Skip to main content

Uittreksel | Nuwe vlam vir Vincent

Een

“Moeks, ek moet iets vir jou sê.”

Mara laat sak haar eetgerei en kyk agterdogtig na haar dogter. Sy word net “moeks” wanneer sy in die moeilikheid is of ’n groot guns wil vra, anders is sy “ma”.

Oorkant die etenstafel lyk Danita skuldig. Sy kyk vinnig na haar man, Helmut, wat sy skouers be­daard ophaal.

“Pa kom kuier.”

Net ’n oomblik is Mara haar ewewig kwyt, dan glimlag sy dunlip. “O, wanneer kom hy?”

Daar is ’n effense huiwering voor Danita ant­woord: “Môre.”

“Dis lekker, vir die naweek?” Ongeërg druk Mara ’n aartappelwiggie in haar mond.

“Nee . . . um, vir drie maande.”

Almal hou op eet, selfs Helmut kou stadiger, en ’n behoedsame stilte daal oor die tafel. Die vierja­rige Keagan kyk onseker na die grootmense.

“Drie máánde?” maak Mara seker dis nie drie aande nie, en Danita knik ongemaklik.

“Ja.”

“Ek sien. Is daar iets wat ek moet weet?” vra sy koel.

Danita leun oor na Keagan. “Eet jou wortels, toe.” En in dieselfde asem vir Mara: “Ons sal netnou verder gesels.”


Terwyl Danita vir Keagan in die bed sit, stap Mara uit op die terras. Dis ’n winderige aand en die seewind klap haar hare oor haar gesig en ruk aan haar klere. Helmut het naggesê en in sy kantoor gaan werk; hy meng selde in met familiedramas, iets waarvoor sy vanaand ekstra dankbaar is. Want vyftien jaar ná hulle egskeiding is Vincent steeds ’n teer puntjie. Eintlik meer ’n irritasie.

Sy vou haar arms om haar lyf. So, Vincent kom kuier. Nie dat dit ongewoon is nie, maar ’n besoek van drie maande is beslis vreemd. Iets is fout, sy voel dit in haar gebeente. Of miskien is dit net die ouderdom. Op sestig sien ’n mens maklik werk­like pyne vir voorgevoelens aan. Maar hoekom het Danita niks van Sjerene gesê nie?

Diep agter op die donker oseaan gly twee skepe stadig by mekaar verby. Soos sy en Vincent: twee skepe in die nag. Sy grinnik. Oukei, Mara Honniball, nou is jy melodramaties. Met ’n suggie draai sy om en staar na die huis. Dis die ene glas en ligte, ’n es­tetiese kragtoer, selfs in ’n spogbuurt soos hierdie.

Eindelik kom Danita op die patio uit. Die wind druk haar bloes teen haar lyf vas sodat haar swanger maag soos ’n jogabal lyk. Met haar hand op haar rug tuur sy deur die subtiel verligte tuin, dan sien sy vir Mara en kom nader.

“Wil Ma inkom?”

“Nee wat, ons sit sommer hier.”

Mara sak kruisbeen af op die grasperk. Iets wat nie elke sestigjarige meer kan doen nie, gun sy haarself ’n ydel gedagte. Met ’n steungeluid gaan sit Danita langs haar en staar na die skepe se deinserige ligte.

“Wat gaan aan, Danita? Jou pa het nog nooit so lank kom kuier nie. Is hy siek, of iets?”

“Sjerene het hom gelos.”

Dit vat ’n oomblik om in te sink. “Wat bedoel jy gelos?”

“Sy’t hom vir ’n egskeiding gedagvaar. Eintlik al ’n hele ruk terug, die egskeiding is reeds afgehan­del.”

“Hoekom het jy nie vir my gesê nie?” Mara is ver­stom.

“Hoekom, sodat jy ’n voedoepoppie kan maak en ’n paar spelde daarin kan druk?”

Mara kyk geskok na haar. “Dis ’n dwarsklap.”

“Jammer, dit was seker onnodig.” Danita sug. “Ek is net so moeg vir die eierdans tussen julle twee.”

Mara gaap haar aan. Eierdans? Sy het dan twee jaar met die egskeiding gewag tot Danita klaar ma­triek geskryf het om die skade te beperk. Blykbaar was die vasbyt onnodig, as haar dogter voel sy loop op eiers. Sy temper met moeite haar stemtoon. “So, nou kom hy sy wonde hier lek?”

“Ma.” Danita se gesig is somber toe sy na haar kyk. “Dis meer as wonde lek. Pa . . . dit gaan nie goed met hom nie. Hy het ’n ineenstorting gehad, hy was weke lank in ’n senukliniek.”

Mara se mond val oop. “Jou pa was in ’n kliniek?” Dis nou dieselfde man wat altyd neerhalend verwys het na die “swakkelinge” wat op sulke plekke gaan simpatie soek.

“Ja.”

“Wel, ek moet erken ek is verstom.” Dis onmoont­lik om nie sarkasties te klink nie.

Danita frons kwaai. “Pa is baie broos, Ma. Hy het nodig om homself weer te vind. Hy het óns nodig.”

“O nee, Danita, daar maak jy ’n fout.” Die wind piets haar een oorring aanhoudend teen haar wang sodat Mara ergerlik daarna gryp. “Jou pa het my nog nooit nodig gehad nie. Vir jou, ja, en ek weet hy is erg oor Keagan.”

