Skip to main content

Uittreksel | Reese se dilemma

Een

Nian stop voor die hek in Houghton, laat gly haar motor se elektriese venster af en druk die klokkie vir besoekers. Die swart gietysterhek met sy imposante krulpatrone swaai byna onmiddellik oop. Stadig ry sy deur die hek en parkeer by die besoekers se parkeerplekke onder die populierboom langs die hoofingang. Sedert sy nie meer hier woon nie, is die motorhuis met sy parkeerplek vir ses motors verbode terrein vir haar nederige karretjie. Nian Bukowski is nou ’n gas wat dit slegs op Delia Basson se uitnodiging waag om hierheen te kom en sy weet maar alte goed om haar plek te ken.

Sy klim nie dadelik uit nie, maar bly vir ’n paar minute in haar motor sit. Haar asemhaling is vlak en sy sluit haar oë en trek lug diep in haar longe in om haar senuwees te probeer kalmeer. Wat die rede vir haar besoek is, is steeds vir haar ’n raaisel, maar soos gewoonlik moes sy seker weer onwetend iets gedoen het om tant Delia om te krap. Dis al wanneer sy deesdae versoek word om dadelik hierheen te kom. Versoek is nie die regte woord nie, dink sy sinies en frons ligweg. Dit was ’n opdrag. Net soos die vele kere in die verlede. En soos altyd was daar nie vir haar ’n opsie gegee nie. Sy moes dadelik kom. Sonder versuim. As Delia Basson jou laat roep, kan jy nie besluit om haar te besoek wanneer dit jóú pas nie, jy los alles en kom op die daad. Anders sal jy dit berou. Delia Basson vergewe nooit. Iets wat Herman Basson te laat onthou en sy lewe in louter hel verander het tot die dag van sy dood. Arme oom Herman het waarskynlik gedink hy is spesiaal en sal oorgesien word; hy was immers die man in Delia se lewe.

Nian klim stram uit. Op lam bene stap sy oor die plaveisel met die netjiese paadjie langs wat deur die voortuin kronkel tot by die huis se breë stoep. Haar vinger het skaars van die klokkie af gelig, toe die deur oopswaai en Brewer in sy swart pak en stywe wit boordjiehemp verskyn.

“Mevrou wag vir Juffrou in die sonkamer.”

“Dankie, Brewer.” Sy stap by die butler verby in die lang gang af wat na die sonkamer toe lei. Haar gemoed lig effens. As tant Delia in die sonkamer is, is die berisping hopelik nie te ernstig nie. Vir ernstige gevalle word sy gewoonlik na die studeerkamer ontbied.

“Goeiemôre, tant Delia,” groet sy formeel toe sy oor die ouer vrou buk en ’n soen verby haar tannie se geligte wange in die lug plant, nes sy destyds geleer is.

“Môre, Nian. Sit asseblief. Tee?” Delia wag nie vir ’n antwoord nie, maar skink tee in die ander koppie op die tafel en wys dan vlugtig met haar hand vir Nian om dit te neem.

Hulle drink die tee in stilte. Nian se hart hamer onbedaarlik binne-in haar borskas en sy kan beswaarlik daarin slaag om die warm vloeistof afgesluk te kry. Haar gedagtes fladder rond op soek na ’n rede vir haar besoek. Sou Delia uitgevind het sy en Emke was Saterdagaand by Drone? Is dit hoekom sy hierheen ontbied is? Dis tog nie asof sy nog ’n tiener is nie, oor ’n bietjie meer as drie maande word sy sewe en twintig. Alle jongmense van haar ouderdom gaan tog gereeld nagklubs toe. Wat is dan so verkeerd daarmee? Nie dat sy dit sal durf waag om haar tannie daardie vraag te vra nie.

“Nian, ek het besluit om in te gryp en jou te help.” Delia sit haar leë koppie en piering in die skinkbord op die tafel neer voor haar tante se aasvoëloë hare vasgryp. “Dis nou al hoe lank . . . twee jaar dat jy nie jou voete kan vind nie?”

Nian sluk en klem die koppie se oor stywer vas. So, dis nie oor haar besoek aan Drone dat sy hier is nie, besef sy verlig. Dis oor haar onvermoë om volgens haar tante ’n ordentlike, vaste werk te kry.

