Skip to main content

Uittreksel | Plus een

Een

Lindi lig haar ken effens en gee haar beste glimlag vir die kamera. Hierdie gaan immers die foto wees wat sy eendag vir haar kinders gaan wys van die aand toe sy een van die belangrikste sporte op haar loopbaanleer suksesvol betree het.

Want daar sál kinders wees, herinner sy haar­self, en dalk ’n hond en ’n huis met ’n swembad. Noudat sy seker is sy gaan die bevordering kry, kan sy ná jare se harde werk vir ’n verandering weer op haar persoonlike lewe fokus. Sy sal seker die een of ander tyd moet werk maak daarvan. Haar ouma herinner haar immers gereeld daaraan dat sy nou aan die verkeerde kant van dertig is en dat haar biologiese horlosie elke dag stadiger loop. Net jam­mer ’n mens het ’n man nodig om kinders te hê, en ná Fanus Steyn weet sy regtig nie of sy weer kans sien vir al die bagasie wat daarmee saam kom nie.

Nie dat sy haar perfekte aand gaan ruïneer deur aan haar eks of enige ander man te dink nie.

Sy draai haar kop vir nog ’n foto. Haar glimlag is skielik strammer toe Kobus Malan sy arms om haar slaan en sy moet haarself dwing om haar kakebeen te ontspan; eintlik sou sy verkies het om ’n entjie weg te staan van haar baas af.

Ontspan, Lindi, maan sy haarself. Ongelukkig gaan hierdie ook die laaste foto’s wees wat haar ouers van haar gaan sien voor Hilde se troue vol­gende naweek; daarom is dit belangrik dat sy dol­gelukkig en vervuld daarop lyk, en nié soos iemand wat ongemaklik is met haar baas se oorvriendelike gedrag nie.

Sy ontspan toe die fotograaf sy kamera laat sak en meneer Malan haar laat gaan. Sy oë val vlugtig op haar hals, maar dan kyk hy haar in die oë. “Baie geluk met ’n pragtige aand en die kontrak wat daar­mee saam gaan. Dit is voorwaar ’n goeie hupstoot vir jou loopbaan.”

“Dankie, meneer Malan.”

Sy oë sak weer effens. “Noem my asseblief Ko­bus.”

Lindi glimlag ten spyte van die rilling wat sy kyk teen haar ruggraat afstuur. As hulle op voornaam­terme is, beteken dit seker hy sien haar reeds as ’n senior lid van sy span.

“Dankie, Kobus, dankie dat jy dié kans vir my ge­gee het.”

Weer sak sy oë na haar hals, en die uitdrukking in sy oë toe hy opkyk, laat haar mond droog. “Jy gaan nog báie kanse kry, glo my.”

Gelukkig trek iemand in die skare mense sy aan­dag en Lindi kan asem skep. Sy wonder of sy haar net verbeel, maar Kobus Malan is vanaand buitenge­woon vriendelik. Nee, vriendelik is nie die regte woord nie; sy kry amper die idee hy flankeer met haar.

Lindi het egter nie tyd om verder aan Kobus Ma­lan te dink nie, want by die kroeg sien sy die per­soon staan wat sy die hele aand probeer vermy en nié aan probeer dink nie. Die hemel weet, wat maak Jan-Adriaan Theron hier?! Sy kan nie dink dat hy enige belang het in AgriLink, die maatskappy wie se funksie dit vanaand is nie, maar sy naam was op die gastelys, en al wou sy dit laat verdwyn, wou sy niks doen om haar bevordering in gedrang te bring nie. Sy sal nie verbaas wees as sy naam op die lys was omdat hy aandele in die maatskappy besit nie. Jan-Adriaan Theron is betrokke by al wat 'n onder­neming is en daarom dink hy hy kan met mense maak soos hy wil.

Lindi draai bewustelik haar rug op hom. Sy kan steeds nie glo dat die siniese buffel en Jaco met sy sagte hart en skerp sin vir humor, broers is nie. Lin­di glimlag toe een van AgriLink se direkteure met sy vrou nader kom om haar geluk te wens; heimlik hoop sy dat as sy omdraai, die doring in haar vlees verdwyn het.


