Uittreksel | Om Ilsa op te pas

Een
Isla se binnegoed is die ene bewerasie. Alles wat die afgelope jaar met haar gebeur het, is so buite haar verwysingsraamwerk, sy het geen idee gehad hoe om dit te verwerk nie. En vandag was loshande dié goorste dag uit ’n jaar van goor dae. Sy’s ’n boekwurm en waag nooit kanse nie. Gewoonlik is boekmense nice, beskaafd, ordentlik. Dit is sy.
Verbeel sy haar of is haar vriendin Karolien se patisserie vandag verder van haar kantoorgebou af as gewoonlik? Sy het só baie werk, maar sy moet eenvoudig dit wat vanoggend gebeur het, vir haar twee vriendinne vertel.
Dis die laaste week van Maart en hierdie Maandag, soos die meeste laatsomersdae, is ’n lieflike dag met ’n blouselblou hemel en ’n turkoois see. Gewoonlik geniet sy dit om hierdie tyd van die jaar gedurende haar middagete deur Kaapstad se strate te stap en al die kleure en mense om haar te bekyk, maar vandag sien sy niks raak nie.
Terwyl sy haar handsak styf oor haar skouer trek, rek sy haar treë. Minute later is sy by die patisserie. Dis net ná een, maar sy kan sweer die oggend was ure langer as gewoonlik.
Met die instap soek sy deur die roesemoes na haar vriendinne. Dankie tog, daar sit hulle reeds. Vinnig beweeg sy tussen die ander tafels deur tot by die agterste een waar hulle mekaar gewoonlik kry.
Sy en Karolien en Leah is reeds vanaf hulle skooldae vriendinne. Karolien se patisserie is alombekend as die plek in die stad waar ’n mens die lekkerste fyngebak kry. Leah is ’n bekende liefdesromanskrywer en Isla is die redakteur wat gelukkig genoeg is om haar stories uit te gee. Wat sy die afgelope paar maande sonder haar twee pelle sou gedoen het, weet sy nie.
Uitasem gaan sit sy langs ’n hoogswanger Karolien. Daar is reeds cappuccino’s op die tafel.
Leah steek dadelik ’n hand uit en gee haar arm ’n drukkie. “Wat op aarde het jou baas nou weer aangevang? As jy só ontsteld is, moet dit Frik watsenaam wees.”
Karolien sit ’n hand op haar ander arm. “Vriendin, jy’s glad bleek. Wat op aarde het gebeur?”
Isla moet ’n paar keer aan die knop in haar keel sluk voordat sy kan praat. “Julle het my leer ken met my neus in ’n boek – al wat ek nog altyd wou doen, was om ’n uitgewer te wees. Ek was so opgewonde toe ek hierdie pos, my droomwerk, gekry het. Ek het regtig elke dag met ’n lied in my hart werk toe gegaan tot Frik Jooste, die baas reguit uit die hel, verlede jaar aangestel is. Thomas het afgetree, ek was so mal oor hom. Maar dit weet julle reeds.”
“Ons weet die man maak jou lewe baie moeilik, maar wat het vandag gebeur?” vra Karolien.
“Ek verstaan nie hoekom jy nog nie die vent by die menslikehulpbronafdeling gaan aangee het nie,” brom Leah.
“Ek was al ’n paar keer op pad!” roep Isla sag uit, “maar my moed het my elke keer begewe.” Met ’n bewerige hand kam sy haar hare uit haar gesig.
“Haal eers diep asem,” paai Karolien. “Neem ’n sluk van jou cappuccino. Wil jy iets eet?”
Isla skud haar kop. “Ek is naar van skok, ek dink nie ek gaan gou weer kan eet nie.”
Met ’n bekommerde frons leun Karolien nader. “Vertel!”
