Skip to main content

Uittreksel | Onwillige held

Een

Anja se skouers hang toe sy dink wat haar ouma van hierdie ramp der rampe sal sê. Sy kan dit al hoor: Anna Jacoba Harzenberg, vir ’n opgeleide ver­pleegsuster met ’n wakker brein en ’n goeie aanvoe­ling was jy waaragtig onnosel. Hoe kon jy val vir die oudste truuk in die boereverneuker se teksboek? Jy’s oud genoeg om te weet as enigiets te goed klink om waar te wees, is dit die grootste liegstorie onder die son.

Toe die ontvangsdame by die hotel haar skouers ophaal en sê daar is nie ’n kamer in haar naam ge­reserveer en vooruitbetaal nie, moes sy dadelik ge­weet het meneer Viljee van Ficta Indiensnemings is ’n swendelaar.

Maar nee, toe slaan sy voet na die skeepsredery se kantore waar tekens van die vorige nag se Nu­wejaarspartytjie nog oral sigbaar was. Ook daar het niemand van haar koms of haar aanstelling as me­diese offisier aan boord van die luukse jag, Neptune’s Dream, geweet nie. Die hovaardige kyke na haar kleredrag en rugsak het haar verseker dis onwaar­skynlik dat sy as enigiets op die eksklusiewe jag vir honderd skatryk passasiers werk sou kry. Van me­neer Viljee het niemand nog ooit gehoor nie, want hy is beslis nie hul werwingsoffisier nie.

Sy skuif die swaar rugsak gemakliker op haar skouers en mik in die rigting van die ligtoring wat sy in die vroeë skemer kon sien flits. Dis seweuur maar nog lig in hierdie deel van die Suid-Kaap. Die be­sighede is reeds toe, maar hier en daar dam voertuie op langs ’n verligte restaurant. Die nuwe jaar is nog so jonk dat “Happy New Year” steeds uit die eetplekke opklink.

Dis die hoogtepunt van die vakansieseisoen. Dit help nie eens sy soek oornagplek nie. Elke bekostig­bare blyplek in hierdie gewilde vakansiebestem­ming gaan tot die einde van Januarie tjokvol wees, veral dié in die middedorp naby die hawe en al die restaurante.

Geld vir ’n Uber het sy nie. Die vliegtuig-en bus­kaartjie hierheen het al haar reserwes opgeslurp. Haar kredietkaart se perk is reeds bereik en sy weet nie of sy aan die einde van ’n vakansie hier in die stranddorp tydelike werk sal kry nie. Al genade is om voet te slaan tot by oom Gerhard en tant Bea se huis. Die twee kuier by hul kinders in Spanje, maar sy weet waar hul duplikaathuissleutel weggesteek word. Hulle sal nie omgee as sy een aand daar oorslaap terwyl haar selfoon herlaai en sy ander planne maak nie.

Sy weet selfs hoe om by hulle huis te kom. Een been van die Tuinroete Pelgrimstog van Hoop gaan ’n straatblok van hulle huis af verby. Die Saint Blaize-ligtoring is die eindpunt van die roete, sy sal bloot naby die eindpunt begin en die roete in omgekeerde volgorde aanpak. Gelukkig is sy as verpleegsuster loopfiks sedert haar opleiding, die jaar gemeenskapsdiens en die afgelope twee jaar se ondervinding in die besige stadshospitaal. Om die erkende voetpad te volg, sal beslis beter wees as om langs die snelweg te probeer loop tot . . .

Haar gedagtes stol toe ’n viertrek langs haar stil­hou. Die passasiersvenster gly geruisloos oop en die bestuurder leun oor daarheen. “Juffrou, dis onveilig om hierdie tyd van die dag alleen in die midde-dorp rond te loop. Klim in, dan neem ek jou na jou hotel.”

Die stem is diep. Beskaafd en nie onrusbarend vriendelik nie. Wat sy van die man kan uitmaak, is ook nie onaardig of afskrikwekkend nie. Inteendeel. Aan die ander kant, skurke is selde afgryslik en sy het reeds in een slaggat getrap. Sy gaan sowaar nie nog ’n stommiteit aanvang en teen alle waarsku­wings in by ’n vreemdeling in die voertuig klim nie.

