Skip to main content

Uittreksel | Pandora

Een

Siprus, Troödos-berge
Vyf jaar gelede

Dit is twee dae en een nag sedert Emma en Schalk by die herberg aangekom het. Nog twee wat wag.

“Ons gaan in ’n herberg bly met ’n kaggelvuur,” het Schalk gesê, skaars ’n dag nadat hy so onverwags in Siprus opgedaag het. “Klaar bespreek, vir vier dae. Ons gaan sneeu kyk in die Troödos-berge. Daar is glo ’n stokou kerkie binne loopafstand. Jy sal daarvan hou.”

Emma sit by een van die tafeltjies in die leë eetkamer. Almal slaap nog, en dis waarop sy gereken het toe sy so blitsvinnig ingepak en gaan wag het vir die eetkamer om oop te maak. Sy drink die laaste bietjie koffie uit die beker, sit dit op die tafeltjie neer en staan op. Die eetkamer is nog steeds leeg, net sy en Eleni, die jong kelnerin agter die toonbank. Ontbyt word eers oor ’n uur bedien, maar sy moes iets warms in haar lyf kry voordat sy dit buitetoe waag. Schalk sal slaap tot iemand hom wakker maak, en dit gaan nie sý wees nie.

Sy gaan betaal. Eleni stoot kleingeld oor die toonbank. “Ek sal jou laat weet as Kostas hier is. Seker nog so tien minute.” Haar Engels is goed, en sy doen ’n bietjie ekstra moeite vir gaste. Soos om te reël dat Emma saam met Kostas, die herberg se nutsman, vroegoggend ’n geleentheid kan kry Pafos toe, waar hy die naweek se vars groente en vrugte moet gaan oplaai.

Eleni sit haar hand vinnig oor Emma s’n toe sy die kleingeld vir die kelnerin terugstoot. “Dis nie nodig nie,” sê sy saggies, haar oë gesluier.

Sy en Schalk het gistermiddag in die eetkamer geëet, en gisteraand het hy dikmond pizzas en ’n bottel wyn kom koop.

En net daarna het sy jogurt kom koop en kom vra hoe sy in Pafos kan kom. So gou moontlik. Eleni het stadig geknik, en gesê sy kan dit reël. Sonder om vrae te vra.

Sy druk Eleni se hand. “Dankie. Vir alles.”

Eleni hou haar hand vir ’n oomblik vas. “Laat dit goed gaan.”

Sy knik en stap uit, met ’n nare gevoel wat grens aan skaamte.

Buite haal sy wolhandskoene uit haar pofferbaadjie se sak en trek dit oor haar koue hande. Sy moes dit by haar suster Susan leen, nes die mus op haar kop. Vir winterkoue het sy haar glad nie voorberei toe sy besluit het om vir haar sus te kom kuier nie. Ook nie vir Schalk se besoek nie.

Die grasperk is toe onder ’n laag sneeu, kaal boomtakke met swart vingers afgeteken teen die grys oggendlug. Kleiner takkies is inmekaar gestrengel en verwring soos die vingers van ’n ou man, uitgestrek op dun arms om die yl sneeuvlokkies te probeer vashou. ’n Entjie verder staan die reusewildeolyfboom. Moes sommerso opgekom het, vier stammetjies wat later een geword het, verknot en inmekaar gegroei tot een geweldige dik stam. Nes die kleiner bome is sy takke kaal en swart, sy stam met mos begroei. Sneeu lê soos wit verekussings teen die boom opgehoop, struike en ander plantegroei toe onder wit lakens.

Die boom het haar aandag getrek toe hulle hier kom inboek het. Sy kon haar indink hoe hy moet lyk in die somer, sy takke met ’n welige blaredak ver uitgestrek, vol voëltjies bedags en snags ’n hoe-hoe-uil. Die soort boom waarteen ’n mens kan gaan staan en jou hande om sy stam sit, palms teen die growwe bas, jou oor vasgedruk teen die boomweefsel om te luister of jy die wortels kan hoor ritsel diep onder die grond, die sap boontoe kan hoor beweeg om die blare en takke te voed. ’n Woudreus. Dalk al meer as ’n eeu se dinge sien kom en gaan.