“Ek hou darem kop bo water, tant Delia,” sê Nian hees en kug effens toe dit voel of daar ’n obstruksie in haar keel is. “Wel, soort van,” sê sy onseker toe sy die ontevrede uitdrukking op die ouer vrou se gesig sien. Wat besiel haar om tant Delia teen te gaan? Terugpraat in hierdie huis is mos ’n doodsonde.

“Nian,” sê Delia met nadruk en net die manier hoe sy Nian se naam uitspreek, maak dit duidelik dat sy nie beïndruk is met haar niggie se terugpratery nie. “Jy val nou al wie weet hoe lank rond en hop gedurig van die een tydelike werk na die ander. Dis onbetaamlik vir iemand met ’n honneursgraad in sielkunde.”

“Werk in daardie rigting is skaars, tant Delia. En ’n mens moet ondervinding in die veld hê om aangestel te word. Ek doen al meer as twee jaar lank aansoek vir elke pos wat ek sien, maar soos ek sê . . .” Leer sy dan nou ook nooit nie? Hier sit en praat sy nou so waar as wragtig al weer terug. Maar sy kan mos darem ook nie net toelaat dat tant Delia haar kom staan en vals beskuldig nie!

“Waar ’n wil is, is ’n weg, Nian. Het ek jou dan niks geleer nie? Verskonings gaan nie ’n dak oor jou kop en kos op jou tafel sit nie.”

“Ek is jammer, tant Delia. Ek sê maar net . . .”

“Nou ja,” val haar tannie haar weer in die rede. “Soos ek gesê het, het ek besluit om jou te help. Jy kan nie vir altyd by daai . . .” Sy waai met haar hand en trek haar mond afkeurend. “Daai sogenaamde eetplek skofte werk nie. Jy het ’n pos nodig met voordele. Medies, pensioen, toelaes. Sulke dinge.”

Nian skuif ongemaklik rond. “Ek is nou ’n senior kelnerin by die restaurant, tant Delia. Pedro het my aangestel om . . .”

“Ek stel hoegenaamd nie belang om te weet wat die Portugees gedoen het nie, Nian! ’n Mens kan daai plek beswaarlik ’n restaurant noem. Jy skakel hulle nou dadelik en sê jy kom nie terug nie. Ek het vir jou ’n ander werk gekry en jy sit jou voete nie weer in daai uitlander se vieslike plek nie.”

“Maar, tant Delia,” begin Nian verontwaardig maar bly tjoepstil toe sy die kyk sien wat Delia Basson haar gee. Jare se ervaring laat trek Nian se lippe dadelik soos ’n ritssluiter toe.

“Ek wag, Nian,” sê Delia ongeduldig toe Nian net voor haar op die grond sit en staar.

Nian sluk ongemaklik, haal haar selfoon uit haar handsak en bel die restaurant. Haar mond raak droog terwyl sy Pedro oor haar bedanking inlig. Hy protesteer en dring daarop aan dat sy minstens twee weke kennis moet gee. Al Nian se verduidelikings en pleidooie val op dowe ore.

Delia vat meteens die selfoon uit haar hand. “My niggie kom nie weer daar werk nie, en al jou gevloek en geskel gaan dit nie verander nie. Sy was net ’n deeltydse kelnerin sonder ’n kontrak en jy het geen voet om op te staan nie.” Ingenome met haarself druk sy die foon se af-knoppie en gee dit terug vir Nian.

Nian voel of sy in trane kan uitbars. Pedro was baie goed vir haar en het haar die geleentheid aangebied toe sy teen die grond was. Toe sy by hom aanklop vir werk, was haar spaargeld so te sê op en haar moed om ander werk te kry, was onder haar skoensole vasgeplak. En nou behandel tant Delia hom asof hy vuilgoed is. Hoe gaan sy ooit weer haar gesig daar kan wys?

“Soos ek netnou genoem het, ek het vir jou ’n goeie werk gekry, Nian. Een met ’n ordentlike salaris en goeie voordele.”

