Skip to main content

Uittreksel | Om weer te droom

Een

Lizet hou haar foon ’n ent van haar oor af. Sy is net betyds. Haar suster se stem klim ’n paar oktawe.

“Het jy nou jou laaste bietjie verstand verloor? Bungee jumping! Wat het van my besadigde, gedigte-lesende sussie geword wat wou reis, die Aurora Borealis wou sien en wie se grootste droom was om te trou en kinders te hê?”

Lizet probeer so vrolik moontlik klink. “Daar is nog baie tyd vir sulke vervelige goed! Maar nou, terwyl ek jonk is, wil ek ander dinge waag, ek het ’n bucket-lysie om deur te werk.”

“Ma kry die horriese piep as sy moet hoor wat jy nou weer wil aanvang.” Anine se stem raak skoon weg van ontsteltenis.
“Ma gaan nie weet wat ek doen nie, ek sal haar eers ná die tyd daarvan vertel. Dis baie veilig, duisende mense doen dit elke dag . . .”
“Dis nie ’n rede nie!” roep Anine uit. “Zet, dis asof jy deesdae doelbewus dinge aanpak wat jou kan verongeluk. As jy nie aan toue teen kranse hang nie, spring jy uit vliegtuie en nou wil jy gaan bungee!”

“Die lewe is kort, Anine. Ons weet dit beter as enigiemand anders,” sê Lizet.

Anine trek haar asem hoorbaar in. “Net omdat ons suster vroeg dood is, beteken dit nie dieselfde lot gaan ons tref nie.”

“Ek weet. Maar ek weet ook ek wil nie eendag terugkyk en wonder hoekom ek sekere goed nooit gedoen het nie.”

“Niks wat jy doen gaan vir Marina terugbring nie,” sê Anine sag.
“Dis nie waaroor dit gaan nie. Maar Marina se dood het my laat besef die lewe gaan by my verby. So, ek wil net seker maak ek kom by alles uit wat ’n mens kan doen. En sjoe, daar is so baie dinge om te doen! Buitendien, ek dink ek het verslaaf geraak aan aktiwiteite wat die bloed deur my are laat bruis, wat my ’n hol kol op my maag gee, wat my adrenalien laat pomp.”

“Jy hoef nie elke keer jou lewe in gevaar te stel om dit reg te kry nie!” raas Anine.

“Dis nie wat ek doen nie, ek sê mos vir jou ek probeer net seker maak ek doen alles . . .”

“. . . op jou bucket-lysie. Ek hoor jou. Maak net seker dis wel jóú lysie, sal jy?”

“Natuurlik is dit my lysie,” sê Lizet geïrriteerd.

“Daar is ander maniere om opwinding in jou lewe te kry. Wat van ’n boyfriend? Dis glo opwindend, roekeloos en onvoorspelbaar,” sê Anine vies.

Lizet trek haar asem skerp in. “Ja? En waar het jy so ’n man raakgeloop?” terg sy.

“Ons is besig om oor jou onverantwoordelike optrede te praat,” sê Anine kwaai. “Lizet, regtig . . .”

“Ek terg jou net. Maar ek stel beslis nie belang in ’n boyfriend nie, maak nie saak hoe opwindend hy is nie.”

Dis ’n rukkie stil aan die ander kant. “Want Marina sal nooit kan trou en kinders hê nie?” vra Anine.

Lizet sluk. Haar suster het nog altyd die vermoë gehad om haar gedagtegang presies te verstaan. Maar sy wil nie oor die hoekoms en waaroms van haar besluit praat nie. Hoekom sy nie wil trou nie, is nie iets wat sy kan verduidelik nie.

“Want ek is besig!” roep sy vrolik uit. “Volgende naweek gaan ek saam met die klomp Bainskloof toe. Ons gaan uitkamp en stap. Doodrustige, doodgewone dinge. So, dis nie asof ek altyd wilde goed doen nie.”

