Skip to main content

Uittreksel | Om Karolien te beskerm

Een

Met haar oë op die drie houers fyngebak opgestapel in haar een hand en ’n sambreel in die ander, stap Karolien vinnig in Loopstraat af. Dis ’n miserabele, sopnat en koue wintersdag soos dit net in die derde week in Julie in die Kaap kan wees.

Al wat leef en beef is siek aan ’n griep wat mense weke lank plattrek. Vanoggend het Johanna, haar regterhand in haar patisserie, laat weet sy kan nie haar kop oplig nie. Petrus, wat die groter bestellings met ’n vragmotortjie aflewer, is al van vroegoggend af aan die gang. Sy is met ander woorde die enigste een wat die bestelling van die prokureursfirma wat eetgoed bestel het, kan aflewer.

Lizelle, die student wat tussen haar klasse by haar werk, verkies om ten minste ’n toonbank tus­sen haar en ander mense te hê, ’n regte introvert.

Om in die middel van die dag sommer net in die strate te loop is darem ook nie so erg nie. Dit gee haar kans om asem te skep en te probeer agterkom hoekom gisteraand se date óók nie gewerk het nie.

Sy het alles waaroor sy van kleins af gedroom het – haar eie fyngebakwinkel in Loopstraat in Kaapstad, haar eie blyplek in Vredehoek en lieflike vriendinne. Haar lewe is vol en besig. Van vroeg soggens tot laat saans doen sy wat vir haar net lek­ker is – tower fyngebak op waaroor mense gelukkig gaande is. Twee keer ’n week gaan gim sy. Nie om­dat sy daarvan hou nie, maar sy weet dis nodig, en verder kuier sy en haar twee pelle.

Daar is hoegenaamd niks om oor te kla nie, be­halwe die totale gebrek aan ’n liefdeslewe. Dis nie asof sy dadelik wil trou nie, glad nie. Daarvoor sy is op die oomblik net te besig. Dit sal egter wonderlik wees om iemand spesiaals in haar lewe te hê. Die probleem is net, die man waarna sy soek, het sy nog nêrens gekry nie.

Oukei, sy weet jy kan nie alles glo wat in boeke staan nie en sy weet liefdesverhale is eintlik feëver­hale vir grootmense, maar selfs feëverhale het diep waarhede, of hoe? Hoekom het sy dan nog nooit skoenlappers op haar maag gekry as ’n man haar wil soen nie? Of daai heerlike rilling wat veronderstel is om teen ’n mens se ruggraat af te gly nie? En wat van tintelings oraloor haar lyf? Dit het nog nooit gebeur nie, selfs nie die kere toe sy nog op universiteit was en bed toe is met iemand op wie sy gedink het sy is verlief nie. Dis toe wat sy besluit het sy gaan vir haar ridder op die wit perd wag, die een wat elke liewe liggie in haar aanskakel voor sy sommer weer in die bed spring.

In haar matriekjaar, voor haar ma oorlede is, het sy een keer vir haar gevra hoe soen ’n mens. Mam­ma het sag gelag en gesê as die regte persoon jou soen, sal jy presies weet wat om te doen.

Sy moet seker iets verkeerd doen, want sy hou nie van ’n soenery nie. Sy is al agt en twintig. Sê nou sy ontmoet nooit iemand wat sy wíl soen nie? Oukei, die uitsondering is die soen wat sy op haar sestiende verjaardag gekry het, maar dit kan nie meer tel nie. Kopskuddend stap sy vinniger. Dit het so lank terug gebeur, sy onthou heel waarskynlik die toneel baie romantieser as wat dit in werklikheid was.

Dalk is haar soentegniek die probleem. Miskien weet haar broer, Janco, hy is immers al ’n geruime tyd oorsee. Presies wat hy doen, weet sy nie, hy praat nie sommer nie, maar dit het iets met rekenaars en sekuriteit te doen. Sy kan hom nie nou sommer net so bel en vra hoe soen ’n mens nie. Hy lag hom morsdood.

Maar oukei, sy en haar twee vriendinne sedert skooldae, Isla en Leah, kry mekaar vanaand by een of ander kroeg waarvan Leah gehoor het. Hulle probeer ten minste een keer ’n maand saamkuier en dit gebeur elke keer by ’n ander restaurant of kroeg. Hulle weet van haar frustrasie; dalk kan hulle help.

