Uittreksel | Onvergeetlike liefde
Een
Mariette Boshoff soen Hannes Greyling met dieselfde vurigheid terug. Haar ore begin suis en haar lyf word heerlik warm toe ’n vreemde, onbekende hunkering in haar ontwaak. Hannes het haar nog nooit só gesoen nie en sy is nie regtig voorbereid daarop nie. Maar haar lyf is vinnig besig om by te kom. Daar is ’n ewe vreemde polsing in haar onderlyf. Hy moet haar reaksie aanvoel, want sy soen word driftig. Sy weet sy moet hom wegstoot, maar aan die ander kant wil sy ook nie. ’n Alarm in haar kop dreig om af te gaan toe hy haar wit skoolhemp onder haar skoolromp se gordel uittrek, maar sy ignoreer dit.
Hy druk sy hand onder die hemp se soom in en vind een van haar sagte rondings. Haar lyf ruk en haar jong en onskuldige bors reageer dadelik op die liefkosing. Sy is dadelik bewus van die nuwe sensasies wat deur haar lyf vloei. Sy laat die intense liefkosing vir ’n paar oomblikke toe en ignoreer doelbewus die waarskuwingsklokkies wat nou ’n brandalarm geword het en al hoe harder loei. Daar het selfs ’n rooi flikkerende lig in haar kop bygekom.
Hannes lig sy kop en begin met lomp vingers haar skoolhemp se knope losmaak. Dis juis dié aksie wat haar terugruk tot die werklikheid. Haar oë gaan oop en soek syne, maar dié is vasgenael op sy selfopgelegde taak. Dis die eerste keer dat Hannes só amoreus raak en sy is nie seker hoe om verder daarop te reageer nie. Hy trek die hemp se pante weg en terwyl sy hand haar bors deur die onooglike vleeskleurige sportbra liefkoos, soek sy mond weer na hare.
Skielik voel dit nie reg nie. Sy is nie meer gemaklik met die situasie nie. “Nee, moenie,” kreun sy teen sy mond.
Hy neem sy hand weg, maar hou nie op om haar te liefkoos nie. Hy verskuif sy mond na haar nek en sy ken krap haar vel. Haar oë rek groter. Wanneer het Hannes se baard soos ’n man s’n geword? Van wanneer af soen hy soos ’n viriele jongman en wat het van die matriekseun se effens lomp soene geword, warrel die vrae tegelykertyd deur haar kop. Sy voel skielik glad nie meer veilig in die situasie nie en druk hom met mening weg. Sy sit regop en gooi haar bene van die bed af. Die leë chipspakkie val op die vloer en sy buk om dit eers op te tel.
“Wat’s fout, hou jy nie daarvan nie?”
Sy trek haar hemp reg en maak haar knope vas.
“Ek wil nie môre by die skool kom met ’n baard rash in my nek nie. Ek wil ook nie dink wat my ma daarvan sal sê nie.”
Sy maak die hopie boeke op die bed bymekaar en skud die chipskrummels van die duvet af, maar Hannes is skynbaar nie haastig om sy bas van haar bed af te kry nie. “Kom, ek dink dis beter as ons in die eetkamer gaan swot. My ma gaan in elk geval enige oomblik tuis wees. Bring sommer ons glase en die bottel Coke saam.”
Sy wag nie vir hom nie, maar loop eetkamer toe. Haar hart klop egter vinnig en onseker. Sy is nie seker wat pas gebeur het nie, maar sy weet net dat dit maklik hande kon uitruk.
Hannes sit sy skoolsak op ’n eetkamerstoel neer en staan voor haar. Daar is ’n vreemde lig in sy oë.
“Mariette, ek’s nie lus om verder te swot nie. Ek het klaar my wiskundevoorbereiding gedoen.”
“Hoekom het jy dan voorgestel ons werk saam deur ons notas?”
“Want ... dit was ’n verskoning. Ek wou eintlik net tyd saam met jou deurbring.”
Die uitdrukking in sy oë is vreemd en intens en versteur haar ewewig, en weer weet sy nie hoe om daarop te reageer nie. “Dis oukei, ek kla nie oor tyd saam nie. Ons is mos saam.”
“Dis juis waaroor ek vanmiddag met jou wou praat. Ons is al drie jaar saam, en dink jy nie dis tyd dat ons ... e ... tot die volgende stap oorgaan nie?”
Haar hart klop meteens weer vinnig en onreëlmatig. Haar mond voel ook droog. Sy is nie so onskuldig dat sy nie weet wat hy bedoel nie, maar sy gaan nogtans vra: “En wat is die volgende stap, Hannes?”
Dit lyk tog of haar direkte vraag hom effens onkant betrap. “Wel, jy weet wat ek bedoel. Soos jy self sê, ons is tog saam – al drie en ’n half jaar, om spesifiek te wees. Ek is lief vir jou en jy vir my.”
Sy frons en is nie seker of sy van die rigting hou waarin die gesprek beweeg nie. Hy moet haar frons sien, want hy sê: “Ons is nie meer kinders nie, Mariette. Ons skryf môre ons laaste vraestel en dan is dit universiteit toe met ons. Dis net natuurlik dat ons dinge verder neem.”
Vandag het sy duidelik nie woorde om hom op enige iets te antwoord nie, lyk dit vir haar. Skielik voel dit of sy die seun ... jongman ... ou ... of wat de flip sy hom nou moet noem, glad nie herken nie. Is dit moontlik dat sy haar beste vriend oornag verloor het? Of het sy onverwags in ’n tydvorteks verlore geraak en is hulle aan die ander kant as volwassenes uitgespoeg? Vervlaks, wat het vanmiddag gebeur?
