Skip to main content

Uittreksel | Noodvlug vir haar hart

Een

“Oukei, Kleinben. Ons kan gaan.” Dokter Isabelle Cronjé klim die trappies van die lugambulans twee-twee op en prop haar mediese sak in een van die kassies agter die stuurkajuit. Sy plak haar neer op die sitplek langs die verpleegster. “Ek is jammer dit het so gedraai, Nadine. Die apteek het my opgehou. Hulle wil nou skielik nie meer nuwe uitreikings doen voordat ek nie weet wie watse papierwerk alles ingedien het nie. Hulle weet mos wie ek is en dat ek nie van die aardbol af gaan verdwyn nie! Hulle mors net onnodig tyd.”

“Moenie met die aptekers baklei nie. Dit is waarskynlik jou kêrel wat die nuwe reëls gemaak het,” sê die blonde verpleegster en maak haar veiligheidsgordel vas.

“Ek sukkel om Stefanus in die rol van kêrel te sien, maar jy is seker reg dat hy agter die nuwe regulasies sit.” Isabelle vroetel om haar eie veiligheidsgordel tussen die kussings van die sitplek uit te kry.

“Ek weet nie hoe jy hom oortuig het om vandag Madagaskar toe te vlieg vir ’n noodvlug en ontruiming nie. Nie terwyl hy vanaand daai funksie vir julle beplan het nie.”

Isabelle draai na die verpleegster. “Dis nie asof ek sy toestemming nodig het nie. Hy ken my al lank genoeg en weet wat my werk behels. Nie een van die ander vlugdokters kon in elk geval vandag vlieg nie, en dit is immers ’n noodgeval.” Sy trek die veiligheidsgordel styf teen haar vas. “Stefanus se kantoordeur was gesluit en Cindy was nie op haar pos nie. Ek het sommer ’n briefie op haar lessenaar gelos.”

“Hy was dalk in ’n vergadering en Cindy loop seker weer rond. As sy my sekretaresse was, het ek haar al lankal in die pad gesteek.” Nadine vat ’n sluk water en draai die proppie terug op die bottel. “Ek dink nie Stefanus gaan gelukkig wees daarmee as jy laat by vanaand se funksie aankom nie. Soos ek verstaan het hy groot planne.”

“Hoe weet jy wat sy planne is?”

“Dit lê die gange vol. Ek het ’n voëltjie hoor fluit hy wou jou vanaand vra om te trou.”

“Nadine, jy’s my enigste ware vriendin op hierdie aarde. Jy moet jou egter nie aan skinderstories steur nie. Ek en Stefanus is skaars meer as vriende.”

Die verpleegster gooi haar arms in die lug. “Moenie die boodskapper stenig nie. Ek sê net wat ek gehoor het. Nogtans dink ek nie hy gaan gelukkig wees as jy vanaand laat daar aankom nie.”

“Hy moet maar sy speelgoed gooi. As ons net in die lug kan kom, kan ons betyds terug wees. Waarom sukkel Kleinben so om aan die gang te kom?” Isabelle maak haar sitplekgordel los en roep bo die geraas van die motore uit: “Kleinben. Waarom draai jy so? Ons kan gaan.”

“Ek moet jou waarsku. Dis nie Kleinben wat vandag vlieg nie . . .” Nadine probeer haar vriendin nog aan haar arm terugtrek, maar Isabelle is reeds op pad na die stuurkajuit toe.

“Waarom rol ons nie, Kleinben?” Sy tik geïrriteerd op die drie strepies op die man in die kajuit se lapel en vries toe hy sy kopstuk afhaal en na haar draai. Sy okkerneutkleur oë kyk deur haar en sy moet haar hand keer om nie sy raafswart hare reg te vryf waar die kopstuk dit deurmekaar gemaak het nie.

