Uittreksel | Om ’n hart te tem

Een
Anika trek haar asem stadig en diep in terwyl sy die flikkerlig aanskakel en regs van die teerpad af draai. Sy blaas hoorbaar uit en bring haar ouma se ou, getroue bakkie met ’n geknars van klippies voor die hek tot stilstand. ’n Hek wat krom staan en blykbaar só gestamp is vanaf die plaas se kant. Haar wenkbroue wip op. Vreemd. Sy kyk op na die naambord wat eens wit was. Die verf is aan die afskilfer. Nog vreemder. ’n Frons vervang haar verbasing. Soetwater, in ’n boog geverf, is skaars herkenbaar. Daaronder pryk die trotse familienaam wat nog net-net uitgemaak kan word. Haar nekhare rys by die sien van daardie naam, maar omdraai is nie meer ’n opsie nie. Sy staal haarself vir wat op haar wag. Die afgelope drie jaar sedert haar susters Grootfontein toe getrek het, het sy nooit eens haar kop gedraai wanneer sy hier verbygery het om te gaan kuier nie. Vandag is dit anders.
Sy kyk padlangs – ’n wit baan wat reguit tussen dor mielielande deur strek tot teen die voet van die Otaviberg. Van hier kan sy die opstal tussen die wintergeraamtes van die bome wat dit omring, sien. Die verwaarloosde ingang weerspieël haar gemoedstoestand van die afgelope weke. Trouens, dit maak haar onrustiger. Sy kom agter dat sy te vinnig asemhaal en neem ’n paar kalmerende asemteue. Haar blik gaan weer oor alles voor haar. Die Grahams is trotse mense. Gesiene mense. Hoekom lyk hulle ingang só?
Sy ruk haar skouers. Sy sal ook nie uitvind as sy hier bly sit nie.
Sy stoot die bakkie se deur doelgerig oop. ’n Geniepsige wind stoot deur die vallei. Sy ril en loop vinnig hek toe. Die hakie is steeks en sy kners op haar tande. “’n Mens sou dink hulle kon al die hek herstel het.”
Uiteindelik gee dit mee en die hek skree klaend toe sy dit oopstoot. Sy gryns. Soetwater is klaarblyklik nie meer die spogplaas van die kontrei nie.
Toe sy die bakkie ’n rukkie later voor die tuinhekkie tot stilstand bring, wag twee boerboele haar blaffend in. Selfs hier op die werf kan sy die agteruitgang nie miskyk nie.
“Hallo, honne,” groet sy vriendelik, maar hou haar hande tuis. Sal dit van Joey en Brutus se nageslag wees? Dalk nie, hulle lyk te jonk.
“Dawid! Tessa! Gaan lê!” roep ’n grinterige stem streng van die huis af.
Die man in ’n ligbruin langbroek en swart baadjie wat die trappies ligvoets afdraf en nader loop, dra ’n frons. Sy deurmekaar swart hare krul liggies om sy kop en die donker skadu op sy wange laat hom nog ruwer voorkom. Sy oë is donker en het ’n intensiteit wat haar oombliklik meer regop laat staan. Tyd val weg en sy sien hom enkele sekondes lank weer met die oë van ’n tiener. Nie vir een oomblik twyfel sy aan die identiteit van die man wat na haar toe aangestap kom nie. Ian Graham. Oudste seun van Ilse en Dewald Graham. Egosentriese, snobistiese hartebreker. Nou ’n ouer, selfs aantrekliker, weergawe van die twintigjarige jongman wat sy vyftien jaar gelede laas gesien het.
Sy blaas haar asem stadig uit, kry beheer oor haar emosie: Jy is nie meer veertien jaar oud nie.
“Middag. Waarmee kan ek help?”
Niks het verander nie, dink sy wrang. Behalwe dat hy nie met ’n sjarmante glimlag gereed staan nie. Haar ken en regterskouer trek na mekaar toe, maar sy onderbreek die aksie en lig haar ken. “Ek is hier om jou perde te tem.” Haar stem klink stram in haar eie ore en net so onvriendelik soos syne. Nie die eerste indruk wat sy wou skep nie. Deksels. Sy steek haar hand oor die hekkie en forseer ’n glimlag.
“Ek is Anika.”
Hy neem haar hand. “Ian Graham.”
Sy blik gly oor haar en sy wonder wat hy dink toe die frons dieper keep. Die verbleikte denim en geruite hemp wat sy dra het al beter dae gesien. Haar lang hare is seker ook nie meer te netjies ná die lang rit van Mariental af nie. Haar hart klop skielik in haar keel. Sy moes ’n rok aangetrek het. Grimering aangesit het. Dan het sy ten minste beter gelyk. Ag, vervlaks, wie probeer sy impress, val sy haar eie gedagtes in die rede. Hy onthou haar nie eens nie.
