Skip to main content

Uittreksel | Passie in Parys

Een

Die verkeerslig word groen en Salie trek weg. “Ons is amper daar.” Hy vang Margaux se oog in die truspieëltjie, verwissel van baan en stop ’n paar blokke verder.

CAPAGO International – Schengen Visa Applications – French and Italian Representative Office, lees sy op die koperplaatjie teen die hek.

Margaux klim uit en die romp skuif hoog teen haar been op. Sy het steeds die kort rompie en hoëhakskoene aan wat sy vandag kantoor toe gedra het. Met al die geskarrel om in te pak en weg te kom by die kantoor, het sy nie daarby uitgekom om gemaklike klere aan te trek nie. Daaraan gedink, maar weer vergeet. Sy stap om die motor. “Salie, ek wil asseblief iets uit my tas haal.” Sy grawe haar plat skoene uit, vroetel dieper in die tas en trek die oorvouromp uit. Sommer langs die motor maak sy dit om haar middel vas en trek die nou rompie met ’n gesukkel onder die wye romp uit. Sy soek weer in die tas en kry die ligblou kasjmiertrui raakgevat, die tekstuur luuks in haar hande. Met die sagter, gemakliker klere aan voel sy sommer ligter, vryer.

“En nou dié?” vra Salie toe sy die skoene, romp en baadjie na hom toe uithou.

“Gee dit asseblief vir iemand, ek het dit net ’n paar keer gedra. Ek gaan dit nie weer nodig kry nie.”

Salie lig die tas uit die bagasiebak en sit dit op die sypaadjie neer. “Laat ek jou tot binne help.”

“Nee, dankie, sodra ek my visum het, is dit af in die straat en net om die blok tot by die Gautreinstasie. Met die funksie vanaand het jy genoeg dinge om te doen.”

“Dis vir my sleg dat jy nie vanaand na die funksie toe gaan nie, en dat jy en jou mense nog vies is vir mekaar.”

“Ag wat, Salie, dis nie die eerste keer wat ons klomp koppe stamp nie. Ons sal weer vrede maak. Hierdie keer gaan dit net langer neem omdat ek my nie gaan laat manipuleer nie. Ry nou.”

Margaux sluk aan die knop in haar keel toe die groot swart motor om die hoek verdwyn. Haar gesin het maar louwarm op die nuus gereageer toe École des Beaux-Arts, een van die beroemdste kunsskole in Parys, haar aanvaar het vir ’n reeks meesterklasse wat tydens hulle somerskool aangebied word. Net haar vriendin, Lindy, was saam met haar opgewonde.

“Vat my baadjie en rekenaarsak, dan help ek jou met hierdie trommel,” onderbreek ’n diep stem haar gedagtegang.

Margaux skrik effens, vlieg om. Voor haar staan ’n lang, breedgeskouerde man wat besig is om ’n foon in sy sak te druk. Dit moet van skrik wees wat haar asem weg is en haar hart so vinnig klop.

Die man se amper swart hare is effens deurmekaar en ’n sonbril steek sy oë weg. Laatmiddagstoppels bedek sy vierkantige ken en kakebeen.

“Nee, dankie, dis nie nodig nie.” Sy trek aan die tas, maar dit wil nie beweeg nie.

’n Bruingebrande hand vou oor hare. “Ons moet nog teen die opdraande uit en dit klink of jy van die huis af wegloop. Nou-nou draai die motorbestuurder om en vat jou terug.”

Hoe lank sou die man na hulle gesprek geluister het? Margaux trek haar rug regop. “Ek loop nie van die huis af weg nie. Dis rêrig slegte maniere om ander mense se gesprekke af te luister.”

“Nou hoekom staan jy agter die motor en trek ander klere aan?”

“Wat het jy gesien?!”

“Ek kon jou pragtige bene ’n paar oomblikke lank bewonder voordat jy die ander romp oorgevou het. Nou steek jy alles weg.”

Die warm sensasie wat in haar opgebou het vandat sy hierdie aantreklike vreemdeling gesien het, laat die hitte teen haar keel opstoot.

“Verander jy dikwels so in ’n oogwink van gedaante?” Hy bekyk haar op en af. “Van ’n sjiek, professionele dame tot ’n sigeuner met ’n bolla.”

Sy lig haar hand, voel aan die hare agter haar kop

“Dis nie ’n bolla nie. Dis ’n chignon.”