Isla skep diep asem. “Julle weet hoe ek die afgelope jaar kla vandat die man my baas geword het. Die helfte van wat gebeur het, kon ek nie eens vir julle vertel nie. Voor ander mense is hy die ene wit glimlagte, maar die oomblik as ons alleen is, sê hy die vreeslikste goed vir my. Eers het hy my afgekraak: Ek is useless, hy verstaan nie hoe ek die werk gekry het nie, ek weet nie wat ek doen nie, ensovoorts, ensovoorts. Waar hy my werk in die wiele kon ry, het hy dit gedoen. Hy’t selfs manuskripte wat drukkers toe gestuur is, laat wegraak. Nugter weet hoe, maar hy het dit reggekry. Ná die eerste keer, het ek nooit weer uit my kantoor gestap sonder om die deur agter my te sluit nie. Hy’t my ge-gaslight en dinge wat beide hy en ek wéét gebeur het, ontken. Ek het al begin glo hy is dalk reg, dalk onthou ek verkeerd. En oor die laaste paar weke . . .”
Isla vou haar bewende hande om die koppie. “Hy’t begin met baie suggestiewe aanmerkings en toe vanoggend . . . hy’t sowaar probeer om my vas te druk!”
Beide Leah en Karolien trek hulle asem skerp in.
“Ek hoop . . .” begin Leah heftig.
Isla stop haar met haar hand. “Ek het al weke gelede besef ek moet bewyse hê voor ek menslike hulpbronne toe kan gaan. Die afgelope ruk het ek pal my foon by my gedra en elke keer wanneer Frik my na sy kantoor geroep het, en dit was baie kere, het ek alles wat hy gesê het, opgeneem. So, ek het bewyse van hoe hy met my praat en wat hy vir my sê.”
Verstom staar haar pelle haar aan.
“En?” vra Karolien.
“Ek . . .” Isla druk haar vingers teen haar slape waar ’n hoofpyn dofweg klop.
Karolien sit ’n arm om Isla se skouers. “Goeiste, vriendin, jy bewe so groot soos wat jy is. Ek het jou nog nooit so ontsteld gesien nie. Wat het gebeur?”
“Oukei, ek sal julle vertel, maar belowe my een ding – niémand anders hoor hiervan nie.”
“Natuurlik,” sê Leah. “Wat om dié tafel gesê word, bly om die tafel.”
Isla skep bewerig asem. “Frik het my vanoggend alleen in die kombuis gekry. Voor ek besef het wat hy wou doen, het hy sy arms van agter om my geslaan . . .”
Sy ril: Sy asem en die soet reuk van sy naskeermiddel – of wat dit ook al is – sal sy moet gaan afwas. “Instink het net eenvoudig oorgeneem. Ek het met die hak van my skoen op sy voet getrap en uitgestorm, reguit na die hoof van menslike hulpbronne. Die opnames wat ek van sy gesprekke gemaak het, het alles gesê. Dit was nie eens nodig om te probeer verduidelik nie. Skynbaar is ek nie die enigste een wat oor hom kla nie, ek is net die eerste een wat bewyse het.”
“En toe?” vra Leah.
“Die man het my verseker hulle gaan dadelik werk maak daarvan. Ek is terug na my kantoor toe. Seker ’n uur later het Frik daar ingestorm. Hy is afgedank en moes dadelik sy goed vat en loop. Hy het die vreeslikste . . .” sy sien weer die wilde oë voor haar en moet sluk voor sy verder kan praat, “. . . goed vir my gesê. Ek wil regtig nie alles herhaal nie. Sy laaste woorde aan my was dat hy my lewe gaan hel maak en hy sal seker maak dat ek nooit weer rustig slaap nie.”
Karolien se foon is in haar hand nog voor Isla klaar gepraat het. “Ek gaan vir Stefan bel . . .”
“Nee!” roep Isla ontsteld uit. “Julle het belowe!”
“Dié man klink vir my versteurd,” sê Karolien. “As jy nie met Stefan wil praat nie, praat met Janco. Jy ken hom mos al jare, hy’s soos ’n broer vir jou!”