Sy trap versigtig om nie op die nat stoepteëls te gly nie en begin stap na die boom toe, een voet voor die ander, soos die ou oom met die swart takvingers sou stap, swaar en met moeite. Want sy het seer. Haar arm- en beenspiere pyn en sy het seer as sy loop. In die badkamer het sy gesien hoe die rug en haar boude, haar borste teer en op haar skouer ’n ligte bytmerk. En sy kan niks onthou nie. Hulle het saam wyn gedrink en hy het haar gesoen, sommer bo-oor die tafeltjie waar hulle geëet het. Toe is hulle kamer toe. Sy onthou vaagweg haar klere wat op ’n hoop op die grond geval het, en verder niks. Iewers in die nag het sy wakker geword met ’n slegte smaak in haar mond en ’n seer lyf. Iets aakligs het gebeur, daarvan is sy seker. Sy wil nie eens dink wat hy alles met haar slap lyf aangevang het nie.

Haar arms pas net kwartpad om die stam, maar dis genoeg. Met haar voorkop teen die nat growwigheid probeer sy praat, maar net ’n skor klank kom deur haar keel. Haar oë brand, sy voel koud en kaal hier teen die boomstam, uitgelewer, opgebruik. Ja, en skugter. ’n Mens sal sweer die boom kan haar werklik hoor. Maar iemand moet nou luister, anders bars sy in trane uit. Sy het nog nooit tevore in haar lewe skelm weggesluip van enigiemand af nie. Die boom moet maar geduldig wees.

"Hy moes nie gekom het nie,” fluister sy vir die boom. “Ná die eerste keer het ek geweet dit gaan nie werk nie, hy het ’n wilde streep in hom waarvan ek niks weet nie. Ek het dié tyd nodig gehad om oor hom ook te kom.” Trane loop oor haar koue wange. Sy klou stywer vas teen die boomstam. “En hier is hy al weer … dis te veel vir my, al hierdie dinge. Eers Pieter, dood en begrawe, Ma en Pa moet na ’n ouetehuis toe, die huis moet verkoop word … ek het nie meer krag vir al dié goed nie.”

Sy druk haar koue, nat wang teen die boomstam vas, laat die trane maar loop. Die ysigheid op haar nat vel en haar seer arms om die boomstam bring haar mettertyd tot bedaring. Sy maak haar oë oop en vee met klam handskoene oor haar gesig. Kyk in die wit om haar vas. Sneeu is so mooi. Poffertjies oral op plante en klippe, tot doer ver by die afdraande waar die dennebome begin. ’n Wit leegheid wat in mistigheid verdwyn. Daarna, weet sy, is dit af, af, af tot onder by die see. Waar die son skyn. En Susan vir haar wag. Daar is sy nie alleen nie.

Sy begin beter voel.

“Joe-hoe! Kostas is hie-ier!” hoor sy Eleni se roep. Sy vee haar handskoene teen haar baadjie af, trek haar mussie reg oor haar nuwe pixiestyl blonde hare. Waarvan Schalk niks gehou het nie. Waar is die bruin vlegsel dan, wou hy weet. Asof dit van haar ’n mooier, beter mens gemaak het.

Haar voetstappe boom toe lê duidelik afgeëts in die wit sneeu. Sy stap terug, versigtig in die afdrukke op die grond, soos toe sy gekom het. Dié keer nie na hom toe nie, maar om haar tas op die stoep te kry en in die wagtende kombi te klim. Sy kan mos besluit wat sy wil doen, wie sy in haar lewe wil hê. En Schalk de Vos is beslis nie meer een van hulle nie.

Toe sy haar sit langs Kostas gekry het, die groetery verby is en hy die kronkelpad ondertoe aandurf, kan sy dit nie verhelp nie. ’n Hygsnik gaan sit in haar keel vas, bou in haar binneste op, word so erg dat sy die rou geluid nie kan stop nie. Sy sit haar palms voor haar mond, druk haar oë toe. Dit kon so anders gewees het.

Kostas hoor en sien niks, hy sing. Dis ’n lied van Nana Mouskouri, in Grieks, maar sy ken die woorde in Engels: “something here inside, cannot be denied” en verderaan “all who love are blind”. Dis hoe sy voel. Ontgogel, die prentjies in haar kop so duidelik dat sy dit sou uitsny as sy kon. Hoekom was sy so blind dat sy Schalk nie al lankal reguit hel toe gestuur het nie? Dat hy die vermetelheid gehad het om haar weer te kom opsoek, hiér, in Siprus, van alle plekke? En sy wat wéér met verwagting in haar binneste saam met hom berge toe gekom het? Omdat sy gedink het toe en nou maak van jou ’n ander mens?