“Baie dankie, maar nee, dankie, Meneer.” As die gansie slim genoeg was om die jakkals se aanbod te weier, is sy ook, sy sal net taktvol wees. “My plek is net hier om die draai. En my vriend het gou by daardie restaurant gaan uitvind of hulle nog ’n tafel beskikbaar het vir ons.”

’n Glimlag roer sy mondhoeke, tog knik hy een­voudig en trek besadig weg.

Die man weet jy lieg en nou moet jy alleen deur die stil deel van die dorp loop. Skouers agteroor en klap ’n tekkie, Anja.

Sy waag dit ook nie om te stop en haar drafskoene aan te trek nie. Die goed was peperduur en netnou gee dit iemand die idee om haar oor die kop te slaan vir haar skoeisel. Met lang treë stryk sy aan tot sy ’n rooi ligtorinkie teen ’n lamppaal opmerk. Dis die geverfde merkers wat die roete en rigting aandui, daarom mik sy in die teenoorgestelde rigting as wat die pyltjie wys. Hopelik is die ander merkers ook aan of naby lamppale sodat sy hulle maklik in die toenemende skemerte kan volg.


Vier uur later sug Anja gelate toe ’n fyn misreën be­gin neersif. “Anja Harzenberg, jy’s verby redding, so diep is jy in die moeilikheid.” Met brandende voet­sole skuifel sy dieper onder die dakoorhang van haar oom-hulle se huis in.

Oom Gerhard en tant Bea se huis is vol vakan­siegangers wat die nuwe jaar nog luidrugtig verwel­kom. Bykans ’n peloton krioel daar rond, skat haar oormoeg verstand. Selfs die buitekamer se lig brand. Sy is eenvoudig te moeg om verder te soek na slaap­plek. Sy voel versigtig oor die skaafmerke aan haar skouers, maar ruk weg toe haar souterige aanraking die rou vel brand. Haar voetsole klop, haar tone is voelbaar nerfaf en die sneakers se dun sole is op die rand van disintegrasie.

Om soos ’n regte boemelaar haar toevlug tot die ruie duinebos te neem is al genade.

Die vuurwerke wat van die besoekende passa­siersboot afgevuur word, koggel haar uit die rigting van die hawe. Hoeveel kilometers sy te voet oor teer­pad, grondpad, deur duinebosse en selfs strandlangs afgelê het sedert die man aangebied het om haar op te laai, weet sy nie. Waarskynlik minder as vyf en twintig, maar dit voel beslis na meer. Loop was die beste opsie, praat sy haarself moed in. Sy’s wel gehawend, maar ten minste nog in een stuk, min of meer ongedeerd en haar eie baas.

Hoe sy haar selfoon en iPad se batterye gaan her­laai sodat sy haar ma kan kontak, weet sy nie. Werk soek is net een van ’n hele lys probleme wat sy môre in daglig sal moet uitsorteer. Die twee restaurante waarby sy op pad ingeloer het, was vol klante en by elkeen was genoeg kelners wat haastig heen en weer draf.

Haar oë brand. Tjank is nie ’n opsie nie, ou sussie, praat sy haarself aan. Haar kloppende voetsole en krampende kuite herinner haar dat sy dringend iewers moet sit voor haar bene onder haar padgee.

Die bonkige buitelyne van die huis langsaan doem voor haar op toe sy na die duinebos tussen die huise en die strand draai. Die plek is in donkerte gehul. ’n Vae herinnering uit ’n vorige kuier roer in haar: Daar was ’n redelik beskutte stoep. Vaagweg onthou sy tannie Bea se huiswerker het beweer die bank op daardie stoep is getoor, want dit beweeg rond al is die inwoners nie tuis nie.

’n Vinnige kyk na haar selfoon se dowwe skerm wys dis halfelf. Toe doof die liggie uit en verseg om weer aan te skakel. Die huismense langsaan het óf vroeg gaan slaap ná die vorige nag se vierings, óf is uitstedig. As sy net ’n rukkie op daardie bank kan rus, sal sy weer krag hê om planne te maak. As daar ’n kragprop op die stoep is vir ’n grassnyer of braaier kan sy terselfdertyd haar selfoon herlaai.