Nian sluk en vleg haar vingers inmekaar. Sy is nie ’n sielkundige se dinges nie en wil nie in daardie rigting werk hê nie. Hoe moet sy ander mense help as sy haarself nie eens kan help nie? Destyds toe sy universiteit toe is, het sy soos altyd geen keuse gehad in watter rigting om te gaan studeer nie. Tant Delia wou hê sy moes ’n graad in sielkunde doen en het daarop aangedring dat sy haar honneursgraad ook voltooi, maar dit was nog steeds nie wat sy rêrig wou doen nie. En nadat sy die afgelope twee jaar halfhartig en onsuksesvol vir poste in haar studierigting aansoek gedoen het, het haar tante weer, soos die beheervraat wat sy is, ingegryp. En hier sit sy nou soos ’n imbesiel sonder om ’n sê te hê in haar eie toekoms. Want soos sy van kleins af geleer is, weet sy maar alte goed dat niémand, nie eens bloedfamilie nie, Delia Basson se wense en opdragte verontagsaam nie.

“Gaan jy my nie oor die werk vra nie, Nian? Of sou jy verkies het om soos die afgelope paar jaar ná jou studies aan te hou om rond te val?”

“Nee, natuurlik nie, tant Delia. Wat behels die werk?” Soet en gehoorsaam, soos dit van haar verwag word. Al protesteer elke sel in haar liggaam daarteen.

“Dis nie heeltemal wat ek vir jou in gedagte gehad het nie, maar op die oomblik is dit die beste wat ek onder die omstandighede kan doen. Soos jy tereg opgemerk het, het jy nie juis ondervinding nie en kan jy dus nie verwag om by ’n toppos in te stap nie. En jy moet verstaan dat ek toutjies moes trek om die werk vir jou te kry, Nian. Dis nie my gewoonte om my vriende vir gunsies en gawes te vra nie, daarom sal ek geensins duld dat jy my in die skande steek nie, verstaan ons mekaar?”

“Ja, tant Delia.”

“Nou goed,” knik haar tannie tevrede. “Ek het vir jou ’n pos bewerkstellig as persoonlike assistent by Durandt Incorporated. Lorna, my een rolbalvriendin, se seun is die hoof- uitvoerende beampte van die maatskappy en jy gaan vir hom werk. Jy het vanmiddag om tweeuur ’n afspraak met mejuffrou Vermaak in sy kantoor, sy sal die pakket met jou bespreek en jou touwys maak. Hier is die adres.”

Nian neem die vel papier wat haar tannie na haar toe uithou, maar dit voel of haar brein nie wil registreer wat tant Delia gesê het nie. Dit voel asof sy so pas in ’n hok toegesluit is en van al haar vryheid ontneem is. Terwyl sy vir haarself gesorg het, was sy onder Delia Basson se oë uit, maar nou gaan haar tannie weet van elke beweging wat sy maak. Nes al die jare wat sy geforseer was om in hierdie kasarm te bly, gaan tant Delia weet as sy haar voet verkeerd neersit. En natuurlik gaan die gepaste straf vir haar opgelê word.

“Gaan jy my nie bedank vir al my moeite nie, Nian? Soos ek reeds genoem het, dit was nie maklik om bakhand by my vriende te gaan staan nie.”

Nou hoekom doen sy dit dan? Hoekom los sy haar nie uit om haar eie lewe te lei nie? Hoe lank moet sy nog na haar tante se pype dans en die straf vir haar ma se sondes uitdien? Die vrae skree in Nian se kop, maar sy knyp haar lippe styf opmekaar en knik gehoorsaam. “Ja, baie dankie, tant Delia.”

“Sorg asseblief dat jy ordentlik aantrek en ’n goeie indruk skep. Eerste indrukke is blywend, soos ek jou al jare lank leer. Jy kan nie daar opdaag met ’n denimbroek en ’n uitlokkende bloes wat van jou een skouer afgly, soos die een wat jy nou dra nie,” sê sy met ’n plooi om haar mond en wys na Nian se toppie asof dit iets is wat stink. “Moet in hemelsnaam nie enige vel wys nie, Nian. Gaan koop om vaderswil vir jou geskikte uitrustings. As jy dit nie kan bekostig nie, sal ek vir jou geld daarvoor leen.”

Natuurlik sal sy die geld vir Nian léén en dit met rente en al terugeis. Delia Basson sal nie ’n sent van haar fortuin aan enigiemand skenk nie, nie eens aan haar susterskind nie. Al is dit vir klere om ’n goeie indruk te skep by haar spoggerige vriende se maatskappy. Sy is ’n suinige vrek wat dink sy kan eendag haar miljoene saam met haar die graf in sleep.