Skip to main content

Uittreksel | Quinn

Een

“Jy gaan nié weer vanaand hier sit en kyk na die mure nie,” sê Edward terwyl hy en Finlay vir Quinn aan sy arms beetkry. “Komaan, wanneer laas het jy saam met ons gekuier?”

“Hy’s mos besig om te werk aan sy titel as die Paarl se hartebreker,” sê Finlay. “Jy’s elke aand saam met ’n ander girl uit. Ons sien jou deesdae net by die werk en dan is jy gewoonlik so beneuk, niemand wil met jou praat nie.”

Quinn trek homself los en gluur sy broers aan. Dis sulke tye wat hy ernstig daaraan dink om eerder sy eie blyplek te kry.

Hy en sy vier broers werk heeldag saam by hulle sagtevrugte-uitvoerbesigheid in die Paarl wat deur Doug en Alan begin is en waarby hy, Edward en Finlay ná hulle studies ook aangesluit het. Dit was ook maklik om in die huis wat Doug en Alan gekoop het, in te trek. Daar is genoeg kamers vir elkeen om sy eie privaatheid te hê en hulle het nog altyd almal goed oor die weg gekom.

Beide Doug en Alan het uitgetrek nadat hulle getroud is en nou is dit net hy, Finlay en Edward wat die huis deel. Hy weet nie wat hulle probleem is nie, maar seriously, op die dae wat sy broers só met hom sukkel, wil hy regtig net oppak en uittrek. “Hou op neuk met my. Ek is seker daarvan julle twee is mans genoeg vir al die girls daar buite wat op soek is na ’n trouman.”

“Moenie simpel wees nie, man,” lag Finlay. “Ek is nie van plan om soos Doug en Alan toe te laat dat die eerste mooi girl ’n strop om my nek sit nie.”

“Ek moet sê, hulle lyk baie gelukkig,” sê Edward. “Maar ek weet darem nie. Een vrou vir die res van jou lewe? Dis net onnatuurlik.” Hy sidder merkbaar.

’n Paar grys oë doem voor Quinn op. Gefrustreerd vryf hy oor sy gesig. Dit is ongelukkig sy probleem – ná ses maande het hy nog steeds net een girl op die brein. Demmit, hoekom kan hy haar nie uit sy gedagtes kry nie? Met haar golwende bruin hare en lang, lang bene is Ella du Toit beautiful en só sexy hy’t aan die kwyl gegaan toe hy haar die eerste keer gesien het. Maar flippit, dis nie asof sy die enigste mooi meisie in die Boland is nie.

Die afgelope ses maande het hy elke keer ’n verskoning uitgedink wanneer sy broers op Stellenbosch wil gaan kuier. Dis waar Ella bly en hy wil haar nie sien nie. Maar demmit, dis ses maand later. Wat hy ook al gedink het hy vir Ella voel, is sekerlik oor en verby. Die kanse dat hy haar weer gaan sien, is in elk geval baie skraal. En as hy haar sien, is sy net nog ’n girl wat hy iewers op ’n kol uitgeneem het. Sy hart kan onmoontlik nog steeds seer wees oor haar.

Hy begin in die rigting van sy kamer stap. “So, wanneer ry ons?” vra hy oor sy skouer.

Finlay lag. “Dít klink meer soos ons hartebreker-kleinboet. Ek sal ry.”

“Ek ry op my eie. As julle vashaak, wil ek kan huis toe kom,” roep Quinn. Hy ken sy twee broers. As hulle eers met ’n mooi meisie begin gesels, vergeet hulle van tyd. Nie te lank terug nie was hy net so.

Dit was egter voor Doug dringend ’n ander bloemis vir sy en Annabel se troue moes kry. Terwyl Annabel begin huil het, het hulle ma die vyf broers Stellenbosch toe gestuur met ’n lysie vrae en die opdrag om ’n nuwe bloemis te soek. In die tweede blomwinkel waar hulle ingestap het, was Corinne, deesdae Alan se vrou, en Ella met die mooi grys oë – die vroumens wat hy verdomp nie kan vergeet nie.

Wel, vanaand is die aand wat hy aan homself gaan bewys hy het aanbeweeg. Stellenbosch, die Sutherland-bachelors is op pad.

