Skip to main content

Uittreksel | Rendesvous in Santa Cruz

Een

Buite gaan die lewe aan. Motors raas, remme skree. Hier binne egter heers die ewige stilte.

“Dit help nie jy staar net na my met daardie leë groublou oë nie. Soos altyd sit jy net daar met ’n mond vol tande, maar vandag is jou laaste kans om iets te sê. Vir jare mimeer jy net alles wat ek sê, terwyl ek die misnoeë in jou oë kan sien. Wel, ek het nuus vir jou. Dis verby. Die spasie in die houtraam het te klein geword vir Samantha Loots. Daar is ook nie meer plek vir Stefan Hough nie, want hy verkies mos sy sekretaresse.”

Samantha tel die lipstiffie op en kleur haar vol lippe dieprooi. Klad hulle opmekaar.

“Mooi lippe, né?” smaal haar spieëlbeeld vir haar.

“Net jammer Stefan het nie meer so gedink nie. Jy weet . . . toe ons jonk was, kon hy nie genoeg van hulle kry nie. Nou liefkoos hy sy skelmpie s’n. Luis. Maar dit is reg so. Hy gaan nog agterkom daardie paar jeugdige lippies het galbitter geword.”

Sy tel die haarborsel op en trek dit deur haar dik bos swart hare wat blink en net-net aan haar skouers raak.

“My bagasie is klaar in my motor gepak. Die vliegtuig na La Palma-eiland wag en ek vat net die nodigste vir my ekspedisie saam. Die res van my klerekas sal die kerk aan die armsorg gee. Hulle gaan ook die huis kom ontruim sodat die eiendomsagente dit kan verkoop. Ja, vir jou ook, Spieël. Hierdie kasarm met al sy leë kamers waar daar nog nooit kinderstemme was nie, en jou soort wat oral in die vertrekke deur Stefan opgehang is. Kwansuis om die gevoel van ruimte te skep. Vandag weet ek hy het dit opsetlik so laat plaas dat ek elke keer in my eie mismoedigheid moes vaskyk en dieper in die moeras kon wegsink.”

Die geloei van ’n ambulans se sirene raak oorverdowend deur die oop kamervenster en verdwyn dan weer, al verder weg.

“Amper was dit ek, ne? Erge depressie het hulle gesê. Gelukkig het die liefde in ’n verguisde hart vinnig plek gemaak vir veragting. Stefan Hough en sy verraad sal my nie breek nie, al het hy so gehoop. Ten minste het jy my nie ook elke dag gekasty met woorde nie. Nie soos die res van die wêreld wat elkeen die een of ander oplossing vir my kinderloosheid gehad het nie. Bid, het hulle gesê. Bid waarvoor? Vir gevrekte eierstokke wat niks produseer nie? Bid het ek gebid, glo my. Totdat ek eelte onder my knieë gehad het. Later het ek geswyg, nes jy.”

Sy tel die parfuumbottel op en spuit ’n tiksel agter elke oor. Dan draai sy dit stadig om en om in haar hand en kyk met minagting daarna.

“Hoe goed onthou ek die dag toe Stefan hierdie bottel peperduur Dior-parfuum as ’n geskenk vir my gegee het. Kwansuis om my vrouwees te vier. Volgens hom was ek daardie aand alles wat hy in die lewe begeer het. Liegbek! Sy skelmpie se bottel het toe alreeds op haar spieëltafel gepryk.”

Samantha glimlag sardonies en sit die parfuumbottel eenkant neer.

“As hy gedink het hierdie botteltjie het hom duur gekos, huil hy beslis nou elke aand. Vier miljoen van sy rande is veilig in my bankrekening, asook die huis en Mercedes. Seker gedink ek gaan met niks uit hierdie huwelik stap, maar hy het sy moses teëgekom in die hof. Sy gekyf oor my eie stewige bankrekening het hom net mooi niks gehelp nie. Al wat hy kon terugvat, was sy van. Ek is weer Loots soos toe ek nog in liefde en maanskyn geglo het.”