Vir hulle het Vincent opreg lief, sy was net iemand wat hy wou hê omdat sy haar hardekwas gehou het. Sy staan abrup op en stof haar rok af. “Maar dit daar gelaat. Dis goed, laat hy dan kom, as hy julle nodig het om homself weer te vind. Ek sal my skaars hou.”

“Jy kan nie drie maande hier wegbly nie!”

“Julle kan by my kom kuier, enige tyd. Maar ter­wyl jou pa in hierdie huis bly, geestelik krank of nie, sit ek nie my voete hier nie. Nag, Danita.”

Sy is al amper by haar motor toe Danita se stem haar tot stilstand ruk. “Hy gaan nie by ons bly nie.”

Met ’n naar voorgevoel draai sy om. “Waar dan?”

“In ons huurhuis.”

Die gemeubileerde vakansiehuis langs hare wat op die oomblik leeg staan. Mara kan net stom na haar dogter staar.

Danita sukkel orent. “Ek is jammer as dit vir jou ongemaklik is, maar ek wil hê Pa moet op sy eie bly. Dis belangrik dat hy onafhanklik voel en vir homself sorg.”

Van wanneer af is Vincent nie onafhanklik nie? ’n Duisend gedagtes vlieg soos vlermuise deur haar kop en borrel halsoorkop by haar mond uit. “Moe­nie vir my sê die ou bokkom is boonop bankrot ook nie.”

“Ma! Kan jy ’n bietjie simpatie hê, asseblief?”

Simpatie? Danita kon haar netsowel vir ’n sak goud gevra het. Sy het nie een van die twee nie.

“En nee, hy is nie bankrot nie, alhoewel hy seker heelwat armer is ná die skikking met Sjerene.”

Elke ding het sy prys, nè, en fake diamonds kos op die ou end die duurste. Wonderbaarlik kry Mara dit reg om dié juweeltjie vir haarself te hou.

“Moeks.” Danita kom sit haar hand pleitend op Mara se arm. “Al wat ek vra, is dat julle beskaafd met mekaar moet wees. Asseblief.”

Nog ’n sak goud. Mara sug. “Ons is mos altyd, Danita.”

“Ja, julle is, maar ek vra meer as net bolangse ordentlikheid. Ek is werklik bekommerd oor Pa.”

Daar is ’n lang stilte voor Mara gelate sê: “Fine, ek sal probeer.”

“Dankie, Moeks, ek het geweet ek kan op jou staatmaak.”

Toe Danita haar arms om Mara se lyf sit, verteder sy. Vir haar enigste kind sal sy dit doen. Of min­stens haar bes doen.

Laatnag sit Mara nog op haar huis se stoep, opgekrul op ’n blou pandjieswinkel-houtbank. Die huis waarmee Vincent homself destyds vrygekoop het van haar. Een van die min goeie dinge wat sy uit hulle huwelik gekry het. Die ruim huis in die luukse sekuriteitsoord is veilig, die breë stoep aan twee kante bied ’n onbelemmerde uitsig op die strand en is ideaal om op reënerige dae te staan en skilder of kuns te doen. Haar geluksbeker het oorgeloop toe haar argitekskoonseun kort voor Keagan se geboorte vir hulle ’n huis binne loopafstand op ’n stranderf bou en die huis langs hare as ’n belegging aanskaf. Nooit het sy kon droom die seëning sou eendag ’n las word nie.

Bedruk staar sy na die koue swart glasvensters van die buurhuis. Môreaand sal daar ligte skyn en Vincent se duur motor sal onder die afdak staan. Wanneer het sy hom laas gesien? Seker maklik ’n jaar gelede. Hy was voor Danita-hulle se huis in sy mo­tor se bagasiebak doenig. Sy het net ’n skrams blik gekry voor sy omgedraai en weggestap het. Maar dit was lank genoeg om te sien hy is steeds aantreklik, sy status as pensionaris ten spyt. Skouers wel smaller en ’n effense boepie onder die duur gholfhemp, maar sy bruingebrande bene in die kniebroek steeds ’n tweede kyk werd, al kon sy ’n spataar of twee sien.

Hoe sou hy ná die ineenstorting lyk? Sy kan haar ’n verwese Vincent nie voorstel nie; in voor-of teëspoed het hy nog altyd goed gelyk. Die dag toe Danita op haar matriekvakansie vertrek en Mara alleen in ’n woonstel tot ná die egskeiding ingetrek het, was hy ’n ruk lank effens verlep. Maar elke keer daarna wanneer hy van een van sy meisies of vrouens ontslae geraak het, het hy geskitter. Asof die vooruitsig aan sy vryheid of die moontlikheid van ’n nuwe jagtog hom nuwe woema gee. G’n wonder sy universiteitsvriende het hom Pingpong gedoop nie. Ongeag wat, Vincent bons altyd terug. En hierdie keer bons hy tot reg langs haar. Maar as hy ’n ineen­storting gehad het, is daar seker nie veel bons in hom oor nie. Hy lyk waarskynlik nou soos ’n opblaasma­tras wat al te veel kampuitstappies beleef het.
Gelukkig is sy elastisiteit nou Danita se probleem.