Skip to main content

Uittreksel | Paradiso – Elize Davies

Een

“Anneke, ek wil hê jy moet Paradiso toe gaan.”

Vraend kyk Anneke Jordaan na haar pa. “Paradiso?! Waar’s dit?”

“Dis ’n klein eilandjie in die Ioniese See, nie ver van Corfu en Paxos af nie. Die eiland het net omtrent ’n duisend inwoners.”

“Wat moet ek daar gaan doen?”

“Ek wil ’n hotel daar koop. Jy moet dinge gaan uitkyk.”

“Dit klink na ’n ongewone bestemming,” antwoord sy versigtig, huiwerig om enigiets te sê wat na kritiek mag klink. Haar pa deel graag kritiek uit, maar hy hou niks daarvan om dit te ontvang nie.

“Dis juis hoekom ek daar wil belê. Noudat die pandemie haas verby is, wil mense weer vakansie hou, maar almal is skrikkerig vir ’n samedromming en ons gewone vakansieoorde kry nie genoeg aftrek nie. ’n Plek soos Paradiso het al die bekoring van ’n eksotiese eiland sonder die skares. Daar is twee hotelle op die eiland. Jy moet uitvind watter een die beste opsie sal wees; dan moet jy die eienaar in die hande kry en hom oorreed om te verkoop.”

Anneke frons effens. Haar pa gaan gewoonlik anders te werk. Hy verkies om ’n geskikte stuk grond te koop en dan sy eie spogplek te bou.

“Hoekom wil Pa ’n hotel koop? Hoekom bou Pa nie net ’n nuwe een nie?”

Herman Jordaan frons ergerlik. “Dit was wat ek oorspronklik beplan het, maar ek kon nie toestemming kry om ’n nuwe hotel op te rig nie. Die Griekse miljoenêr wat die eiland besit, weier om nog ’n hotel daar toe te laat. Hy wil glo die aantal toeriste wat die eiland besoek, beperk. Kortsigtige vent,” brom hy.

Die blik wat op Anneke rus, vernou effens. “As jy terugkom, wag daar dalk ’n verrassing vir jou. Jy weet ek soek na ’n nuwe bemarkingsbestuurder. Piet Cronjé tree binnekort af, dan is sy pos vakant.”

Opgewondenheid begin in Anneke roer. Uiteindelik, die kans om haarself aan haar pa te bewys! Ná vyf harde jare in sy diens, jare waarin sy haarself kaduks gewerk het maar keer op keer moes toesien hoe ’n bevorderingspos voor haar neus weggeraap word deur ’n manlike kollega; al het haar pa haar toegelaat om ná universiteit vir hom te kom werk, bly hy ’n rasegte, opregte, deurtrapte manlike chauvinis.

Die tipe wat vrouens vir ewig kaalvoet in die kombuis sou vasketting indien hy sy sin kon kry. Sy enigste ideaal vir sy dogter is die trouring van ’n ryk, suksesvolle man aan haar vinger – en die perfekte kandidaat vir ’n eggenoot, volgens hom, is sy witbroodjie en protégé, Ferdinand Beetge.

“Wanneer moet ek vertrek?”

Haar pa stoot ’n koevert oor die lessenaar na haar. “Jy vlieg môreaand. Hier is jou vliegkaartjies en verblyfbesonderhede.”

“Vliegkaartjies? Meervoud?”

“Jy vlieg tot in Athene en van daar af na ’n lughawe naby die kus. Daarna is dit veerbote en bote tot by die eiland. Jy hoef nie môre kantoor toe te kom nie; jy kan by die huis bly en inpak.”

“Vir hoe lank gaan ek?”

“Vir so lank as wat dit nodig is – tot jy sukses behaal. Moenie my teleurstel nie, Anneke.”

Anneke voel of haar voete vlerke gekry het, en sy moet haar bedwing of sy dans die hele pad terug kantoor toe.
Eindelik – die kans om vir haar pa te wys dat sy bekwaam is, al is sy nie ’n man nie. ’n Opwindende opdrag, én ’n week of langer op ’n Griekse eiland op die koop toe! Wag tot Ferdinand dít hoor. Hy gaan grasgroen wees van jaloesie. Nie dat sy ’n woord vir hom sal sê nie; hy moet maar self hiervan uitvind.