“Jy weet jy kan ook maar net ’n naweek rustig by jou woonstel deurbring. Dan kan ek jou dalk ’n slag sien. Ons het so lanklaas iets saam gedoen.”

Daar is ’n klop aan haar deur en Lizet se hart begin bokspring. “Ek moet gaan, die volgende ouer klop aan my klaskamerdeur. Ontspan, Sus. Ek sal fine wees,” sê sy en druk haar foon dood.

Vir ’n oomblik huiwer sy. Dis oueraand by die skool en van so vyfuur se kant af, sien sy ouers. En nie een was vir haar ’n probleem nie, selfs nie die onaangenaamste van hulle nie. Maar die man wat nou aan die ander kant van die deur staan, haar laaste afspraak, wil sy eintlik glad nie sien nie. Stephen Breedt – die wewenaar met die ligte bruin hare en die wêreld se hartseer in sy grys oë.

Vandat haar broer Evan en Stephen se suster Anya se lewens verstrengel geraak het, sien sy en Stephen mekaar gereeld by die vele kuiers wat hulle gesinne oor en weer reël. En net so gereeld, ignoreer hy haar heeltemal. Dis asof sy glad nie bestaan nie.

Sy het aanvanklik probeer om ’n geselsie aan te knoop, veral omdat sy dadelik lief geraak het vir sy dogtertjie, Soekie. En oukei, as sy baie eerlik moet wees met haarself – sy het sy so ’n bietjie van haar ekwilibrium verloor toe sy hom die eerste keer sien. Hy is een van daardie onmoontlik aantreklike mans wat enige volbloedvrou se bloed sal laat bruis.

Maar sy is duidelik vir hom net ’n irritasie. Elke keer wanneer sy met hom probeer praat, is hy net so skuins duskant ongeskik. Uiteindelik het sy tou opgegooi en hom ook net begin ignoreer. Dis in elk geval nie asof sy iets meer van hom wil hê as net vriendskap nie en hy het dit baie duidelik gemaak dis nie iets wat gaan gebeur nie.

En vanjaar is Soekie in haar graad 1-klas. Die meeste kleintjies se ouers maak gou kontak en wil gereeld weet hoe dit met hulle kind gaan. Dis heel normaal. Sy geniet die interaksie met ouers en deel graag die kinders se ontwikkeling met hulle.

Maar behalwe die eerste dag toe hy Soekie skool toe gebring het, het sy die man nog nie weer by die skool gesien nie. Soekie se ouma vra uit na haar, maar nooit die pa nie.

Nou is dit al Juniemaand, die skole sluit oor ’n week vir die wintervakansie en vanaand sal die eerste keer wees dat hy ’n afspraak met sy kind se juffrou nakom.

Selfs ’n paar weke gelede op Anya en Evan se troue, ’n geleentheid wat tog veronderstel is om vrolik te wees, ’n geleentheid waar mense kan ontspan, het hy net eenvoudig regdeur haar gekyk en elke keer ’n ander koers ingeslaan wanneer hy haar gewaar.

Wat sy probleem met haar is, weet sy nie en dit maak nie regtig saak nie. Wat saak maak, is Soekie. En dis oor haar wat sy vanaand met hom wil praat.

Sy stryk haar potloodromp glad met haar hande, stap vinnig deur toe en maak dit oop.

“Goeienaand, meneer Breedt, kom gerus binne,” sê sy formeel en maak ’n punt daarvan om nie in sy oë te kyk nie. Dit het gewoonlik die vreemdste uitwerking op haar en sy moet beslis gefokus bly vir hierdie gesprek.

“Juffrou Vos,” sê Stephen net so formeel en stap binne.
“Sit gerus,” beduie sy na die stoel voor haar lessenaar.
“Hoekom is ek hier?” vra hy kortaf.

“Soekie is al ses maande in my klas. Ek het gereken u sal graag wil weet hoe dit met haar gaan.”

Hy maak sy mond oop, maar maak dit weer toe en Lizet trek ’n tekening nader.