Nana se lied is klaar, “Smoke gets in your eyes” draal nog in en toe is dit stil, net die gedreun van die enjin en Kostas wat ná ’n rukkie weer saggies neurie. Hulle kan eintlik ook nie gesels nie, hulle verstaan mekaar nie so goed nie. En sy het tog niks om vir hom te sê nie.

Eintlik wil sy huil teen ’n warm bors, liefs haar ma s’n, maar dié huil nog oor Pieter. Sy vee oor haar brandende oë en dink aan die kolle op haar lyf, haar teer plekkies. Wat gaan Schalk maak as hy wakker word en na haar begin soek? Die duvet wegtrek en onder dit haar kussing kry, dwars gedraai, met die middelblad van die tydskrif wat hy saamgebring het vir inspirasie, op die kussing vasgemaak met ’n naald uit die herberg se geskenkpakkie. ’n Blondine met lang vlegsels, tuitlippies en welgeskape boobs en boude. Kaalbas op ’n perd sonder ’n saal. Lekker ry, het sy onderaan geskryf. Met die klein plastieksakkie en ’n klompie pilletjies waarop Rohypnol staan, op die tafeltjie langs sy bed.

Sy begin ontspan. Vee haar hare onder die mussie in, druk haar hande tussen haar knieë vas. Sy sal hierdie ding ook deurwerk.

Kostas het oplaas van haar bewus geword. Hy draai sy kop skeef na haar kant toe. “Happy?” vra hy met ’n glimlag.

“Never better,” antwoord sy met stywe lippe.


Twee

Sandton, Suid-Afrika
Die hede

Die jaar word ryp in goue akkerblare … Uit Van Wyk Louw se “Vier seisoene”. Hoekom sy nou juis op hiérdie oomblik daaraan dink, verstaan Emma nie. Dit was haar matriekjaar se eksamenvraestel, lank terug. Sy weet net dit het gegaan oor ’n gevoel van vervulling, ’n siklus wat voltooi is, alles wat tot rus kom. Ja, sekerlik dít. Uit haar onbewuste opgediep. Haar seisoene het gekom en gegaan, so lank gelede dat sy die somers nie eens kan onthou nie. Jare van newellae, donker wolke, slegte nuus, siekte en nou nog beurtkrag ook.

Maar nou is dit lente, ’n nuwe siklus het aangebreek vir haar deurmekaar lewe. Boonop dra sy ’n nuwe rok met ’n hoë lyfie, geplooi om die heupe, en haar hare is weer lank. As iemand haar sou raaksien hier in die strate van Sandton, sou hulle sekerlik dink sy verjaar vandag, want sy glimlag soos iemand wat die jackpot geslaan het. Maar al wat gebeur het, is dat sy weer normaal kon aantrek – en werk toe kan gaan. Geen werk-by-die-huis of fleksietyd meer nie, geen sweet­pakke en tekkies en rondslof met skinkborde, medisyne, etes uitwerk, of kos gaan koop nie. Die winkels is oop, die nuwe seisoen hang in vertoonvensters en sy kan ’n latte gaan drink by die koffiewinkel. Sonder ’n masker.

Sy draai op haar nuwe wighakke by die Coffee Cavè in, swaai haar lyf en trek die rekkie uit haar hare. Die poniestert is soveel makliker as die kort, blonde hare wat gekleur, gekrul en gejel moes word. Sy gooi haar blinkbruin hare agtertoe, oop oor haar rug. Die Cavè is leeg, net sy en die kelnerin. “Latte, asseblief. Met skuim.” Haar gewone sitplek by die lang toonbank voor die venster wag vir haar, so asof daar geen tyd tussen toe en nou verloop het nie. Oggendkoerante lê uitgesprei, maar sy stel nie vandag belang nie. Sy wil net die normaalheid saam met haar latte indrink.