Jan-Adriaan moet sy oë toeknyp om nie weer in die rigting van die donkerkop te kyk nie. Nie dat sy meer so donker van kop is soos die laaste keer wat hy haar gesien het nie, want sy het intussen ’n helse klomp strepies in haar hare gaan sit wat haar blou oë net nóg blouer laat lyk. Dit pla hom dat hy dit onmiddellik raakgesien het en dat dit die knoop in sy binneste net stywer getrek het. Lindi de Beer is niks meer as ’n klippie in sy skoen nie, en met die rooi rok wat vanaand om elke kurwe span, is sy selfs nog meer van ’n irritasie. Goeie hel, kon sy nie meer professioneel aangetrek het vir ’n geleentheid soos hierdie nie? En waar kry die sukkelende bemarker wat haar sente kamstig om elke hoek en draai omdraai, geld vir só ’n rok?

Dit is nie sy probleem nie, herinner hy homself, maar arme Jaco sal seker vrek spyt wees dat hy nie vanaand genooi is as haar metgesel nie. Siestog, sy sou sekerlik nie met haar baas of potensiële kliënte kon flankeer het as sy vanaand haar kamstige “vriend” aan haar sy gehad het nie. Hy’s immers ’n Theron en niemand sal die fout maak om in sy slaai te krap nie.

Jan-Adriaan draai terug na die kroegman en bestel vir hom nog ’n glas rooiwyn.

Gelukkig beteken Jaco se afwesigheid dat hy nie nodig het om met haar te praat nie. As hy uit haar pad kan bly, hoef hy haar nie eens te groet nie en hy is seker dit sal haar net so goed soos vir hom pas.

Die kroegman sit die vol glas voor Jan-Adriaan neer en hy vat ’n groot sluk. Hopelik laat die donker vloeistof hom vanaand diep genoeg slaap sodat die vroumens hom nie weer in sy drome kom teister met haar vol mond en verleidelike kurwes nie. Net die hemel alleen weet hoe iemand wat hom bedags só irriteer, sy slaap op só ’n onverkwiklike manier kan kaap.

Hy vat sommer nog ’n sluk. Die drome is natuurlik sy onderbewuste se manier om hom te waarsku teen wie en wat sy is, en om seker te maak hy vergeet dit nié. Hy ken vroumense, veral dié wat geldhonger is en op soek na status. As Jaco se ouer broer voel hy dat hy sy broer teen Lindi de Beer moet beskerm, want dit is presies wat sy is. Geldhonger en statusbe­hep. Hy gaan beslis nie toelaat dat haar sagte oë en klokhelder lag hom sag maak teenoor haar nie.

Jan-Adriaan skud sy kop en tel sy glas op sodat hy kan doen waarvoor hy hier is, maar toe sy oë dade­lik weer die rooi rok vang, het hy net nie meer die selfbeheersing om weg te kyk nie. Nou staan sy by ’n paartjie wat hy nie ken nie, met haar rug na hom gedraai, en al kan hy nie haar gesig sien nie, weet hy dat sy besig is om hulle met haar glimlag te be­tower. Hy vat nog ’n groot sluk toe die man in hom nie anders kan as om haar sitvlak in die rooi rok te bewonder nie.

Asof sy voete ’n lewe van hulle eie het, stap hy na haar toe.

“Lindi?” Die irritasie in haar oë is onverbloem toe sy omdraai en hy sy hand na haar toe uitsteek. “Ek wil net geluk sê met die pragtige aand.”

Sy steek haar hand huiwerig uit en skud syne. “Dankie.”

Die effek van die aanraking maak dat Jan-Adri­aan sy hand dalk net té vinnig terugtrek. “Dalk het jy nou nie meer my broer nodig om vooruitstrewend te wees nie, of hoe?”

Haar oë is dadelik ys. “Ek is só bly om dit te hoor. Dan kan jy dalk uiteindelik besef ons is bloot vriende.”