By die gebou waar sy haar fyngebak moet aflewer, is daar gelukkig iemand voor haar wat die deur oopmaak en sy glip agter die persoon in. Om die sambreel met een hand toe te maak, is lankal nie meer ’n uitdaging nie, en vinnig volg sy die ander mense in die portaal tot in die hysbak.

Sy beland agter in een hoek en word eenkant toe gedruk soos nog mense inklim. Die deure gaan toe. Haar hand wat die sambreel vashou, laat sak sy langs haar sodat meer mense kan inskuif.

Die hysbak trek met ’n ruk weg, die agterkant van haar hand raak net-net aan die persoon langs haar s’n. Sy ruk haar hand weg en probeer nader aan die hoek beweeg, maar dis nie moontlik nie. Weer ruk die hysbak en nou is haar hand styf teen die vreemde persoon s’n gedruk. ’n Heerlike rilling glip teen haar arm op. Dis nie moontlik om weg te draai of om te draai nie. Haar mond is ewe skielik vreemd droog, hoendervleis slaan oor haar hele lyf uit.

Wie ís dit wat langs haar staan? Daar was nog net een mens van wie sy so oorbewus was, en dit was haar broer Janco se groot pel, Stefan Bosman, maar sover sy weet, is hy soos Janco ook iewers in die buiteland.

Met moeite fokus sy op die houers in haar hand terwyl sy baie hard probeer om nie haar kop te draai om te kyk wie langs haar staan nie. ’n Muskusgeur vou geleidelik om haar. Half duiselig skep sy ’n diep teug asem. Hoe lank nog voor die hyser stop?

Uiteindelik ruk die hysbak tot stilstand. Dis die vloer waar sy ook wil wees, dankie tog. Die meeste mense bondel uit. Sonder om te kyk wie langs haar is, volg sy hulle vinnig. Net voor die hysbak se deure weer toegaan, kan sy dit nie meer hou nie en kyk om, vas in ’n paar hemelblou oë. Haar asem raak weg, iets fladder op haar maag en haar mond is kurkdroog. Daai bloues kén sy.

Terwyl haar mond oopval, gly haar oë oor die groot, gespierde man. Donker hare, breë skouers, geen glimlag nie. Sy sal hom op enige plek herken. Dis sowaar Stefan Bosman! Die deure van die hys­bak gaan toe.

Vir nog ’n oomblik staar sy verstom na die toe deure. Hy was by een of ander sekuriteitsmaatskap­py betrokke, as sy reg onthou. Die laaste keer wat sy hom gesien het, was op haar sestiende verjaardag. Sy bloos nou nog oor wat tussen hulle gebeur het.

In haar bloedrooi rok wat soos ’n handskoen ge­pas het, was sy baie braaf. Haar wange word som­mer weer vuurwarm toe sy onthou hoe sy hom opgewonde om die nek gegryp en gesoen het. Dit was nie vir haar vreemd nie, hy was vir haar soos ’n ouboet. Soos Janco, is hy ook sewe jaar ouer as sy, en in ’n wit T-hemp en jeans het hy haar hart effens vinniger laat klop.

In die oomblik wat hulle lippe ontmoet het, het alles egter verander. Vir ’n fraksie van ’n sekonde het sy mond onder hare meegegee. Haar hele lyf het op hom gereageer – haar hart het vergeet van effens en wild begin klop, heerlike rillings het teen haar rug af­gegly, skoenlappers van nêrens het op haar maag gedans, haar hele lyf het getintel. Die volgende oomblik het hy haar weggedruk en uit die vertrek gestap. Sy het hom nooit weer gesien nie, en ook nie weer ’n soortgelyke reaksie by enige ander man gehad nie.

Met haar bene nog bewerig, stap sy in die gang af tot by die prokureurskantore. Sy gee die houers vir die vriendelike ontvangsdame voor sy weer groet en uitstap. Met ’n vinnige kyk in die rigting van die hysbak beweeg sy liewer na die trappe. Dis bloot ’n veiliger opsie vir ingeval Stefan nog in die rondte is.

Buite die gebou haal sy diep asem voor sy terugstap na haar patisserie. Stefan. Haar maag dop sommer weer om. Hy is nog net so knieknakkend aantreklik soos wat sy hom onthou. Wat sou hy in Suid-Afrika maak? Sy moet tog vir Janco vra.

Met bewerige vingers kam sy die los slierte van haar hare agter haar ore in. Solank sy net nie weer oor die man droom nie. Dis twaalf jaar later, maar sy onthou die stomende drome wat sy nog maande ná die vinnige soen gehad het. Drome waarin Ste­fan met sy hemelblou oë óral was.

