Skip to main content

Uittreksel | Nuwe môre vir die hart

Proloog

Die see is onstuimig vanoggend. ’n Sterk wind dryf die golwe aan sodat hulle donderend teen die rotse bots en wit skuim hoog in die lug opskiet. Die strand is verlate behalwe vir die paar seevoëls wat iets te aas aan die soom van die branders soek.

Alida trek haar windbaadjie stywer om haar vas waar sy teen die duin sit en gefassineerd na die stormagtige toneel staar. Dis vir haar asof die som­ber dag en die woeste wind en onstuimige golwe volkome weerklank vind in haar eie gemoed. Sy probeer dit nie eens meer vir haarself ontken nie: Sy is in die greep van ’n matelose depressie wat dreig om haar te oorweldig.

Hoe kon haar lewe in een jaar so radikaal verander het, vra sy haarself amper verwonder af. Verlede jaar hierdie tyd – Aprilmaand, en die stad geklee in bontmooi herfskleure – was sy ’n verliefde en dolgelukkige matriekmeisie met ’n rooskleurige toekoms voor haar. Sy en André was saam in die klas en hulle paadjie vorentoe was klaar uitgestip­pel. Hulle sou matriek met vlieënde vaandels slaag en daarna sou hulle grootmenslewe begin. Eers sou daar die lang en luilekker vakansie wees, sy saam met haar ma-hulle en sussie by haar ouma in Kleinmond, en André by sy mense in Stilbaai. Sy het klaar seker gemaak van die afstand tussen die twee seedorpe en besluit twee honderd vyf en veertig kilometer is darem nie baie ver nie. Boonop was hulle ouers in die stad bure en ook goeie vriende, en hulle sou mekaar graag gedurende die vakansie wou sien. Dan kon sy by die Jouberts of André by hulle agterbly.
Terug in Pretoria vroeg-Januarie sou hulle al twee regmaak vir die nuwe avontuur: Stellenbosch en die studentelewe. André wou regte gaan studeer en sy Beeldende Kunste. André se pa het klaar by ’n kollega vir hom ’n tweedehandse Toyota Corolla met min kilometer op gekoop. Hulle sou daarmee Kaap toe ry voordat die universiteit begin. Soveel planne . . . Totdat sy en André op ’n koue Saterdagaand in Julie alleen by die huis was en saam onder haar duvet gesit het, hard besig om meetkundeprobleme uit te pluis. Haar ouers en Karlien het gaan fliek. Sy sou saamgaan, maar op die laaste minuut het sy gesê sy en André gaan liewer die aand aan hulle meetkunde werk.

“Is dit wat julle dit deesdae noem?” het haar pa nog geterg. Dit was duidelik dat hy en haar ma en ook André se ouers in die huis langsaan glad nie huiwerig was om hulle alleen te laat nie. Hulle was immers goed grootgemaak.
Sy en André was later vaak en koud en het langs mekaar onder die duvet ingekruip. Hulle het lank doodstil gelê en sy het gevoel hoedat hulle liggaamshitte die koue verdryf. Sy het naderhand ingesluimer maar iets, ’n streling teen haar wang, het haar weer wakker gemaak. Dis André wat haar terg deur haar aanhoudend op haar wang te soen, het sy besef en geglimlag. Toe sy egter na hom opkyk waar hy oor haar gebuk gelê het, wou sy nie meer glimlag nie. Sy gesig was teenaan hare en sy oë nog donkerder as gewoonlik. Haar eie blik het voor die drif in syne geval, en half skaam het sy probeer regop sit. André het sy arms om haar gesit en haar gekeer, haar styf teen hom vasgetrek. Toe het hy liefkosend met sy lippe oor hare gestreel, haar saggies gesoen en liefdeswoorde in haar oor gefluister. Week van verlange na iets waarvan sy die naam nie geken het nie, het sy haar vingers in sy hare gestrengel en haar gesig opnuut na syne gelig. Sy soene het al hoe vuriger geraak en sy kon die hartstog tussen hulle voel oplaai. Oorgegee aan die matelose opwinding van die oomblik het sy nie die toenemend intiemer streling van sy hande probeer keer nie. Eers toe dit te laat was, het sy besef hulle het ’n grens oorgesteek en dat daar nie meer omdraaikans was nie.
Natuurlik het hulle skuldig gevoel ná daardie eerste keer en mekaar probeer verseker dat dit nie weer sou gebeur nie. Dit was tevergeefs, want juis hulle skuldgevoel, maar ook die nuutheid en opwinding van wat hulle gedoen het, het hulle meer as een maal weer laat swig. Hulle het darem getrou die “onveilige tye” vermy wat haar kalender uit­gewys het. Op ’n lenteaand in September met die bedwelmende geur van jasmyn in die lug en hulle al twee se hormone buite beheer, kon sy egter nie die afloop van hulle vurige liefkosings keer nie; sy het geweet dis ’n fout . . .