Sy staar nikssiende na die vloer. “Dit was nog altyd ’n klippie in sy skoen. Sy beursie kon nie iets vir my koop wat ek nie self kon bekostig nie. Die verskil is, ek het gewerk vir wat ek het en geld beheer nie my lewe nie. Terwyl ek geswoeg het vir my graad in plantkunde, het hy oorsee gaan rondflenter, want pappie en mammie het betaal.”

Samantha kyk haar spieëlbeeld nogeens in die oë.

“Die sielkundiges reken ek moenie toelaat dat ek minderwaardig as vrou voel nie. Pille in my hand gestop om teen die dieptes van depressie te baklei. Ek het nuus vir hulle, want so eenvoudig is dit helaas nie. Samantha Loots weet van nooit goed genoeg wees nie. Selfs as kind was ek waardeloos. ’n Beslommernis wat by my grootouers afgelaai is. My tekortkominge as vrou was maar net nog iets wat ek moes hanteer.”

Sy trek haar skouers regop. “Vandag, hier en nou, maak ek ’n belofte aan myself. Ek sal self oor my menswaardigheid besluit. Ook nie jy wat net na my kan sit en staar nie. Geen man sal ooit weer die eer hê om my bloot as broeimasjien te besit nie. Van nou af maak net ek saak. My eie geluk waarvoor net ekself verantwoordelik is.”

Samantha se selfoon skril en kondig die aankoms van die huurmotor aan wat haar lughawe toe moet neem. Haastig kom sy orent en haak haar handsak oor haar skouer.

Wanneer haar taak afgehandel is, en sy terug is in Suid-Afrika, koop sy ’n splinternuwe nutsvoertuig. ’n Witte, nes sy daarvan hou. Sy kyk weer na haar beeld in die spieël en haar oë vernou. Sy tel die parfuumbottel met sy duur inhoud op, lig haar hand en gooi.

Die bottel tref die spieël met geweld. Die sonstrale breek oor die eens blink oppervlak. Die gesig wat nou vir haar glimlag, is verwronge in die gebreekte glas. Samantha draai in haar spore om en stap na buite.

Die badkamer se deur staan op ’n skreef oop. Sy huiwer vir ’n oomblik. Daar’s nog een ding waarvan sy ontslae wil raak. Sy gee ’n paar tree dieper die vertrek in en kyk fronsend na haar trouring met sy enorme diamant. Dit sal vir heelwat rande sorg, sou sy dit verkoop. Sy skud haar kop en trek dit stadig van haar vinger af. Tussen haar twee vingers hou sy dit bokant die toiletbak. Met ’n sug laat los sy en hoor die ring in die water plonk. Oplaas spoel sy die toilet en sien met genoegdoening hoe die ring in die pyp af verdwyn.

Sy draai om en stap by die huis uit.


Samantha is dankbaar dat die rit lughawe toe van korte duur is. Hierdie aanbieding om as lid van ’n navorsingspan na die Kanariese Eilande te gaan, kon nie op ’n beter tydstip in haar lewe gekom het nie. Sy het dit dadelik met al twee hande aangegryp, want dit is sommer ook die ideale geleentheid vir die navorsing met die oog op haar PhD-tesis.

Aangesien dit vir ongeveer drie maande gaan wees, gee dit haar boonop genoeg tyd om te besluit waar in Suid-Afrika sy haar wil vestig. Van een ding is sy egter seker – nêrens binne trefafstand van Pretoria nie.

Dalk moet sy die Kaap oorweeg. Iewers in ’n pophuis naby die see. Daar waar sy elke aand deur die branders aan die slaap gesus kan word. Maar nou moet sy eers haar aandag op haar pligte as navorser fokus.


Die deur van haar oornaghuisie in Santa Cruz klik toe agter Samantha. Môreoggend kom een van die medenavorsers haar oplaai en dan vertrek hulle na hul blyplek na aan die omgewing waar die navorsing gaan plaasvind.

Haar kop draai steeds as sy aan die afgelope twee weke dink. Goed het so vinnig gebeur. Voordat sy van besluit kon verander, was sy per vliegtuig onderweg na Zürich, Madrid en vandaar na Santa Cruz. Al het die aanbod op die regte oomblik gekom, moes sy hard veg teen die onsekerheid wat kort-kort wou kop uitsteek. Soms staan haar gevoel van minderwaardigheid in die pad van nuwe uitdagings, maar hierdie keer was daar genadiglik nie tyd vir kou en herkou nie.