Die histeriese giggel wat wil uitglip, sluk Isla verbete terug. Die stomende drome wat sy al oor Janco Watermeyer, Karolien se veels té aantreklike broer gehad het, kan sy op geen manier as “broederlik” beskryf nie.
Die allerlaaste mens wat mag weet wat met haar gebeur het, is hy. Sedert die aand van Karolien en Stefan se troue, toe sy die bruidsruiker gevang en Janco daarna met haar gedans het, probeer sy om liewer so min moontlik met hom oogkontak te maak.
Aan die vreemde vibrasies wat daardie aand tussen hulle was, wil sy glad nie dink nie. Sy onthou net sy warm hand om hare, die ander een teen haar rug en sy muskusgeur wat haar bedwelm het.
Lank en blond met ’n paar groen oë wat elke liewe keer haar knieë wil-wil laat knak, is Janco enige vrou se droom, en al is hy nog nie baie lank terug in die Kaap nie, het sy al gehoor daar word gepraat oor die sexy IT-boffin wat nooit ’n vrou meer as een keer uitneem nie.
Isla skud haar kop beslis. “Nee, asseblief nie. Ek wil die hele onsmaaklikheid so gou as moontlik vergeet.”
“As jy seker is,” sê Leah. “Wil jy nie maar vanaand by my kom oorslaap nie?”
Isla neem ’n sluk van haar cappuccino. “Ek is oukei. Ek moes dit net van my hart af kry en die skok uit my gestel kry. Dankie dat ek by julle kon afpak. Dit was die aakligste jaar van my lewe, ek kan nie glo dis nou hopelik verby nie. Maar dis nou eers genoeg oor my. Karolien, hoe gaan dit met babatjie?”
Karolien gee Isla nog ’n bekommerde kyk, maar vryf dan oor haar boepie. “Baie goed, sy’s ’n besige dogtertjie.” Haar gesig straal.
Beide Isla en Leah trek hulle asems diep in. “’n Dogtertjie?” roep hulle saam uit.
Leah gryp Karolien se hand vas. “Ek het gedink julle wil nie weet nie.”
Karolien lag. “Ons gewone dokter kon my nie vanoggend sien nie en sy vennoot het dit laat val, maar ons is so bly ons weet nou. Daar is nie meer baie tyd oor nie, seker nog so tien dae voor sy kom, maar Stefan wou sommer dadelik ’n pop gaan koop.”
“Oe, nou het hy twee girls wat hy kan bederf,” glimlag Isla. “Wat gaan julle haar noem?”
“Ek wil graag my ma vernoem, sy was mos ook Karolien. So ek het gedink aan Kari. Stefan hou ook van die naam.”
“O, ek is mal daaroor,” sug Leah. “Ek gaan nou dadelik iets pienks koop. Wat het jy nog nodig?”
Terwyl die kalmerende klank van haar vriendinne se stemme oor haar spoel, leun Isla terug in haar stoel. Ten minste bewe sy nie meer nie. Of sy ooit Frik se laaste woorde sal vergeet, is ’n ander storie: “Jou klein feeks, rustig slaap gaan jy nooit weer nie, daarvoor sal ek sorg.”
Sy spring op. Werk is al wat nou haar aandag sal aflei. “Dankie, julle, maar ek moet gaan. Ek het vanoggend net mooi niks uitgerig nie. En Leah, jy weet ek wag vir jou manuskrip, nè?”
Leah sug. “Ek weet en ek probeer, glo my. Op die oomblik is my brein net ’n lugleegte.”
“Jou lesers maak my mal, so skryf!” glimlag Isla voor sy met ’n laaste wuif groet en uitstap.
’n Blok vanaf die gebou waar sy werk, raak sy bewus van ’n krieweling in haar nek. Hou iemand haar dop? Vinnig loer sy oor haar skouer. Mense beweeg om haar, maar sy sien niemand wat in haar rigting kyk nie.