Ongelukkig word dit baie vroeg lig hierdie tyd van die jaar. Voor enigiemand in die buurt wakker word, moet sy weg wees en werk soek.

Sy kan eerste by die staatshospitaal of kliniek aanklop, want hulle sal besonderhede van haar opleiding en gemeenskapsdiens aanlyn kan kontroleer. By die privaat hospitaal sal dit moeiliker wees, want sy het geen getuigskrifte saamgebring nie.

By die trappies na die donker stoep huiwer sy. Geen blou of rooi skynsel waarsku dat ’n alarm daar geaktiveer is nie. Ook sien sy nie op die huis se hoeke sensors wat bewegings kan optel en haar teenwoor­digheid verklap nie.

Hierdie gebied het ’n lae misdaadsyfer. Daardie man in die bakkie se waarskuwing teen skelms was dalk net ’n plannetjie om haar tot in sy viertrek te lok.

Versigtig hink sy trapop, gereed om na die duinebos te vlug indien ’n alarm sou skal. Die stoepbank is sag en verwelkomend, beslis beter as om onder ’n portjackson te skuil soos toe sy langs die voetslaan­roete op pad hierheen ’n rukkie wou rus. ’n Bosslaper het haar vinnig uit sy lêplek geboender. Ingeval sy hier ook vinnig moet padgee, benut sy eerder nie die kragprop naby die skuifdeure nie.


Die vae gewaarwording dat die duvet besonder swaar op haar voete druk, roep Anja uit ’n diep slaap. Die bykomende wete dat sy nie alleen is nie, dwing haar nugter wakker en terug na die werklikheid. Sy hou haar oë veiligheidshalwe toe terwyl sy haar oriënteer.

Haar slaapplek ruik na seelug. Haar stywe spiere en die pyne in haar lyf en voete bring die vorige dag se gebeure vinnig terug. Sy lê op die bure se bank en die gewig op haar bene is warm en wollerig, maar nie beddegoed nie. Selfs toe-oë weet sy dis helder daglig. Sy het verslaap en is betrap dat sy op private eiendom oortree.

“Is jy Sneeuwitjie?” vra iemand naby haar.

Sy skrik haar kop leeg. Dis nie ’n kinderstem nie, tog is die vraag ernstig asof die man regtig daaroor wonder. In ’n stoepstoel oorkant die bank waarin sy opgekrul lê, sit ’n grysaard met ’n deurleefde ge­sig. Sy oë glinster geamuseerd en sy wenkbroue is vraend opgetrek. Langs hom op die pasmaat van sy stoel sit ’n sjampanjekleurige golden retriever regop met sy snoet teen die man se bosak, min gepla oor die indringer op die bank. Die grysaard se hand rus op die hond se kop.

Anja kom versigtig orent. “Is Oom Knorrig, Sneeuwitjie se dwerg? Of een van die ander ses?” waag sy ’n teenvraag om te bepaal of die man by sy volle sinne is of nie. ’n Grysbont kat met ’n wit bors rek hom lui uit en klim van haar kuite af sodat sy haar voete van die bank af kan swaai.

’n Glimlag kreukel die man sy ooghoeke. “Nie Knorrig nie en ook nie een van die ander nie.”

“Dan is ek nie Sneeuwitjie nie.” Sy glimlag ver­sigtig. Is die oom kens soos haar ouma sou sê, of het hy net ’n vreemde sin vir humor?

Sy mondhoeke trek op. “Vlersie het besluit jy is ’n geskikte slaapmater en Leo knor nie vir jou nie. Hul stempel van goedkeuring is goed genoeg vir my. Is jy honger? Want ek is.”

Hiperbewus van haar maag wat hoorbaar grom, skud sy haar kop. “Oom, ek het ongenooid misbruik gemaak van Oom se stoepbank. Ek is baie jammer as ek ongerief of verleentheid veroorsaak het. Ek kan werklik nie verder op jou lewe inbreuk maak nie.” Haar voetsole protesteer onmiddellik toe sy opstaan en na haar rugsak reik.

“Is jy een van die haweloses wat gereeld hier in die duinebosse en leë erwe slaap?” vra hy reguit, sy oë helder en intelligent.

