Uittreksel | Onvoorspelbare liefde

Een
“Simpele, verwaande idioot,” skel Karla so ver as wat sy loop. Dit is presies hoe alle mans is. Nugter alleen weet wie haar gaan hoor kla en kerm oor die manlike spesie. Die dwergies in die bure se tuin dalk? Wie weet. Moontlik kan hulle vir haar raad gee oor hoe om deur die skynbeeld wat mans voorgee om te wees, te kan sien.
Voor die woonsteldeur grou sy in haar handsak vir haar sleutel. Selfoon, sneesdoekies, kougom, penne en haar notaboek, beursie, haarborsel en selfs ’n pakkie suiker, maar daar is geen teken van haar sleutel nie.
“Nou waar kan die bleddie ding dan wees,” brom sy en oorweeg dit om die handsak se inhoud op die grasperk uit te gooi. Sy is reeds hoogs de duiwel in en nou moet sy nog die sleutel ook staan en soek. “Argg!” Sy draai om en kyk na die verligte huis ’n ent verder. Regardt is dus by die huis. Sy is nie baie lus om na hom toe te gaan nie, bang sy onderbreek sy aand saam met watter vrou hy die week uitgekies het.
“’n Man wat lyk soos Regardt Odendaal sal altyd een of ander vrou aan sy sy hê, Karla,” brom sy en loop met lang, besliste treë na die groot huis toe. Hy is die spreekwoordelike meneer – tall, dark and handsome met byna swartbruin oë wat gou is om haar uit te lag, en ’n dodelike glimlag wat vrouens se knieë lam kan maak. ’n Regte womanizer. Regardt is seker nie regtig so erg nie, maar op hierdie oomblik is sy vies vir alle mans. En synde ’n buitengewoon aantreklike man vorm hy beslis deel van haar woede.
Sy klop lank en hard aan die agterdeur, net om seker te maak hy kan haar hoor. Enkele oomblikke later gaan die deur oop en kyk sy vas in Regardt se fronsende gelaat.
“Dit was gou . . .”
“Hoekom loop jy stoksielalleen in die donker rond? Enigiemand kan jou om die hoek inwag,” baklei hy.
Sy klik haar tong. Sy is nie nou in die bui om soos ’n stout kind berispe te word nie.
“Die bure se spreiligte is so helder dat daar geen plek is waar enige skelm sal kan wegkruip sonder om gesien te word nie. Die enigste figure wat ek opgemerk het, was die dwergies met hul helderrooi hoedjies en groot oë wat voel asof hulle jou dophou. Kan ek asseblief my woonstel se spaarsleutel kry?”
Hy skud sy kop. “As jy so sê. Kom in, ek gaan kry dit.”
“Is jy nie bang ek loop in een van jou floozies vas nie?”
Met opgetrekte wenkbroue kyk hy na haar. “Jy is omtrent in ’n slegte bui. Wie het jou so kwaad gemaak?”
“Mans,” antwoord sy bot en hou haar hand vir die sleutel.
“Ek sal saam met jou terugloop na jou woonstel. Helder spreiligte of nie, jy loop nie alleen in die donker rond nie.”
“Ek het nie ’n oppasser nodig nie. Ek kan myself by my woonstel kry.”
Hy ignoreer haar en loop voor haar by die deur uit. “As jy nie vanaand in jou motor wil slaap nie, moet jy maar vir lief neem daarmee dat ek saam met jou loop. Die keuse is joune.”
Sy sug en volg hom by die huis uit. Haar woede en vernedering is nog daar, maar die adrenalien wat daarmee gepaardgaan, het begin verdamp. Sy kyk af na haar voete met die hoë hakke en gaan staan. Sy het dit lank genoeg aangehad. En om te dink sy het haarself so gestraf en dit om ’n man te beïndruk. Sy snork. Dit was nou ’n mors van haar kosbare tyd.
“En nou?”
“My voete is seer,” antwoord sy en trek die een uit terwyl sy sukkel om haar balans te hou.
Hy kom nader en hou sy arm na haar toe uit. “Druk op my arm voordat jy ’n been breek.”
“Dankie.”
“Skokpienk vingernaels. Ek weet nie hoekom ek nog enigsins verras is oor jou helder vingernaels nie. As dit nie blou is nie, is dit oranje,” merk hy op.
“My naels was nog nooit oranje nie. Ek hou nie eens van oranje nie.”
“Ek vra plegtig om verskoning,” lag hy en koes effens toe sy haar hand met die skoen lig. “Oppas waar jy daardie goedjies swaai. Jy sal ’n man lelik skade kan aandoen met daardie spykerpunte. Hoe julle vroumense dit regkry om op daardie goedjies te loop sonder om ’n enkel te breek, bly ’n wonderwerk.”
