel van die twyfel, weet jy?”

Elani kan nie help om die speling van spiere in sy sterk voorarm te bewonder toe hy sy arm lig nie. “Nou vir wat jaag jy my dan?”

Sy vang sy waarderende blik op haar bene. “Ek sê mos ek wou jou inhaal om nader kennis te maak. Jimmel, julle stadsjapies is flippen agterdogtig.”

Elani vryf oor haar borsbeen, daar waar haar longe steeds van die inspanning brand. “Hoe weet jy ek kom van die stad af?”

“Jou ouma sê so. Jy het gistermiddag laat met ’n ou skedonkie hier by ouma Janie se huis gear­riveer.” Sy mooi oë terg haar.

“Skedonkie nogal? Dorothy sal in haar eer gekrenk wees. Sy is ’n waardige, klassieke ou dame. En jy weet daarvan omdat . . .?” Haar stem styg van verontwaardiging. Die kar wat sy van haar oupa geërf het, lê haar na aan die hart. Sy laat haar erfstuk nie uitskel vir ’n skedonkie nie.

’n Vinnige glimlag verhelder sy hele gesig. “Askies tog. Dorothy. Ek vra opreg om verskoning.” Hy vee sy regterhand aan sy sweetpakbroek af en hou dit na haar toe uit. “Ek is Rick Bekker, ouma Janie se buurman, en jy is haar kleindogter wat kom help het om haar huis op te pak voordat sy oor ses weke af­treeoord toe trek. Elani, nie waar nie?”

Bewus van die feit dat haar hande sweterig is, raak sy net vlugtig aan syne. “Ek sien die grapevine werk so goed soos altyd hier op Bietjiebaai.” Genugtig, hy weet als van haar af!

Sy tande flits weer wit in die vroeë oggendson voor hy opstaan. “Ek en ouma Janie kom baie goed oor die weg. Natuurlik weet ek elke detail van haar enigste slimkopkleindogter af.”

Elani kom regop en begin stadig terugstap. “Ouma is nou nie juis inkennig nie,” merk sy droog op.

“Nee, maar sy is nogal eensaam ná haar man se dood met dié dat jy so besig met jou studie is. Ek doen vir haar dinge in en om die huis, en as vergoeding ontferm sy haar oor my en nooi my dikwels vir ete,” vertel hy.

’n Skuldgevoel oor sy so lank laas hier was, pla haar, maar dis omdat sy hard moes werk om haar tesis afgerond en ingehandig te kry, verontskuldig sy haarself. Daarna moes sy nog talle aansoeke in­vul vir werk vir volgende jaar. Skuldgevoelens bring niemand iets in die sak nie en sy skud dit af. “Jy is nie ’n bylmoordenaar nie, maar ’n verleier van on­skuldige ou tannietjies, klink dit my. Ek wonder net wat is nou eintlik die ergste.”

“Ha, ha. Jou ouma Janie is allesbehalwe ’n verlei­bare ou tannietjie; sy is ’n mag om mee rekening te hou. Sy kan enige man op sy plek sit, glo my.” Hy val langs haar in en pas sy langer treë aan by hare. “Jy is ’n statistikus wat pas klaar geswot het.” Hy laat dit soos ’n beskuldiging klink.

“H’m. Jy is goed ingelig. Lyk my ek sal my ouma voor stok moet kry oor haar los tong. Snaaks, sy het my niks van jou vertel nie.”

“Ek is seker maar te oninteressant. Sy sing ge­durig lofsange oor jou, maar sy is bekommerd oor jy op vier en twintig nog nooit in ’n vaste verhouding was nie,” hou hy geselserig met alwetende oë vol. “Hoekom?”

Elani vererg haar nou. “Miskien bring jy te veel tyd in oumensgeselskap deur. Dit maak jou net so be­moeisiek soos ’n ou tannie. Haal jou neus uit my sake uit.” Sy spring weg en hardloop terug huis se kant toe.

Hy lag onbevange. Dis asof haar woorde van hom afgebons het soos sy lag nou van die rotsbank af terug na hulle toe eggo. Met lang treë draf hy ewe ge­maklik saam. “Mooi, man. Ek het gewonder of daar darem ’n bietjie vuur onder jou nerdlagie skuil.”

“Nerdlagie?” Sy weet sy word as ’n bleeksiel beskou, maar niemand het haar nog ooit so blatant daarvan beskuldig nie, veral nie ’n volslae vreemdeling nie.

“Jy is ’n wiskundige – sistematies en berekend, wat reeds op jou jong ouderdom ’n meestersgraad voltooi het.” Hy steek twee vingers op en kruis dit met twee ander. “Hashtag #nerdalert. Maar ek ver­moed onder alles skuil ’n wilde katjie wat beur om uit te kom.”