“Ek het jou gedurende die week eers verwag, maar dis gaaf dat jy vroeër hier is.” Sy sien hoe hy ’n daadwerklike poging aanwend om vriendeliker te wees toe hy die hekkie oopmaak. “Kom binne.”
Haar kort naels byt in haar palm waar hy aan haar hand geraak het terwyl sy agter hom aanstap. Die herinnering wat sy aanraking meebring, wil nie wyk nie. Hy lyk nie baie gelukkig om haar te sien nie, want die frons op sy voorkop is terug. Dit maak haar senuweeagtig. Sy kan nie onthou dat hy so gefrons het toe hy jonger was nie. Inteendeel, die Ian wat sy onthou, het altyd gelag. Later jare is dit met ’n meerderwaardige glimlag vervang, maar daar was altyd ’n vonkeling in sy donker oë. Sy skud haar kop. Sy wil nie die aangename weergawe van hom onthou nie. Dit was alles leuens.
Sy vroetel die boerboele se ore deurmekaar toe hulle aan haar kom ruik en volg vir Ian by die voordeur in. Haar oë gaan net vlugtig oor die sitkamer voor hy haar by die kombuisdeur inlei en nooi om by die tafel te gaan sit. Haar blik gly oor die groot vertrek wat die hele suidelike muur van die huis beslaan. Sy het dit nog net een keer vantevore gesien. Dit is egter nou van alle tierlantyntjies ontneem. Lyk nie of hier ’n vrou in die huis is nie. Die groot ou koolstoof staan steeds teen die muur, en hoewel ’n gasstoof daarnaas geïnstalleer is, wil dit voorkom of dit nog in die winter gestook word te oordeel na die gerieflike hitte wat haar omvou.
“Jy wonder waarskynlik hoekom ek jou aangestel het sonder ’n onderhoud?”
Sy fokus haar aandag op Ian en knik stadig. “Ek hét my bedenkinge oor die hele aangeleentheid.”
Sy donker wenkbroue lig op en dit neem hom ’n oomblik om te reageer. “Tog is jy hier.”
Sy antwoord hom nie. Wag net dat hy verder praat.
Hy grinnik, maar die humor raak nie sy oë nie.
“Jy het by ’n vriend van my se broer gewerk. Paul Harmse. Toe ek met hom oor my probleem gepraat het, het hy jou hoog aanbeveel. Hy reken jy is die beste op jou gebied.”
Haar hart swel van trots, maar sy hou haar gesig en stem neutraal terwyl sy knik. “Ek het ses jaar gelede by hom gewerk.”
Hy betrag haar ondersoekend en die frons is terug tussen sy oë. Sy klem haar hande in haar skoot saam en probeer haar uiterste bes om nie ontsenu te raak nie, maar dis moeilik. Sy het die sjarmante, aanstellerige Ian verwag. Nie hierdie man wat lyk of hy vergeet het hoe om te lag nie.
Hy leun vorentoe en rus met beide sy arms op die tafelblad. “Kyk, ek gaan nie doekies omdraai nie. Ek is nie seker wat om te verwag nie, maar Paul reken jy kan help. Ek het natuurlik nie . . . wel,” sy hand beduie na haar, “dít verwag nie.”
Haar nekhare rys. “Wat bedoel jy met ‘dít’?”
“Jy lyk of jy skaars ’n mak perd sal kan hanteer, wat nog te sê ’n ongetemde een. Jy is te klein en fyn. Boonop is . . .”
Sy hou haar hand op, skielik weer seker van haarself. “Kyk, Ian, ek is nie hier vir mooipraatjies of beledigings nie. Ek weet wat ek doen en doen dit al agt jaar permanent. Ek het by die beste wat daar is geleer en werk van jongs af al met perde. As jy ná ’n maand besluit ek kan nie doen wat jy verwag nie, dan laat jy my gaan. Dis so eenvoudig soos dit.” Sy staan op. “As dit al is, verkies ek nou om myself te gaan tuismaak. Dit was ’n lang pad.”
Hy leun terug in sy stoel, sy arms gevou en sy oë op skrefies getrek. Sy sien hoe hy haar opweeg en dit verg baie inspanning om nie voor hom te begin kriewel nie. Klein en fyn. Ga. Hy sal hom wat verbeel.
Uiteindelik knik hy en staan op. Hy glimlag skielik en dis een van daardie uit sy arsenaal. Dit slaan amper haar voete onder haar uit. “Nou goed. Ons kyk hoe lyk dinge ná ’n maand.” Hy tel ’n koevert van ’n toonbank vol papierwerk agter hom op en hou dit na haar toe uit. “Jou kontrak. Jy kan daardeur lees en as jy tevrede is, teken.”