Seker net haar verbeelding. Frik is nie meer op kantoor nie, en sy gaan hom nooit weer sien nie. Die krieweling agtervolg haar egter totdat sy in die gebou waar sy werk, instap.
Laat Maandagmiddag staan Janco voor die groot vensters van sy kantoor terwyl hy aan iemand wat duidelik geen kennis van tegnologie het nie, probeer verduidelik wat ’n brandmuur is.
Sy kop is dof, hy het dae laas ordentlik geslaap.
Skadelike sagteware in ’n e-pos wat aan die CEO van ’n groot bank gerig was, is deur kubermisdadigers gebruik om toegang tot die bank se rekenaars te kry. Nou word ’n losprys geëis alvorens die bank se toegang tot hulle data herstel sal word. Dit het vir Janco en sy span baie man-ure geneem om rugsteunkopieë van lêers te maak sodat dit nie nodig was om die losprys te betaal nie. Agterna het hulle ook hulle eie anti-losprysware geïnstalleer.
Hy probeer fokus op die kliënt met wie hy praat. “In die hart van ’n firewall is ’n komplekse meganisme wat werk om ons digitale ervarings te beveilig,” probeer hy dit vereenvoudig. “Hierdie hekwagters monitor datapakkies om te bepaal of hulle moet deurgaan of weggegooi moet word, gebaseer op gespesifiseerde sekuriteitskriteria.”
Terwyl hy praat, is daar ’n geluid agter hom en hy kyk om. Stefan, sy swaer en hoof- uitvoerende beampte van Bosman Sekuriteite, staan in die deur.
Hy en Stefan ken mekaar reeds van skooldae af en toe Stefan hom verlede jaar genader het om deel te word van die maatskappy, het hy dadelik ingestem. Sedertdien is hy die hoofinligtingsbeampte van Bosman Sekuriteite.
Janco het die afgelope paar jaar by verskeie maatskappye oorsee in dié hoedanigheid gewerk. Soms het sy paaie met dié van Stefan gekruis wanneer hulle saam aan ’n saak gewerk het en hulle ken dus mekaar se werkswyse goed. Sy IT-vaardighede pas goed in Stefan se maatskappy en sluit onder andere in die ontwikkeling en implementering van strategieë en die versekering van datasekuriteit en nakoming van relevante regulasies vir kliënte.
Bosman Sekuriteite doen soms, behalwe kubersekuriteit, ook persoonlike beveiliging van kliënte, en siende dat hy en Stefan reeds lank terug saam opleiding in ’n verskeidenheid gevegskunsvorme gedoen het, kan hy selfs daarmee help wanneer dit nodig is. Soms het wat hy doen, dus niks met rekenaars uit te waai nie en raak dit gevaarlik. Dis egter nie iets waaroor hy ooit met sy pa of Karolien praat nie.
Dit was opwindend om oorsee te woon en werk, maar uiteindelik wou hy terugkom Suid-Afrika toe. Sy pa word ouer, hy sien sy sus te min en die behoefte om nader aan sy familie te wees, het by die dag gegroei. Dit was ook tyd om vastigheid te kry, ’n huis te koop. Om Stefan se aanbod te aanvaar, was dus ’n maklike besluit.
Janco wink vir Stefan nader, maar die man aan die ander kant van die lyn het ’n lang asem en dit duur nog ’n paar minute voor hy die foon kan neersit.
Stefan het nie gaan sit nie, maar leun teen die muur. “Vir ’n stil ou praat jy baie oor die foon,” terg hy.
Janco se oë gly oor sy rekenaarskerm terwyl hy praat. “Dis die grootbaas van ’n maatskappy wat klein begin het, maar vinnig groei en hulle het bewus geword van die noodsaaklikheid van kubersekuriteit. Maar vertel eers, Karolien sê vir my julle weet nou dis ’n dogtertjie wat op pad is.”