Alida staar amper gehipnotiseer na die reëlmatige kragspel van die golwe. Eers is daar die deining dieper in die see, wat later as ’n reuse-grys brander ontsagwekkend nader kom. Dan is daar meteens die sagte blougroen skynsel in die kurwe waar die golf begin breek voordat dit skuimend na die strand toe aangestroom kom. Verder na regs is die rotsplaat waarteen ander golwe hulle met ’n dowwe gedreun te pletter loop, in die lug opskiet en as ’n sproeireën oor die rotse sprei. Dit is op daardie rotsplaat dat die fratsgolf, toe sy gedink het dis nog laagwater, met on­verwagte krag opgespat het. Sy het probeer wegtree, maar haar voete het gegly en sy het geval. Op daardie noodlottige dag, nou meer as twee maande gelede, het sy die dogtertjie wat sy verwag het, verloor.

Sy was onverwags onbedoeld vry om met haar eie lewe aan te gaan, te vergeet van haar en André se onbesonne oortreding. Die sigbare gevolg daarvan was immers nou weg. Sy was jonk en fiks genoeg om ná die eerste paar weke se pyn en ongemak re­delik maklik weer aan te sterk. ’n Mate van verligting omdat haar swangerskap beëindig is, sou verstaan­baar wees, het Alida geskok uit haar ouma se reaksie afgelei. Hoe sy in werklikheid gevoel het, was leeg. Daar waar sy al daagliks met ’n vreemde ontroering die ligte bewegings van ’n nuwe lewe in haar voel roer het, was dit doodstil. Die ginekoloog in Herma­nus wat sy maandeliks besoek het, sou haar nie weer kon laat luister na die sagte maar duidelike hartklop van haar dogtertjie nie. Sy sou ook nie langer in die vroegoggendure wanneer sy wakker geword en gelê en nadink het oor alles wat gebeur het, in ’n fluister­stem met haar ongebore kindjie kon gesels nie.

Wat het sy alles vir Cara – “geliefde meisie”, dit was die naam wat sy vooraf al vir haar dogtertjie uitgekies het – vertel? Dat haar pa ’n pragtige en talentvolle man is met die mooiste donker oë en stoute glimlag, een wat sy eie liedjies skryf en op sy kitaar speel. Dat hy die aand vroeg in Desember toe hy saam met sy ouers permanent op pad was Kaap toe en kom groet het, vir haar vertel het van sy pa se voorstel dat hy en Alida hulle verhouding liefs moet beëindig omdat hulle mekaar altyd aan hulle mis­stap sou herinner. Later kon hulle dan al twee met iemand anders nuut begin. Hoedat sy afgelei het dat hy daarmee saamstem, in trane uitgebars en by die vertrek uitgehardloop het. Sy het vertel van André se talle e-posse en boodskappe daarna, hoedat sy alles uitgevee het sonder om dit te lees, die foon doodge­druk het wanneer sy sien dis hy wat bel. Van die groot bedrag wat hy in haar bankrekening inbetaal het.

Sy het probeer verduidelik dat sy te seergemaak en eergevoelig was om sy toenadering te aanvaar. Dat sy nie kon help om bitter te voel omdat sy nou alleen die gevolge dra terwyl hy soos beplan Stellen­bosch toe kon gaan nie. Haar ma het haar vertel dat André se pa aanvanklik daarop aangedring het dat hy gaan werk en sy studie uitstel om by te dra tot haar mediese koste, maar dat sy ouer broer, Louis, tussen­beide getree en vir hom die geld voorgeskiet het.

Veral het sy haar ongebore dogtertjie keer op keer daarvan verseker dat sy nie maar net in oomblikke van blinde hartstog verwek is nie, dat haar ouers lief was vir mekaar en, al was hulle so nog so jonk, geglo het in ’n toekoms saam. Sy sou, het sy saggies belowe, sommer gou ná die geboorte vir Cara neem om haar ander oupa en ouma en haar pa te ontmoet. As hulle dit sou verwelkom, kon hulle deel van Cara se lewe word. Sy en André sou nooit weer saam wees nie, maar hy sou altyd Cara se pa bly en hy sou self kon besluit in watter mate hy by haar betrokke wou wees.

Alles tevergeefs. Haar lang fluistergesprekke met haar dogtertjie, die verduidelikings en beloftes, die lang wag en die uitsien na die bondeltjie wat sy teen haar bors sou kon koester, die een vir wie sy om ver­gifnis sou kon vra vir die onreg wat sy en André haar aangedoen het, was alles tevergeefs.