Die vlug voel nimmereindigend.

Anneke kyk na haar horlosie se verligte wysers. Dis amper sesuur, maar die vliegtuig is nog in donkerte gehul. Sy skuif die skerm voor die venstertjie oop en trek haar asem verruk in. Die eerste sonstrale het die wolke met kwistige hale bygedam en die hele oosterkim vlam pienk en geel en oranje. Vir die eerste keer sedert gisteraand voel haar gemoed ligter. Sy leun met haar voorkop teen die harde, koue ruit en tuur na die skouspel in die wolke.

Sy het só na hierdie reis uitgesien. Gister was ’n geskarrel van inkopies, inpak, weer uitpak en óór-inpak, bagasie weeg en nóg ’n keer weeg. Eindelik kon sy lughawe toe gaan. En toe gisteraand, terwyl sy paspoort-in-die-hand en borrelend van opwinding staan en wag om aan boord te gaan, kom Ferdinand Beetge daar aangestap. Breed glimlaggend, selftevrede, triomfantelik. Nou sit hy hier langs haar, ook op pad Paradiso toe.

Sy loer na die man wat haar pa vir haar uitgesoek het. Hy is vas aan die slaap. Die maskertjie oor sy mond sit windskeef en sy mond hang effens oop. Sy blonde hare is deurmekaar, maar dit doen nie afbreuk aan sy filmstervoorkoms nie. Ferdinand Beetge ís ’n mooi man, dit kan sy nie ontken nie. Net jammer dat sy aantreklike voorkoms omtrent sy enigste goeie eienskap is. Sy maak haar rug reguit, stoot haar bene onder die sitplek voor haar in en roer haar tone. Hulle vlieg al agt uur. Nog ’n volle vier uur voordat hulle land.

Sy sug. Al is die sitplekke in besigheidsklas veel ruimer as in toeristeklas, bly dit beknop.

Die reis is ’n komplot, dink sy mismoedig. Sy is oortuig daarvan. Haar pa vertel haar gereeld Ferdinand is die “regte” man vir haar. Ryk, ambisieus en suksesvol. Hy glo seker ’n week of twee op ’n romantiese Griekse eiland is al wat Ferdinand nodig het om haar voete onder haar uit te slaan en haar hart te wen. Sy weet Ferdinand stem saam met hom: die dogter van sy ryk baas is die perfekte vrou vir hom, iemand met die regte agtergrond en mooi genoeg dat hy hom nie vir haar hoef te skaam nie. Sy ekstragroot ego wil nie aanvaar dat sy niks met hom te doen wil hê nie.

Al die eilande in die wêreld sal geen verskil aan haar gevoelens maak nie. Ferdinand Beetge is arrogant en selfsugtig, en sy het geen respek vir hom nie. Hy het drie jaar ná haar by haar pa se firma begin werk, met minder kwalifikasies as sy, en sy fenomenale opgang in haar pa se koninkryk het hy gemaak deur sy pligte skaamteloos op ondergeskiktes af te skuif, tot op die laaste nippertjie, wanneer hy aan die einde van ’n projek instap en die eer vir homself inoes.

Hy noem dit delegeer. Sy noem dit blatante uitbuiting.
Gaan dit nou weer gebeur? Gaan sy die harde werk doen terwyl Ferdinand uiteindelik met die lof – en die bevorderingspos – wegstap? Langs haar roer Ferdinand. “Hoe laat is dit?” gaap hy.
“Sesuur.”

Ferdinand sug oordrewe en lui die klokkie.

“Moet ’n mens so lank wag vir diens? Whiskey en soda, en maak gou,” blaf hy toe die lugwaardin in haar netjiese uniform langs hom verskyn.

Die meisie knik en kyk na Anneke. “Iets vir u?” vra sy beleefd.
Anneke skud haar kop. “Nee, dankie,” antwoord sy vriendelik, verleë oor Ferdinand se swak maniere. Hy is ’n snob, dink sy vir die soveelste keer. Hy is vriendelik en sjarmant teenoor diegene wat hy kan gebruik, maar pleinweg ongeskik teenoor sy minderes. Hy gaan haar lewe onuitstaanbaar maak wanneer die besef eendag tot hom deurdring dat sy nie met hom wil trou nie. Sy sug en staar weer by die venstertjie uit.