Al is sy voos van die vlug hierheen, wil sy nogtans een van die straatkafees gaan opsoek wat sy met haar koms hierheen opgemerk het. Sy het haar behoorlik verkyk aan die helder geverfde huisies met vrolike blomme wat in potte van die plafonne af hang. Pienk, blou en geel. Al teen die nou straatjies af. Dalk moet sy sommer ’n ent op die stadsplein gaan stap.

Hopelik kan ’n warm stort die tamheid effens verlig, want haar lyf protesteer teen die lang vlug. Elke oomblik is nou belangrik en sy wil die meeste maak van hierdie drie maande lange verposing in haar lewe. Dit is belangrik om dadelik haarself iewers te hervestig sodra sy terug is in Suid-Afrika. Sy was nog nooit goed met enige situasie wat nie volledig binne haar beheer is nie.

Tog is sy dankbaar vir die wegbreek uit alles wat bekend is. Hier is niks om haar te herinner aan die verlede nie. Dalk kan sy ook finaal van die donker gedagtes ontslae raak wat so maklik die oorhand kan kry wanneer depressie sy kake oopsper om haar te verorber.

Samantha draai die stortkrane groot oop en sug behaaglik toe die warm water oor haar moeë lyf loop. Sy sluit haar oë.

Volgens die medici is depressie iets waarmee sy sal moet leer leef. Weet hulle hoe dit voel om jou hele lewe lank te weet dat daar elke oomblik ’n roofdier op jou spoor is? Maklik om te sê dit help om te praat oor die bangmaakgoed wat jou aan die keel beetkry.

Met wie moes sy dan praat? Diegene wat haar lewe gedeel het, wou nie luister nie. Die behoefte was daar, en dit het geboorte gegee aan haar alter ego in die spieël. Haar diepste geheim. Net Stefan het daarvan geweet en hy het dit gebruik om haar te manipuleer en na sy pype te laat dans tot sy later nie meer ’n wil van haar eie gehad het nie. Sy was gewoon te onnosel om dit agter te kom totdat dit te laat was.

Sy veg verbete om die herinneringe te onderdruk. Hierdie gedagtes is taboe. Sy moet net op die toekoms fokus. Hopelik kan sy die verlede finaal hier begrawe.

Samantha stort vinnig klaar en draai die krane toe. Die handdoek vou sag om haar en slurp die water gulsig op.

Sy besluit op ’n wit linnekuitbroek met ’n bypassende moulose bloes. Haar sandale se plat hakke is gemaklik vir haar beplande staptog. Sy borsel haar hare totdat dit lewendig om haar kop bons en sit net genoeg grimering aan om steeds vars te lyk.

Haar keuse van klere vir die ekspedisie was met een doel voor oë: gemak. Sy wou egter nie soos die een of ander toeris lyk wat gereed maak vir ’n safari nie. Sy glimlag skeef. Hierdie tas klere is die enigste op haar naam. Die klerekas met al die duur uitrustings behoort nou aan mense wat dit nodiger het as sy. Dit was die beste besluit wat sy kon neem, want alles uit haar verlede lê daarin opgesluit.

Voortaan sal sy klere kan koop wat haar smaak pas. Nooit weer hoef sy na die ewige “Nee, Samantha, daardie rok is net goed genoeg vir die gepeupel,” te luister nie.

Soms wonder sy waarom sy nie self lankal uit die huwelik gestap het nie. Het sy Stefan ooit regtig liefgehad of was sy verlief op die idee van ’n man? Tog, sy het sterre in haar oë gehad die dag toe sy voor die kansel gestaan het. Net om agter te kom om getroud te wees, is om een doel voor oë te hê: Jy moet sorg vir ’n nasaat.

Sy skud haar kop heftig. Genoeg daarvan. Hoe gouer sy gaan stap, hoe beter vir haar gemoed. Sy wil ten minste ’n stukkie van Santa Cruz ervaar voordat sy môre aanbeweeg.