“Jy klink nou nes Jane, my woonstelmaat. ’n Wilde katjie, nè? Miskien moet jy liewer jou opinie vir jou­self hou.” Hoe weet hy dat sy ’n heimlike begeerte het om so ’n onpretensieuse persoonlikheid soos Jane te hê? Sy is hartlik moeg daarvan om as ’n beskimmelde boekwurm beskou te word. Haar asem begin al weer jaag. Of dit van inspanning, opwinding of ergernis is, weet sy nie, maar sy wil net wegkom van hom af. Hy krap waar hy geen reg het om te krap nie, en tog maak die onderonsie haar net so ’n klein bietjie opgewonde. Daar is iets aan hom wat iets in haar met ’n onsigbare draadjie aantrek.

“Ek is nie bemoeisiek nie,” sê hy toe hy langs haar by haar ouma se tuinhekkie tot stilstand kom.

“Sekere mense interesseer my net meer as ander.” Hy staar met twee whiskeybruin kykers tussen dig­te wimpers reguit in haar oë. “Sien jou nou-nou. Ek het jou ouma belowe ek sal kom help om die sol­der leeg te maak.” Hy lag toe sy haar weer vir hom opruk, pluk onverwags aan haar poniestert en draf weg na die huis langsaan.

Elani kyk die lang figuur agterna en vee oor haar nek toe die vel aangenaam prikkel daar waar sy hand vir ’n oomblik teen haar geskuur het. Sjoe. Hy is nogal iets. Sy kan nie besluit of sy geïrriteerd of geïnteresseerd is nie, maar dat Rick Bekker haar nie koud laat nie, is ’n feit en dit is futiel; haar prioriteite sluit nie romanse in nie. Sy los dit liewer vir Jane.

Sy interesseer hom meer as ander mense? Nee wat, natuurlik sal hy haar, nes alle ander mans, kort voor lank as ’n volslae bloukous beskou en dan be­langstelling verloor. ’n Man is buitendien die aller­laaste ding wat nou haar aandag werd is. Die nerd in haar moet besluit watter een van die twee werksaanbiedinge wat sy die afgelope tyd ontvang het, sy gaan kies, en dan moet sy daarop fokus. Geen man durf haar aandag in beslag neem nie, sexy ofte not.

“Oumie, waar is jy?” roep sy toe sy by die voor­deur ingaan.

“Hier in die kombuis. Kom, dan eet jy sommer iet­sie vir ontbyt, ek het plaatkoekies gebak.”

Elani snuif waarderend toe sy in die kombuis inkom. “H’m, dankie, Ouma. Dit help veel ek draf vir oefening en dan voer jy my vet.”

Ouma Janie sit ’n bord met ’n stapeltjie plaat­koekies voor haar neer en stoot die houer met heuning nader. “Ek kry min genoeg die kans om jou te bederf. Geniet dit.”

“Ek het Ouma se buurman op die strand ont­moet,” gesels Janie terwyl sy haar plaatkoekies met heuning bedruip.

“Praat jy nou van Rick, die sexy jong man aan hierdie kant, of ou grompot Joost aan die ander kant?”

“Ouma! Ek dog as ’n mens oor sewentig is, weet jy nie van iets soos ’n sexy man nie.”

“Ha, ha, funny. Bo sewentig mag vir jou oud klink, maar ek is nog lank nie dood nie en geensins blind nie, hoor.” Haar ouma gooi ’n lang straal heuning oor haar eie stapeltjie ontbytgebak.

Elani lag lekker. “Dit klink my ek het baie om te leer.”

“Dis vir seker. Ek is oortuig jy het die man van ’n kant af sleggesê eerder as om vir hom ogies te maak soos ’n aantreklike, hubare man soos hy ver­dien.”

Elani se vurk, gelaai met ’n stukkie plaatkoekie waarvan die heuning op haar bord afdrup, huiwer voor haar mond. “Ogies maak? Ekke? Is dit iets wat ’n mens oor jou flapjacks kan gooi soos heuning?” hou sy haar dom.

Ouma lag. “Nee, dis deel van die liefdespel soos al eeue lank beoefen word, soos jy veronderstel is om te weet,” verduidelik sy tussen monde vol van die lekkerte deur.

“Natuurlik weet ek dit, Ouma, maar dis eenvoudig nie in my DNS ingebou nie. Ouma weet mos ek is ’n gebore boekwurm, nie ’n flirt nie.”

“Nonsens. My DNS is deel van jou en ek weet dis in jou ingebore om ’n sexy man te kan waardeer. ’n Klein flirtasietjie kan nie skade doen nie. Jy en Rick sal die allermooiste babas maak,” hou haar ouma haar baie slim.

“Ouma!” Elani verstik terstond. Genade, dis net haar ouma wat binne sekondes van ’n flirtasie na babas maak sal vorder!

