Uittreksel | Onvoorwaardelike liefde
Een
Danika kies ’n wit blom uit die gerf wat die begrafnisondernemer vir haar hou en sit dit op die kis. Sy sê niks. Sy het klaar gehuil.
Die Miranda-waarskuwing: Jy het die reg tot stilswye. Maar as jy verkies om iets te sê, kan dit moontlik in ’n hof teen jou gebruik word.
Nie so in haar lewe nie. Ongelooflik hoe beide stilswye en gesproke woorde teen haar gebruik word. Nie in ’n hof nie, maar oral en elke keer as hulle haar sien. Verdraaide woorde, betekenisse aan woorde wat nooit die bedoeling was nie, halwe waarhede. Ook aan haar stilswye is betekenisse geheg wat haar verstom het.
Sy was self skuldig: Deurentyd gewonder wat haar skoonmense se stilswye beteken. Nou staan hulle aan die ander kant van die graf en ontleed elke gebaar, elke uitdrukking.
As dit anders was, as hulle nie die hele verskriklike, traumatiese gebeurtenis bevlek het met hulle verwyte en beskuldigings nie, sou sy meer oor hom getreur het? Ja tog, oor ’n jong lewe wat in ’n oomblik ophou bestaan het. Dit het sy nie vir Xander gegun nie. Oor hulle huwelik treur sy al jare lank. Sy treur oor verwagtinge wat nooit tot wasdom gekom het nie. Oor ’n jeugliefde wat nie met tyd ryp en innig geword het nie. Oor ontnugtering wat al hoe meer tot onttrekking en onverskilligheid gelei het. Is droefheid ooit skoon? Is daar nie altyd selfverwyt nie?
Die kis sak. Die einde van ’n lewe, die einde van ’n huwelik. Die predikant lees die geloofsbelydenis. Die kis ruk een keer. Twee blomme skuif na die kant toe en val voortydig in die graf. Voortydig, soos Xander se lewe tot ’n einde gekom het.
“Mamma,” fluister Selmie en pluk aan haar hand, “die blomme val af.”
Sy kyk af na Selmie, glimlag effens. “Dis oukei, liefding,” fluister sy terug. Sy kyk op. Effens eenkant, agterlangs, staan ’n man. Dis maklik om hom te sien want hy is langer as enigiemand anders teenwoordig. Sy onderskep sy blik. Skok ruk deur haar lyf. Sy het nog nooit sulke koue oë gesien nie. Bewolk-blou-grys soos die lug bo hulle. Beskuldigend en minagtend terselfdertyd.
Stef sit sy arm om haar skouers en gee haar ’n drukkie. Sy moes onbewustelik nader aan hom beweeg het vir beskerming. Sy mis haar ma; dit sou beter gewees het as haar ouers hier kon wees, maar hoe kon sy van hulle verwag om hulle Europese vakansie te onderbreek? Almal wat sy nodig het, is weg. Sandra ook.
Stop jou selfbejammering, Danika. Jy is ’n volwasse vrou. Jy kan dit hanteer. En jy het vir Stef wat jou ondersteun so goed as wat hy kan.
Sy kan nie wag dat die seremonie verby moet kom nie. Daarna vir ’n uur of twee in die kerksaal geselsies maak. Gasvrou speel. Baie dankie dat julle gekom het, ons waardeer dit. Glimlag totdat haar gesigspiere verstyf in ’n grimas. Onvermydelik sal ’n paar mense vra wat sy nou gaan doen. Haar antwoord is gereed: Eers rustig word. Nie halsoorkop groot besluite neem nie. Nie dat sy werklik so voel nie. Wat sy regtig wil doen, is om weg te raak tot aan die einde van die aarde.
Hemel, maar sy het verander. Wanneer het sy so sinies geword? Stef onderbreek haar gedagtes. “Sal ons ry, Dani? Dit sal beter wees as ons van die eerstes in die saal is.”
Sy knik. “Kom Selmie-lief, ons gaan ry.” Hulle stap na die motors toe. Hier en daar keer iemand haar voor wat nie saal toe kan gaan nie maar net wil groet.
By die saal is reeds ’n paar mense vergader. Sy doen haar rondtes, help dat van die ouer mense iets te ete en drinke kry, sorg dat sy met elkeen ’n woordjie wissel, maak asof sy nie die spekulasie in die oë sien nie. Probeer veral haar skoonmense vermy. Dankbaar om ’n paar minute weg te kom toe Selmie badkamer toe wil gaan.
Sy draai in die badkamer. Laat die koel water oor haar hande loop. “Mamma, maak nou klaar, my maatjies wag vir my.”
“Ek kom, Selmie.” Sy droog haar hande af en hulle stap uit. Selmie hardloop na haar maatjies toe.
Om ’n hoek op pad na ’n sydeur van die saal steek sy vas. Drie mans staan in ’n effense sirkel met hul rûe na haar, een van hulle die lang man wat so koud na haar gekyk het.