“Prinses, daar is ’n Boeing 737 voor ons op die aanloopbaan. So, as jy wil hê ons moet rol, stel ek voor jy hardloop gou en vra vir sy kaptein om net ’n bietjie opsy te staan dat ons kan verbykom.”

“Jy’s nie Kleinben nie! Waar’s Kleinben?”

“Met verlof. Vir drie weke. Jy is ongelukkig met my opgeskeep vandag, maar ek sal my bes doen om aan Kleinben se standaarde te voldoen.”

“Dis nie nodig om sarkasties te wees nie. Wie is jy in elk geval?”

“Benjamin. Amper soos Kleinben. Net sonder die ‘klein’.” Hy lê klem op die woord klein en beduie met sy oë oor die lengte van sy lyf.

Selfs al sit hy, kan sy sien dat dié man in die wit hemp en swart broek voor haar aansienlik langer is as Kleinben se een komma sewe vyf meter. “As ek die klein moet weglaat, is jy net Ben.”

“Jy kan my noem net wat jou gelukkig maak.” Hy haal sy hand van die stuurstang af en hou dit na haar uit. “Aangenaam.”

Outomaties vat sy die hand wat hy na haar uithou, maar sy skud dit nie. Sy hou net daaraan vas terwyl ’n salige sensasie deur haar spoel. Warm soos ’n beker sjokolade op ’n wintersdag. Sy kry nie haar oë van syne af weggeskeur nie.

“As ek net my hand kan terug. . .” Benjamin trek sy hand terug en sit weer sy kopstuk op sonder om sy oë van haar af te haal. Hy verstel die mikrofoon en mompel iets daarin vir die beheertoring. Hy hou sy hand oor die mikrofoon voor hy met haar praat. Sy oë steeds stip op hare. “Jy kan gaan vasgordel. Die Boeing is weg en die toring sê ons het toestemming om op te styg.”

Sy verbreek eerste oogkontak en sonder ’n woord gaan sit sy op haar sitplek.

“Is als reg?”

“Honderd persent.” Isabelle weet sy jok vir Nadine en vir haarself. Wat anders kan sy sê? Dis seker net die verbasing wat haar laat voel asof haar ingewande skielik verdwyn het. Sy is immers ’n gerespekteerde traumadokter wat weet so iets is nie fisiologies moontlik nie. Dit moet seker net skok wees wat haar onkant betrap het. Die idee dat sy iemand anders agter die stuurstang verwag het. Sy smeulende oë het niks daarmee te doen nie. Sy beter haar regruk. Daar is twee siek mense op ’n eiland wat al haar aandag nodig gaan hê en sy kan nie bekostig dat haar aandag afgelei word nie.


“Watse inligting het jy oor ons pasiënte?” Isabelle probeer haar gedagtes weglei van die man wat enkele meters van haar af met sy rug na hulle sit.

“Nie veel nie. Bejaarde egpaar. Albei in hulle tagtigs. Toeriste wat beseer is toe die sikloon gister oor die eiland getrek het. Manlike pasiënt het verskeie frakture opgedoen. Bloedgroep is . . .” Nadine se stem sterf weg in haar kop.

Isabelle voel hoe die vliegtuig spoed optel. Die gerammel van die wiele op die aanloopbaan bring ’n gewortelde tevredenheid in haar gemoed. Binne oomblikke sal hulle in die lug wees. Weg van alles af wat aan haar knaag. Almal wat haar in ’n kassie of ’n hokkie of ’n blik wil druk. Wil Stefanus werklik vanaand verloof raak? Nosy Be is . . . wat? Drie en ’n half, vier uur weg? Hulle behoort nie langer as ’n uur op die grond te wees nie. Dan weer maksimum vier uur terug. As alles goed gaan sal hulle vóór sesuur terug wees in Johannesburg wat haar nog genoeg tyd sal gee om reg te maak vir die geleentheid wat om agtuur begin. Hoe gaan sy haar uit hierdie een gewurm kry? Sy voel haar binnegoed vir ’n oomblik swaarder word toe die gerammel van wiele op die baanblad vervang word met die eentonige gedreun van die motore wat werk om die blikvoël in die lug te kry. Net so vry soos ’n regte ene. Sy sal aan iets dink om Stefanus van sy dom planne te laat afsien. Nou moet sy eers terugsit en die paar uur vryheid in die lug geniet voordat sy moet doen waarmee sy goed is. Om haar pasiënte veilig by die huis te probeer kry.