Lindi draai om en stap weg en iets binne hom wens sy wil terugkom. Hy skud sy kop vir sy eie simpel gedagtes; dis tyd om huis toe te gaan voor hy weer met haar skoor wil gaan soek.

Hy wil net by die deur uitvlug, toe Kobus Malan hom voorkeer.

“Jan-Adriaan, is jy nou al op pad huis toe?”

“Ja, ek het ’n vergadering net ná sewe môre, so ek wil nie te laat in die bed kom nie.” Hy huiwer, staan dan tog stil. “Baie geluk met ’n suksesvolle aand, Ko­bus.”

“Dankie. Ek sien jy het met Lindi de Beer gesels . . . Ken jy haar?”

“Sy en my broer is vriende.” Die laaste woord steek amper in sy keel vas.

“En wat dink jy van haar?” Die wellustige kyk in die man se oë toe hy vlugtig vir Lindi kyk, stoot hitte teen Jan-Adriaan se nek op. Dis nie algemeen bekend nie, maar hy hét al gehoor dat senior posisies by Malan & Steyn meestal met die lyf gekoop kan word.

“Sy is seker goed met haar werk, maar ek dink net nie sy is regtig wat jy soek nie. Jy kan dink as sy vir so lank daarin kon slaag om nét vriende met Jaco te wees is sy nie maklik nie,” sê hy met oortuiging, al glo hy dit nie self nie.

Kobus trek sy oë skrefies, maar Jan-Adriaan kan aan die res van sy lyf sien dat hy snap wat geïnsinueer word, en alhoewel hy duidelik nog geïnteres­seerd is, trek hy sy skouers op. “O, dis nou jammer, maar dit is goed om te weet. Sy’s een van twee be­lowende kandidate.”

Jan-Adriaan skud sy kop. Kobus Malan was ’n vriend van sy pa, maar self het hy nog nooit van die man gehou nie, en nou dink hy selfs nóg minder van hom. Ten opsigte van seksuele teistering is hierdie man ’n tydbom wat wag om te ontplof; almal is egter net te bang vir hom om ’n woord te sê.

“Waarskynlik is jou ander kandidaat geskikter. Lindi de Beer is nie iemand wat maklik geswaai kan word nie.”

Die ouer man lag en die reuk van sterk drank maak dat Jan-Adriaan ’n tree terugstaan. “Wel, Ko­bus, dan groet ek eers . . .”

“Totsiens, Jan-Adriaan,” en met ’n knipoog voeg hy by: “Dankie vir jou advies.”


Omdat sy seker is haar bloed gaan begin kook as sy langer in dieselfde vertrek as Jan-Adriaan Theron is, stap Lindi na die binnehof om af te koel. Natuurlik sal hy die hele aand met niemand buiten Kobus Ma­lan gesels nie.

Praat van ’n snob!

Lindi haal ’n slag diep asem voor sy haar selfoon uit haar handsakkie haal. Dit is nou eers halfnege, maar sy’s seker van die gaste gaan nou begin koers kry huis toe en dan kan sy ook groet en gaan. Jan-Adriaan Theron het homself immers al verskoon.

Om van dié gedagte ontslae te raak maak sy Hilde se laaste boodskap oop en sonder om te huiwer druk sy die groen knoppie.

Dit vat nie lank vir haar kleinsus om te antwoord nie. “Hallo, Sus, hoe was jou partytjie?”

“Dit was ’n groot sukses en die kliënt is baie te­vrede.”

“Wonderlik, nou kan jy asem skep voor jy Vry­dag huis toe te kom. Ons sal jou bevordering met ’n middernagpiekniek vier.”

“Ek kan nie wag nie!”

“Wag, jy klink geïrriteerd. Is als oukei?”

“Ja, dit is. Dis net omdat Jan-Adriaan Theron ook vanaand hier is. Ek kry elke kort-kort ’n kyk wat verf van ’n muur af kan laat skilfer.” Lindi bedink haar net betyds voor sy vertel van die vent wat weer letterlik gekarring het oor haar en Jaco; sy kan nie teenoor haar suster erken dat Jan-Adriaan nie kan glo sy en Jaco is net vriende nie, want haar suster en die res van die familie moet oor ’n week oortuig word sy en Jaco is smoorverlief. “Ek kan nie glo hy dink ná ses maande nog dat ek sy broer net wil ge­bruik om my eie loopbaan te bevorder nie.”