Dis in elk geval nie asof hy wil trou nie. Asseblief nie. As die jongste van die vyf broers is trou en kinders kry nie dinge waaraan hy dink nie. Hy’s nog nie eens dertig nie, sy hele lewe lê nog voor hom.


Ella se kop is seer en haar voete pyn. Sy wil huis toe gaan, die kombers oor haar kop trek en som­mer net daar bly totdat hierdie onverklaarbare gat in haar binneste vanself toemaak.

Sy vryf teen haar slape waar die hoofpyn meedoënloos klop. Goeiste, dis ses maande later – hoe lank wroeg ’n mens oor ’n man? Een wat dit baie duidelik gemaak het hy stel glad nie belang nie. Dis mos heeltemal belaglik. Sy’s vier en twintig, sy’t klaar geswot, sy’s ’n moderne vrou wat kan kies wat sy met die res van haar lewe wil doen.

Flip, op dié stadium het sy nie eens ’n ‘ordent­like’ werk nie, sy help vir Corinne in haar blomwin­kel. Oukei, sy geniet dit en Corinne het intussen ’n groot vriendin geword. Elke dag is vir haar só lekker, maar sy het ’n graad waarvoor haar pa baie geld betaal het. Sy moet iets daarmee doen, nie soos ’n outydse heldin rondloop en huil oor ’n flip­pen man nie.

Sy kyk om haar rond. Hoekom is sy hier? Is daar ooit lugreëling in dié plek? Half paniekerig prober sy asem skep, maar die lug is vol asems, sy sukkel. En waar is Werner? Miskien kan sy maar padgee sonder om vir hom te laat weet. Dalk kom hy nie eens agter sy is nie meer hier nie. Wat haar in elk geval besiel het om op ’n date te gaan terwyl dit die laaste ding is waarvoor sy lus het, weet nugter.

Dis net omdat Fleur, haar vriendin, so gekarring het dat Ella ’n slag moet uitkom dat sy sommer vir die eerste man wat haar dié week uitgevra het, ja gesê het. Corinne, wat ná ses maande van getroude lewe nog met sterre in haar oë rondloop, was ewe opgewonde om te hoor sy gaan vir ’n verandering op ’n date. Sy moedig daagliks vir Ella aan om meer uit te gaan, om te soek na haar soul mate, want dis so spesiaal.

Werner is nie die beste keuse nie. Hy is baie beslis nie “soul mate”-materiaal nie. Sy dink nie hy is enige materiaal nie. Sy ken hom al sedert hulle studentedae. Hy is ’n baie nice ou en gewoonlik pynlik ordentlik, maar hy het so pas gehoor hy is die laaste van sy eksamens deur – hy is nou ’n volwaardige ouditeur – en hy moes dit vier. Sy verstaan dit, maar vir iemand wat nooit eintlik drink nie, was vier biere duidelik vier biere te veel. Die skaam, teruggetrokke bleeksiel se arms het skielik in tentakels verander wat haar net wou nadertrek.

Sy rek weer haar nek op soek na Werner. O, dáár is hy. Sy kon gelukkig uit sy arms bly, maar toe wou hy nog ’n bier hê en nou beweeg hy strompelend deur die kuierplek terwyl hy vir almal wat hy raak­loop, vertel van sy goeie nuus . . . of die stomme mense enigsins belangstel of nie.

Ella tel haar handsak op. Tot hier toe en nie verder nie. Sy moes na haar instink geluister het en by die huis gebly het. Werner kan haar in elk geval nie huis toe neem nie, daarvoor is hy té on­vas op sy voete. Sy sal self by die huis moet kom. Werner kan homself beswaarlik regop hou, wat nog te sê ’n motor bestuur. Sy haal haar foon uit en maak die Uber-app oop.

Van agter haar vou ’n klam hand oor haar skouer. “Ella, skat, ek dink ek het . . .” hik Werner en glimlag onnosel.

Die bierasem wat hy oor haar uitblaas, laat haar vinnig opstaan. “Te veel gedrink? Ek dink ook so. Totsiens, Werner, ek gaan huis toe.”

Met ’n laaste vies kyk in Werner se rigting, gryp sy haar baadjie en beur tussen die mense deur, haar oë op die groot, oop deure. Al stap sy vanaand in die donker terug meenthuis toe, hier bly sy beslis nie ’n minuut langer nie.