Hy kan tog onmoontlik die enigste man wees wat haar liggies aanskakel. Die wêreld is groot, daar is baie mans, sy moet maar net bly soek.


Met sy hande in sy broeksakke kyk Stefan die vin­nig bewegende blondine agterna.

“So, dis reg vir vanaand?” vra Pierre weer. “Ek stuur vir jou die kroeg se adres. Dis in ’n hotel en baie lekker.”

“Sal lekker wees om op te catch,” voeg John by.

Stefan probeer fokus op die twee ou universiteitsvriende wat hy pas in die straat raak geloop het. “Dankie, ja, dit klink lekker.”

“So halfsewe, ná werk?” vra Pierre.

“Sien julle.” Hy groet en beweeg in die rigting van die parkade waar sy motor staan.

Karolien Watermeyer. Karo, soos hy haar altyd genoem het. Die laaste keer wat hy haar gesien het, was op haar sestiende verjaardag. In ’n rooi rok wat al haar kurwes beklemtoon het, haar liggroen oë al vonkelend, het sy hom om die nek gegryp en ge­soen. Laggend het hy haar verdra, sy is sy beste pel se suster, maar binne sekondes het hy byna vergeet waar hy was.

Sy’s sewe jaar jonger as hy, het hy net betyds onthou. Boonop is sy Janco, sy beste pel, se kleinsus – ’n geen-toegang-sone, die ongeskrewe reël tussen pelle. Hy het hom vinnig uit die voete gemaak, dank­baar dat hy die volgende dag oorsee sou vertrek.

Kopskuddend stap hy weg. Janco het ’n hele ruk gelede laat val Karolien het deesdae haar eie fynge­bakwinkel in Kaapstad, maar hy het nie verder uit­gevra nie. Sy is die laaste mens wat hy verwag het om vandag te sien.

Die vreemde elektrisiteit in die hysbak – hy moes seker toe al geweet dis sy wat langs hom staan.

Sy is pragtig, soos hy haar onthou. Haar blonde hare, netjies vasgemaak in ’n poniestert, is langer as wat hy onthou, maar haar oë is nog steeds die hel­der liggroen wat sy binnegoed omdop.

Hy stap vinniger. Dêmmit, waaraan dink hy? In sy lewe is daar nie plek vir ’n vrou en kinders en ’n huis met ’n wit paaltjieheining nie – ’n besluit wat hy reeds aan die begin van sy loopbaan geneem het. Seks met iemand wat ook nie belangstel in ’n lang­termynverhouding nie, werk vir hom, maar hy kan nooit ernstig raak nie.

Karolien Watermeyer kry dit nog steeds reg om hom om te krap. Dis twaalf jaar later, hy het dit nie verwag nie. Hy het aanvanklik nie geweet dis sy wat so naby aan hom in die hysbak staan nie. Hy het eg­ter binne sekondes bewus geword van ’n vrou langs hom – van die hitte van haar hand teen syne, van die sagte roosgeur wat om haar hang.

Sy lyf het dadelik gereageer. Heeltemal uitgefreak, was hy dankbaar toe sy uitklim. Eers toe sy omkyk, het hy gesien wie dit is. Hy moes seker geweet het. Reeds op sestien kon sy dit regkry om hom te laat vergeet wat sy naam is. Hopelik kruis hulle paaie nie te dikwels nie. Ten minste is hy nou voorbereid op haar teenwoordigheid. Daar is seker in elk geval ie­mand in haar lewe. Sy is intelligent en pragtig, hy is verbaas sy is nog nie getroud nie.

Hy frons. Karolien getroud? ’n Ander man in haar lewe? Dêmmit, dis nie iets waaraan hy wil dink nie.

Met ’n moedelose lag vryf hy oor sy gesig. Probleme het hy genoeg, vir nóg sien hy nie kans nie. En Karolien is ’n yslike probleem – sy was nog altyd.

Bo en behalwe die nuwe kantore wat hy in die Kaap oopmaak, laat doen hy werk aan ’n huis wat hy in Tamboerskloof gekoop het. Vir tyd en wyl het hy ’n woonstel in Vredehoek gekry om te huur; die bouwerk gaan seker ’n hele paar maande duur. Die meeste van sy goed is gestoor, maar die paar meubelstukke wat hy sal nodig hê totdat hy kan intrek, word laatmiddag afgelewer. ’n Heel nuwe hoofstuk vol uitdagings begin, daar is nie tyd om op enigiets anders of enigiemand anders te fokus nie.