“Jou floozies dra gereelder hakskoene as wat ek dit doen. Preek jy so vir hulle ook?”
Hy druk die sleutel in die slot en kyk oor sy skouer na haar. “Ek weet nie wat jou laat dink daar is so baie vrouens in my lewe nie.”
Sy snork onvroulik. “Ek bly in jou agterplaas, Regardt. Een het my al selfs kom vra of ek jou suster is. Sy was baie verlig om te hoor jy’s my ouboet wat my moet beskerm teen die bose, wrede wêreld daarbuite.”
Hy lag en stoot die deur oop. “Soms is jy wel so irriterend soos ’n jonger sussie.”
Sy trek vir hom skewebek en volg hom die woonstel in. Sy sit haar handsak op die koffietafel neer en skel haarself woordeloos uit toe sy die bos sleutels daar sien lê. Dis omdat haar kop vol muisneste was.
“Daar is geen skelm wat onder jou bed wegkruip nie, maar dit lyk egter of jou kamer deur ’n tornado getref is.”
Karla voel hoe haar wange warm word. Dit sal haar leer om eers agter haarself skoon te maak voordat sy uitgaan.
“Jy was nie veronderstel om dit te sien nie. Ek was laat en haastig en dis juis dan dat jy niks kry wat gemaklik sit nie. My tornado was die gevolg van my besluiteloosheid. Ek sou dit kom optel sodra ek terug is by die huis,” sê sy verleë, nie seker hoekom sy verplig voel om hom ’n verduideliking te gee nie.
Hy lag. “Het jy vergeet ek het drie susters? Dit was altyd ’n drama as dit gekom het by die perfekte uitrusting vir ’n date.”
“Die regte uitrusting is baie belangrik vir ons vrouens, al sien julle mans dit skaars raak.”
“Glo my, ons sien dit wel raak . . . Maar waardeer ons dit altyd? Nee. Hoe sou jy die tornado aan jou vriend verduidelik het?”
“Ons verhouding is nie van so ’n aard dat hy na my slaapkamer genooi sou word nie,” antwoord sy en hoop maar nie sy bloos nie. ’n Man soos Regardt wat baie vrouens op sy kerfstok het, sal nie verstaan dat sy nie so ’n moderne vrou is wat al met die tweede date haar liggaam aan ’n man kan gee nie. Dalk is dit ook een van die redes hoekom sy nooit lank ’n man in haar lewe het nie. Buiten nou haar kleurvolle naels.
“Dis ’n wyse besluit.”
Met opgetrekte wenkbroue kyk sy na hom. “Is jy besig om my heimlik uit te lag?”
“Glad nie. Nie alle mense kan hulle seksueel geniet sonder om emosioneel betrokke te raak nie, en jy is een van hulle wat nie kan nie. Eintlik is dit glad nie ’n slegte ding nie.”
“Nie alle mans sal met jou saamstem nie,” sê sy droog en skakel die ketel aan.
“Daar is meer van ons as wat jy mag dink. Nietemin. Jy het vanaand vroeg teruggekom,” merk hy op en leun met sy skouer teen die deurkosyn.
“Ja, wel. Die aand het anders verloop as wat ek gedink het,” sug sy en kry twee koffiebekers uit die kas. “Hierdie was seker die kortste verhouding wat ek nog ooit gehad het. ’n Volle drie weke en my status is terug na enkellopend toe.”
“Ek is jammer, Karla.”
Sy trek haar skouers op. “Jy is duidelik nie die enigste man wat opinies het oor my kleurvolle naels nie.”
“Ek het niks teen jou naels nie. Ek hou net daarvan om jou te treiter,” korrigeer hy haar.
“Jy sê dit net omdat jy bang is ek maak nie vir jou koffie nie.”
Hy lag. “Dis hoegenaamd nie so nie. Die pienk wat jy byvoorbeeld nou aanhet, is tot dusver my gunsteling.”
Sy skud haar kop laggend en gee vir hom sy koffie aan. “Ou vleier.”
Karla kyk vlugtig op toe Regardt aan die deur klop en ongenooid binnekom, voordat sy voortgaan om die kolwyntjies te versier.
“Ek is besig, Regardt.”
“Ek sien so. Daar is iets wat ek met jou wil bespreek.”
“Kan dit nie wag nie?” vra sy en druk nog versiersuiker in die buis in. “Ek moet hierdie bestelling voor vieruur vanmiddag klaar, verpak en afgelewer hê.”