“Sy is ’n mooi ou dingetjie,” sê een van hulle. “Wonder wat nou van haar gaan word.”
“Ek het vrede met wat van haar gaan word,” sê die lang man. “Die deler is net so goed soos die steler. Dis onmoontlik om met iemand getroud te wees en nie agter te kom dat hy oor fondse beskik wat hy nie kon verdien het nie.”
Die derde man kyk verbaas op. “Snaaks om jou so hard te hoor oordeel, Dewald. Jy is nie . . .” Hy verskuif effens en bly met ’n skuldige trek op sy gesig stil toe hy haar gewaar.
Die ander twee kyk om. Danika het genoeg gehoor. Sy trek haar skouers agteroor en stap by hulle verby sonder om enigsins in hulle rigting te kyk.
In die saal stap sy direk na die teetafel, skink ’n koppie tee. Die koppie rinkel in die piering. Iemand is langs haar. “’n Skuldige gewete wat maak dat jy so bewe?” vra Bettina.
Sy sit die koppie op die tafel neer. “Waaroor sal ek ’n skuldige gewete hê, Bettina?”
“Laat ons nie doekies omdraai nie, Danika. Jy het indirek my broer se dood met al jou eise veroorsaak. My arme ouers is so verskeur dat hulle seker ook ’n te vroeë graf tegemoet gaan.” ’n Snik ruk deur haar. Sy draai om en loop.
Danika verstar. Haar skoonmense was lief vir Xander. Dis vir hulle ’n droewige dag en sy het dit ná al die verwyte uit die oog verloor. Sy kan nie aanhou om hulle te vermy nie.
Sy soek met haar oë tussen die baie mense. Bettina is op pad na hulle toe. Sy volg haar.
Haar skoonma se suster en swaer staan by die groepie. Almal bly stil toe sy by hulle aansluit. Martin kom impulsief nader om haar te groet, maar steek weer ongemaklik in sy spore vas. Sy tree vorentoe. “Hallo, Martin,” sê sy sag en omhels hom. “Ek is so jammer oor jou ouboet. Ek weet jy was baie lief vir hom.”
“Dankie,” sê hy binnensmonds en maak hom los uit haar omhelsing. Danika sien sy ongemak. Die arme kind is in twee geskeur. Hoe moet ’n vyftienjarige tiener kies tussen sy skoonsus van wie hy hou, en sy ouers en ouer suster wat hom vertel dat die einste skoonsus ’n groot aandeel aan sy ouer broer se dood gehad het.
Sy groet Bettina se man met ’n drukkie, onseker of hy dit sal beantwoord. “Hallo, Gerhard.” Dankbaar dat sy houding teenoor haar nie verander het nie. Hy groet en sit sy hande op haar skouers. “Baie sterkte vir vandag en die maande wat voorlê, Skoonsus.”
Sy draai na haar skoonouers. “Ma, Pa, ek wil net weer sê ek is bitter jammer oor julle verlies. Vandag moet ’n vreeslike . . .”
“Wat het jy vir my kind gesê?” val Elize haar aggressief in die rede.
Haar maag trek saam. Sy frons oorbluf. “Vir wie? Vir Martin?”
“Vir Bettina, wat met trane hier aankom nadat sy met jóú gepraat het.”
Die suster en swaer maak ongemaklik verskoning en verlaat die groepie.
Sy antwoord nie dadelik nie, wag vir Bettina om die saak reg te stel. Bettina sê niks, kyk net uitdrukkingloos na haar. Gerhard skud sy kop met ’n moedelose uitdrukking op sy gesig.
“Dis ’n moeilike dag vir ons almal, Ma,” sê sy uiteindelik.
“Ja, en dit word nog moeiliker gemaak met jou teenwoordigheid. Dink jy ons kon nie sien dat daar nie enige liefde van jou kant af was nie? Jy wou nie eers meer na ons toe kom nie.”
Die waarheid, maar nie die volle waarheid nie. Daar is ’n lang, gespanne stilte. “Dan groet ek maar,” sê Danika en draai om. Sy vlug na buite, stap om die saal na die area waar daar baie minder motors is. Sy leun teen die muur en maak haar oë toe. Sy knyp hulle al stywer toe om die trane terug te hou, maar dit help nie. ’n Diep asemteug verander in ’n snik. Wat ’n gemors is haar lewe nie. Hoe gaan sy ooit daaruit kom?
’n Voetval dring tot haar deur. Sy maak haar oë oop. ’n Paar meter van haar af staan die lang man. Vir etlike oomblikke hou sy blougrys blik hare. Hy maak ’n beweging asof hy na haar toe wil kom. Sy druk haarself van die muur af weg en kom regop. Sy vee met haar hande oor haar oë.
“Dani!” hoor sy Stef roep.
Oneindig dankbaar stap sy vinnig na hom toe.