“Soekie is ’n merkwaardige kind. Sy snap dinge vinnig, werk netjies, sy lees die beste in die klas en sy het al ’n hele paar maatjies gemaak.”

“Jy vertel my niks wat ek nie weet nie,” sê hy bot.

Lizet trek haar asem in en tel tot by tien.

“Ek is tog bekommerd oor haar,” sê sy.

“Hoekom?”

Lizet maak haar oë vlugtig toe en stuur ’n skietgebedjie op.

Sy bid al die afgelope halwe jaar vir Soekie en haar pa, soos sy vir elke kind in haar klas bid. Maar sy het beslis nou ekstra hulp van Bo nodig – eerstens om seker te maak sy vererg haar nie en tweedens, om seker te maak sy gebruik die regte woorde.

“U het u vrou verloor, Soekie haar ma en . . .”

“My vrou is al twee jaar gelede dood, ons is albei oukei,” val Stephen haar in die rede en staan op. “As jy my hiernatoe genooi het om te simpatiseer of omdat jy wil seker maak ek sien jou raak, het jy jou tyd gemors.”

Uit die veld geslaan staar Lizet hom aan. “Wat het jy gesê?” vra sy verstom en staan ook op.

Hy lag sarkasties. “O, nou spreek jy my aan as jy. Jy’t my gehoor. Ek stel nie belang in hol, simpatieke woorde nie en ek stel nog minder belang om weer ’n vrou in my lewe te hê. Is dit duidelik?”

Lizet kyk af na die tafel en besef binne sekondes sy is op soek na iets om die man mee te gooi. Haar oë val egter op Soekie se tekening en sy sluk haar viesgeit. Dit gaan oor Soekie, niks anders nie.

“Ek ís baie jammer jou vrou is oorlede, ek weet wat dit beteken om iemand na aan jou te verloor. Maar ek kan jou verseker,” en dié keer kyk sy hom reguit in die oë, “die enigste rede hoekom ek hoegenaamd met jou praat, is omdat ek bekommerd is oor Soekie.

Op hierdie oomblik kry sy swaar en ter wille van haar sal ek jou onbeskofte gedrag ignoreer. En ek is jammer as ek jou ego aantas, maar ek het geen begeerte om ooit die vrou in jou of enige man se lewe te wees nie. Kyk hierna,” sê sy so kalm as wat sy kan terwyl sy al die woorde wat dreig om sommer vanself uit te spring, met mening terugsluk.

Stephen gryp die papier by haar en kyk na die tekening. Hy verstil. ’n Naar kol kom lê reg op die krop van haar maag. Sy moes die tekening vir hom op ’n ander manier gewys het, sy moes gewag het totdat sy minder vies is vir hom, sy moes . . .

Hy kyk op en die pyn, die wanhoop, die angs in sy oë pers die laaste bietjie suurstof uit haar longe.

“Stephen,” sê sy sag, maar dis asof hy haar nie hoor nie.
Hy vee met sy hand oor sy gesig en sak af op die stoel. Lizet gaan sit op die punt van haar stoel, haar hand uitgestrek na hom.

“Hoekom sou sy my so sien?” vra hy uiteindelik en sit die tekening op die tafel neer. “Ek raas nooit eens met haar nie, maar kyk hoe teken sy my – groot en kwaad. En sy teken haarself hier in die hoekie, klein en inmekaargetrek. Dis nie hoe sy by die huis is nie. Sy vra nooit meer oor haar ma nie, ek het gedink . . . ek het gedink sy’s oukei.”

“Stephen, ek wil graag help. Ek . . .”

Hy spring weer op en dié keer stap hy met lang treë tot by die deur. “Ons sal self regkom,” sê hy oor sy skouer en die volgende oomblik is die vertrek leeg.

Lizet knip haar oë. Die man is sowaar uit by die deur. Moedeloos staar sy na die deur wat hy agter hom toegemaak het. Sy kan vir Soekie help, maar sy kan dit net doen as die dogtertjie se pa deel is van die plan. En hierdie pa lyk asof hy nog self hulp nodig het.