“My ouers is nie vanaand by die huis nie. Kom oor na my plek. Ons sal heeltemal alleen wees,” hou hy aan torring.
Sy hoor baie goed waarvan sy skielik nie hou nie. Dit klink kompleet asof hy iets agteraf sonder sy ouers se medewete, wil doen. Wat eintlik die waarheid is. Sy onthou skielik wat haar ouma altyd gesê het: Goed wat in die donker gebeur, is gewoonlik duiwelsgoed. Of so iets. Sy voel instinktief aan dat Hannes se sogenaamde planne alleen by die huis, een van daardie donker goed is wat sy liefs moet vermy. Aan die ander kant ... hoe kan sy vergeet hoe haar lyf op sy liefkosing gereageer het? Die gedagtes wat hy in haar kop gesit het ... hoe kan sy dit vergeet?
Hannes raak duidelik ’n bietjie onseker. “Jy het my mos lief, het jy nie? Ons gaan tog eendag ... trou.”
Trou? Dit voel asof hy die glas Coke op die bedieningsblad in haar gesig geskiet het, só fel is die skok. Dis die een woord wat nog nooit eens by haar opgekom het nie, en skielik klink dit net so onwerklik soos ’n ... ’n rooi kring op haar skoolrapport. Nee, dit klink na iets ondenkbaar en ... verskriklik.
“Praat met my, Mariette. Hoekom kyk jy na my met sulke groot, verskrikte oë? Wat is fout daarmee as ons mekaar nou al voluit liefhet? Baie matrikulante doen dit reeds. En ... as ons na twee verskillende universiteite toe gaan, gaan dit nog moeiliker wees om bymekaar te wees.”
“Want ...” Sy draai haar kop en luister. “My ma het nou net buite gestop. Jy moet gaan. Ons ... kan later verder hieroor praat.”
“Sien ek jou vanaand?”
“Ek weet nie. Ek ... sal by my ma hoor. Soos jy self weet, skryf ons môre wiskunde.”
“Oukei, laat weet my net.”
Hannes weet waar die voordeur is. Soos hy self gesê het, haar huis is al meer as drie jaar lank sy kuierplek. Sy hoor hoe hy haar ma groet, ’n paar woordjies wissel en die voordeur wat toegaan.
“Hallo skat, is jou sussies hier?”
“Middag, Mams. Nee, maar hulle sal seker nou-nou hier wees. Christelle het gesê sy en Chantelle gaan langsaan swem.”
“En jy? Is jy reg vir jou wiskundevraestel môre?”
“Ek skat so. Ek het vir oulaas deur my aantekeninge gewerk.”
“Dis goed so. Hierdie eksamen is baie belangrik.”
“As Mams my soek, ek’s in my kamer.”
“Reg so, skat. Ek roep as aandete gereed is.”
Sy is verlig dat haar ma niks van haar onstuimige gemoed agterkom nie. Sy weet in elk geval nie hoe sy dit sal kan verduidelik nie. In haar kamer staan sy voor haar spieëltafel.
Die meisie in haar skooluniform is ietwat van ’n treurige prentjie. Haar donkerrooi hare is in ’n ponie gebind en beklemtoon haar ronde gesig. Haar oë is eintlik ’n mooi groen, maar agter die ronde lense van haar bril weet min mense dit. En dan is daar haar lelike vel. Sy sukkel meer as ander meisies van haar ouderdom, maar haar ma sê dis normaal. Dis net hormone en dit sal oorwaai. Sy moet beslis minder gemorskos eet, en as sy ’n bietjie gewig verloor, sal dit ook help. Maar wanneer gaan alles beter raak? Ongelukkig kan niemand haar sê nie.
Sy tel ’n fotoraam op, die een wat voor die foto van haar en haar jonger tweelingsussies, Christelle en Chantelle, staan. Hierdie foto van haar en Hannes is geneem op haar sewentiende verjaardag. Sy glimlag sinies. Skielik is dit voor die hand liggend hoekom hulle ’n paartjie is. Albei dra brille en albei het velprobleme. Haar draadjies is gelukkig af, maar hy het nog syne. Dis geen wonder hulle word by die skool as weird beskou nie. Freaks. Net omdat hulle bogemiddelde akademiese presteerders is, word hulle ook as nerds geklassifiseer. Oorgewig en lelike nerds. Hulle is ... soos die Engelse sê: Two very sad peas in a pod – die een soos die ander.
Is dit nie maar die eintlike rede hoekom hulle saam is nie – omdat beide van hulle social outcasts is? Skielik twyfel sy aan alles. Het hulle nie maar net outomaties nader aan mekaar beweeg en uiteindelik begin dink hulle is verlief nie? Hulle het pas agtien geword, hoe kan Hannes dink dat hulle vir altyd bymekaar gaan wees?
Sweet slaan op haar voorkop uit, en dit het niks met oorgewig te make nie. Dis vrees en onsekerheid. Oukei, hulle het seker baie gemeen, maar wil sy regtig op agtien haar jong lewe as ’n so te sê getroude vrou afskop – gemerk en afgekeer van die res van die dating pool? Wil sy regtig net syne wees sonder om ooit weer na al die ander moontlikhede te kyk? Wil sy al op agtien haar identiteit verloor deur as iemand anders se eiendom beskou te word?
Sy draai van die spieël af weg en skuif haar bril behoorlik terug op haar neus. Sy mag miskien nie die mooiste of die maerste meisie op die planeet wees nie, maar dom was sy nog nooit. Die prentjie wat Hannes van hulle lewe saam het, verskil hemelsbreed van wat sy op daardie oomblik vir haarself wil hê. Sy wil eers lewe voordat sy ’n toekoms met iemand deel. Wat sy moet doen, is skielik glashelder.
Sy tel haar foon op en tik ’n boodskap.