Samantha vergaap haar aan die rooi teëldakhuisies met hul houtraamvensters en -deure. Selfs die balkonne waaroor blomme vrolik hang, is van hout. Die kleurespel is omtrent ’n lus vir die oog. Sy merk die smal straatjie met kenmerkende straatkafees se naambord: Calle o daly. Na haar besoek aan die markplein sal sy sommer aandete by een van hulle kom geniet. Dan is dit tyd vir haar afspraak met die bed.

As sy gedink het die kleurvolle huisies is iets om te waardeer, staan sy verstom en kyk na die statige ou geboue met hul uitgekerfde houtpilare. Van die ander geboue het imposante pilare en fasades. ’n Beeldhouwerk van drie musikante toring hoog bokant haar uit. Stadig stap Samantha verder en verkyk haar aan die ou kerk met sy twee klokke. Sy glo die klokke vertel vele verhale van Santa Cruz wanneer hulle oor die markplein beier.

Skielik wens sy dat daar tog iemand aan haar sy was met wie sy al hierdie mooi kon deel. Sy skud haar kop liggies. Nee, Samantha Loots. Jy gaan nie weer met daardie paadjie langs loop nie.

Sy begin terugstap in die rigting van haar woonplek, maar eers moet sy ’n eetplekkie opspoor en kos in haar lyf kry. Uitputting en ’n leë maag is dalk die grootste rede vir die hol gat in haar hart.


Daar sit heelwat mense rondom tafeltjies op die kafee se veranda. Gemeet aan die hartlike gesprekke, is almal duidelik in ’n vrolike luim. Die luidrugtigheid is egter vreemd vir haar en gevolglik soek sy na ’n tafel weg van die ander gaste.

Die tafel is kleurvol gedek en sy sit skaars voordat die kelner opdaag om haar bestelling te neem. Dankbaar dat hy Engels magtig is, bestel sy eers iets koud om te drink terwyl sy die spyskaart bestudeer.

’n Luide gelag klink opeens op en sy kyk in die rigting van waar dit kom. Sy bewonder die pragtige jong vrouens. Soveel slanke, langbeenskoonhede met donker hare en oë. Aangesien Spaans die algemene taal is wat hier gepraat word, kan sy net aanneem dat hulle almal Spanjaarde is.

Haar drankie daag op en sy bedank die kelner vriendelik. Sy moet dalk oorweeg om eerder ’n wegneemete te bestel. Die moegheid is besig om teen haar slape te klop.

Sy gewaar twee gespierde bene, geklee in ’n noupassende denim, oorkant haar tafel. Sy waag dit nie om op te kyk nie, maar hoor duidelik die stem bokant.

“Mag ek dalk sit?”

Sy lig haar kop en kyk fronsend na die man wat nou byna teen haar tafel staan. Is sy van otjie getik? Sy kan sweer sy’s nou net in suiwer Afrikaans aangespreek. Sy volg die man se lippe met haar oë en die frons verdiep tussen haar wenkbroue. Sy sien hoe ’n glimlag aan sy mondhoeke pluk.

“Jammer, ek wou jou nie laat skrik nie. Ek kon net duidelik die Engels met ’n Afrikaanse aksent onderskei van al die ander gesprekke.”

Haar oë verskuif na die groen oë wat haar vanonder onbehoorlike lang wimpers betrag. Sy voel hoe haar maagsenuwee knoop en haar keel in ’n knyptang beetkry.

“Is dit so opmerklik?” Veel meer kry sy nie uit nie. Moes die dekselse man haar hoor?

Sy glimlag word breër en sy verkyk haar aan die diep kuiltjies wat in sy wange verskyn. Sy sluk moeilik.

“Ja . . . Maar glo my, ek is baie bly om ’n landgenoot hier raak te loop. Na ’n paar maande alleen hier, mis jy jou mense.”

Sy beduie na die stoel. Al is ’n mansmens die laaste ding wat sy nou nodig het, lyk hierdie een, ten spyte van sy aantreklike bakkies, redelik onskadelik.

“Klink my jy woon hier? Jy verwys na maande . . .” Sy byt haar onderlip vas. Dit is dalk ’n deur wat eerder toe moes bly. Nou skep sy die geleentheid vir ’n persoonlike gesprek.