Die plek is stampvol, dis ’n gesukkel om by die uitgang te kom. Uiteindelik is sy amper by die deur, maar net toe stamp iemand van agter teen haar. Sy struikel vorentoe en beland teenaan ’n man wat met sy rug na haar staan. Haar arms skiet uit om haarself te keer maar dis te laat.

“Ek is jammer,” prewel sy terwyl sy vinnig by hom probeer verbyglip, maar hy draai om. Blou oë vang hare vas. Haar asem raak weg.

“Hallo, Ella,” sê Quinn Sutherland, sy oë onleesbaar. Hy kyk oor haar skouer en glimlag smalend. “O, ek sien, jy hardloop weer weg. En daar dink ek al die tyd ék is die rede hoekom jy die een oomblik nog by die onthaal was en die volgende net verdwyn het. Nou lyk dit my dis iets wat jy gereeld doen.”

Uit die veld geslaan staar Ella na Quinn, die man wat vir haar die afgelope ses maande vele, vele slapelose nagte veroorsaak het. Flippit, hy’t haar hart gebreek, waarvan praat hy nou? Die laaste keer wat sy hom gesien het, was kort voor Kersfees by Corinne en sy broer Alan se troue. Sy was een van die strooimeisies, hy en sy vier ander broers die strooijonkers.

Quinn kyk straat se kant toe, ’n mislike, sardoniese glimlag om sy mond. “En wie is die gelukkige man wat jou vanaand kom wegneem?”

“Ella, skat,” hik Werner ’n ent agter haar.

Ontsteld en hartseer draai sy weg en beur met mening tussen die lywe deur tot op die sypaadjie. Sy het geen idee waarna Quinn verwys nie. Hy sê sy’t weggehardloop. Waar het sy weggehardloop? Bedoel hy die aand van Alan en Corinne se troue toe haar neef Fritz haar kom haal het?

Demmit, sy het nie weggehardloop nie. Sy het iemand gevra om vir hom ’n boodskap te gee. Toe sy Fritz se boodskap op haar foon sien, was hy reeds by die venue om haar te kom haal. Sy het na Quinn gaan soek, maar hy en sy drie ander broers het pas reg voor die bruidegom stelling ingeneem om die gek met hom te skeer. Sy wou nie die vrolikheid bederf nie en het teruggestap tafel toe en vir Rika, wat ook aan hulle tafel gesit het, gevra om vir Quinn te sê sy moes noodgedwonge gaan, maar sal hom later bel.

En sy hét gebel. Sy het boodskap ná boodskap gestuur, maar hy het haar nooit geantwoord nie. Hy’s die een wat háár geghost het, nie andersom nie. Tipies flippen mansmens neem hy háár nou kwalik.

Buite kyk Ella vir ’n oomblik half verdwaas op en af in die straat. Dis koud vanaand. Sy trek haar baadjie aan. Dis Junie, maar tot dusver was die winter koel, nie koud nie. Dis vandag die eerste keer dat sy regtig koud kry. Met rukkerige hande slaan sy die baadjie se kraag teen haar nek op en druk hulle dan in die baadjie se sakke.

Groepies mense kuier op die sypaadjie. Skuins voor haar staan ’n man op sy selfoon en praat. Almal lag en gesels, almal is skynbaar gelukkig. Dis net haar hart wat weer van voor af wil breek.

Haar hand soek na haar foon in haar handsak. Om na haar meenthuis in Dalsig te stap, is dalk nie so ’n goeie idee nie. Dis te ver. Maar as sy nou ’n Uber bestel, gaan dit ’n rukkie neem en hier wil sy nie ’n minuut langer wag as wat nodig is nie. Miskien kan Fleur haar gou kom haal, sy woon nie te ver hiervandaan nie. Voor Quinn uitstap en weer daai mislike glimlag vir haar wys.

Die skreeuende bande van ’n motor wat om die hoek kom, laat Ella vinnig opkyk. En toe is dit asof ’n toneel uit ’n rolprent voor haar afspeel. Die motor hou stil, ’n man met ’n hoodie en ’n rewolwer in sy hand spring uit. ’n Rewolwer. In Stellenbosch se strate. Reg voor ’n kuierplek.

Verstom kan sy net staar. Dit kan tog nie wees nie, sulke dinge gebeur net op ander plekke. Sy moet seker beweeg, skree, mense waarsku, weghardloop of iets, maar haar bene is vreemd swaar en sy bly staan asof sy geplant is.