Sy sit vir twintig minute, drink haar koffie en staal haar met ’n smeerseltjie lipstif en ’n swier in haar stap vir die kan­toor wat wag. Dié is in ’n imposante gebou van glas en staal, ses verdiepings hoog, wat hulle deel met eiendomsagente en ’n prokureur. Die eerste drie verdiepings is deel van Systems Inc. Op die grondverdieping is die argief. Haar kantoor, of liewer haar hoekie, is op die eerste verdieping in die mas­siewe kantoor vir data-ontleders. Almal daar is op die een of ander manier besig met die onderskep en ontleding van rekenaarinligting wat hulle op die mees ondenkbare plekke gaan uitgrawe en in leesbare formaat herkodeer vir die tweede en derde verdiepings. Dis ook waar hulle opdragte vandaan kom. In haar geval: Wie betaal vir wat en waar word die geld weggesteek?

Sy stap by die groot glasdeure in en wys haar toegangs­kaart vir Anneline agter die toonbank.

“Môre, Emma.” Sy hou ’n glasbak na haar toe uit. “Kry vir jou, met komplimente van die baas.” Sjokoladestafies, met ’n plakkertjie op: I would like to die on Mars. Just not on impact. Dit kan net Wim wees. Hy hou van dié soort grappies. Moontlikheid en wenslikheid.

Haar databank cum lessenaar is gelukkig naby ’n venster in die lokaal wat amper so groot is soos ’n rugbyveld. In die middel is ’n oop ruimte met ’n ovaal tafel en ’n televisieskerm vir die daaglikse tienuurtee en werksvergaderings. Rondom staan die niervormige werkstasies, elkeen met twee, drie of vier rekenaarskerms. In die verlede was die werkstasies almal beset, by elkeen gewoonlik ’n man of vrou, geklee in waarin hulle ook al tuis voel, nie een ouer as vyf-en-dertig nie. En meer mans as vrouens. Nou kan hulle kies of hulle fleksietyd wil werk, want nuwe dataprogramme het werksmetodes ver­ander. En probleme met Eskom maak niks beter nie. Sit net jou ure in, is die reël, hier of waar jy ook al is.

Sy onthou hoe dit was met die vol kantoor: Sommiges praat in kopfone of oorstukke en vingers vlieg oor sleutel­borde. Beelde flits oor skerms, datalyste verskyn en verdwyn, koppe wip heen en weer. Hierdie soort werk is vir flinkdinkers, vlugge vingers en langasems.

Dis nie eintlik die soort werk waarvan vrouens hou nie, maar sy is in haar element, een van dié met vlugge vingers. ’n E-pos verskyn op die skerm, nog ’n paar sleuteldrukke en die boodskap is gekodeer, met die adres van ’n buitelandse bank. Daar sal dit gestroop word van enigiets wat die afsender kan identifiseer, herkodeer word en uiteindelik sy bestemming bereik. In die volgende paar minute sal enorme bedrae van­uit een bankrekening na ’n verskeidenheid ander oorgeplaas word – rekeninge met nommers, geen name nie.

Emma weet hoe dit werk, dit is wat geldwassery beteken. Gesteelde geld wat soveel keer heen en weer oor die konti­nente gestuur word, dat slegs die beste van die bestes dit kan opspoor. En dit is wat sy wil wees, een van die bestes.

Maar sy is vroeg. Die laaste van die nagskof is nog besig om klaar te maak – oë rooi van min slaap en klere taamlik gekreukel. Bradley Johnstone is op pad uit en loop amper in haar vas.

“Hi stranger! What a sight for sore eyes. Come here, let me hug you.” Hy druk haar vir ’n paar oomblikke teen hom vas. Toe hy haar los, begin hy lag. “Ons sal moet foto’s van onsself opsit om te weet wie is nog hier!”

Sy lag saam. “Geen sloffies en sweetpakke meer nie, nè!” Hy brom iets wat klink soos “of in jou onderbroek …” Sy waai ’n hand in sy rigting en hy is uit by die deur.

Aan die verste punt is Wim Meyer se kantoor: Direkteur, Strategiese Dienste. ’n Glashok met lessenaar skuins gedraai om die klomp monitors dop te hou en eenkant ’n leerbank en twee stoele. Haar hart klop ’n bietjie vinniger, maar sy kantoor is nog leeg. Sy sal moet wag vir teetyd. Sy het hom gemis. Kalm, dink voor hy praat, en só aantreklik! Ag nou ja, so is dit dan. Seker ’n string nooiens, dié dat hy nog nie getroud is nie.