“Ag nee, Alida-kind, hoe sit jy dan nou hier so in wind en weer?” hoor sy meteens haar ouma Bets se uitasem stem hier reg agter haar en sy spring ontsteld op. ’n Harttoestand is by haar ouma gediagnoseer en sy mag haar glad nie so ooreis nie. Sy slaan haar arm haastig om haar ouma se skraal lyf en help haar teen die duin op. Kort-kort gaan sy eers staan wanneer sy agterkom die ouer vrou se asem is baie kort en dat sy al swaarder teen haar klein­dogter aanleun. Uiteindelik kan sy Ouma darem op die lêstoel op haar stoep teen die kussings gemaklik maak. Marta, die jare lange hulp wat nou by Ouma inwoon, kom op daardie oomblik met ’n skinkbord met ’n teepot en koppies by die voordeur uitgeloop.

“My jimmel, Mammie,” spreek sy haar werkgewer aan soos wat sy haar leer noem het toe Alida se ma-hulle klein was en Marta agter hulle aan gepraat het, “waarom hol jy so agter die kind aan? Sy’s mos lank­al groot genoeg om haarselwers op te pas! Ek gaan soek innie kamer, maar niks. Toe dag ek jy wag al vir tee hier oppie stoep, maar nee, niemand hierie. En toe kyk ek so oorie sie uit en eers dag ek my oë lieg vir my, maar toe sal ek sien dis sowaar Mammie wat saam Alida teen die duin uitgesikkel kom.”

Marta sit die skinkbord op die houttafeltjie langs Ouma se stoel neer en skink haar tee in, roer melk en twee lepels suiker by en gee die koppie aan, haar gesig die ene besorgdheid.

“Gaan kry vir jou ouma ’n pilletjie in daai bruin bottel langs haar bed,” beveel sy Alida nou kwaai. Alida gaan haastig om die opdrag uit te voer, want sy en Karlien het van kleins af geleer dat Marta se woord net soveel gesag dra as hulle ouers of hulle ouma s’n.

Ouma neem die pilletjie sonder kommentaar en sluk dit saam met haar tee weg. Alida sien kort daarna verlig hoedat ’n bietjie kleur in haar ouma se gesig terugkom en hoe sy skeef vir Marta glimlag.

“’n Koppie tee is al wat nodig was,” verseker sy haar toegewyde hulp. “Jy kan nou maar ophou om soos ’n broeis hen hier om my te kloek en jou brek­fis gaan eet!”

Marta sien blykbaar ook dat haar “mammie” beter lyk en draai weg binnetoe, maar nie voordat sy Alida ’n paar tellings lank fronsend staan en aankyk het en toe haar kop met duidelike ontevredenheid heen en weer geskud het nie. Alida hoef ook nie te wonder waarom Marta so kwaai na haar gekyk het nie. Dis omdat sy, Alida, nie die hartseer en somber­heid afgeskud kry nie en dit haar ouma bekommerd en ongelukkig maak. Marta neem haar kwalik om­dat sy dit vir Ouma nodig gemaak het om na haar te gaan soek, moontlik uit vrees dat haar kleindogter so depressief is dat sy dalk iets onverantwoordeliks kan aanvang.


Toe sy later sou terugkyk, het Alida geweet daar­die stormagtige dag van grys see en somber gedagtes was die draaipunt. Haar ouma se ontstelte­nis en Marta se kwaai kyk, asof dit Alida se skuld sou wees as Ouma dié dag daar teen die duin op iets oorgekom het, het haar laat wakker skrik. Sy kon nie so aangaan nie. Dit was selfsugtig. Dit het nie oornag gebeur nie, maar geleidelik het sy vrede gemaak met alles wat in die vorige maande so on­bepland oor haar pad gekom het – deels deur haar eie toedoen, deels vanweë ’n ongeluk.

Die herfs word winter, en die datum vroeg in Ju­nie waarop haar dogtertjie gebore sou word, kom en gaan. Uiteindelik breek die dag aan waarop sy weet sy is reg om weer te begin skilder. Sy soek al van vroegoggend af alles bymekaar, want sy was maande lank nie in die kamer langs hare waar haar pa al haar “skildergoeters” gebêre het nie. Dis wat hy dit genoem het toe hy haar na haar ouma toe hier op Kleinmond gebring het net nadat sy die laaste ma­triekvak geskryf het.

