Skip to main content

Uittreksel | Oor jou dooie liggaam

Een

As daar nou iets kenmerkends omtrent ons huishouding is – maar natuurlik is daar baie – dan is dit dat wanneer die foon lui, almal dood is.

Daar is dit nou weer, net toe ek dit die minste verwag het. ’n Telefoon lui altyd wanneer jy dit die minste verwag. ’n Telefoon lui sonder uitsondering skielik. En nêrens het een van die verdekselse goed ’n leliker, skeller, skriller, meer roer-jou-gat-en-antwoord-my klank as óns telefoon nie.

Dis altyd ’n kompetisie oor wie eerste sal ingee en loop antwoord. Of gaan jy wag tot die persoon aan die ander kant tou opgooi en dan wonder en wonder wie dit tog kon gewees het? Waaroor dit tog kon gegaan het?

Soos altyd is ek dood hier in my kamer. Ek is egter die naaste: Die foon is in die gang, en ek enkele meter daarvandaan op my bed en met die deur oop.

Kan nie vinnig my oorfone aanpluk nie, want my ma en Felicity weet albei dit het gebreek. Te laat ook om harde musiek te begin speel. Buitendien onthou ek my ma is uit en dat ek lank laas ’n geluid uit die kombuis gehoor het. Dit beteken Felicity is agter by haar kamertjie.

Skril-skel lui die ding in die gang sy verbete lui, en ek draf maar.

“Hallo.”

“Ludo?”

Ek kan hoor hy’s verlig dis ek wat geantwoord het. Wens ek kon dieselfde sê.

“Pa.”

Ludolph Labuschagne, wat in Januarie ’n jare lange stilte verbreek het om weer in my lewe te verskyn. En hier is dit April, die eerste April om presies te wees, en hy bel met ’n rede. Hy’t dan net ’n paar dae gelede in die Harlequin laat blyk wat hy in gedagte het.

“Hoe gaan dit?” wil hy weet, maar dis nie wat hy wil weet nie.

“Sy’s nie nou hier nie.” Bedoelende my ma.

“O,” sê hy

“Sy’s seker al ’n uur weg.”

“Waarheen?”

“Een van haar komitees of iets.”

“En –”

“Ek weet nie hoe lank sy gaan wees nie.”

“O, wel …”

“Seker nie te lank nie.”

“Sal jy –”

“Dit sal beter wees as Pa weer bel.”

“Maar …”

“En self met haar praat.”

Want daar’s geen manier dat ek die middelmannetjie gaan wees nie. Ek het gesê ek sal help – of so iets – maar dis woorde wat sedertdien by my kom spook het. As twee mense moet uitwerk of hulle weer behoort te probeer, is dit húlle saak. Maar nou hét ek gesê ek sal kyk wat ek kan doen, daarom kan ek ook nie maak of ek buite die saak staan nie.

“Oukei,” sê my pa. “As jy dalk net solank vir haar sal sê ek het gebel.”

“Ek weet nie of dit ’n goeie idee is nie.”

Huiwering. “Hoekom nie?”

“Dan wil sy dalk nie praat nie.”

Daarna is hy gou om te groet, en ek bly met die telefoon teen my oor staan asof herinneringe en assosiasies oor jare heen my gaan verras deur stem te kry.

“Ludo?” roep Felicity. Nóú het sy ingekom.

Ek loop kombuis toe waar Felicity Abrahams soos ’n koningin by die stoof staan. Jeans. Wit toeknoopbloes teen die koffie-met-heelwat-melk-vel. Donker krulhare en korrelende kyk onderdeur die fronsie. Maklik om te vergeet dis sy wat vir óns werk.

Of vir my ma.

“Wat wil julle vanaand eet?” vra sy.

My beurt om te frons. “Ons sorg mos saans vir onsself.”

“Maar jy wou nie iets hê vir middagete nie.”

“Dis mos my eie skuld.”

“Ek’t net gedog …”

“Dis nie nodig nie, Felicity. Dankie.”

“Dan doen ek darem iets.”

Daarop het sy reeds omgedraai en na buite geloop, terug na haar kamertjie in die agterplaas.

Ek weet waaroor sy vies is. Omdat daar laas maand ’n saak was waarin sy geen rol te speel gehad het nie. Meer nog, beide ek en my ma was weg. En nou is dit ’n nuwe maand en ek het nog geen aanduiding gegee dat daar ’n nuwe ondersoek aan’t kome is nie.

Omdat ek nie so iets uit die lug kan gryp nie!

Sug.

Ek loop terug kamer toe en val op my bed neer. Wil nie teenoor myself erken hoe omgekrap ek is, of wat die rede daarvoor is nie.

Dit was goed om my pa se stem te hoor, én ’n foltering. Soos altyd. En dan voel ek elke keer moerig omdat ek my weer laat vang het. En opnuut kwaad omdat hy nog die mag het om my ’n gemoedsbekakking te gee.

In my kop bly my pa twee mense.

Daar is die man wat van my eerste onthou af net goed was vir my.

Wat ook kon wys dat hy omgee, terwyl nie almal van sy generasie so kwistig met hulle emosies was nie. Kon mos nie die gevaar loop om vir ’n softie of iets ergers aangesien te word nie.

