Skip to main content

Uittreksel | Om aan ’n ster te raak

Een

Shiloh se lyf skiet agteroor in die sitplek toe Yusuf weer vinnig die spoed versnel om teen ’n duin uit te ry. Die jeep kruip ’n entjie oor die kruin van die duin voor hulle weer soos op ’n golf afgly tot onder, net om weer ’n volgende een uit te klim.

Sy vee haar windverwaaide hare eenkant toe, skreef haar oë en verkyk haar aan die patrone wat die wind deur die nag oral oor die gladde sandmure en -heuwels van die Negev-woestyn gegraveer het. Patrone en voortjies, spoortjies van voëls, die spore van kamele of stewels of bande, maar net vir vandag. Môre sal daar weer nuwes wees, nuwe patrone, nuwe spore, ’n nuwe uitsig.

As sy maar nuwe patrone teen haar hart se mure kan graveer, nuwe spore op haar pad kan trap. Nuwe hoop kan optower vir haar lewe.

Maar dit sal ook weer vergaan. Die hele lewe en alles op die aarde, elke mens daarin is net so veranderlik en verganklik soos die spore en die patrone en die duine self, uitgelewer aan die genade van die wind, of die noodlot. Dis net die sterre daar ver in die onbereikbare hemel wat elke nag dieselfde posisie behou, dieselfde patrone vorm, dieselfde beelde teken.

Sy wou net ’n bietjie wegkom, na ’n onbekende, nuwe plek waar sy haarself kan verloor, en weer vind, en hierdie toer was beskikbaar en bekostigbaar.

Net jammer sy kan nie regtig van haarself af wegkom nie. Alles waarvan sy wil wegvlug, sit nog net hier in haar hart. Maar sy wil nie langer haar kop daaroor breek nie, en laat haar morbiede gedagtes saam met die wind wegwaai toe sy weer voor haar kyk.

Die aantreklike profiel van die man skuins voor haar in die passasiersitplek langs Yusuf trek haar aandag en sy kan nie help om hom ’n rukkie langer te bestudeer nie.

Hy het ’n ongewone naam. Azalay, as sy reg onthou. Azalay Barkley.

Uitheems, vol geheime betekenis, en baie mooi, nes sy lang, gevormde neus en sy ferm kakebeenlyn – twee dinge aan ’n man se voorkoms wat nog altyd by haar baie punte getel het. Dit spel vir haar die ou se intelligensie en integriteit uit. Nes ’n ou se tande en hare alles verraai oor hoeveel innerlike trots daar in hom is. Die mate waarin hy hom aanvaarbaar, aangenaam en aantreklik vir ander om hom maak, bepaal na hoeveel waarde hy homself skat.

Azalay voldoen, so lyk dit vir haar, aan al dié vereistes. Hy spog met pêrelwit tande, en wanneer hy glimlag of lag oor iets wat Yusuf sê, strek die plooitjies by sy oë ver af teen sy wange. Dit lyk van hier af elke keer soos son- of sterstrale wat sy oë en sy hele gesig ophelder.

Hy en Yusuf gesels aaneen oor die toer wat verskeie historiese en argeologiese bouterreine insluit en ’n deel van die Speseryroete, baie bekend vanweë die verhaal van die wyse manne uit die Ooste wat volgens tradisie die ster van Bethlehem op die roete gevolg het tot by die stal waar Jesus gebore is. En in Petra gaan hulle die geleentheid kry om ’n kameelrit deur ’n stukkie van die woestyn mee te maak.

Shiloh sien uit na hulle besoek aan die Shobak-kasteel wat die Kruisvaarders in die twaalfde eeu in Jordanië gebou het as hul hoofkwartier terwyl hulle die koninkryk van Jerusalem teen die Moslems en hulle leier Saladin beskerm het. Die toergroep gaan ook een aand in die Feynan-ekolodge in die Dana-biosfeerreservaat in Jordanië oornag waar ’n eg Bedoeïense ervaring op hulle wag.

Oor twee weke eindig die toer by die oudste aanbiddingsplek in die geskiedenis van die mensdom, Göbekli Tepe. Die opgrawingswerk is uiteindelik na vele jare voltooi en die terrein gereed om in sy volle glorie deur toeriste besoek te word. Dis glo ongeveer 12 000 jaar oud, en ’n prehistoriese tempel êrens in die berge in die suide van Turkye waar mense hulle god Sirius aanbid het. Naby die land, voorheen bekend as Mesopotamië, waar Abraham van die Ou Testament ook heel moontlik die god van sy voorvaders aanbid het toe die Here hom geroep het na ’n nuwe begin.

Die gesuis van die wind en die gedreun van die jeep se enjin deur die oop vensters demp kort-kort hul stemme, en haar gedagtes word in beslag geneem deur ander dinge. Dinge wat sy wens in die wind weggewaai en uitgevee kan word soos al daardie patrone en spore in die sand. Die lewe het diep groewe in haar siel gemaak, groewe wat nie soos kunstige patrone lyk nie.

Die diep gedruis van Azalay se baritonstem skep tog ’n eienaardige gevoel van gerusstelling by haar. Haar oë bly oor hom dwaal. Sy vel en hare is donker, anders as Sten s’n wat met ’n goue skynsel glim as die son daaroor speel. Sy oë is ’n donker staalblou, anders as Sten se koelblou oë, en sy skouers baie vierkantiger as Sten s’n.

Die vergelyking, die spontane bewondering vir hom, die eienaardig kalmerende, maar terselfdertyd opwindende uitwerking wat sy teenwoordigheid op haar gemoed het, is sonder twyfel toe te skryf daaraan dat hy die een is wat op die laaste minuut by die groep aangesluit het voor hulle op hulle “ontdekkingsreis” deur die woestyn vertrek het. Hy het Sten vervang wat haar ’n paar weke gelede gedrop en haar aan haar eie geselskap oorgelaat het vir die toer.

Nie dat sy ongelukkig daaroor is nie, sy is baie bly Sten het uiteindelik besluit om nie saam te kom nie.

Sy kyk weer by haar venster uit, ver oor die beeldskone landskap, sit skielik penorent toe ’n ry kamele teen ’n duin daar skuins voor hulle verskyn. Dis ’n prentjie wat sy nog net op foto’s gesien het en sy sit nou effens vooroor, vol afwagting, haar maag die ene fladderings terwyl die jeep hulle vinnig inhaal.

Die buitelyne van die kamele en die ruiters hoog op die diere se rûe raak al duideliker teen die blou horison afgeëts. Hulle eksotiese voorkoms fassineer haar, en sy wens vir ’n oomblik sy kan saam met hulle gaan, weg na daardie fassinerende, eksotiese, gelukkige wêreld wat hulle op hierdie oomblik vir haar voorhou.

’n Oorverdowende knal ruk haar terug in die werklikheid. Sy gil paniekbevange toe die jeep met hulle almal deur die lug skiet en teen ’n duin verder aan geslinger word.

Het ’n band gebars, of het hulle een van daardie kamele getref?

Hulle tol om en om, eindeloos, vasgevang in ’n sandstorm wat om hulle uitgebreek het. Paula, die meisie op die sitplek langs haar, se naels kerf in die vel van haar arm terwyl sy styf aan haar vashou. Sy self gryp tevergeefs na vashouplek en knyp haar oë paniekbevange toe teen ’n digte wolk stof en sand wat die hele jeep vul en haar begin versmoor.

Die jeep kantel weer en haar kop ruk eenkant toe, tref die kant van die deur met ’n harde slag. Alles om haar raak swart.