Skip to main content

Uittreksel | Olie vir jou lamp

DIE LEWE IS KOSBAAR

Paulus het aan die ouderlinge van die gemeente van Efese gesê: Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie: Om die Goeie Nuus te verkondig dat God mense liefhet sonder dat hulle iets hoef te doen om dit te verdien.
– HANDELINGE 20:24

Die effek van Covid-19 gaan lank deel van ons lewens wees, maar dit het ons geleer: Die lewe is kosbaar! Moenie jou werk, huis, kar, familie of gesondheid as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons moet leer om eenvoudiger te lewe, te vergeet van luukshede en te fokus op God. Wanneer die Here die middelpunt van ons daaglikse lewe is, sien ons dinge anders. Skielik maak ’n groot huis en baie geld nie meer saak nie. Ons waardeer dinge meer. Ons is dankbaar vir klein dingetjies wat ons voorheen misgekyk het. Skielik maak luukshede nie meer saak nie. Lewe maak saak. Familie maak saak. Jou verhouding met die Here maak saak. Jy is dankbaar vir klein dingetjies wat jy voorheen misgekyk het. Die Covid-pandemie het ’n paar van ons wakker geskud.
Almal het in hierdie tyd swaarkry beleef. Sommige het alles verloor. Ander het geliefdes aan die dood afgestaan. En al is so baie reeds van ons weggeneem, bly God se liefde steeds by ons. Jesus se antwoord was: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” (Matteus 22:37)

Here, baie dankie vir hierdie dag, dankie vir dit wat ek het en dankie dat U ons bewaar het deur die nag. Wees vandag in beheer van my lewe. Ek het U nodig. Dankie, Jesus. Amen.


GESKENKE

Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik. As God aan jou die gawe gegee het om te profeteer, moet jy dit aanwend in ooreenstemming met ons geloofsoortuigings. As dit is om ander te dien, doen dit met oorgawe. As jy onderrig gee, gee dan kwaliteitonderrig. As dit is om ander op te beur, lê jou daarop toe. As jy materiële ondersteuning kan gee, doen dit sonder bymotiewe. As God aan jou leierseienskappe gegee het, hanteer dit met toewyding. En as jy die gawe het om ander in hulle nood by te staan, doen dit met ’n vrolike hart.
– ROMEINE 12:6-8

Wanneer jy vandag ’n nuwe dag sien, weet dat dit ’n geskenk is. En ons hou tog almal daarvan om geskenke te ontvang. God se geskenke is só baie, ons kan dit nie opnoem nie: ’n nuwe dag, vars lug, gesondheid, ware en opregte vriende, energie om die dag aan te pak, familie en baie ander. Weet jy dat Jesus se liefde die grootste geskenk is wat ek nog ooit gekry het? Die mooiste dinge in jou lewe kom uit die Here se hand. Jou geloof is ’n geskenk uit sy hand. Met Covid-19 het sommige opnuut geleer om die geskenk van rustigheid te waardeer. Jy kon weer die voëltjies hoor. Tyd inruim om te bid. God het vir ons ekstra tyd gegee om weer te besef wat ons agterweë laat. God gee soveel geskenke, maar sien ons dit ooit raak?

Here, aan die begin van hierdie nuwe dag sê ek baie dankie vir al die geskenke in my lewe. Dankie vir al die voorregte wat ek elke dag geniet. Maak my oë oop sodat ek nie die geskenke uit u hand sal miskyk nie. Dankie, Jesus. Amen.


ALLES KAN VINNIG VERANDER, BLY GEFOKUS

Alles om ons verander, maar God bly dieselfde. Vandag, môre en elke ander dag. Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!
– HEBREËRS 13:8

Jy hoef nie te google om Hom te vind nie. Hy is oral. Jy het nie internet of Wi-Fi nodig om met God te kommunikeer nie. Al sou hulle die kabels steel of al sou die toring omwaai, is daar steeds ’n direkte lyn beskikbaar om met God te praat. Hy slaap nooit. Hy is altyd beskikbaar.

Hy wat oor Israel waak, sal nooit sluimer of slaap nie.
– PSALMS 121:4

Ons moet net gefokus bly, want dinge kan so vinnig verander.

Focus not on the winds,
but on the setting of the sail.
Not on the howling of the storm,
but the voice of the captain.
Not on the darkness of the sea,
but the lighthouse on the shore.
Not on the density of the fog,
but the true north of the compass.
Not the restlessness of the waves,
but the anchor that holds steady.
– SKRYWER ONBEKEND


Here, ek het die afgelope tyd gesien hoe vinnig die lewe kan verander. Help my om altyd op U gefokus te bly en nie op die storm, die donkerte, die mistigheid, of die onstuimige golwe wat die lewe maak nie. Ek vertrou op U as my anker in enige storm wat wag. Dankie, Jesus. Amen.