“Dit kan seker wag,” antwoord hy, skakel die ketel aan en haal bekers uit die kas uit.
“Maak jouself tuis,” brom sy.
Hy grinnik. “Dankie.”
Sy rol haar oë en gaan voort met haar werk. “Werk jy nie vandag nie?” vra sy koponderstebo.
“Nie vanmiddag nie,” antwoord hy en sit die beker koffie langs haar neer. “Min melk, twee suikers en sterk genoeg. Nes jy daarvan hou.”
“Dankie.” Sy vat dorstig ’n sluk. “Perfek.”
“Waarvoor is al die kolwyntjies?”
“Vir ’n ooievaarstee. Aangesien jy duidelik van plan is om my te pla kan jy my help om die koekies te versier.” Sy sug en trek die skinkbord met die versiersuikerkousies nader. “Elkeen moet ’n paar kousies opkry. Moet dit asseblief nie breek nie, want ek het nie tyd om van voor af al die fyn goedjies te maak nie.”
“Ja, baas.”
Sy klik haar tong. “Baie snaaks. Wees versigtig,” maan sy toe hy die eerste een optel.
“Ontspan, Karla. Ek weet hoe om met klein, fyn goedjies te werk. Tevrede?” vra hy en hou die eerste een na haar uit vir inspeksie.
“Glad nie sleg nie. Oppas, ek stel jou dalk aan as my assistent,” skerts sy.
“Dankie, maar ongelukkig het ek reeds my hande vol met my vliegtuie. Om terug te kom na die sakie wat ek met jou wil bespreek . . . Ek dink dit het tyd geword vir jou om te trou.”
Geskok kyk sy op na hom en druk byna die hele buis versiersuiker op ’n kolwyntjie uit. “Ekskuus?! Het jy gesê ek moet trou? Hoekom? Wil jy die woonstel aan iemand anders uitverhuur? Of gaan jy trou?” rammel sy die vrae af. Waar gaan sy op kort kennisgewing ’n ander blyplek kry? Dis hoe sy in die eerste plek in sy agterplaas opgeëindig het.
Hy glimlag gerusstellend. “Nee, nie een van die twee nie. Met my oupa se siekte het dit my die laaste tyd maar net baie laat dink. Die dokters het hom op die langste ses maande gegee, Karla. Net ses maande. Weet jy hoe min tyd is dit om nog saam met hom te spandeer?” vra hy en die rou emosie in sy stem laat die trane agter haar ooglede opwel. Sy is self gaande oor Heinrich en die nuus ruk aan haar hart.
Karla vou haar hand oor syne en sluk droog. “Ek is jammer, Regardt. Ek weet hoe belangrik hy vir jou is.”
Hy glimlag effens. “Hy is met tye ’n regte ou korrelkop, maar hy is steeds my beste vriend en vertroueling. Ek dink dis omdat ek sy liefde vir vlieg en vliegtuie deel wat ek nog altyd nader aan hom was as aan my pa.”
“Julle het ’n baie spesiale band en niks sal dit ooit kan verander nie.”
“Seker nie. My oupa se grootste wens is om te sien dat ek iemand spesiaal in my lewe het voordat hy sterf. Iemand wat my sal bystaan deur dik en dun, nes my ouma nog altyd met hom gedoen het.”
“Dit sal dus nie een van jou vroulike besoekers kan wees nie, want hulle soek net jou lyf en jou vet beursie,” skerts Karla en hy gee haar ’n vuil kyk. “Dis die waarheid, Regardt, en jy weet dit.”
“Net omdat ek af en toe vrouens huis toe bring, beteken dit nog lank nie hulle hou my bed warm nie, hoor. Glo dit of nie, maar ek soek ook meer as net lyflike plesier.”
Karla voel hoe haar wange rooi word. “Moet jy altyd so reguit wees?”
“Ek draai nie doekies om nie, ek sê ’n ding soos wat dit is.”
“Duidelik,” brom sy. “Oukei, so jy is dus op soek na die regte vrou om mee te trou?”
“Jy kan so sê, maar eintlik het ek meer ’n skynverlowing in gedagte.”
“Oukei. Dis anders, maar kan seker werk. So, wat gaan jy dan doen? Moet ek jou help soek op dating sites of op die hoekie vir eensames vra vir ’n vrou wat aan al jou vereistes sal voldoen?”
Hy lag. “Dankie, maar ek is nog nie so desperaat nie. Daar is egter ’n baie eenvoudige oplossing vir my probleem. Iets waarmee jy my sal kan help.”