Kort voor tienuur loop sy en Marta swaar be­laai ’n ent met die duin onderkant Ouma se huis af tot waar Alida op daardie grys oggend oor die see sit en tuur het. Sy maak haar esel in die sand staande en sit die wit doek daarop neer, voel vir die eerste keer weer die opgewonde afwagting wat so ’n skoon doek met al sy moontlikhede altyd in haar opwek. Marta het intussen haar tafeltjie opgeslaan, die opvoustoel reggesit en plak met ’n tevrede glim­lag die sak met waterverfhouers, palette, klein en groter kwaste, twee plastiekbottels met water en nog meer goetertjies langsaan neer.

“Paint jy nou maar lekker, Alida, en moenie wor­rie om gou huis toe te kommie,” gee Marta haar toestemming, maar voeg by Alida moet onthou om die groot strooihoed wat Marta in Ouma se kamer vir haar gaan haal het, die hele tyd op te hou. “Al is dit al amper einde van June en supposed to be die middel vannie winter, steek die son hier by twaalf baie warm,” beduie sy. “Ek bring later vir jou ’n flask tee en iets virrie honger.”

Alida aanvaar maar die aanbod sonder om te stry, want sy sal Marta nie kan oortuig dat sy nooit honger word terwyl sy paint nie. Toe Marta weg is, sit sy eers doodstil na die toneel voor haar en kyk. Die see is kalm vanoggend. Dofblou strek dit tot teen die horison voor haar uit, terwyl die branders se kom en gaan mekaar aan die strandkant sonder groot la­waai afwissel. Dis laagwater. Kinders baljaar in die vlak water en buk kort-kort om iets op te tel wanneer ’n brander teruggetrek en die sand oopgelaat het. ’n Dogtertjie in ’n helderpienk swempakkie wat lyk asof sy pas begin loop het, klou aan haar pa se hand vas terwyl sy op vet beentjies al langs die rand van die branders waggel. Toe los sy die hand en gaan sit op die sand. Net toe kom die volgende brander aangerol en voordat die pa kan keer, sit die klein meisie halflyf in die water terwyl ’n bietjie skuim in haar gesiggie spat.

Alida hou eintlik haar asem op, maar toe die pa haastig sy dogtertjie opraap en hoog in die lug hou, begin sy dadelik uitbundig lag. Hoe vinnig kan so ’n klein mensie se buie wissel, dink Alida half verbaas. Kon sy maar so gou ná die skok en hartseer weer sulke uitbundige lewensvreugde ervaar het.

Die klein toneeltjie van die pa en kind het nou vir haar ’n fokuspunt vir haar skildery gegee. Dit sal na ’n gewone seetoneel lyk, maar die gesiggie van ’n kind, sonder die lyf, half versteek in die wit soom van die branders op die strand, sal die kyker se aan­dag onwillekeurig trek en daarna gevange hou.

Toe Alida verf gemeng, haar eerste kwas gedoop en eers die huisies aan die verste hoek van die strand begin skilder het, staan die tyd stil. Sy het da­rem onthou om haar ouma se groot hoed op te sit. Toe Marta ’n uur later ’n mandjie met ’n fles tee en ’n bakkie toebroodjies bring, kyk sy skaars op van die esel. Marta gaan staan reg langs haar, en Alida raak tog later bewus van die ouer vrou se stilswy­ende teenwoordigheid. Sy skud haar kop ’n paar keer heen en weer asof sy haarself moet wakker maak en gaan sit toe gelate eers haar kwaste op die tafel neer.

“Dankie vir die tee, Marta,” sê sy terwyl sy die fles oopmaak om die bekertjie vol te maak. Die rooibostee is lekker warm, swart en suikerloos soos sy daarvan hou. Alida weet sommer Marta sal nie loop voordat sy sien dat sy iets drink en eet nie en daarom haal sy ’n toebroodjie uit die bakkie. Eers daarna loop die ouer vrou weer teen die duin op, en Alida kan die broodjie by die ander terugsit en gou weer haar kwaste optel. Toe sy heelwat later die sagte blou lug met enkele vlieswolke klaar vasgelê het, gaan sy eers weer by die opslaantafel sit. Sy kies ’n donkerder blou en toe ook ’n bietjie grys en liggroen om saam met die ligblou te meng sodat sy met die see kan begin. Toe neem sy darem weer die broodjie wat sy vroeër neergesit het uit die bakkie en skink vir haar nog tee. Sy geniet die vars bruinbrood en die tamatie en blaarslaai wat Marta saam met die ham en kaas op­gesit het. Sy besef nou sy is regtig honger en sy maak die bakkie oop om nog ’n toebroodjie uit te haal.