Soos altyd wanneer hy iewers is, is hy die hele tyd bewus van sy omgewing, van almal wat naby hom beweeg. Die man met die vlootblou baadjie op die oorkantste sypaadjie. Sy kop is weggedraai, maar Stefan het hom al vroeër opgemerk.

Hy het pas in sy motor geklim toe sy foon lui. Dis Arend, sy broer.

“Jy al in die Kaap?” vra Arend.

“Ek is. Waar is jy?”

“Ek is vir ’n maand in my huis op Ciprus om ’n manuskrip klaar te maak, die uitgewer se geduld is op. Ek laat weet jou wanneer ek terug is.”

“Sterkte.” Hy maak keelskoon. “Môre is . . .”

“Ma se verjaardag. Dis ook hoekom ek bel. Dit is altyd vir my moeilik, ek praat eerder vandag.”

Stefan se keel is dik, praat vir ’n oomblik nie moontlik nie.

“Kyk mooi na jouself,” sê Arend.

“Jy ook.”

Stefan druk sy foon terug in sy sak. Dis nog bitter moeilik om te dink hulle ma is ook oorlede. Sy was altyd daar om aan te moedig, te troos, ook om pa te speel so goed soos sy kan. Pa is al weg van hulle af toe hulle nog in die laerskool was. Hulle het geen kontak nie. Hy is met sy sekretaresse getroud en het ’n nuwe lewe.

Ná hulle ma se dood het hy gebel. Wou weet of hulle oukei is.

Nee, Pa, ek is nie oukei nie, wou hy uitskree, maar hy het net gegroet en die oproep beëindig. Sy pa is een van die redes hoekom hy nooit sal trou nie – hy het geen idee wat en hoe ’n pa veronderstel is om te wees nie.

Die enigste persoon wat hy geken het wat vir hom gewys het wat hoe ’n pa veronderstel is om te wees, was oom Johannes, Janco en Karolien se pa.

Die pad wat hy gekies het, het in elk geval nie plek vir ’n vrou en kinders nie.


Net voor ses trek Karolien in die garage agter die blok waar haar woonstel is. Dis reeds donker. Die sekuriteitskompleks waar sy woon, bestaan uit losstaande eenhede, elk met drie woonstelle. Haar woonstel is op die onderste vlak. Die piepklein tuintjie met sy posseëlgrootte grasperk het haar hart gesteel.

Dit reën nog steeds sag en sy stap vinnig na die agterdeur van haar plekkie. Helder ligte in die boonste woonstel trek haar aandag en sy kyk op. M’mm, iemand het weer daar ingetrek. Sy is bly. So ’n leë vloer gee maar vir haar die kriewels.

Iewers het sy gehoor die plek word vir ’n paar maande verhuur. Seker by tannie Miemie, haar buurvrou in die middelste woonstel. Daar is min dinge wat in die kompleks gebeur waarvan tannie Miemie nie weet nie, en sy ag dit haar plig om Karolien op hoogte van sake te hou.

Skuins agter haar woonstel staan ’n groot vervoerwa; die nuwe intrekkers se meubels word afgelaai. Sy sal môre vir hulle iets bak en gaan afgee om hulle welkom te heet, maar nou moet sy gou maak anders is sy hopeloos laat vir haar afspraak met Isla en Leah.

Vinnig spring sy deur die stort voor sy ’n fluweellangbroek en ’n sagte trui vol blinkertjies aantrek. Sy’s nes ’n kraai, het haar ma altyd met ’n glimlag gesê, sy hou van blink goeters. Karolien tel die geraamde foto van haar ma langs haar bed op.

Ai, Mamma. Party dae is die verlange na haar mooi ma so oorweldigend, sy sukkel om asem te haal. Haar ma het uitgehou totdat sy haar laaste matriekvak geskryf het, maar toe kon sy nie verder baklei teen die kanker wat deur haar lyf versprei het nie. Sy sit die raampie terug, sluk aan die knop in haar keel.

Haar pa kry egter baie swaarder as sy, so Karolien probeer altyd vrolik wees wanneer sy uitry Vishoek toe om by hom te gaan kuier, maar net soms wil sy in ’n klein bondeltjie opkrul en haar hart uitsnik. Mamma sou presies die regte antwoord vir alles ge­had het.

Met ’n sug gryp sy haar baadjie en sleutel en draf voordeur toe. Hopelik het haar vriendinne vir haar raad.