Isabelle word uit ’n ligte slaap geskud toe die lugambulans ’n paar meter val en ná ’n rukslag weer stabiel raak. Sy ken die gevoel en weet dit is deel van vlieg. Tog bly sy lus om skoor te soek. Sy sien Nadine slaap steeds rustig in haar sitplek. Isabelle knip haar gordel los en loer by die stuurkajuit in. Sy maak haar langs die man met die sjokolade oë tuis en sit die ekstra kopstukke op. “Wat maak jy dat ons so ruk?”

Benjamin verstel eers ’n paar knoppies op die paneelbord voor hy antwoord. “Turbulensie. En as ek ’n voorstel kan maak, moet jy vasgordel want daar kom nog. Heelwat bewegende lug agter die weerstelsel wat die eiland gister verwoes het.”

“Darem nie my eerste vlug nie, Kaptein.” Sy lê ekstra klem op die laaste woord.

“Wie is nóú sarkasties?” Hy kantel sy kop en loer na haar. ’n Glimlag huiwer om sy mond en in sy oë dans ’n duisend duiwels.

“Retories?” Sy voel weer hoe haar ingewande val, selfs al bly die vliegtuig op dieselfde hoogte. Die stilte tussen hulle begin rek. Sy raak bewus van die geur in die kajuit. Dit ruik soveel anders as die agterste deel van die lugambulans. Geen spoor hier van ontsmettingsmiddel en salf nie. Sy trek die geur diep in. Ondertone van spesery in sy naskeermiddel, maar dis die subtiele geur van dennenaalde wat in ’n woud onder jou voete kneus wat dit diep in haar binneste laat draai. Sy moet iets doen. Hierdie vreemde gevoel van hulpeloosheid en opwinding wat op ’n lekker manier in haar opstoot, kan sy nie verklaar nie. “Soek jy iets om te drink?”

“Koeldrank sal lekker wees, dankie.”

Regtig? Soek jy iets om te drink? Is dit die beste waarmee sy vorendag kon kom? Gaan sy vandag elke keer as hy vir haar kyk, iets stupid doen of sê? Wat gaan sy maak as sy weer in die volgende paar weke terwyl Kleinben met verlof is, saam met hom moet vlieg? Gaan sy aan hom gewoond raak? Sy skuifel verby Nadine en haal twee botteltjies uit die yskassie voor sy weer by haar slapende vriendin verbyskuifel op pad terug na die stuurkajuit. Sy hoor hoe hy met iemand praat voordat hy weer iets op die paneelbord verstel. Sy gee die koeldrank vir hom aan, sit die kopstuk op en maak haar gordel vas.

“Dankie.”

Sy voel die imbuia oë op haar en knik net haar kop. Te bang om weer daarin vasgevang te word.

Kan die man dan sy kykers se kleur verander na gelang van die omstandighede? Warm donkerbruin soos ’n sjokoladefontein en die volgende oomblik uitdagend, amper goud, soos smeulende amber in die skemer. Hy moet een of ander soort verkleurmannetjie wees. Sy sien uit die hoek van haar oog hoe hy ’n groot sluk van die koeldrank vat voordat sy die stem deur die kopstuk hoor.