“Ek sien daar is gelukkig nog baie waar daardie een vandaan kom,” hoor sy meteens die manstem reg agter haar. Sy sit vir ’n oomblik versteen van skrik. Dis vroegmiddag en die vakansiegangers wat deur die loop van die oggend op die strand was, is nou al almal huis toe. Sy sien geen enkele ander mens nie en hier waar haar esel en tafeltjie staan, verberg die rug van die duin haar werkplek op so ’n manier dat niemand in die huise daar bo op haar kan afkyk nie.

Dis darem helder oordag, maan sy haarself tot kalmte. Dis baie onwaarskynlik dat die man sal waag om hier iets aan haar te probeer doen. Haar werkplekkie is vir die oomblik onsigbaar, maar sodra ie­mand teen die duin sou begin afloop, sal hy dadelik alles kan sien wat hier gebeur.

Die vreemde man het vorentoe getree en staan nou langs haar. Sy sien sy voete in veterlose tekkies, twee stewige kuite wat in ’n verbleikte, afgesnyde denim wegraak, en ’n bruingebrande hand wat net-net nie aan haar skouer raak waar sy nog bly sit het nie. Sy skuif die opslaanstoel met ’n bietjie moeite in die sand agteruit en staan beslis op. Wat haar be­tref, kan die rondloper gerus die res van Marta se broodjies vir hom neem mits hy haar net daarna in vrede laat. Tog is daar iets wat nie heeltemal wil rym nie. Nog voordat hy weer praat, weet sy wat dit is. Sy stem is te beskaafd en sy taalgebruik in daardie enkele sin was te netjies om dié van ’n vertoiingde bedelaar of strandloper te kan wees.

Nou kyk sy vir die eerste keer na die man se gesig waar hy steeds stil langs haar staan. Hy is jonger as wat hy geklink het, waarskynlik nog duskant dertig. Sy moet opkyk omdat hy seker ’n kop langer as sy is. Wat nie beteken dat hy ’n baie lang man is nie, want sy is net oor die een komma ses meter. Sy dink nie hy is, in haar ouma se taal, heeltemal ses voet nie. Donker hare hang oor sy voorkop en sy oë is opval­lend groenbruin. Eintlik onbehoorlik lang wimpers vir ’n man, dink Alida vlugtig. Die effense snor op sy bolip en die donker baardstoppels op sy wange en ken kan nie sy fynbesnede maar sterk gelaatstrekke wegsteek nie, en die geheelindruk, moet sy in die stilligheid erken, is dié van ’n besonder aantreklike man. Al lyk hy miskien so ’n bietjie na die rondloper vir wie sy hom nog kort tevore aangesien het, kan sy nou onmiskenbaar aanvoel dat hy ’n ontwikkelde man is en een vir wie sy geensins bang hoef te wees nie. Sy volgende woorde bevestig dit.

“Ekskuus, Juffrou,” sê hy terwyl hy ernstig in haar oë afkyk, “ek besef nou eers dat ek jou laat skrik het. Ja, ek weet ek lyk ná amper drie weke by die see baie soos ’n strandloper, maar wees gerus, jou broodjies is veilig en jy ook! Ek het met die duin hier langsaan opgeloop om koffiebone te gaan koop. My laastes het ek vanoggend gebruik en ek kan eenvoudig nie ’n dag sonder koffie begin nie! Toe sien ek van ver af die skilder hier by die esel staan en toe was ek maar net nuuskierig om te sien hoe die skildery vorder. Dis waarom ek hierlangs afgeloop het. Nogmaals jammer vir die skrik. Goeiemiddag, my naam is Ger­hard.”

“Alida de Wet,” sê sy op haar beurt, al het dit haar opgeval dat hy nie sy van genoem het nie. “En jy was reg: Hier is nog ’n hele paar van Marta se toebrood­jies en ek sal maar te bly wees as jy hulle wil neem. Sy maak altyd te veel en dan is sy vieserig as ek nie alles opeet nie.”

Dit lyk asof die man ’n oomblik aarsel, maar toe glimlag hy skeef en maak hom op die sand langs Marta se mandjie tuis. Hy haal twee broodjies uit en sit hulle met alle tekens van genoegdoening en eet. Alida staan net ’n oomblik lank besluiteloos voordat sy haar palet en kwas optel en weer voor haar esel gaan staan om aan die ontmoeting tussen lug en see op die doek gestalte te gee. Die wasige ineenvloei van poeierblou en grysblou verg konsentrasie en sy let vir eers nie op dat die man – Gerhard – langs haar kom staan het nie.

“Jou kleuraanvoeling is fantasties,” hoor sy hom meteens sê.