Die kantoor lê oop voor haar, speke aan ’n wiel, elke wer­ker met ’n eie opdrag. Hare is geld, haar forte. In die afdeling wat inligting bymekaarmaak. Follow the money, wat sy opwindend en terselfdertyd afstootlik vind. Soveel geld in omloop en die helfte van die wêreld krepeer? Elke nes wat sy oopkrap, laat haar voel soos ’n James Bond-karakter. Met Queen op die agtergrond – another one gone, another one bites the dust!

Sy gaan sit, kry dinge reg vir die dag. Die rekenaars om haar skandeer massiewe databasisse, met algoritmes wat patrone uitsnuffel, soos watter name gereeld voorkom, ge­koppel aan lande, gekoppel aan banke binne daardie lande, en die bedrae wat heen en weer oor die aardbol reis. En as dit nie anders kan nie, moet iemand gestuur word om binne-in daardie patrone te gaan rondkrap.

Toe sy weer sien, is dit amper tienuur en van die perso­neel reeds op pad na die middelspasie. Die televisie is op ’n markontledingskanaal, met syfers, pratende beterweters en markvoorspellers.

Wim is ook reeds daar en sy skuif vinnig in ’n stoel in. Hy praat nooit baie nie, maar wanneer hy dit wel doen, moet mens luister. Soos dit maar gaan met skerpsinnige mense, gesels hulle oor wêreldgebeure, Amerika wat al hoe laer op die invloedsfeer sak, en die biljoene dollar plus oorlogtuig wat hulle in verskeie oorloë inpomp. China annekseer en bewapen eilande, daar is vloede, droogtes en aardbewings in Indië, Turkye en Sirië, met skuddings wat tot in Siprus gevoel is, gelukkig sonder skade. Emma is innig dankbaar daaroor, Susan is veilig.

Kunsmatige Intelligensie is ook op die gesprekslys, en natuurlik Elon Musk, met sy waarskuwings oor KI. Die gesprekke spring heen en weer, Emma kan nie byhou nie. Sy drink maar koffie en luister, net ingeval iets opduik wat sy later moet onthou.

Kan ’n bot die Hertzogprys wen? wil iemand weet. En wat sal gebeur as kinders Kunsmatige Intelligensie gebruik om vir hulle kreatiewe opstelle en gediggies en dinge te skryf?

Wim maak keelskoon en dit word stil om die tafel. “Gaan die kletsbot beter essays kan skryf as professore? Gaan KI oneerlike studente help om plagiaat te pleeg? Wat is die im­plikasies van ChatGPT vir die joernalistiek en die publiek se vertroue in die nuusmedia? Dis die vrae wat ons moet beantwoord.”

Daar hang ’n stilte oor die tafel. Bradley waag die eerste antwoord. “Dit sal afhang van die eerlikheid van jonger skrywers en die kinders self. Dit sal dalk nog ’n paar jaar neem voordat ’n bot ’n professor sal uitvang.”

Vir Emma is die hele storie net ’n belaglike foefie. “’n Robot het nie gevoel nie. Hy sal nie konteks verstaan nie en sal net ’n klomp data gaan haal wat betrekking het op die onderwerp.”

Hulle lag. “Ons sal een kry om ons te help, hoor. Met data. Meer koffietyd vir ons.”

“Ja, en wat is volgende? ’n Hommeltuig wat ander hommeltuie aanval? Teen 160 kilometer per uur – kamikazes?”

John het die antwoord. “Brandwaggewere, ou pel. Jy stel ’n masjiengeweer in op ’n teiken, sê maar iewers in die woestyn, en as die teiken op die radar verskyn, is dit boem! Die einde. Of die brandwaghond. ’n Robothond wat grense kan patrol­leer en namens jou gaan kyk wat aangaan.”

Kris knik instemmend. “Goedkoop en maklik om te ver­vang. Geen vakansie of oortyd nie. Skiet nie mis nie en hoef nie gereeld opgelei te word nie.”

Nog ’n stem klink op. “Elon sê dis soos om die duiwel uit te daag. Waar eindig dit? Robotte wat slim genoeg is om teen hul eie mense te draai? Menslike operateurs wat met robotte vervang word?”

“Ja wel, dis die ander kant van die munt. Dis waar die poli­tiek inkom. En die moeilikheid begin. Dis in almal se belang dat iemand die streep trek.” Wim se kalm stem bring stilte.

