Skip to main content

Uittreksel | Poskaarte van ’n reis

“Jy’t vir my ’n lig uit die donkerte gemaak. Jou boek is vir my bemoedigend, omdat dit ’n boek is van geloof, en hoop, en vooruitsigte wat uit al die artikels straal. Dit help my om daagliks hardop dankie te sê en het my tot diep nadenke gestem. Dit help my om elke oggend op te staan en te weet dat die lewe sinvol is.”
– TT Cloete (1924 – 2015)
(Uit briewe aan Jacqueline.)


Skoene uit

Kom ons noem haar Karlien. My vriendin. Hart soos ’n hotel, hande wat fyn koppies tee skink as mense hangoor by haar aankom, en gewillig om nie net die sagte vleisies nie, maar die hele skaapboud deur te luister. En dan maar weer ’n koppie tee te skink, haar sintuig vir verslaentheid oor die jare gevorm.

Kyk, ’n mens wil nou nie onnodig hoog opgee oor iemand nie. Maar ek moet verduidelik hoekom ek dié dag op bitter kort kennisgewing ingewillig het om by ’n byeenkoms te gaan praat. Eintlik had ek self ’n duikklopper nodig, die moeilikheid in my eie oprit te lank en te “veul” vir my. Dit was eintlik tyd om ’n slag stadiger te gaan. Maar nou is die joernalistiek ’n beroep waarin jy selde weet waar of wanneer iets voor jou gaan inspring. Die een dag moet jy oor ’n bankroof verslag doen, die volgende oor die oorgewig mense op ons strande. En omdat woorde jou werk is, sê jy maar ja. Nee . . . wel, nee deug nie juis nie. En nou kom iemand soos Karlien wat haarself so aan ander uitdeel met ’n versoek om te help.

Sy is betrokke by ’n gemeenskapsprojek waar plaaslike ma’s opgelei word om op hul beurt weer kinders met hul skoolwerk te ondersteun. Ek vermoed sy is maar die stemvurk wat almal op die regte noot probeer hou. Verder weet ek gevaarlik min van die byeenkoms. Net dat ek saam met haar moet ry na waar die vroue weekliks iewers op die Kaapse Vlakte vergader.

Ons vertrek die oggend haastig, ek steeds ’n bietjie in die duister oor wat ek nou eintlik moet gaan doen. ’n Terloopse “vertel jou storie, jy sal weet wat om te sê” is die enigste instruksie voor sy verder deur die verkeer vleg.

Toe ons stilhou, is dit voor ’n moskee. Ek kyk vraend na my chauffeur. Die gryp net haar sak en sê oor haar skouer: “Dis al waar dit vir ons veilig is om bymekaar te kom.” Ek klim effens onseker uit. Maar my vriendin loop reeds met die seker voetval van iemand wat weet waarheen sy op pad is.

By die ingang skop ons ons skoene volgens die gebruik uit. Vrolike stemme klink van binne af op. ’n Groot groep vroue, sommige gekopdoek, ander daarsonder, wag op ons. Karlien, nou in haar element, hoor so tussen die groetery deur die verskonings van die afwesiges aan. Die een het morning sickness, die ander een haar period en nog een is platgeslaan deur die flu.

Ek moet gaan staan en praat voor ’n swartbord met uittreksels uit die Koran in Arabiese skrif daarop geskryf. My storie? Hier? En ek het reeds vyf van my boekies, waarin ek onder meer oor geloofsake praat, vir Karlien gegee om later uit te deel aan die wenners van ’n klein vasvrawedstryd.

Gewoond om eerder ander se verhale te vertel, is dit reeds vir my ’n skuif uit die veiliger agterwêreld voorwêreld toe. En die vroue voor my ken moeilikheid; hier loop niemand op satyn nie. Alice in Wonderland sou gesê het dit kan enige garnaal jou vertel. Vanoggend sal hierdie mevrou wrintie op water moet loop om by hulle uit te kom.