Asof alles in stadige aksie voor haar afspeel, hou sy die toneel dop. Hoodie lig sy arm, ’n skoot gaan af. Die man wat op sy foon gepraat het, swaai om en storm die restaurant binne. Nog ’n skoot knal.

Om haar gil mense, sy word vorentoe gestamp. Haar arms skiet uit, sy probeer haarself keer, maar die teer op die sypaadjie kom vinnig nader. Sy gaan val.


Quinn se bloed stol. Solied. Die gille om hom bevestig wat hy gedink het hy hoor – rewolwerskote. Sy bene begin beweeg voordat sy brein die boodskap kan stuur. Sy hart klop net een woord: Ella.

Sy is buite. Sy is in gevaar. Hy moet by haar uitkom. Hy moet seker maak sy’s oukei. Waar is sy?!

’n Groot geraas vul sy ore terwyl hy mense uit sy pad druk. Hy sien haar donker kop voor sy vorentoe gedryf word deur die skare agter haar. Sy gaan val, sy gaan val!

Agter hom klap skote, maar sy oë bly op Ella en met ’n laaste, verbete poging is hy by haar, net betyds om haar in sy arms te vang en te keer dat sy op die teer beland.

Sy ruk so groot soos sy is. “Quinn,” prewel sy en klou krampagtig met haar hande aan sy boarms. Sy is wasbleek, haar oë vol skok.

Nog ’n skoot klink op, hierdie keer van binne die restaurant. Gillende mense beur angstig by die deur uit. Sonder om te dink, tel hy vir Ella in sy arms op. Hy hou haar styf vas. Sy is oukei, klop sy hart oor en oor.

Met lang treë stap hy in die rigting van sy motor. Hy sal netnou vir Edward en Finlay laat weet waar hy is. Nou is hy éérs bly hy het besluit om met sy eie motor te ry. Die belangrikste is om seker te maak Ella is veilig.

“Wat . . . wat het gebeur?” fluister sy teen sy nek.

By die motor sit hy haar versigtig neer. “Ek is nie seker nie.” Hy haal sy foon uit terwyl hy die deur vir haar oopmaak. “Rewolwerskote as ek dit nie mis het nie. Klim in, ek bel die polisie.”

Sy skuif in en hy maak seker die gordel is vas voordat hy die deur toemaak. Eers toe hy seker is sy is veilig, stap hy om die na die bestuurderskant. Vanuit die rigting van die restaurant kom daar steeds gille en groepies mense hardloop in die pad af.

Hy soek die nommer van die polisie, maar bel eers nadat hy ingeklim en begin ry het. Hy moet Ella hier wegkry. Dis al waaraan hy nou kan dink.

Ná ’n lang gelui antwoord iemand uiteindelik vaak-vaak. Kort en saaklik verduidelik hy wat gebeur het en verskaf sy naam en telefoonnommer voor hy aflui.

“Jy woon nog in Dalsig?” sê-vra hy terwyl hy sy foon in sy sak terugsit.

Sy knik, knoop haar baadjie met rukkerige vingers toe voor sy haar arms kruis en haar hande styf om haar boarms vou.

“Is jy oukei?” vra hy toe sy nie praat nie.

Weer knik sy sprakeloos. Gefrustreerd trap hy die pedaal dieper in en ry so vinnig moontlik deur Stellenbosch se nou straatjies. By een van die vele verkeersirkels word hy gedwing om te stop en hy loer vinnig na Ella. Onder die straatligte lyk sy wasbleek.

“Is jy seker jy’s oukei, Ella?” vra hy dringend.

Willoos laat sak sy haar hande. Met ’n onderdrukte kragwoord begin hy ry.

Langs hom trek sy meteens haar asem skerp in. “Bloed.”

Hy loer skrams na haar. Waarvan praat sy? Watse bloed? Toe hy weer vorentoe kyk, gewaar hy dit uit die hoek van sy oog – bloed op haar een hand. Met ’n swetswoord en ’n vinnige blik in die truspieël, trek hy van die pad af.

“Watse bloed is dit?” vra hy en tel haar hand op. “Ella? Waar kom die bloed vandaan?” bulder hy paniekerig. Sy hand soek na die dakliggie van sy motor en hy skakel dit aan.