’n Groot hand klop en vryf onverwags op haar rug. “Wat hoor ek? Ouma Janie, deel jy tog nie my . . . e . . . liefde uit nie?” vra ’n diep stem hier bokant haar kop. “Dis ’n skaars en gewaardeerde kommoditeit, weet jy?” Dit veroorsaak dat Elani net meer hoes en proes. Sy loer om. Hy moes ongesiens by die agter­deur ingekom en sowaar gehoor het wat haar lawwe ouma te sê gehad het. Aan sy nat hare en die ligte, skoon reuk van naskeermiddel lei sy af dat hy binne ’n rekordtyd gestort en geskeer het.

Elani kyk vinnig weer anderpad. Sy kan om die dood nie tegelyk verstik én swymel nie, dan gaan sy beslis hierdie lewe laat. “My ouma hallusineer, of miskien is dit die begin van alzheimersiekte,” kry sy die ou dame terug.

Ouma Janie is egter onaangeraak. “My brein makeer niks, baie dankie. Ek wil net voor ek my kop neerlê my eerste agterkleinkind in my arms hou. Hulle sê juis op die internet vier en twintig is die heel gesondste ouderdom vir ’n vrou om haar eerste baba te hê.”

“Miskien moes ek vir Ouma ’n plekkie in die de­mensieafdeling van die aftreeoord bespreek het in plaas van om Ouma te leer hoe om die internet te gebruik,” terg Elani net nog so ’n bietjie om haar ouma stil te kry oor babas. Sodat Rick asseblief tog kan ophou om haar rug te vryf? Haar hele lyf tintel van sy warm aanraking en haar hart raak al meer opgewerk in haar borskas. Wat gaan vandag met haar aan?

Ouma Janie skep ’n aansienlike stapel plaatkoekies vir Rick in en beduie hy moet sit. “Eet, kinders. Daar is meer as veertig jaar se opgaargoed op die solder wat gesorteer moet word, en ek kan nie meer daai steil trapleertjie klim nie. Hier is baie werk en die treklorrie kom oor ses weke. Om nie eens te praat van die vendusie wat ons hier sal moet hou nie om van als wat nie in my nuwe woonstelletjie kan inpas nie, ontslae te raak.”

“’n Vendusie sal nie nodig wees nie, Ouma, ons adverteer die goed sommer op Facebook en voor jy weet, is als verkoop.” Rick gaan sit langs Elani en lê smaaklik weg aan sy ontbyt.

“Ons moet drie stapels maak wanneer ons sorteer. Een hopie goed van sentimentele waarde wat Ouma wil hou, soos byvoorbeeld fotoalbums, dan ook ’n hoop goed wat verkoop kan word, en ook ’n derde hoop goed wat vir liefdadigheid geskenk kan word,” raak Elani prakties nadat sy ook gaan stort het terwyl Rick vir Ouma in die kombuis help opruim het.

“Ek het reeds die afgelope tyd vir Ouma karton­dose bymekaargemaak.” Hy wys na twee leë bokse wat hy gaan haal het. “Ek sal nog uit die motorhuis bring wanneer nodig,” vertel hy, steek ’n hand op en maak die solder se valdeur in die gang oop.

“Hoekom noem jy haar Ouma? Sy is mos nie jou ouma nie,” vra Elani bitsiger as wat sy dit bedoel het. Sy weet sy is uiters besitlik oor haar enigste oorbly­wende familielid ná haar ouers albei in ’n motorongeluk omgekom het, maar sy kan dit nie verhelp nie.

Haar stemtoon pla hom egter blykbaar nie, want sy antwoord is doodbedaard. “Omdat sy dit so ver­kies. Buitendien, sy voel vir my soos my eie ouma. My enigste ouma is lankal reeds oorlede.”

“Oukei, ek vra maar net,” antwoord sy heelwat sagter. Sy kon daar in die kombuis agterkom dat haar ouma werklik erg oor hom is en dis seker oukei. Dit klink of hy omsien na die ou dame wanneer sy nie hier is nie, en dit tel beslis in sy guns.

Hy laat sak die trapleer uit die dak uit. “Buitendien, as ek die pa van haar agterkleinkind gaan word, sal sy mos regtig my ouma wees,” sê hy met sy tong duidelik in sy kies en beduie dat sy voor hom met die leer na die solder moet opklim.

Elani se ore word al weer warm en sy loer vinnig kombuis se kant toe om te sien of Ouma nie dalk gehoor het nie. “Stop dit. Jy en Ouma praat albei bog, twak en onsin.”

Hy lag en sit sy hande op haar heupe om haar ’n hupstootjie by die solder se valdeur in te gee. “Dit mag wees, maar dis pure lekkerkry om te sien hoe die sexy girl onder jou nerdlagie telkens te voorskyn kom.” As bevestiging kry sy ’n klappie op haar ag­terstewe in skinny jeans.