“Dankie,” antwoord sy effens kortaf. Sy kan nie help om te wonder of dit net ’n leë kompliment is nie en of hy werklik kennis van kleuraanwending het nie. Hy moes seker besef het sy is skepties, want hy glimlag weer effens.

“Jy wonder seker, juffrou Alida de Wet, of die vent wat jou broodjies afgebedel het en boonop soos ’n skollie lyk, genoeg van kleurgebruik af weet – of van enige iets rakende skilder – om so iets te kan kwytraak,” sê hy reguit.

“En weet jy?” vra sy ietwat koel. “Skilder jy ook?”

“Wel, nee, ek skilder nie self nie, maar in my werksopset kry ek soms te doen met skilders. Ek het party van hulle al uitgevra en self ook nagelees wat die slim mense oor die onderwerp sê. Jy kan maar aanvaar dat ek eerlik bedoel wat ek van jou goeie kleuraanvoeling gesê het.”

“Ek sien. En wat is jou werksopset dan dat jy met skilders te doen kry al is jy nie self een nie?”

“Sien jy,” sê hy sonder om haar te antwoord, en hy wys oor die see heen, “daardie seemeeu wat lyk asof hy tussen die lug en die water hang? Ek dink jy moet hom gou in jou skildery kry voordat hy wegvlieg.”

Die man het nou sowaar ’n kleiner palet uit die sak langs die tafel gaan haal en bring dit saam met die bakkies met swart en wit verf, een van die wa­terbottels en twee kwaste na haar toe. Sy wil-wil haar vervies, maar hy glimlag so breed dat sy ook maar glimlag. Hy neem die groter palet met die see se kleure uit haar hand en bly toe staan en kyk ter­wyl sy die voël inskilder waar hy doodstil in die lug hang presies waar die ligblou lug en die donkerder blou water ontmoet.

“So ja,” sê sy toe sy tevrede is met die meeu, “nou is Gerhard Livingstone Seemeeu in my skildery verewig. Gee nou net asseblief my seekleure terug, want dis klaar gemeng en daar is net nog ’n klein deeltjie wat kort.”

Hy gee dadelik die groter palet aan en gaan spoel toe die kleiner een en die kwaste met water uit die bottel af. Terwyl sy verf, wonder sy of hy nou gaan groet, maar hy bly staan en wag dat sy klaarmaak. Gelukkig, dink sy, is dit nie ’n uitdaging om die see se oppervlak wat vandag rimpelloos vertoon te skilder nie, want anders sou sy moeilik kon werk terwyl hy toekyk.

“So ja. Ek dink dis genoeg vir vandag,” sê sy haas­tig toe sy die laaste kwashaal gegee het en omdraai om haar palet af te spoel. “Neem gerus die orige broodjies saam, Gerhard. Totsiens en dankie vir die geselskap.”

Sy voel onverwags onseker van haarself en wens die man wil nou net die broodjies vat en verder afloop strand toe. Hy het mos aangedui dat hy vroeër van onder af gekom het. Hy bly egter staan en kyk vraend van haar na die sak met haar skildergoed, Marta se mandjie, die opslaantafel en -stoel en die esel met die onvoltooide skildery daarop.

“Dis nou nie dat ek my wil opdring nie, Alida,” merk hy op, “maar dis duidelik dat jy nie hierdie spul alleen bo gaan kry nie. Daar is twee opsies. Ek pas jou skildery en die tafel en stoel op totdat jy terug­kom – verkieslik met iemand wat kom help dra – of ek stap nou saam en dra die swaar goed sodat jy net die mandjie hoef te neem.”

Sy antwoord nie dadelik nie en hulle kyk ’n oomblik stil na mekaar. Sy sien meteens die vonkeling in sy oë en moet ook effens glimlag.

“Nee, ek verstaan,” terg hy haar nou, “kunste­naars is mos nie van hierdie wêreld nie. Die prak­tiese dinge is heel agter in hulle kop. Maar jy moes tog die een of ander plan gehad het om met al hierdie goed by jou huis te kom?”

“My ouma se huis. Ek kuier net.”

Sy weet nie eintlik waarom sy dit so pertinent genoem het nie, maar hy reageer dadelik.

“My strandhuisie was weer my oupa s’n. Dis net agter hierdie eerste ry huise.”

Hy wys na die klompie huisies reg teenaan die strand aan die linkerkant van haar skildery.

“O. En jou oupa?”

“Oorkant na daardie land waarvandaan geen reisiger terugkeer nie, soos die digter beweer. Na my ouma toe. Maar sê nou eers van die opsies. Of wat was in elk geval jou plan?”

Sy is self nie heeltemal seker nie, maar sy probeer so klink.

“Met my sak en die mandjie opstap en dan vir Marta vra om gou weer saam te loop vir die res.”