Ella is wasbleek. Sy kyk af na haar boarm. “My arm . . . Maar hoe? Ek het niks gevoel nie.”

Haar boarm bloei. Magtig, sy is raakgeskiet. Hoe de flip het hy dit nie raakgesien nie? Sy’t ’n dikkerige baadjie aan, registreer hy in ’n waas. Dit het natuurlik die meeste bloed geabsorbeer.

“Druk met jou hand daarop,” kry hy uit en dié keer trap hy die pedaal plat tot teen die vloer. “Ons gaan hospitaal toe.”


Die volgende paar uur is ’n deurmekaarspul van polisie, vorms, verpleegpersoneel en dokters. Sy is nie die enigste een wat in die restaurant was wat by die hospitaal se nooddiensafdeling opgedaag het nie. Daar is skynbaar twee mense doodgeskiet in die voorval, hoor Ella by een van die susters, en nog twee is gewond.

’n Koeël wat vir iemand anders bedoel was, het haar boarm skrams getref. In die chaos het sy dit nie eens agtergekom nie. Sy het so geskrik vir die toneel voor haar, sy het eers in die motor agtergekom haar arm is seer. Die bloed het sy glad nie gesien nie, want haar gewatteerde baadjie het die meeste daarvan geabsorbeer.

Verpleegsters hardloop heen en weer, die dokter praat nie veel nie. En deurentyd is Quinn daar. Hulle het hom gevra om in die wagkamer te wag, maar hy het botweg geweier, haar hand in syne geneem en dit nog nie weer gelos nie.

Die gebeure van die aand flits heeltyd voor haar verby. ’n Skietery in ’n studentedorp. Wat gaan met die mensdom aan? Sy was ’n paar tree van die man met die rewolwer af, sy kon dood gewees het. Quinn kon dood gewees het.

Quinn. Sy kyk op na hom. Sy kake is styf op mekaar geklem, sy oë deurentyd op haar.

“So, ja. Ons is klaar,” sê die dokter. “Dit was gelukkig nie nodig vir steke nie. Die skoot is rakelings verby en het bloot van die oppervlakaartjies skrams getref. Ons het ’n drukverband opgesit. Jy kan dit so oor drie tot vier uur afhaal en dan die gewone verband opsit om infeksie te voorkom. Het jy miskien iets anders om oor jou top aan te trek?” vra die dokter en beduie na haar bebloede top en baadjie.

Voordat sy kan antwoord, hang Quinn sy baadjie om haar. Gelukkig het sy vanaand ’n bandjiestoppie onder haar top aan. Sy glip haar arms in die moue van die sagte leerbaadjie en trek die rits op. Die reuk van muskus en leer syfer deur haar vel. Net Quinn ruik presies so. Sy weet, want sy droom al maande lank daarvan.

’n Yslike knop is skielik in haar keel. Sy sluk en sluk, maar die trane wil nie meer opgedam bly nie.

“Kan ons gaan?” vra Quinn kortaf vir die dokter.

“Ja, maak net eers gou ’n draai by die apteek en ontvangs,” sê die dokter en gee vir Quinn ’n voorskrif voor hy wegstap.

Quinn help haar regop. “Wag hier, ek kry die pille en sal hoor watter inligting hulle nodig het.” Voor sy kan antwoord, is hy by die deur uit.

“Dié man is darem baie erg oor jou,” grinnik die een verpleegster. “As ek jou kan raad gee, hou hom. Daar is nie baie van sy soort daar buite nie,” sê sy oor haar skouer terwyl sy uitstap.

“Ek weet,” prewel Ella sag. Sy lig haar kop en knip-knip haar oë. Sy mag nie voor Quinn huil nie.

Minute later is hy terug. “Kom,” sê hy en voor sy kan protesteer, tel hy haar weer in sy arms op.

“Ek kan stap,” sê sy.

“Ek weet, maar . . . ek moet net . . . ek dra jou.”

“Wat van die apteek, moes ek nie betaal het nie?”

“Moenie jou daaroor bekommer nie,” sê hy ferm.

Haar oë val toe. Môre sal sy skaam kry omdat sy nie harder probeer het om self te stap nie, maar op hierdie oomblik is sy presies waar sy al ses maande lank droom om te wees – in Quinn se arms. Hoekom sal sy daarteen baklei? Netnou gaan hy haar by die meenthuis aflaai en sal sy hom heel waarskynlik nooit weer sien nie.