“Wat’s die ou se probleem?”

“Ek weet eerlikwaar nie. Ek dink hy’s net oor die algemeen vrek ongelukkig met die lewe en nou moet hy dit op iémand uithaal. Dis ook g’n wonder die man het nog nie ’n vrou nie.”

“Wel, jy hoef jou ook nie langer aan hom te steur nie. Jy bring sy boetie huis toe vir my troue en dit is die heel soetste oorwinning.”

Lindi byt haar lip. Sy hou glad nie daarvan om vir haar familie te jok nie, veral nie vir haar sussie nie, maar sy moes hulle laat glo sy en Jaco is ver­lief en dolgelukkig. Sy wil nie dat hulle bekommer­nis oor haar gebroke hart en tekort aan ’n liefdeslewe ’n demper op haar babasussie se troue plaas nie.

“Jy’s reg,” sê sy en stoot haar gewete eenkant toe. Gelukkig aanvaar Jaco hulle is bloot vriende, al moet hulle volgende week voorgee daar’s meer as vriend­skap tussen hulle. Wat sy broer van die situasie dink, gaan haar nie aan nie. “Ek kan nie wag dat julle Jaco ontmoet nie sodat julle kan sien hoekom ek só hard en vinnig vir hom geval het.”


Jan-Adriaan steek sy hande in sy sakke sodat hy nie iets gooi nie. Nou is hy bly hy het besluit om terug te kom om seker te maak Kobus Malan probeer niks met Lindi nie. Hy wens net hy het die gesprek wat hy pas gehoor het, opgeneem om vir Jaco te speel. Hy wonder wat sal sy broer sê as hy moet weet dat die soete Lindi vir hom geval het. Die jaloesie wat in sy borsholte kom sit, is onverwags, en hy haal ’n slag diep asem.

Dit maak sin dat hy ontsteld is oor wat hy pas ge­hoor het; dit bevestig wat hy die afgelope ses maande vermoed. Hemel, sy broer is besig om met oop oë in ’n lokval in te stap! Dit is nie jaloesie wat hy voel nie, dit is ’n behoefte om sy kleinboetie teen hierdie for­tuinsoeker te beskerm.

Hy moet by die huis kom sodat hy met Jaco kan praat voor hy gaan slaap, maar dan onthou hy dat hy nie haar kar in die parkeerterrein gesien het nie, en draai om.

Die oomblik toe hy dít doen, wens hy hy het eerder nie, want haar oë en mond maak dit skielik on­moontlik vir sy voete om te beweeg. “Hoe kom jy by die huis?” werk sy stem darem saam.

Sy wys haar foon vir hom. “Soos ek hier gekom het – Uber.”

Dit is genoeg van ’n antwoord; hy kan omdraai en wegstap, maar nogeens wil sy voete nie luister nie.

“Ek sal jou huis toe vat.”

“Dit is regtig nie nodig nie, Jan-Adriaan.”

“Ek ry in daardie rigting, dit is onnodig dat jy nog geld spandeer om by die huis te kom.”

Hy kan sien dat sy met hom wil stry daaroor, maar dan kom Kobus Malan deur die deur gestap en sy staan nader. “Goed, maar net sodat jy weet: Ek kán my eie Uber bekostig.”

“Ek is seker jy kan.”

“Ek gaan groet gou die mense, dan kry ek jou by die deur?”

Jan-Adriaan knik en hou haar dop terwyl sy wegstap. Dit was sekerlik nie die slimste plan waarmee hy al ooit vorendag gekom het nie. Hy het tog geen verpligting teenoor haar nie; hy kon maar net ge­wag het tot die Uber haar kom oplaai, dan het hy nie nodig gehad om nóg tyd met haar te spandeer of langer te wonder hoe dit sal wees om haar uit daar­die rooi rok te kry nie.