Die gesprek loop wyer, rolprente en wetenskapfiksie, Terminator en Tom Cruise se nuutste wetenskapfiksiefilm. Wim is weer ernstig. “Nou ja, as jy moet kies: jou seun op die slagveld – of ’n robot? Laat ons hoop daar is genoeg respektabele manne in die politiek wat versigtig met KI gaan werk.”

Emma luister en lag saam, geniet die inligting wat so heen en weer oor die bekers en borde vlieg. Sy stel nie belang in skiet en donner of robotte en aliens nie. Om skelms te jag terwyl jy veilig agter jou rekenaarskerm sit, is meer haar soort ding. Maar sy was te lank op haar eie, sy gaan sukkel om weer deel van die groep te word. Daar was ’n tyd toe hulle al om die ander week gaan uiteet het op ’n Vrydagaand, om te lag en gesels soos gewone mense. Los van die skerms en wat daarop aangaan.

Een opmerking vang haar ore, laat haar regop sit, beker in die hand, oë groot gerek van ontsteltenis. “Child trafficking is as bad here as it is everywhere else. And there seems no way to stop it. En die statistiek hier by ons – dit sal julle hare laat rys.” Een van die nuwelinge, George Griessel, as sy reg onthou. Hy is aangestel terwyl hulle huisgebonde was.

“Hier?” Emma is geskok. Sy het so lanklaas ’n plaaslike koerant gekoop dat sy blykbaar tred verloor het met die werklike lewe. “Ek dog dis in Thailand en die eilande in die omgewing waar jongmense so wegraak?”

Sy weet dat die kinders verdwyn en net nooit weer ge­vind word nie. Dat Thailand berug is vir elke soort kindermishandeling waaraan mens kan dink. Vir wie hulle ook al wil hê, baie keer bordele. En immigrasiebeamptes speel saam. Gelukkig is dit nie haar deel van die werk nie. Maar wat sy nou hoor, is heeltemal ’n ander storie.

“Slave labour? Sex slaves? Epstein op sy eiland? En adrenochroom. Lees jy nie sosiale media nie?” Die man, skaars ouer as sy, is blykbaar behoorlik ingelig. Die ander om die tafel het stil geword, luister met belangstelling na die tweegesprek.

Emma vererg haar. “Nee, George, ek is te besig. Anyway, die meeste wat jy lees, is vals berigte. Gaan fact check dit maar.”

Maar die man is weer op dreef. “Gaan kyk op Rumble na die Oekraïne se babahandel. Miljoene dollar verdwyn in private sakke. Babas word diep in bomskuilings aangehou vir hulle organe, veral niere, harte, selfs longe. Ma’s gaan los hulle babas daar en word betaal. Of hulle word surrogaat­moeders vir ’n bababoerdery!”

Voor sy kan antwoord, bring Wim se kalm stem hulle weer tot insig.

“Voor julle nou weghol met julle idees – net iets oor adrenochroom. Dis veronderstel om vir die elite ’n langer en gesonder lewe te gee. Word glo gemaak uit die adrenalienafskeidings van ’n lewende liggaam. Hoe jonger, hoe beter. En ja, dis waar, oral in die wêreld word jong kinders gekaap, in hulle duisende, vir allerhande soorte redes. Die stats is daar, gaan kyk maar.” Hy skuif agtertoe in sy stoel.

“Ons het nog geen rou data daaroor hier in Suid-Afrika nie. Dis in die sewentigs deur ’n Amerikaanse fiksieskrywer gebruik om sy storie te verkoop, en dié word nou oral as die alfa en die omega oorvertel. Veral in Amerika. Kinders word gewoonlik gesteel in gebiede waar oproer voorkom, soos Haïti, die Oekraïne, ander oorlogsones. Migrante wat oor al die grense heen Europa toe stroom. En dis nie deel van ons werk nie.” Hiermee stoot hy sy stoel terug en staan op. Teetyd is verby.

Net toe sy ook wil opstaan, wink Wim haar nader, beduie na sy kantoor toe. Haar hart spring benoud in haar borskas. Iets verkeerd met haar werk? Sy lig haar koffiebeker en met die ander hand druk sy vyf vingers in die lug. Vyf minute? Hy glimlag en verdwyn stil in die gang af.