“En as jy hier terugkom en die een of ander strandloper het intussen jou goed gesteel? Die tafel en stoel is nog vervangbaar, maar wat van jou on­voltooide kunswerk?”

“Wel, dis vir seker nie ’n waardevolle meester­werk nie en boonop halfklaar. Ek dink baie min strandlopers sal dit wil steel.”

“M’m. Jy moenie alle strandlopers vlak kyk nie. Party van hulle kan kwaliteit herken wanneer hulle dit sien. Maar sê nou wat jy verkies: Pas ek op of loop ek saam?”

Sy kyk ’n oomblik reguit na hom, sien die effense glimlag wat in sy mooi groenbruin oë weerspieël word en voel onverwags jonk en verleë. Hy staan daar met sy verbleikte denim en veterlose tekkies en sy donker baardstoppels, maar sy voel nou duidelik aan dat hy ’n man van statuur is. Daar is iets in sy rustige blik wat haar laat glo hy het vrede gemaak met die wêreld en met homself. Hy dra nie ’n trouring nie, merk sy vlugtig op.

“Sal jy dalk saam kan loop? Dis te sê as jy regtig kans sien en tyd het. Is daar nie . . .” Sy aarsel net ’n oomblik voordat sy weer praat: “Is daar nie iemand wat vir jou wag nie?”

“Nee. In daardie huisie van my oupa is daar net die geruis van die see en die roep van die seevoëls en af en toe die wind se geloei vir geselskap. Tyd het ek onbeperk. Toe ek vir die eerste keer in etlike jare vir ’n volle drie weke hierheen kon wegloop, het ek heel eerste my horlosie afgehaal. Tyd mag my werklewe regeer, het ek besluit, maar beslis nie so­lank ek hier is nie.”

Hy het intussen die tafel afgeslaan en hy laat nou die toegevoude kampstoel en daarna die esel met skildery en al versigtig daarop lê. Alida se sak wat swaar is van al die skildergoed, haak hy oor sy skouer en tel toe die tafel met sy vraggie versigtig op. Sy sien ook nou vir die eerste keer die klein rug­sakkie wat nog heeltyd op sy rug was. Seker vir sy koffiebone.

“Nee, Gerhard, jy dra nou amper al die goed,” pro­testeer sy toe sy net met Marta se mandjie staan, maar hy steur hom nie aan haar nie, begin net teen die duin uitstap. Bo wag hy dat sy verbyloop om die pad na haar ouma se huis te wys. Hulle is amper daar toe sy sien hoe Marta haastig by die stoeptrappe af­geloop kom, duidelik op pad êrens heen.

“Maar my goeie aarde, Alida,” begin sy raas nog voordat sy by die tuinhek uit is, “vir wat laat jy die meneer so swaar dra aan al jou goed? Jy moes mos gewiet het ek is nou-nou op pad om jou te help met als.”

Gerhard loop onverstoord die erf binne en glim­lag vir Marta. Toe bly hy langs haar staan en kyk vraend na Alida.

“Gerhard, dis Marta, my ouma se regterhand. Marta, die meneer se naam is Gerhard. Ons het daar op die duin ontmoet en hy het self aangebied om te help dra,” sê Alida so bondig moontlik, want sy voel steeds verleë.

Haastig gee sy nou die mandjie vir Marta, haal sonder om verder te praat haar esel en die skildery van die stapel in Gerhard se hande af en stap die huis binne na haar skilderkamer toe. Sy laat die esel staan en kyk ’n oomblik na die skildery sonder om dit regtig te sien. Toe haal sy diep asem en stap weer uit stoep toe. Die opgevoude stoel en tafel staan langs ’n stoeppilaar en Marta is met die verfsak en mandjie op pad binnetoe. Alida is net betyds om te hoor hoe sy Gerhard nooi om hom op die stoep tuis te maak, sy bring netnou koffie. Ouma sal ook wil hê ná haar middagslapie, beduie sy.

Gerhard kyk ’n oomblik na Alida waar sy nou langs hom kom staan het. Sy wil eers Marta se uit­nodiging herhaal, maar dis asof iets haar keer.

“Ek het nou al baie van die meneer se tyd gesteel, Marta,” sê sy amper kortaf. “Hy was net op pad ondertoe voordat hy my gehelp het en sy huis is nog ’n hele ent verder strandlangs.”

Toe kyk sy reguit in die man se oë op en vra per­tinent of hy nie al haastig is nie. Dit terwyl hy vroeër in hulle gesprek duidelik gesê het dat tyd nie op die oomblik vir hom ’n faktor is nie. Gerhard laat hom egter deur haar lei en bedank die uitnodiging.