Dan is hy ook die man wat my ma – en my – gelos het vir ’n ander vrou, die gesiglose bitch genaamd Phyllis. Oftewel Vullis. Welke verhouding (ha-ha!) toe ook maar nie gehou het nie. Dié dat hy ons weer nodig het.

My pa. Die man wat sy vryheid wou hê, maar nie op sy eie kan wees nie.

En hy maak van mý twee mense. Iemand wat beslis al ’n paar meer volwasse besluite as hy geneem het. Asook die 24-jarige wat weier om soos ’n kind op hierdie prikkels te reageer … en dit elke keer maar weer doen.

Dis nou ook nie asof ek ooit van hom kan vergeet nie. Hy is ’n spook. Hy is my skaduwee. Elke keer as ek by ’n spieël kom, my magtag, daar is hy weer! Dit is Ludolph Labuschagne se maer – nee, benerige – en bleek gesig wat my met skrikswart oë en net sulke swart hare koggel.

Wat het my ma ooit in hom gesien?

Kan sy dit wéér sien?

Hoe ook al, hy beter nou sy skuif maak, of …

Dis April, of nooit.


Twee

Die meisie met die wilde bos koperrooi hare lê terug in die outydse leunstoel, só dat dit die fokus op haar maag plaas.

Dis wat die fotograaf wil hê.

Hy gee ’n paar tree na links, steek vas, lig die kamera tot voor sy gesig, loer deur die lens, laat sak dit en loop terug na waar hy was.

“Die lig is goed so …”

Sy antwoord nie, gewoond daaraan dat hy met homself praat.

Natuurlike beligting, soos hy daarvan hou. Dit kom deur ’n enkele venster met geriffelde glas wat op die stegie sal uitkyk indien jy dit oopmaak – wat niemand by sy volle verstand sal doen nie. Dis ’n koue laatoggend hier in Bredasdorp net voor die regte jaarlikse koue aanmeld, en haar hele lyf vries, want haar hele lyf is kaal.

Kliek, maak die kamera. Hy neem nog ’n foto uit dieselfde hoek ingeval sy haar oë geknip of iets snaaks met haar mond gedoen het.

Nie dat die mans wat sulke foto’s koop veel met die meisie se gesig gepla is nie. Of so neem sy aan. Die girls moet darem seker ook nie skreeulelik wees nie. Van die koue het sy ’n behoorlike nipple-stand, wat sal help bepaal waar die fokus val.

Om nóú te wonder of dit slim is om haar gesig te wys, kom maande te laat. Is dit al ’n jaar vandat sy die eerste keer hier kom sit en poseer het? Sit, of staan, of lê. Toe elke maand. Daar is blykbaar ’n nimmereindigende aanvraag hierna in ons land met sy streng wette. Dis sedeloos. Dis sonde. Maar eintlik steeds die stad se vergrype waarvan die meeste Bredasdorpers net hóór. Soms.

Hy lig die kamera en kliek weer. Sy wonder hoeveel geld maak hy hiermee. Vir seker baie meer as sy, maar sy kla nie. Hoef net te wys wat daar te wys is en daarvoor word sy beloon.

Sy lig haar arms bo haar kop, stel voor: “Dalk só?”

“H'mm, hou daarvan.” Die lus slaan deur in sy stem. Die sessie kon tot meer lei as hy bereid was om ook daarvoor te betaal. Hoewel die gedagte haar nou so aandraai, dalk gooi sy dit gratis in.

Dis ekstra prikkelend, die gedagte aan hoe versigtig hy sal moet wees om haar by te kom met dié groot maag in die pad.

Sy’t gedink die fotonemery sal in ’n stadium ophou, want wie wil na ’n kaal swanger vrou kyk? Hy’t haar verseker sy sal verbaas wees.

Hulle is die beginpunt van die ketting, hy en sy. Dít wat hy afgeneem het, gaan ontwikkel hy in die donkerkamer. Trek die velle blink papier uit die vloeistof in die staalbakke, gebaai in die rooi lig teen die plafon. Knip dit aan toutjies vas. Sy weet nie hoe die verspreiding daarvan werk nie, wie sy kontak of kontakte is, hoeveel stappe daar is en so aan nie.

Sy wonder of die lig deur die stegievenster genoeg is sodat mense – mans – kan sien die hare in haar oksels is dieselfde kleur as op haar kop. Daar was meisies op skool wat hardop gewonder het of sy haar hare dye, al was hulle saam met haar in die aantrekkamer. Wel, hier’s die bewys, maar dis nie vir hulle om te sien nie.

Ook élders is daar bewyse dat koperrooi haar natuurlike haarkleur is, en sy sprei haar bene.

Merk summier die styfspan van sy skouers. Al is dit nie die eerste keer dat sy só vir hom sit nie – sedert die derde sessie is dit altyd hoe hulle eindig. Moet sy nou begin voorgee dat sy skugter is?

Sy kyk af na haar bultende maag. Wás sy maar skaam en sku, dan het sy nie met hierdie al groter wordende probleem gesit nie.

Sy onderdruk ’n kreun. Sy is so donders ongemaklik. Voel soos ’n oorryp, brandweerwa-rooi appel wat aan ’n tak bly hang en nie sover kom om tog net gepluk te word nie. Of te vrot. Of af te val. Of enigiets anders. Solank dit net verligting bring.

Kliek-kliek maak die kamera.

Bult-bult maak sy broek.

Sy wonder of dit sý kind is hier binne-in haar.