Jesus se uitgestrekte hande is egter in sig toe ek begin praat. Die ontsierende Vibracrete-muur van klas en kultuur word die onbenulligheid wat dit in der waarheid is. ’n Paar fragmente van my lewe, sommige dun en yl, loop tog die pad van hart tot hart. Ons is op die heilige grond van mekaar se binnewêreld. En almal se skoene is uit.

Agterna neem drie glimlaggende Moslem-vroue my boekies in ontvangs, God se vreemde, veelkleurige genade in hierdie oomblikke oor ons almal gespan.


Legkaartstukke

Met sy vyf-en-tagtigste verjaardag vra ’n goeie vriend vir sy vrou om vir hom ’n legkaart van die wêreld te koop. “Dalk help dit my weer om beter te verstaan hoe dinge inmekaar steek,” voer hy aan. Op sy ouderdom slyp hy waarskynlik reeds sy tande vir ’n ander wêreld. Maar ’n man met kinders en kleinkinders kan ook nie help om te wonder oor klein, nuwe mensies wat met wankelrige treë begin steier deur ’n wêreld waarin mensgemaakte instellings en sekerhede oornag kan opdroog nie. Die groter prentjie bly ons ontwyk.

Een jaar laat weet ons kind in die buiteland dat hy ’n talentvolle Brit ontmoet het wat betrokke is by die maak van dokumentêre films vir Richard Branson. Sy naam is Christian en hy wil graag ’n slag Suid-Afrika toe kom. “Ek ken hom nie eintlik nie, maar Ma sal van hom hou,” word ek verseker.

En so warrel Christian een somersoggend die huis in. Kunssinnig, intens, sag van hart en holderstebolder. Vol jeugdige gretigheid om soveel as moontlik te ervaar sonder om noodwendig die konsekwensies daarvan te bereken. Wanneer hy praat, praat die donker, gevoelvolle oë en arms ewe hard saam.

Dit verbaas my nie om te hoor hy het Italiaanse bloed nie. Sy Joodse pa, aanvanklik ’n balletdanser uit Sisilië, het as jong man in Londen kom dans. Hy was kort voor lank in ’n verhouding met ’n Britse onderwyseres – “my ma het hom eksoties en anders gevind” – en hulle is getroud. Die huwelik kon egter nie sy pa se bedenklike sakewêreldpraktyke deurstaan nie.

Wat wel gebly het, is sy seun se liefde vir goeie wyn en kos. Een middag kook Christian vir ons ’n ure lange pastasous terwyl Pavarotti deur die huis weerklink.

Kort voor Kersfees besluit hy om iewers in Afrika op te beweeg, groter avonture te gaan soek. Ons hoor niks weer van hom nie. Dis eers kort voordat hy moet teruggaan Engeland toe dat hy bel om te vra of ons hom een aand op die lughawe kan kom haal.

Die middag voor sy koms kry ek sy kamer gereed. Met die skoonmaak van die tafel langs sy bed val ’n pragtige, handgeskrewe kaartjie met die woorde I will never abandon you uit ’n boek. Ek staan ’n oomblik besluiteloos daarmee in my hand voor ek dit net daar langs die leeslamp los.

Terug by ons huis is Christian in ’n geselserige bui, opgewonde oor wat hy alles beleef het. Hy eet met oorgawe van die kos wat ek vir hom gebêre het en dit raak ’n laatnagkuier. Iewers kom sy ouers se egskeiding ter sprake.

Die manier waarop sy hele rankerige lyf nou beweeg, sê byna meer as sy woorde.

“My ma het in ’n donker depressie verval en ek moes as twaalfjarige na my jonger sussie probeer omsien. Dit was erg.” Hy bly ’n rukkie stil, se toe half verleë: “I felt so abandoned . . .”

Ek sluk en sê: “Gaan kyk wat lê voor jou bed in die kamer, Christian . . .”