“Miskien op ’n ander dag, dankie, Marta.”

Marta knik vriendelik en loop in die huis in. Ger­hard bly nog ’n oomblik staan en Alida voel sy blik op haar.

“Ek sal nie langer bly as wat ek welkom is nie, Alida de Wet,” sê hy toe spottend.

“Jy sou glad nie onwelkom wees nie,” protesteer sy dadelik. “Ek het maar net gedink . . . ek was nie seker . . .”

Nou weet sy meteens nie hoe om haar sin klaar te maak nie en sy bly eers stil. Verlig merk sy dat hy darem nie geaffronteerd lyk nie.

“Toemaar, ek verstaan,” help hy haar. “Jy wil seker nie hê jou ouma moet dink jy het ’n strandloper raakgeloop en hom toe sommer huis toe genooi nie! Daarom verkies jy dat ek gaan voordat sy op­staan.”

Sy skud verbaas haar kop. Haar ouma is ’n vrou met ’n groot hart en eindelose aanvaarding vir alle mense. Daar was nie een woord van verwyt of veroordeling toe haar kleindogter van agtien, voortydig verwagtend, hier aangebring is nie. Daar was net on­voorwaardelike liefde en innige besorgdheid.

“Nee, dis nie oor Ouma nie, Gerhard,” kan sy hom daarom verseker. “Sy sal jou graag wil ontmoet. Ek het net gedink jy voel dalk . . . jy dink dat jy nou al genoeg tyd afgestaan het . . . aan die amateurskilder. Dat jy miskien na die stilte van jou eie plek verlang.”

“M’m. Baie bedagsaam van jou. Maar soos ek verduidelik het, is my tyd op die oomblik my eie en ek het dit geniet om te sien hoe die skildery vorder. En ook om met die skilder te gesels. Terloops, ek dink glad nie sy is ’n amateur nie. Maar wat waar­skynlik die geval is, is dat dit eintlik jy is wat nou na stilte verlang en nie langer met my opgeskeep wil wees nie. Dan groet ek maar. Lekker verder skilder en dit gaan jou goed vorentoe.”

Alida hoor die finaliteit in sy woorde en voel meteens vreemd afgehaal. Sy wonder vlugtig waarom dit so is. Sy het immers minder as twee uur gelede nog nie van hierdie Gerhard se bestaan geweet nie. Dan moet sy teenoor haarself erken: Die man se onmiskenbaar manlike aantreklikheid en charisma het haar belangstelling geprikkel en iets in haar wakker gemaak wat vir baie maande doodstil was.

Gerhard bly staan langs haar nadat hy gegroet het, so asof hy uit beleefdheid wag dat sy op sy groet­woorde reageer. Sy aarsel eers, maar vra toe tog of hy dan al op pad huis toe is. Na sy regte huis wat nie die strandhuisie is nie, voeg sy by.

“Nee, ek het beplan om vroeg Sondagoggend te ry,” antwoord hy bondig.

Dis môre eers Vrydag, dink sy en waag toe om te vra of hy dan nie die volgende dag weer wil kom inloer wanneer haar skildery klaar is nie.

“Dis nog eintlik net die oopgespoelde strand met laagwater en ’n paar krappies, skulpe en stukke see­bamboes,” verduidelik sy in een asem. “Niks buitengewoons nie. Maar dan is daar ook ’n verrassing: iets wat nie in die toneel is nie wat ek daar gaan in­skilder en wat die fokuspunt gaan word.”

Hy lag sag.

“Nou ja, Alida de Wet, as jy my wou nuuskierig maak, het jy dit nou reggekry. Hoe laat wil jy begin?”

“Seker weer so teen tienuur.”

“Goed dan. Ek kom wag kort voor tien hier by die hekkie om jou te help dra. Dan hoef Marta nie saam af te stap nie.”

Alida voel die skielike warmte in haar hart.

“Maar hoe sal jy weet hoe laat dit is sonder jou horlosie?” terg sy hom.

“Ek kyk maar na die stand van die son, die hoog­te van die gety en die gedrag van die seevoëls,” beduie hy gemaak ernstig. “Maar is dit dan reg as ek jou kom help met jou vrag?”

“Baie dankie, Gerhard, dit sal gaaf wees. In ruil sal ek vir Marta vra om ook ’n fles koffie in te pak wan­neer sy later die mandjie bring. En ekstra broodjies en van haar spesiale melktert!”

“Hoe kan ek nog nee dankie sê? ’n Estetiese ver­rassing en heerlike eetgoed en koffie daarmee saam! Nou ja, totsiens dan eers. Tot môre.”