“Ek het nou met die toring op Nosy Be gepraat. Hulle sê daar volg ’n tropiese sikloon op gister s’n se stert. Nie heeltemal so sterk nie, maar as ons nie binne ’n halfuur weer in die lug is nie, gaan ons moet slaapplek soek. Ek gaan so twintig minute nodig hê om brandstof in te neem en te prep vir die vlug terug huis toe. As julle teen daardie tyd reg kan wees om weer op te styg, sal ek dit waardeer. Ek wil nie kanse waag nie.”

“Hoe lank nog voor ons land?” Haar blik volg sy hande na die paneelbord waar dit ’n knoppie druk.

“Kwartier. Ons gaan nou begin daal. As jy agter wil sit terwyl ons land, moet jy solank gaan vasgordel.”

“Jaag jy my weg?” Haar stemtoon styg amper ’n oktaaf.

“Moenie jou vir my wip nie. Ek weet nie of jy hier wil sit nie. Ek weet net dis nie veilig vir jou om rond te loop terwyl ons land nie.”

“Moenie vir my sê jy’s bekommerd oor my nie, Kaptein?” ’n Snorklag glip by haar keel uit.

“Glad nie. Ek is net nie lus om bloed in die vliegtuig skoon te maak as jy val en jou kop stamp nie.”

“Land jy net die vliegtuig. Soos ek jou al gesê het, dis nie my eerste keer nie.”

Hy antwoord haar nie en skakel weer die radiofrekwensie oor sodat hy met die beheertoring se gesiglose stem by lugverkeerbeheer kan praat.

Sy ken die proses. Kleinben laat haar gereeld in die stuurkajuit sit wanneer hy land of opstyg. Sy ken dit amper so goed dat sy seker is sy kan dit alleen doen as sy regtig hard probeer. Vir ’n oomblik word haar maag ligter voor dit weer in plek skuif. Hulle daal vinnig. Sy hoor die lugbeheerbeampte se eentonige stem in haar ore. Sien hoe die kuslyn die blou tapyt omsoom en al hoe nader aan hulle begin kruip. Die hidroliese pompe se gesing vibreer deur die romp voor sy die blaas van die wind teen die vlerke se flappe hoor. Sy voel hoe die vliegtuig ruk-ruk soos wat dit spoed verloor. Die grond onder hulle begin karakter kry. Selfs op dié hoogte is die verwoesting van die sikloon duidelik sigbaar. Enkele bome staan kniediep in modderwater. Ander lê geknak soos vuurhoutjies op hulle sye. Vormlose kleure begin die oorblyfsels van huise word. Die beweging van enkele roeibote lyk soos blare wat rusteloos op ’n plas water dryf. Sy wil iets sê, maar ondervinding het haar geleer die persoon in beheer van die blikvoël se aandag is nou by die landing. Sy draai in haar sitplek om en sien Nadine is al wakker.

Sy kyk ook by die venster uit na die skade op die grond. So baie mense wat nou hulp nodig het. So min wat hulle kan doen. Sy hoor die stem asof hy haar gedagtes lees.

“Dit lyk erg. Dit gaan maande neem om dit op te ruim. En dan’s die volgende stormseisoen al weer hier.”

“Ja.” Dis al wat sy kan uitkry voordat sy haar gedagtes begin orden op die taak wat vir haar wag. Benjamin het hulle hier gekry. Sy moet twee pasiënte binne ’n halfuur in die lugambulans hê. Reg vir die terugvlug. En dan kan sy begin dink aan wat ook al anderkant die vlug huis toe wag.


’n Ambulans staan reeds voor die lughawegebou toe die Hawker se wiele oor die aanloopbaan skree.

“Lyk my hulle is op die bol.” Isabelle sien hoe hy ook vlugtig sy kop na die ambulans draai voordat hy weer op die aanloopbaan fokus.

“Ek dink hulle wil ons maar net baie vinnig hier weg hê.” Benjamin maak ’n paar verstellings aan die kontroles.

“Hoekom sal jy nou so sê?”

“Hulle het ook seker die wolke gesien wat dóér skuins voor aan die stuurboordkant saampak.” Hy beduie met sy kop voor hulle uit, die lugruim in.