Sy skud dadelik haar kop. “Ek is as gevolg van my eie onnoselheid tydelik sonder ’n dak oor my kop en sou onder ’n bos of iewers in ’n tuin moes slaap. Oom se bank was aanlokliker,” erken sy. “Ek het be­plan om voor daglig te verkas.”

Hy staan ook op. “As ek na jou skoene kyk, was jy te moeg om vroeg wakker te word. Dit beteken jy is honger ook. Nou nooi ek jou in vir ’n koppie kof­fie, want ek is dors en my huishulp weet nog nie ek is terug van die kinders af nie.” Hy draai na die glasskuifdeur. “Jy kan die koffie maak as dit jou beter sal laat voel. En roosterbrood. Vir ons albei.”

“Dan het Oom vanoggend eers by die huis gekom?” Op ’n manier is dit gerusstellend dat die huis wel gisteraand leeg was. Dit maak haar optrede minder creepy.

“Nee, my seun het my gistermiddag van Kaapstad-lughawe af gebring, maar ek het vroeg ingekruip. Die kuier by die kleinkinders in Polokwane, die vlug Kaap toe en die motorrit van die lughawe af het my gedaan gemaak. Ek moet uiteindelik erken ek is nie meer vandag se kind nie.”

Sy volg hom en die kat huiwerig deur die ruim oopplanwoonvertrek na die kombuis en eetkamer teen die agterste muur. Die goue hond dek die ag­terhoede asof hy wil seker maak sy probeer geen skelmstreke nie.

Die oom maak hom langs die tafel tuis en wys na die goed toegeruste kombuis. “Die koffiegoed is op die gewone plekke. Ek gaan gou vir Maria bel en laat weet sy moet vandag al inkom.”

Terwyl sy die ketel aanskakel, kassies oop- en toemaak en oplaas die koffie opspoor, praat hy met ene Shorty, wat blykbaar Maria se man is.

“Dis nou ’n boggherasie.” Hy lyk bekommerd toe hy die verbinding verbreek. “Shorty sê Maria is in die hospitaal vir ’n noodoperasie. Sy sal eers oor ’n maand weer kan kom werk. Dit beteken ek sal tot tyd en wyl iemand anders moet kry.”

Agter haar hoor Anja ’n deur oopgaan.

“Pa?” Daar skuil ’n string vrae en die beduidenis van ongeloof in die diep stem links van haar.

Haar nek kriewel, tog loer sy oor haar skouer. Die man staan die deurkosyn vol. Donker, intimiderend. Vaagweg bekend. Hy knip sy oë vinnig asof hy wil seker maak van wat hy sien. Gereed om op die vlug te slaan na die stoep waar haar rugsak vir haar wag, kyk sy vinnig vir haar gasheer.

“Môre, Basjan,” groet die grysaard ongestoord. “Hoekom is jy nog nie by die werk nie?”

Die nuweling se ongeduld borrel feitlik hoorbaar agter daardie frons en voorspel moeilikheid. Boonop weet die oom nie hoe om haar aan sy seun voor te stel of haar teenwoordigheid te verklaar nie. Die jongman gaan beslis oorlog maak as hy besef hoe roekeloos sy pa was.

“Anja Harzenberg,” hoor sy haarself sê. Voor sy haar kan bedink, tree sy vorentoe en steek haar hand uit.

Hy is lank genoeg dat sy na hom moet opkyk – en sy is nie kort nie. Ook sterk, want toe hy haar hand ná ’n kort huiwering vasvat, kan sy die krag voel. In­gehoue krag, want hy druk nie haar vingers inme­kaar nie. Sy donker oë blits, al is sy gesig uitdruk­kingloos. Selfs onder die ontwerpersbaard kan sy die spiere oor sy kaak sien werk.

Hy kners op sy tande om sy ergernis in toom te hou, interpreteer sy.

“Sebastiaan Kellerman.” Hy laat haar hand gaan, duidelik nie van plan om te sê die kennismaking is aangenaam nie. “Ek wou voor ek ry seker maak Ma­ria het opgedaag, Pa.”