Vraend kyk sy na hom. “Regardt, al my vriendinne is reeds getroud.”
“Maar nie jy nie.”
“Ek . . .” Sy kyk vinnig op na hom. Toe sy woorde insink, sit sy die buis met die versiersuiker neer. “Wag ’n bietjie, verstaan ek jou nou reg? Jy wil hê ék moet voorgee om met jou te trou?”
“Ja.”
“Dis malligheid, Regardt. Jy het heel duidelik vandag te veel petrolwalms ingeasem.”
Gemaklik sit hy agteroor in sy stoel, heel duidelik nie so geskok soos sy nie. Hoe kan hy so kalmpies so ’n voorstel maak?
“Ek stem nie met jou saam nie. Ek glo weer dis die perfekte oplossing.”
“Om te wil trou is nie iets om oor te spot nie.”
“Jy is reg, maar ek vra jou bloot om voor te gee jy’s my verloofde.”
“’n Skynverlowing maak steeds ’n bespotting van die huwelik en liefde.”
“Sekerlik, ja,” gee hy toe, “maar is jy nie die een wat op die oomblik nie juis veel dink van mans en die liefde nie?”
“Dit beteken steeds nie dat ek die noodlot wil tart nie.”
“Dis net tydelik, Karla. Jy sal wel my ring moet dra om ons verlowing meer eg te laat lyk, maar dis al. Oupa wil my saam met iemand sien wat my sal ondersteun en jy is die perfekte persoon. Buitendien, hy is ooglopend mal oor jou.”
Karla skud haar kop. “Regardt, ek dink nie dis ’n goeie idee nie. Ons gaan jou arme oupa bedrieg en ek weet nie of ek dit sal kan doen nie. Ek is nie ’n goeie leuenaar nie.”
“Ek weet ek vra baie van jou, Karla, maar dis net tydelik. Op die langste ses maande. Dis die een ding wat ek vir my oupa kan doen. Ja, ons gaan lieg, en dit pla my ook, maar dis sy laaste wens, Karla. Hy het al so baie vir my gedoen, en hierdie is die minste wat ek vir hóm kan doen. Glo my, dit is nie ’n besluit wat ek ligtelik gemaak het nie.”
Sy vryf met albei hande oor haar gesig. “Ek kan nie nou hieraan dink nie, Regardt. Ek moet die bestelling gaan aflewer.”
“Ek besef ek het jou onkant betrap met my versoek, maar dink asseblief ten minste net daaroor na? Jy wil tog seker nie hê dat ek my oupa aan een van my floozies moet blootstel nie,” voeg hy skertsend by.
Karla lag, wetende dat Regardt probeer om die stram atmosfeer wat skielik ontstaan het, te breek. “Nou pers jy my af. Daai kousie op daardie koekie is skeef.”
“Skuus, baas. Beter?”
“Stukke beter. En dan is ons klaar. Dankie vir jou hulp. Jy is nogal ’n baie goeie assistent; sodra die vliegtuie jou begin verveel, kan jy gerus hier kom inloer.”
Hy glimlag en vee sy hande af. “Dit was nogal ontspannend. Kom ek help jou gou om dit te verpak.”
“Dankie.” Karla hou hom onderlangs dop terwyl hy die kolwyntjies versigtig in die bokse pak. Dit sal glad nie ’n onaangename ervaring wees om aan die aantreklike man verloof te wees nie. Sy kan seker daartoe instem, dis tog nie asof iets sal verander nie. Buiten dat sy ’n ring aan haar ringvinger sal dra. Binne ’n paar maande gee sy net die ring terug en gaan hulle aan soos nou. Sy frons effens toe dié gedagte haar skielik bedruk. Waar kom dit hoegenaamd vandaan? Sy skud haar kop. Sy het nie nou tyd vir sulke belaglike gedagtes nie.
“En as jy nou so frons? Het ek iets verkeerd gepak?” vra hy en kyk na die oop bokse voor hom.
“Nee,” antwoord sy laggend. “Jy’t my baie gegee om oor na te dink, dis al. Maar nou moet ek eers ry. Het jy planne vir vanaand?”
“Net met ’n ton papierwerk. Wag, ek help jou dra. Hoekom vra jy?”
Sy trek haar skouers op. “Ek het gedink ek sal sommer ’n garagepastei kry vir aandete. Ek het nog te veel om te doen en dan nog kos ook te maak. Kan ek jou nooi vir ’n pasteiaandete van die garage af, Regardt?”
Hy glimlag. “Dit sal baie lekker wees, dankie. Sien jou dan seweuur.”