Stefan glimlag breëbors. “Ek kan nie wag nie, ons is baie opgewonde. Het sy vir jou gesê sy het gister vir Isla en Leah gesien?”
Iets in Stefan se stem laat hom opkyk. “Nee, wat het gebeur?”
“Dis oor Isla.”
Janco se hart skop teen sy ribbes. Sedert hy verlede jaar met Isla op Stefan en Karolien se troue gedans het, bly die meisiekind in sy gedagtes. Hy ken haar feitlik sy hele lewe lank voel dit vir hom, maar deesdae kyk hy anders na haar. “Wat van haar?”
“Jy het seker al iewers gedurende een van ons kuiers gehoor van haar goor baas?”
Janco knik. Dis nie asof Isla al met hom oor die vent gepraat het nie, maar hy kuier gereeld saam met Karolien en Stefan en dikwels is Leah en Isla ook by. Een of ander tyd in die loop van ’n kuier sal iemand oor Isla se baas uitvra.
Stefan vertel kortliks wat gebeur het.
“Karolien het nie detail vertel nie. Isla het haar gevra om nie daaroor te praat nie,” sê Stefan, “so ek het nie al die besonderhede nie, maar dit klink asof sy deur ’n moeilike tyd is.”
Fronsend kyk Janco na sy pel. “Die vent klink vir my onstabiel. Is jy bekommerd sy dreigemente is ernstig?”
“Dis moeilik om te sê. Isla het ’n woonstel in Die Tuine. Hoe die sekuriteit daar lyk, weet ek nie maar ek het gedink om ’n draai daar te maak en te kyk of haar woonplek ten minste veilig is.”
Janco kyk op sy horlosie. “Dis al amper halfses en jy het ’n vrou wat vir jou wag, ek sal gaan kyk.”
“Oukei, dankie. Ten minste ken sy jou. Karolien sê julle is soos broer en suster. Sien ons jou nog Saterdagaand vir ’n kuier?” vra Stefan op pad uit.
Soos ’n suster? Isla Vosloo? Dit sal die flippen dag wees. “Ja, dankie,” groet Janco voor hy sy motorsleutels optel. Vir ’n oomblik staar hy fronsend voor hom uit.
Isla is sewe jaar jonger as hy. Sy en Leah was saam met Karolien op skool en hulle het gereeld oor en weer by mekaar gekuier. En oukei, ja, daardie tyd was hulle seker soos sussies vir hom. Hulle was nog op laerskool toe hy universiteit toe is en daarna is hy oorsee.
Terwyl hy oorsee gewerk het, het hy nie kontak met Karolien se vriendinne gehad nie behalwe wanneer sy iets oor een van hulle vertel het. Hy het hulle eers weer gesien toe hy verlede jaar Julie teruggekom het Suid-Afrika toe.
Isla en Leah is lankal nie meer laerskooldogters nie en het pragtige vrouens geword. Vandat hy terug is en met haar op Stefan en Karolien se troue gedans het, bly sy oë om een of ander rede altyd soek na Isla. Hy verstaan dit nie regtig nie, maar miskien is dit net omdat sy so flippen mooi is.
Sy is blond en fyn gebou en as hy eerlik is, het sy altyd sy beskermingsinstink wakker gemaak. Nie dat sy dit enigsins sal waardeer as hy dit moet sê nie. Karolien het hom reeds verskeie kere mooi laat verstaan vandag se vrouens is lankal nie meer damsels in distress op soek na ’n ridder op ’n wit perd nie.
Hy stap uit en trek sy kantoordeur agter hom toe. Hy sal moet fyn trap as hy wil seker maak Isla is veilig sonder dat sy aanstoot neem. Dis iets wat hy wel van haar onthou – as sy eers haar kennetjie doer in die lug gesteek het, moet jy oppas.