Anja draai vinnig weg en druk twee van die snye brood wat sy tydens haar koffiesoektog op die broodblik gemerk het in die rooster. Sy kry intussen die botter uit die yskas, sommer ook melk, kaassmeer en konfyt.

“Dis juis die probleem, Basjan,” sê die oom kalm en verduidelik kortliks sy huishulp se situasie. “Maar ek het gelukkig ’n oplossing. Terwyl Maria in die hos­pitaal is, gaan Anja my bietjie uithelp in die huis. Net ’n rukkie. Tot haar en Maria se dinge uitgesorteer is, jy verstaan. Sy hoort eintlik by die bure, maar dié gee gelukkig nie om as sy tydelik hier werk nie.”

Verstom luister Anja na sy verduideliking wat gladweg kom asof hy gewoond is om soos ’n tandetrekker te lieg. Die brein wat sy gedink het besig is om wolkerig te raak, is beslis nog helder en flink.

Kellerman junior se sjokoladebruin oë lig vlugtig na die oop stoepdeur. Haar rugsak hurk oop en bloot op die rusbank buite. Vasbeslote haal sy ’n kleinbordjie uit en smeer botter op die twee snye wat intussen uitgeskiet het. Sy kan netsowel vir die oom kos maak voor sy seun die polisie bel. ’n Aand in die selle sal ten minste gratis slaapplek voorsien.

“Ek begryp.” Die man sien dwarsdeur sy pa se liegstorie. Die skerp brein en goeie maniere het hy van die ouer man geërf, besluit sy, anders sou hy haar summier aan haar oor uitgesmyt het. Die kleur van sy oë en sy lengte moet van sy ma se gene kom.

Sy is op die punt om met die waarheid uit te kom toe haar oog die oom se vonkelende grysblou kykers vasvat. Hy skud sy kop skaars waarneembaar voor hy weer wyd vir sy seun glimlag.

“Wil jy ook koffie en roosterbrood hê, of is jou afspraak dringend, Basjan?” Hy steek sy hand uit en voel aan die koffiebekers, ’n deursigtige skimp dat hulle koffie koud word.

“Dis dringend genoeg, maar ek sien Pa weer later.” Hy kon netsowel reguit gesê het hierdie saak is nie afgehandel nie. Hy gaan ’n volle, geloofwaardige verduideliking vereis. As sy bly, sal sy die hele mandjie patats later voor daardie alsiende kykers moet uitpak.

Anja se mond is reeds oop om hom dadelik in te lig, toe hy vlugtig vir sy pa knik, dadelik wegdraai en die deur agter hom op knip trek.

“Oom . . .”

“Ernst Kellerman.” Hy steek sy hand na haar uit. “Aangename kennis, Anja Harzenberg.”

“Oom . . .”

“Terwyl ek en jy hier by die tafel sit en eet, kan jy my vertel wat die onnoselgeit is wat jou op straat laat beland het.”

Die broodjie smaak na manna en dis ’n verligting om tussen die happe deur te praat oor die gebeure. “Dit het gelyk na ’n geleentheid duisend: ’n baie be­talende aanstelling op ’n luukse jag en die geleentheid om terselfdertyd die wêreld te sien. En dit alles met slaapplek en etes teen bekostigbare pryse. Ek moes vooruitbetaal vir my registrasie as personeel­lid, vir uniforms en vir versekering, visums en aan­soek vir ’n paspoort wat die werwingsoffisier alles sou behartig.”

Al was haar finansies boomskraap, sou dit die moeite werd wees, het haar vriendin Wiena haar verseker. Sy het in die vyf jaar sedert haar opleiding begin het, nog nie ’n ordentlike vakansie gehad nie. Ná haar gemeenskapsdiens en die twee jaar waarin sy gespesialiseer het, sou ligte werk tydens ’n plesiervaart heerlik wees. Die werksondervinding op die jag sou ook ’n aanbeveling wees vir toekomstige poste.

“Die kamtige werwingsagent het miskien my voorliefdes op sosiale media bestudeer.”

Oom Ernst knik instemmend.

Om by die indiensnemingsorganisasie te registreer was besonder duur. “Maar hoe het die man ge­weet presies hoeveel ek kan bekostig . . .”