Haar plan om Engeland toe te gaan, was die regte besluit. Sy het nog getwyfel, maar ná vanaand weet sy daar moet minstens één vasteland tussen haar en Quinn Sutherland wees as sy ’n kans wil staan om hom te vergeet.

Dis in elk geval tyd om aan te beweeg, sy kan seker nie die res van haar lewe in ’n blomwinkel werk terwyl sy ’n hardverdiende B.Rek-graad het nie. Dis nie asof sy vreeslike idees oor die toekoms het nie, maar dalk help die werk in Engeland haar om vas te stel of sy regtig met syfers wil werk.

Om heeldag met blomme te werk, is vir haar so lekker en sy is elke dag opgewonde om werk toe te gaan. Corinne se kennis van blomme is veel meer as dít wat ’n mens in ’n boek kry. Sy praat blomme se taal, verstaan die potensiële invloed van ’n blom op die mens en ken die simboliese betekenis van elke liewe blom wat sy verkoop.

Ella het ná universiteit in die blomwinkel begin werk omdat sy onseker was oor haar beroepskeuse. Sy het egter ’n graad wat haar pa baie geld gekos het, sy moet tog seker iets daarmee doen. Dis in elk geval tyd om te begin dink aan die res van haar lewe. Die hele petalje met Quinn het haar gedwing om ander moontlikhede te oorweeg. Dis juis haar seer hart wat haar aangespoor het om ander werk te begin soek, hoe verder van Suid-Afrika af, hoe beter. Vanaand besef sy hoe tydig dit was.

Wat sy van voor af besef, is dat Quinn Sutherland ná ses maande steeds die vermoë het om haar hart te breek.


Die meenthuis waarin Ella woon, is een van ’n rits meenthuise regoor ’n kerkgebou. Langsaan is ’n klein sentrum. Quinn was nog net een keer vantevore hier – die aand van Alan en Corinne se troue. Toe hy haar dié aand opgelaai het, het hy nog gedink, gehoop, dit sou die eerste van baie kuiers wees.

En daar verdwyn sy mooitjies van die onthaal af aan die sy van ’n lang donkerkopman sonder om ’n woord te sê. Haar oproepe en boodskappe die volgende dag het hy geïgnoreer. Vir uitgerekte verduidelikings het hy nie kans gesien nie. Dit was vir hom duidelik sy voel nie soos hy nie, hy het die boodskap gekry. Om die ding uit te derm, sou niks verander nie.

Dis nie asof hulle mekaar lank geken het nie. Slegs van voor Kersfees af toe hy en sy broers in Corinne se blomwinkel ingestap het.

Hy hou van vrouens en om te flirt is vir hom ’n doodnatuurlike manier om met ’n vrou te gesels. Op agt en twintig het hy in elk geval geen plan om ’n strop om sy nek te kry nie.

Ella was vir hom net nog ’n oulike girl en hy het haar genooi om sy date te wees vir Alan en Corinne se troue. Maar die aand toe hy haar kom oplaai het, het alles verander. Sy het eenvoudig sy voete onder hom uitgeslaan.

Alles was oukei totdat sy haar voordeur oopgemaak het. Sy’t geglimlag, haar oë het geblink en op daardie oomblik het iets in sy binneste gebeur. Iets waarop hy nie voorbereid was nie en oukei, as hy baie eerlik moet wees, iets wat hom heeltemal onkant betrap het. Sy was veronderstel om net nog ’n mooi meisie te wees wat hy uitneem. Sy hart was nie veronderstel om betrokke te wees nie.

Tydens die onthaal het hy en sy broers staan en skerts toe hy omkyk om na haar te soek. Al wat hy onthou, is die helse pyn oor sy bors toe hy sien hoe sy met ’n ander man se arm styf om haar lyf by die deur van die groot saal uitstap.

Natuurlik het hy homself wysgemaak hy was verlig, want die dringendheid om by haar te wees, die behoefte om heeltyd aan haar te raak, het hom gewoon uitgefreak. Maar ses maande later het die pyn in sy bors wanneer hy aan haar dink, nog nie verminder nie. Inteendeel.