Elani sluk byna haar kleintongetjie in. Die man is aanmatigend, om die minste te sê, en haar reaksie daarop is, nou ja, wat dit is. “Hei, gedra jou! Sulke vryhede is ongeoorloof as jy my skaars tien minute ken.”

“Ek weet alles wat daar te wete is omtrent jou, en dit tel vir baie meer as tien minute,” kom sy ant­woord ongeërg.

“Dit sal die dag wees.” Elani se hand soek na die skakelaar, sy sit die solder se lig aan en kyk rond. “Eisj, hier is baie werk . . . en ’n swetterjoel spinnekoppe.”

Hy gee vir haar die twee leë kartondose aan voor­dat sy bolyf bo die valdeurtjie verskyn. “Oeg, hier is omtrént ’n horde goeters,” merk hy op en hys hom­self verder in die dakspasie in.

“Dis heilige grond hierdie. Ek is seker hier is goed wat uit Ouma se kinderdae dateer,” merk Elani op.

“Ongelukkig sal sy van baie daarvan ontslae moet raak. Ek glo nie daar sal in ’n klein woonstel­letjie plek wees vir soveel sentiment nie.”

Elani skud haar kop. “Nee, en my en Jane se woonstel in die stad het net so min ruimte.”

“Sal julle oukei wees daar bo?” kom Ouma se stem vanuit die kombuis.

“Ja, Ouma. Dis nou as ons nie verstrik raak in die spinnerakke en al Ouma se herinneringe nie,” antwoord Elani en vee ’n klewerige spindraad uit haar pad. Dis nou as die onbehoorlike sinnebeelde in haar kop van haar saam met Rick haar nie lank voor dit laat omkom van skaamte nie. Dit is alles haar lawwe ouma se gepratery oor babas wat haar verbeelding so op loop het. Om nie te praat van die feit dat hy nie sy hande van haar kan afhou nie. Dan is daar natuurlik haar reaksie daarop – nou is dit nie Ouma wat hallusineer nie, maar sy!


“Hoekom het jy by jou ouma grootgeword?” vra Rick en skuif die leë bokse opsy sodat hy haar beter kan sien. Dis vir hom lekker om haar reaksies dop te hou. Hy wonder of sy weet watter sprekende oë sy het.

“Hoekom woon jy op Bietjiebaai en nie in die stad nie?” vra sy ’n teenvraag nadat ’n klein plooitjie vlugtig tussen haar wenkbroue verskyn en weer verdwyn het.

Rick voel hoe ’n glimlag stadig oor sy gesig ver­sprei. Hy lees haar soos ’n boek. Dis die tweede keer vandag dat sy hom duidelik laat verstaan dat hy haar privaatheid moet respekteer. Kruidjie-roer-my-nie, nè? Sal hy gehoorsaam, of sal hy haar net nog ’n klein bietjie pla? Miskien moet hy liewer daardie lekkerte vir later bêre. “Oukei, ek sal my neus uit jou sake hou.”

Elani kyk om hulle rond na die stapels goed wat oral rondstaan. “Miskien moet ons eerder alles uit­dra sodat Ouma vir ons kan sê wat sy wil hou en wat nie. Anders gaan ons heeldag hier besig wees sonder om veel te bereik,” raak sy prakties.

“Jy is reg. Ek dink ek gaan vir John, wat vir my en Ouma tuinwerk doen, kry om my te kom help om alles uit te dra. Dan kan jy en Ouma die sorteerwerk doen,” stem hy saam.

“Dis ’n goeie plan,” sê sy en klim sommer onmid­dellik weer met die trap af na onder. Hy glimlag. Sy kan ook nie gou genoeg van hom af padgee nie, kan sy?

Hy wonder hoekom sy so liggeraak oor haar per­soonlike lewe is. Is sy maar net ’n privaat persoon, of steek sy iets weg? Miskien maak dit seer om daaroor te praat. Hy trek sy skouers op. Dit het sekerlik niks met hom te make nie. Daar is goeters waaroor hy ook nie graag praat nie, dinge waaroor hy al jare met God worstel; dus kan hy haar beslis nie kwalik neem as sy nie oor haar eie seermaakgoed wil praat nie.

Hy het Bietjiebaai toe getrek met ’n baie spe­sifieke doel voor oë. Iets wat hy ook nog met nie­mand bespreek het nie, want dis ’n seer wat hy sy lewe lank al saamdra. Hy weet dis verkeerd om daardie seer aan sy bors te koester, maar hy kan dit nie verhelp nie. Dit het immers sy hele lewe gevorm en bepaal. Dit het hom gemaak wie hy is; die een wat sy seer weglag en verskans agter sy pogings om ander te terg en te laat lag.