“Ek sien sommer jy besef die man het dalk ook jou bankrekening gehack en geweet hoeveel jy tot jou beskikking het,” raai hy. “Basjan het my juis nou die dag gewaarsku teen sulke skelmstreke. Was die man se prys laer of hoër as wat jy beskikbaar gehad het?”

“Registrasie om buite die landsgrense te verpleeg, het effens meer gekos as wat ek dadelik beskikbaar gehad het. Aangesien ek my skedonk vir ’n ruk nie sou gebruik nie, het ek hom verkoop en vir die res met my kredietkaart betaal,” erken sy die volle om­vang van haar selfgemaakte penarie. Die Schengen-visum moes al die lande in die Middellandse See dek, vandaar die prys, volgens die agent. Gevolglik het sy haar diep genoeg in die skuld gedompel om Viljee van Ficta Indiensnemings ’n stewige houvas op haar te gee.

Bewus van oom Ernst wat aandagtig luister, her­vat sy. “Ek het nie eens by die hospitaal gevra vir ’n getuigskrif of verwysing nie.” As haar ma en gesin moet weet presies hoe roekeloos sy ten spyte van hul waarskuwings was, kry hulle almal die stuipe.

“Nou moet ons besluit wat ons aan die saak gaan doen,” onderbreek oom Ernst haar selfverwyt.

“Ek sal dringend werk moet kry of my gesin moet vra om geld voor te skiet dat ek kan terugkom in die stad waar daar meer poste en geleenthede is.” Sy staar verlangend na die uitsig op die see wat mens selfs uit oom Ernst se kombuis kan sien.

“Of jy kan my hier in die huis uithelp en die bedrog by die plaaslike polisie gaan aangee,” stel hy voor asof dit ’n logiese stap is. “Dalk kan jy ’n paar sent terugkry wanneer die skarminkel gevang word.”

As hy ooit gevang word. “Oom, kubermisdadigers is onsigbaar. Hy bly vir seker nie hier in die dorp nie. Of in Suid-Afrika nie.” Maklik om nou die waarheid raak te sien. Sy voel lus om haar gesig op die tafel­blad te laat sak, haar arms oor haar kop te vou en te tjank. Enige polisieman lag hom ’n papie oor haar naïwiteit. “Selfs die foto’s van die skip en van die per­soneel se kajuite is heel moontlik van die internet af getrek.”

Sy was so dom en hardkoppig om vir ’n feëverhaal te val en het haar swaarverdiende geld goedsmoeds aan ’n swendelaar oorhandig.

“Maar jy het al sy korrespondensie en die foto’s en goeters gehou, nè?” vra oom Ernst bekommerd.

“Als is op die iPad in my rugsak.” Gelukkig het sy nog nie die ding verpand nie.

“Nou toe, die onmiddellike probleem van verblyf en etes is opgelos.” Hy drink sy beker leeg en sit dit in die leë kleinbordjie. “Jy is boonop ’n verpleegster en ek voel die afgelope tyd effens af. Ek sal jou gou gaan wys waar jy slaap, dan kan jy stort en al jou kreukels uitstryk voor ek jou polisiestasie toe vat.”

Anja pak die gebruikte breekgoed haastig in die skottelgoedwasser en ruim op voor sy haar rugsak gaan haal. “Kan my selfoon asseblief hier in die kom­buis herlaai terwyl ek stort?”

Oom Ernst knik. “Die laaier is redelik standaard.” Hy wink dat sy moet volg en loop gangaf, nie na die deur waar Sebastiaan ingekom het nie.

“Oom, die buitekamer sal beter wees, dink Oom nie so nie?” protesteer sy.

“Jy slaap g’n buite nie, finish en klaar!” kondig hy heftig aan. “Die enigste vertrek buite is eintlik soort van ’n pakkamer. Maria slaap nie in nie, sy gaan smiddae huis toe. Net haar overall en goedjies hang daar, gereed vir die aantrekslag. Jy gaan ook nie ’n overall of verpleeguniform nodig kry nie, hoor?”

Die stemtoon wat haar herinner aan haar oudskoolhoof, laat haar glimlag. Die kamer waarheen hy haar neem, is groot, het ’n uitsig op die see en is die naaste aan die kombuis. “Wat van daardie kleiner kamer agterlangs?”