“Ons is vinniger as daai wolke. Ek en Nadine gaan nog vir jou wag om klaar te maak. Jy sal sien.” Sy maak haar gordel los en haak die kopstuk terug aan ’n hakie bo teen die kajuit se dak. Sy begin oor die middelkonsole klouter en druk noodgedwonge op sy skouer om nie haar balans te verloor terwyl die vliegtuig nog stadig na die lughawegebou beweeg nie. Benjamin se spiere trek onder haar vingers saam. Fris skouers. Vir ’n vlietende oomblik wonder sy hoe daardie paar skouers onder die uniform lyk. Fokus, Bella, maan sy haarself toe sy haar mediese sak oor haar skouer gooi en haar stetoskoop om haar nek hang. Sy knik haar kop vir Nadine. ’n Ongeskrewe erkenning dat sy reg is en dieselfde van Nadine verwag. “Die weer lyk sleg. Ons sal moet roer.”

Die vliegtuig maak ’n draai op die baanblad en kom tot stilstand. Sy hoor hoe die motore stiller raak en sien die skrefie lig bo die deur groter word toe die trappies begin afsak. Isabelle klim die vyf treetjies af tot op moeder aarde. Die wind in haar gesig laat haar instinktief in die lug na die wolke soek wat sy flussies nog vanuit die kajuit bespeur het. Dit lyk skielik baie donkerder. ’n Man in ’n wit jas staan nader en steek sy hand uit.

“Dokter Smith.” Die glimlag om sy mond bereik nie sy oë nie. Oë wat diep in hul kasse geset is. Donker oë met ewe donker merke daaronder, verklap dat hy moeg is van die min slaap en ure se werk om slagoffers van die storm te probeer help.

“Cronjé.” Sy steek haar hand uit en los syne feitlik onmiddellik toe sy die kollega se pap handdruk in hare voel. “Gee my die diagnose.” Sy wag nie vir Smith om in te val nie en stap in die rigting van die ambulans. Haar aandag is by die Engelse stem in haar ore. Haar hand vou om die ambulansdeur wat op ’n skrefie staan en sy trek dit oop. Sy het nie Smith se diagnose nodig om te sien dat dit nie goed gaan met die bejaarde man wat op die draagbaar lê nie. Sy draai na die ewe bejaarde dame wat langs die draagbaar sit. Die verbande en pleisters en blou kolle op die brose vel verklap dat sy die tweede pasiënt is.

“Hoe gaan dit hier, Mevrou?” Sy vat die vrou se knobbelhande in haar eie vas.

“Nie goed nie. Van vanoggend af lê hy net daarso.”

“U kan maar Afrikaans praat,” kom sy tot die vrou se redding toe sy die aksent eien.

“Ag, dankie tog, hartjie. Ek het tien dae laas Afrikaans gehoor van iemand anders as die oom en dit sukkel met die Rooitaal en die ander tale wat die mense met my praat.”

“Alles in die haak, Tannie. Ons gaan julle sommer vinnig by die huis hê.” Sy vryf oor die oumenshande. Nie om dit warm te kry nie. Eerder om moed daarin te probeer vryf. “Ek is dokter Cronjé en ons span gaan Tannie bystaan op pad terug.” Sy draai na die pasiënt op die draagbaar. “Goeiedag, Oom.” Sy trek die oom se ooglede oop en skyn met haar flitsie daarin. “Kan Oom my hoor?”

“Sy naam is Neels,” kom dit in ’n krakerige stem van sy vrou.