“Dankie,” kry sy asemrig uit en hou haar oë op die koevert vasgenael.
“Jy woon in die voorman se huis hier agter teen die berg. Hier is nie tans een nie en dis nogal ’n groot plek.”
“Ek ken die pad,” antwoord sy en draai weg. Sy kreun amper hardop terwyl sy vinnig deur se kant toe staan. Ag, Anika!
“Ekskuus?”
“Dit kan seker nie te moeilik wees nie,” probeer sy haar blaps toesmeer.
’n Hand vang haar aan die voorarm. “Nee, nee. Die toeval is darem net te groot,” laat hy afgemete hoor en draai haar na hom toe. “Laat ek seker maak ek misgis my nie.”
Sy skud sy hand af en tree terug, maar kan hom nie in die oë kyk nie. Sy kan nou seker maar in haar bakkie klim en Grootfontein toe ry. Haar susters sal net te bly wees om haar tuis te verwelkom.
“Jy is een van Joop Liebenberg se dogters?”
Die veragting wat uit sy woorde drup, laat haar ruggraat skielik styf trek. Sy het niks om oor skaam te wees nie. As enigiemand hier skuld dra, dan is dit die Grahams. Sy lig haar ken uitdagend en kyk hom vas aan. “Oorweeg jou volgende woorde versigtig. Jou pa kon my pa dalk verjaag, maar daar het intussen baie water in die see geloop.”
“Watter een?”
“Wat traak dit jou? Die groter vraag is of ek ry en of ek bly.”
Dat hy haar nie onthou nie, maak meteens so seer dat sy sukkel om die sluimerende woede wat in haar binneste ontplof te onderdruk. Sy’t geweet hy het nooit gevoelens vir haar gehad nie, maar om nie eens te onthou dat sy die oudste is nie! Hoe dikwels het hulle mekaar in hulle kinderjare probeer uitoorlê? Saam die plaas op horings geneem. Om nie eens van die soen wat hulle gedeel het, te praat nie!
Hy betrag haar van kop tot tone en sy kan nie vasstel wat dit is wat oor sy gesig flikker nie, maar dat sy hom so pas die hef in die hand gegee het, was dalk nie slim nie.
’n Fyn glimlaggie kruip om sy mond. “Soos jy sê – daar het al baie water in die see geloop. Boonop wil ek sien waaroor Paul so geesdriftig geraak het.”
Ten spyte van haar humeur wat aan ’n ragfyn draadjie hang, gly ’n rilling teen haar rug af. “Ek sal môreoggend seweuur by die stalle wees.”
“Anika,” roep hy toe sy al teen die stoeptrappe afdraf.
Sy steek teësinnig vas en draai om. Hy swaai ’n stel sleutels aan sy vinger. Sy kners op haar tande en loop terug.
“Welkom terug op Soetwater.”
Die uitdrukking op sy gesig laat haar allesbehalwe welkom voel en sy wonder of hy haar gramskap kan raaksien. Met ’n gevoel van voorbode maak sy haar uit die voete. Tot nog voldoen niks aan dit wat sy verwag het om hier te kom kry nie. Sy sal moet ondersoek instel en haar vergewis van wat in die afgelope twaalf jaar hier afgespeel het. Oor een ding is sy wel seker: Die Grahams gaan boet vir wat hulle aan haar familie gedoen het.
Die huis lyk nog net soos die dag wat hulle hier weg is. Net meer vervalle. Die afwit mure het meer krake en die balke is afgedop, sommige gebars vanweë waterskade. Sy merk selfs ’n los dakplaat of twee op die stoepdak toe die wind, wat sterker waai hier teen die berg, dit laat bewe. Soos alles anders op die werf, spreek die huis van verwaarlosing.
Wat gaan op hierdie plaas aan? Sy kyk terug na die opstal tussen die groot bloekom- en apiesdoringbome, sien die honde om die huis hardloop en dan vir Ian wat in die rigting van die skuur loop. Haar hart klop ’n bietjie vinniger. Selfs van hier af sien sy die trotse houding in sy reguit skouers. Hy loop soos ’n man met ’n missie. Maar wat is daardie missie?
Sy kyk weer na die huis waar sy die eerste sewentien jaar van haar lewe deurgebring het. Haar oë vee oor die tuin. Iemand het dié ten minste in stand probeer hou, al lyk die grasperk yl en steek verwaarlosing skerper af in die wintertuin. ’n Klompie suurlemoene en lemoene pryk darem in die bome voor teen die heining. Nicolette sal bly wees.