“Nee, wat, dis my studeerkamer. My slaapkamer is net hier af in die gang.” Daar is nog drie deure, een links, twee regs waarvan die eerste duidelik die gastebadkamer is.

Anna Jacoba, oom Ernst se seun wat nie aard na die heilige Sint Sebastiaan na wie hy vernoem is nie, gaan ’n orkaan kraam as hy sien jou slaapplek is die gastesuite, badkamer en al, langs sy pa se kamer.

“Toe-toe, stort gou dat ons kan koers kry alvo­rens Basjan besluit om vroeg terug te kom vir my kruisverhoor.” Daarmee draai hy na die woonver­trek.

In die kamer prop sy heel eerste haar laaier in en koppel haar iPad. Sy gaan die info daarop nodig hê om die saak by die polisie aan te gee. Al twyfel sy of hulle enigiets sal kan uitrig of eens sal belangstel om ondersoek in te stel, sal sy probeer net om oom Ernst tevrede te stel.

Noudat sy alleen is, wonder sy of dieselfde met haar vriendin gebeur het. Omdat Wiena nie geld ge­had het vir ’n vliegkaartjie nie, het Viljee gereël dat sy as verpleegster op ’n passasiersboot werk tot in Italië waar hy vir haar ’n verpleegpos gekry het. Het haar vriendin aan boord gegaan en sit sy sonder werk of inkomste iewers in die vreemde? Is dit hoekom sy nog nie op haar boodskappe en navrae reageer het nie?

Sodra sy klaar gestort het, behoort haar selfoon­battery genoeg krag te hê. Sy sal dit saamneem om die WhatsApps op pad te lees. Wanneer hulle terug is, sal sy haar huismense laat weet sy is veilig. Sy gaan beslis nie soos ’n welkome besoeker haar be­sittings uitpak nie. Netnou smyt Sebastiaan Keller­man haar uit, dan moet sy weer inpak.

In die verbyhobbel badkamer toe sien sy haar weerkaatsing in die vollengtespieël en skrik haar mond droog.

Een kyk na haar gehawende self verklaar Bas­jan Kellerman se ongeloof en wantroue. Sy lyk soos ’n volbloedbosslaper. Klere verkreukel en besmeer. Stofstrepe oor haar wange waar sy sweet afgevee het. Skrape oor haar arms toe sy deur duinebos geklouter het. Die toppunt is ’n deurmekaar bos­kasie waarin ’n takkie verstrengel geraak het. Fyn blaartjies lê soos konfetti vasgevang in haar vers­laapte hare.

Dit maak die man se selfbeheersing onverklaar­baar. In sy skoene sou sy haar uit die huis gesmyt of die polisie gebel het. As die gereg wel hier opdaag, sal sy nie verbaas wees nie.

Terwyl sy die bos onder die stort van haar afskrop, kom die ergste skok en teleurstelling ook los en spoel saam met die skuim weg. Al wat oorbly, is die besef in hoeveel moeilikheid sy is. Wat haar probleem duideliker laat uitstaan en soort van ver­erger, is haar weldoener se lewensgroot seun wat weier om geïgnoreer te word. Omdat sy haarself so duidelik deur sy oë kon sien, voel hy op hierdie sta­dium letterlik en figuurlik na die grootste deel van die probleem. As hy vanoggend op die punt was om haar onsag die deur te wys, gaan sy bui deur die dag versleg terwyl hy hom indink hoe sy sy pa oorweldig en sy huis leegdra.

Sy droog hard af en trek vinnig aan. Om nakend geboei en in ’n vangwa gestop te word, gaan alles net vererger.

Toe die polisie ’n kwartier later nog nie opgedaag het nie, voel sy geruster. Salf gesmeer en netjies geklee in langbroek en sandale is sy ten minste gepantser terwyl sy voor die spieël staan om die klam haarslierte te tem. Gekam en gevleg lyk sy amper re­spektabel. Tyd vir droogblaas is daar nie, al sou die kapsel dan ’n beter indruk gemaak het.

Stuur maar die gereg, Basjan Kellerman. Ek’s nou gereed vir julle.