Die afgelope ses maande het hy doelbewus kontak met Alan en sy nuwe bruid vermy, selfs nadat hulle ’n huis op ’n landgoed in die Paarl gekoop het. Die probleem is dat Corinne gereeld oor haar winkel en oor Ella praat en hy wou dit nie hoor nie. Buitendien sou sy nuwe skoonsuster ook wou weet hoekom hy nie weer vir Ella uitgeneem het nie, en dis allermins ’n gesprek wat hy wil hê.

Gelukkig was Desember en Januarie, soos altyd in hulle sagtevrugte-uitvoeronderneming, baie besig. Hy het ook gekies om die meeste van die oorsese trips te doen sodat hy die afgelope vier maande selde by die huis was.

Sy ma het ’n paar keer uitgevra oor die mooi donkerkop van die blomwinkel op Stellenbosch. Sulke tye het hy oor ander dinge begin praat en ’n punt daarvan gemaak om elke naweek ’n ander meisie uit te neem. Dit was nog nooit voorheen vir hom ’n probleem om van ’n girl te vergeet nie, daar was geen rede hoekom hy nie ook vir Ella uit sy gedagtes sou kon kry nie. Maar dit het nie gebeur nie.

Die min naweke wat hy wel tuis was, het hy Stellenbosch vermy. Tot vanaand. Tot sy twee broers weer aan hom gekarring het. Hy is mos oor haar, dis wat hy gedink het. Sot wat hy is.

Die oomblik toe hy in die restaurant omdraai en haar agter hom sien staan, het sy hart teen sy ribbes begin skop. Sy is net so beautiful soos wat hy haar onthou – golwende bruin hare, grys oë en aan haar ore, soos altyd, ’n paar groot goue sirkeloorbelle. Dis een van die eerste dinge aan haar wat hy opgemerk het, die groot sirkels aan haar ore.

Die punt is, hy was glad nie voorbereid om haar weer te sien nie. En demmit, net daar dop sy binnegoed om, sy hart ruk uit sy binneste en hy weet – sy het wragtig ná ses maande nog presies dieselfde uitwerking op hom.

Dit was ook nog oukei. Hy het haar nie teruggeroep of probeer keer toe sy omdraai en uit die restaurant stap nie. Al waaraan hy gedink het, is dat hy weer van voor af ’n poging gaan moet aanwend om haar uit sy gedagtes te kry. En toe hoor hy die skote. Rewolwerskote.

Die ysingwekkende oomblikke voor hy kon vasstel of sy oukei is, wil hy asseblief nooit, ooit weer oorhê nie. Niks anders het saak gemaak nie, behalwe om vir Ella te vind.

“Bly sit,” beveel hy nadat hy stilgehou het. Natuurlik luister sy nie. Dis soos hy haar onthou – eiewys, onafhanklik.

“Jou voordeursleutel?” vra hy en hou sy hand uit.

“Dankie vir jou hulp, Quinn, maar ek kan self regkom,” sê sy kennetjie in die lug.

“Jou voordeursleutel,” herhaal hy.

Met ’n onderlangse gebrom gee sy haar handsak vir hom aan. “Die sysakkie,” beduie sy.

Hy sluit die voordeur oop en sit die ligte binne aan. Ella stap langs hom verby tot in die woonkamer wat by ’n kombuisie aansluit. Hy sit haar handsak op die tafel neer.

Sy vou haar arms. In die lig is sy nog baie bleek. “Dankie, jy kan regtig maar gaan, ek is fine.”

Die paniekerige gehamer van sy hart kom uiteindelik tot bedaring. Vir ’n oomblik is hy skoon duiselig van verligting. Twee mense is vanaand doodgeskiet, dit kon netsowel hy of Ella gewees het.

Hy skep diep asem. “Daar is drie redes hoekom ek nog nie kan ry nie. Een, jy het my baadjie aan; twee, ek moet jou help met jou verband; drie, ek het jou pille. Gaan bad of stort jy, dan maak ek vir jou tee.” Hy stap deur na die kombuis. “Of het jy hulp nodig?” vra hy met ’n knipoog oor sy skouer.

Sy laaste woorde het die gewenste uitwerking. Met ’n vies kyk lig sy weer haar ken voor sy in die gang af verdwyn.

Hy blaas sy asem stadig uit. Nou moet hy net nie heeltemal simpel raak nie. Hy is hier om die girl te help, nie te staan en kwyl oor haar nie.