Sy trek haar asem diep in en gereed vir die herinneringe om haar te oorval, stoot sy die deur oop. Net die boonste deel gee mee en sy moet die onderdeur eers loshaak voor sy die huis kan betree. Die sitkamer ruik skoon. Vars. So asof die deure en vensters oopgestaan het om die wintersonnetjie se bietjie hitte in te nooi. Sou Ian laat skoonmaak het as hy geweet het wie dit is wat terugkom? Sy skud haar kop vererg en loop in die gang af. Vergeet van hom. Wat hy dink, skeel haar nie. Sy is hier om perde te tem. Een in die besonder. Jy is nie hier om Ian se goedkeuring te kry nie. Gmf. Dis dalk so, maar sy goedkeuring gaan nodig wees as sy hoop om langer as ’n maand te bly, praat sy in haar gedagtes.
Outomaties sit sy haar tas op die bed wat eertyds hare was neer. Sy kyk deur die kamer. Die mure is steeds liggroen. Langs die deur is ’n kol waar die verf afgespring het. Sy loop nader en vee oor die merk. Sy onthou die borsel wat die muur tref asof dit gister was. Magdel het nie vir hulle pa gemik nie, maar dit was darem so amper of sy het hom raakgegooi. Saggeaarde, moederlike Magdel wat in ’n ommesientjie in ’n gewonde rooikat verander het. En die verslaenheid op Pa se gesig.
Sy sug en draai weg om haar tas uit te pak. Arme Magdel. Sy was jonk en verlief en het maande lank volgehou dat die wêreld daardie dag vir haar tot ’n einde gekom het. As Magdel, of enige van hulle, ’n selfoon gehad het, sou sy waarskynlik met Marnus kontak gehou het. Daar was egter niks wat hulle pa kon of wou doen om te help nie. Hoe oortuig jy buitendien ’n vyftienjarige meisie dat kalwerliefde verganklik is? Of dat haar drome doodgebore is.
Sy glimlag wrang. Anders as Magdel het sy daardie les toe lankal reeds op die harde manier geleer. Magdel moet haar sterre dank dat sy nie op dieselfde manier ontnugter is nie. Dat sy haar drome kon aanhou droom. Anika snuif wanneer sy onthou dat haar pa en ook hulle ouma, Magdel herinner het dat hulle meisies van jongs af gewaarsku is om van die Graham-seuns af weg te bly. Dit het nie gehelp nie.
Weke later was daar fluisteringe dat hulle verjaag is oor haar pa kamtig ’n verhouding met tannie Ilse gehad het. Dít was natuurlik soos dinamiet bo-op die koek, vergeet van die kersie. Sy het dit nooit geglo nie, maar Magdel was aanvanklik nie so seker van hulle pa se onskuld nie. Drie maande later het dit nie meer saak gemaak nie.
Anika trek ’n lekker dik trui aan voor sy uit die kamer loop. Dit is kouer hier teen die berg in die leë huis. In haar ouers se kamerdeur steek sy vas. Haar oë dwaal oor die vertrek met sy outydse katel, maar sy draai weg voor herinneringe haar hier kan oorval. Sy sien nie vandag al daarvoor kans nie. Sy loer by die kamer in wat Nicolette, Melanie en Stefanie s’n was. Selfs hier staan die drie beddens nog op dieselfde plek onder die groot venster wat op die voortuin uitkyk. Asof twaalf jaar nie verloop het sedert hulle die huis ontruim het nie. Binne twee dae, kruip die herinnering deur haar gedagtes en woede borrel oudergewoonte na die oppervlak. Alles behalwe die meubels. Dié was net geleen.
Sy draai weg. En Ian verwelkom haar nogal terug. Die durf wat hy darem het. Maar laat hy lag. Voor sy hierdie plek se stof finaal van haar stewels afstamp, sal hulle boet vir wat hulle gedoen het, neem sy haar opnuut voor.
Dit herinner haar: Sy moet vir Magdel bel. Dis tyd dat hulle weet sy is terug in die omgewing. Terug op Soetwater. Haar hart klop benoud en sy loop kombuis toe om die ketel aan te skakel. Sy sal eers haar inkopies uitpak en koffie maak. Selfs hier het niks verander nie. Sy vee oor die witgeskropte tafelblad en te veel herinneringe du na die voorgrond. Met haar emosies so deurmekaar en broos, besluit sy om Magdel bietjie later eers te bel. Sy sal ook eers vir haar middagete maak ná sy haar vriendin, Irma, laat weet het dat sy veilig gearriveer het. Sy gaan hulle kuiers mis, maar sy twyfel nie daaraan dat, sou Irma die dag vra, Michael haar en hulle babaseuntjie in die bakkie sal laai en kom kuier nie.
Sy glimlag. Dié twee mense se liefde is ’n inspirasie. Selfs nou, twee jaar ná hulle troue, blyk hulle liefde sterker te wees as ooit. Die gedagtes aan haar vriende bring kalmte in haar gemoed en sy voel meer gereed om haar oop te maak vir die herinneringe wat in die mure om haar skuil.