Drie maande later sien ons hom weer by die uitgang van ’n moltreinstasie tussen duisende ander mense in Londen. Die vreugde is wedersyds. Terwyl ons wag vir die kos wat hy vir ons in sy gunstelingrestaurant bestel, sê hy: “Onthou jy nog ons gesprek daardie aand? Ek hou die kaartjie op ’n spesiale plek . . .”

En vir ’n oomblik sien ek hoe pas die stukkies van God se legkaart presies inmekaar.


Die Naam van die Here is ’n sterk toring

(SPREUKE 18:10)

My vriendin en haar man keer jare gelede terug na ’n reis deur Suid-Amerika. Ons gaan kuier, soos altyd gretig om via ander se ervarings en indrukke ook ’n wyle saam te reis. Deur die loop van die aand begin hulle vertel van ’n ervaring in Rio de Janeiro in Brasilië. Hulle het die aand nog die een oomblik onbesorg op die strand loop en gesels toe twee mans, albei met messe gewapen, skielik uit die niet verskyn. “Ons was in daardie stadium net buite hoorafstand van ander mense. Hulle het Wouter se beursie en my trouringe, wat ek ongemerk in die sand laat probeer val het, gegryp,” vertel my vriendin. “Al wat ek kon doen, was om instinktief te sê: ‘In the name of Jesus Christ, leave us alone!’ En hulle het.”

Agterna wonder ons wat ons in so ’n situasie sal doen. Hoe dikwels was ons geloof nie al soos die van ’n Petrus wat na die eerste mond vol water na die golwe gekyk het, pleks van na die Een wat oor die golwe loop. Nou nie juis die gedrag van ’n kampioengelowige nie. Petrus kon slegs ’n angsbevange “help!” uitkry en omdat hy die regte adres geken het, ’n jammerlike “Here!” daaraan toevoeg. En tog was dit voldoende vir Jesus om hom te hulp te snel.

Jare later ry ons een Vrydagaand laat van Worcester af Kaap toe. Naby die Du Toitskloof-tolhek digby die Paarl begin ek rondgrawe vir my beursie om te kan betaal. Nee, ons sal helaas moet stilhou sodat ek by my handsak agter in die motor kan bykom.

Die tolhek is reeds in sig toe my man op die skouer van die pad stop. Ek spring uit en begin in die donker na my swart handsak soek. Net toe ek sê “het hom!” antwoord ’n stem agter my: “Nou gee dit dan sommer vir my . . .”

Ek klou nog oorbluf aan die handsak toe ek my man se stem iewers agter my hoor: “Los haar, in die Naam van die Here, los haar!”

Ons aanvaller gryp my handsak en stamp my eenkant toe. Hy en my man raak aan die stoei om die handsak en ek sien net hoe spat laasgenoemde se bril eenkant in die lang gras langs die pad. Ek probeer om hulp roep maar besef niemand gaan ons kan hoor nie. Teen hierdie tyd registreer ek ook daar is drie aanvallers op die toneel, elkeen met ’n mes in die hand.

Die een beweeg sy mes heen en weer voor my neus. In navolging van my man skree ek: “In die Naam van Jesus, vat net ons goed en gaan!”

Die oë voor my, die vorige oomblik nog uitdagend op my gerig, beweeg sywaarts. Ek sien verdwaas hoe al drie die hasepad teen ’n bult uit kies. My man roep nog agterna dat hulle tog die res van die inhoud van die handsak moet los terwyl hy op sy knieë in die gras rondvoel na sy bril. Hy en die bril is genadiglik ongedeerd.

Die drie gaan sit bo teen die bult en dolwe die handsak om. Daar is ’n aansienlike bedrag geld in ’n koevert in die sak. Voor hulle verkas, wys hulle met groot gebaar vir ons waar hulle die goed los.

Ek staan benoud en kyk hoe my man teen die bult uit hardloop. Die koevert met al die geld daarin lê ’n entjie van die handsak af. My beursie met al die kaarte is ook nog daar.

Die enigste skade is veertig rand uit die beursie, ’n sakkie amandels en ’n stukkende, goedkoop donkerbril.

Toe ons verder ry, is ons doodstil.