“Nee, ek werk net vir ongeveer ’n jaar hier. Ek neem aan jy is hier met vakansie?” Hy gaan sit en wink die kelner weer nader. “Kan ek vir ons iets bestel?”

Sy skud haar kop. “Nee, dankie. Ek is reeds geholpe.”

Sy hou hom onderlangs dop. Hier sit meneer en bestel drinkgoed en sy het nie die vaagste benul wie hy is nie. Eintlik verkies sy dit so. Twee naamlose karakters sonder verbintenis. Sy is verras toe hy vodka bestel. ’n Bietjie vroeg daarvoor, sou sy reken, maar nou ja, dit gaan haar nie aan nie. Voordat meneer onkapabel kan raak van swaar alkohol, is sy hopelik terug by haar blyplek. Sy kyk op toe haar gas sy aandag weer by haar bepaal.

“Laat ek myself ten minste voorstel.” Hy steek sy hand uit na haar en ietwat onseker neem sy dit.

“Raymond Visser, aangename kennis.”

Sy knik styf. “Samantha Loots.” Aangenaam se voet, eerder voorbarig. Sy wonder oor die frons wat skielik sy voorkop plooi. Vreemde reaksie

“Jy het nie my vraag beantwoord nie, Samantha. Is jy hier met vakansie?”

Sy skud haar kop en laat haar oë op die tafeldoek kuier. “Nee, so gelukkig is ek nie.” Sy merk dat die frons tussen sy wenkbroue verdiep.

“Is jy alleen hier, Samantha?”

Watse soort vraag is dit?! Sy is dankbaar toe die kelner voor hulle staan en Raymond se aandag na hom toe verskuif. Haar oog vang sy ringvinger waaraan ’n troupand pronk en argwaan grou gate in haar binneste.

Nog ’n getroude man wat graag geselsies met vreemde vroue aanknoop terwyl sy vrou iewers op hom sit en wag. Samantha oorweeg dit om eenvoudig op te staan en haar uit die voete te maak voordat sy hom iets toevoeg, maar Raymond neem sy glas vodka, draai dit om en om, en hou dit dan in die lug. “Op Santa Cruz, en alles wat dit mag inhou.”

Teësinnig lig Samantha haar glas. Op hierdie oomblik sou sy eerder die glas papajasap op hom omkeer as om ’n heildronk op die plek te drink. Sy moet dalk sy vraag wat nog in die lug hang, beantwoord. Sommer jok en sê haar man wag by die hotel. Sy frons liggies toe hy egter ongestoord voortgaan.

“Ek gaan ’n tradisionele dis bestel. Papas arrugadas, met supersagte vleis. Ek kan dit regtig aanbeveel.”

Sy weet hy wag op haar antwoord, maar sy gaan slaap eerder honger as om nog een oomblik in die tweegatjakkals se geselskap te vertoef. Sy het genoeg gehad van ’n man wat alte graag oor die draad vreet

Haar oë vernou wanneer sy na hom kyk. “Nee, dankie. Ek is reeds op pad. Geniet jou ete.”

Sy vlieg van haar stoel af op en merk dat hy vraend opkyk na haar.

“Indien ek jou steur, kon jy geweier het dat ek by jou aansluit.”

“Asof jou soort ‘nee’ vir ’n antwoord sou neem . . .”

’n Frons spring tussen sy wenkbroue in. “My soort?”

Sy gluur hom aan. “Jy weet presies waarvan ek praat.” Daarmee draai sy om en stap met lang treë weg.


Terug in haar kamer skop sy haar skoene uit, en verklee in haar nagklere. Haar gedagtes dwaal terug na die man by die straatkafee.

Het sy nie dalk oorreageer nie? Al is hy ’n getroude man, moet hy tog eet en dalk was sy regtig die enigste landgenoot daar. Sy sal harder moet baklei om nie alle mans oor dieselfde kam as Stefan te skeer nie.

Sy sak op die bed neer en trek die deken tot onder haar ken. Die kussing vou sag om haar kop en die moegheid oorwin die stryd. Vir oulaas knip die bedlampie oog.