“Oom Neels. Kan Oom my hoor?” Sy vryf die stetoskoop se diafragma teen haar palm warm voordat sy na die pasiënt se hart luister. ’n Vinnige, dog deeglike ondersoek volg voordat sy weer na die ouer dame draai. “Sit net nog so ’n oomblikkie. Ek wil net gou met die dokter gesels voordat ons vertrek.” Isabelle klim uit die ambulans en probeer die deur agter haar op knip druk. Die geroeste meganisme van die stokou wa haak vas, en sy snap waarom die deur nie toe was toe hulle daar aangekom het nie. Is hulle nie bang die pasiënte verloor halfpad in transito nie? Die gedagte verdamp toe sy dokter Smith gewaar waar hy aan die kant van die aanloopbaan staan en rook. Sy wink hom nader en hy laat val die halwe sigaret voordat hy dit doodtrap en nader gedraf kom.

“Dit lyk nie goed nie. Die manlike pasiënt is ’n P1 en waarskynlik in ’n komateuse toestand. Na my mening sal ons sy lewe verder in gevaar stel om hom nou te skuif. Sonder ’n EKG en ’n reeks ander toetse is dit moeilik om te sê. Julle het seker nie ’n internis beskikbaar om ’n tweede mening te gee nie?”

“Dokter Cronjé, ná die sikloon het ons skaars genoeg verbande, wat nog te praat van ’n internis. Ek moet toegee dat sy toestand die laaste halfuur versleg het. Hy was vroeër vandag nog half by sy positiewe. Sy suikervlak is onstabiel en ons insulienvoorraad is amper uitgeput. Ek stem saam dit gaan gevaarlik wees om hom te skuif, maar wat is ons opsies? As ons hom hier hou, is dit net so gevaarlik vir hom.”

“Ek dog julle is reg om te gaan.” Benjamin kom nader gestap. “Hulle gooi nou die laaste brandstof in, en dan moet ons roer. Daai storm is hier.”

“Nou by jou, Benjamin.” Sy draai na dokter Smith. “Wat sou jy gedoen het as dit jou pasiënt was?”

“Ek sou hom nie nou laat vlieg het nie.”

“Presies wat ek ook gedink het. Wou net ’n tweede mening hê.”

“Ek gaan ’n plek soek om die vliegtuig te beveilig.” Benjamin wag nie vir instruksies nie. “Ek kan nie waarborg dat dit nie in die storm sal beskadig nie.”

“Doen wat jy moet. Ons kan dalk die pasiënt verloor deur hom hier te hou, maar as ons hom nou op daai vliegtuig laai, verloor ons hom voor ons deur vyf en twintig duisend voet breek.”

“Gaan julle solank hospitaal toe.” Benjamin vee sy hande aan ’n lap af. “Ek sal julle kom soek.”

Sy gryp hom aan sy arm voordat hy wegstap. “Dankie, Benjamin.”

“Hei, ek is nie haastig terug nie. Ek eis oortyd.” Hy stap weg en sy volg hom met haar blik tot waar hy iets vir die grondpersoneel sê.

“Ons het nie regtig ’n bed vir die twee pasiënte nie.” Smith se stem onderbreek haar gedagtegang.

“Ek sal ’n plan moet maak. Jy kan intussen saam met ons in die ambulans terugry hospitaal toe. Jy gaan egter moet vashou dat jy nie uitval nie.”

“Gee my net ’n paar minute dat ek met sy vrou praat, dokter Smith.”

“Geen probleem nie. En noem my gerus Andrew.”

Die wind teen haar gesig voel warm terwyl sy na die ambulans stap. Sy sal vir Stefanus moet laat weet dat hulle nie vandag terug gaan wees nie. Hy gaan só de donder in wees. Maar sy moet haar pasiënt eerste stel. Sy sal haar later oor hom bekommer. Sy trek die deur oop en wys vir Nadine om uit te klim. Sy fluister vir haar in die verbygaan. “Ons slaap oor.”

“Regte besluit. Ek wag buite.”

Isabelle trek die deur toe om die wind uit te hou voor sy by die dame gaan kniel en haar hande vat. “Ek is jammer dat ek nou-nou belowe het dat ons Tannie-hulle vinnig by die huis sal hê. Ons gaan nie vandag kan teruggaan nie.”