’n Glimlag krul om sy sensuele mond toe hy sy hand uitsteek, tussen haar hare vroetel en ’n paar haarnaalde uittrek. Hy vryf haar hare deurmekaar.

“So ja, nou pas jou haarstyl by die res van jou voorkoms.”

Verwaande vent! Hoe durf hy? Sy aanraking laat haar kopvel tintel en dit rimpel deur haar lyf. Margaux kam met haar vingers deur haar hare, probeer ontslae raak van die gevoel van sy vingers op haar kopvel. Haar mond is droog en sy kan aan niks dink om hom toe te snou nie. Hy is, net soos haar broers, besig om haar te terg.

Doodluiters tel hy haar tas op en begin wegstap. Margaux staan versteen. Wat het nou net gebeur? Sy het geen ander keuse as om hom op ’n drafstap te volg nie.

Langs haar gee die man lang, gemaklike treë – die swaar tas en die opdraand pla hom blykbaar nie.

By CAPAGO se gebou maak hy die deur oop. Margaux steier terug toe ’n bondel warm lug teen haar vasslaan. ’n Hand druk liggies teen haar rug. “Dis hier in.”

Sy trek haar rug hol om van sy hand af weg te kom. Waar sy hand aan haar geraak het, is ’n warm kol wat deur haar liggaam versprei. “Dankie vir my tas.” Sy wens hy wil die donkerbril afhaal sodat sy hom in die oë kan kyk.

“Is jy hier vir ’n Franse visum?”

“Ja.”

Sy voel weer die hand laag teen haar rug. “Dan moet jy hier instap, die wagkamer is agter daardie twee glasdeure. Ek sit jou tas hier neer.”

“Dankie. Hier’s jou baadjie.”

Die vrou agter die toonbank kyk op toe Margaux voor haar staan. “Sit solank, asseblief. Die dokumentasie het nog nie van CAPAGO af gekom nie.”

Margaux draai om, gaan sit op die eerste stoel en haal haar sketsboek uit. Die man wat haar tas gedra het, kom ingestap en praat met die vrou agter die toonbank. Margaux probeer die gesprek volg, maar hulle praat Frans – so vinnig dat sy net hier en daar ’n woord verstaan.

Sy oë is diepblou, sien Margaux toe hy omdraai. Sy laat sak haar kop, probeer op haar skets konsentreer. Langs haar sak die man in ’n stoel neer. ’n Heerlike geur van man, seep en iets anders bereik haar. Hy strek sy bene uit en maak sy skootrekenaar oop.

Margaux sukkel om die lyne van haar skets te laat vloei. Vee ’n paar strepe uit en probeer weer.

’n Paar weke gelede, toe sy die soveelste keer verveeld gesit en luister het na die sakegesprek om die tafel, het die idee by haar posgevat: ’n Ontwerp op die bottel, eerder as ’n etiket. So word die bottels dan in bruikbare items omskep wat weer tafel toe kan kom met blomme of iets in. Nie alles net een maal gebruik en weggooi nie. Skep iets mooi, wat gebruik en hergebruik kan word.

Langs haar hou die man op tik. Sy voel hoe hy na haar kyk, maar sy dwing haar oë om op die skets te bly. As sy net nie so bewus was van sy reuk en sy lyf se hitte hier langs haar nie. Kon hy nie maar op ’n ander stoel gaan sit het nie? Of net bietjie verder weg van haar af. Hy is ’n groot man en gespierd. Wat sou hy doen? Hy is netjies aangetrek in ’n chino en ’n wit hemp, maar hy is bruin gebrand – hy lyk anders as Chris en die mans by die kantoor.

“Wat krabbel jy?” vra hy en wys na die sketsboek op haar skoot.

Nog iemand wat absoluut geen respek vir haar kuns het nie. Wat dink sy krabbel as sy besig is met ’n ontwerp. By die werk het almal gedink dis maklik om stokmannetjies te teken en nou dink hierdie man die ranke wat eendag om wynbottels gaan pryk, is krabbels. Sy kyk na die skets waarmee sy besig is. Dis ’n gekrabbel, sien sy, want wie kan nou iets uitrig met so ’n man langs jou?

“Ek krabbel nie!” Sy klap die boek toe en stap na die tafel teen die muur waar ’n koffiemasjien staan.