“Dit gaan nie goed met oom Neels nie, nè?”

“Ons doen wat ons kan, Tannie.”

“Hartjie, as jy al so lank op dié aarde is soos ek, sal jy weet om nie doekies om te draai nie.”

“Nou goed.” Sy sluk ’n slag en probeer haar soos soveel keer al in die verlede afstomp voordat sy slegte nuus met ’n pasiënt se geliefde moet deel. Sy kry dit steeds nie reg nie, en gaan nietemin voort: “Dit gaan nie goed met oom Neels nie. Ek is bevrees as ons nou vlieg, is die kans baie groot dat hy nie die vlug sal oorleef nie.”

“Ek dink hy het geweet dit is sy laaste uitstappie toe ons hierheen gekom het.”

“Tannie moenie so sê nie. Ons bly hoop.”

“Ag, hartjie, ek gaan hom so verskriklik mis.” Die tannie vee met die agterkant van haar hand die trane uit haar oë.

“Ek gaan nie opgee nie, Tannie. Ek belowe.”

“Oom Neels wou so graag Madagaskar toe kom. Hy het sy lewe lank probeer spaar en dit het moeilik gegaan met die kinders in die huis. Toe Linda geskei is, en weer by ons kom bly het, het hy sy voet neergesit en haar huurgeld gevra. Hy het gesê sy kan nie by ons afpak nie. Hy het elke sent weggesit vir dié vakansie. Het jy geweet hy was in die vloot?”

“Nee, ek het nie geweet nie, Tannie.” Isabelle druk die deur oop en wink Nadine nader. Sy sien Benjamin in die verte waar hy besig is om ’n sleepstang aan die voorwiel van die vliegtuig vas te maak. ’n Warm gevoel skiet deur haar voordat sy die deur agter Nadine toemaak.

“Ag, noem my sommer Miems, hartjie. Ja, hy was in die vloot.”

“Dit klink opwindend.” Sy laat tannie Miems toe om haar hart uit te praat. Sy fluister onderling opdragte vir Nadine terwyl die twee van hulle behendig met die pasiënt werk.

“Ek weet nie waar het sy obsessie met Madagaskar vandaan gekom nie. Soms het hy net so gesit en na ou Duitse plate geluister. Het jy geweet oom Neels was al in Duitsland?”

“Nee, Tannie, ek het nie geweet nie.” Haar blik vang Nadine s’n vir ’n oomblik en hulle glimlag vir mekaar. “Wat het hy daar gedoen?”

“Dit was saam met die vloot wat hulle Europa toe was. As hy so gesit en plate luister het, en die liedjie oor Madagaskar speel, het hy net so voor hom uitgestaar. Gewieg op die stoel. Dit was sy laaste wens, hartjie. En nou moet ek hom hier begrawe.”

“Tannie moenie so praat nie.” Isabelle kniel weer by tannie Miems. “Oom Neels lyk nog sterk.”

“Ek het lankal vrede gemaak.” Sy vee weer aan haar oë. “Toe hy suiker gekry het so ’n klompie jare terug, het ek al gedink sy tyd op aarde is om.” Haar hande sluit oor haar oë. “Ek gaan hom so verskriklik mis.”

Isabelle het die hartseer van naasbestaandes in die ongevalle-eenheid al so baie gesien, en al sien sy dit nog ’n duisend jaar sal dit steeds aan haar hart trek. “Ons doen wat ons kan, tannie Miems.” Sy vryf oor die yl hare. Slierte het reeds uit die bolla losgetrek en sy druk een daarvan terug voor sy dit met ’n knippie vassteek. Haar oog vang Andrew se blik op haar waar hy self agter die ambulans se stuurwiel ingeskuif het. Hy draai reg in die sitplek en probeer drie keer om die ambulans aan te skakel voor dit vat.

Die eerste druppels begin op die voorruit plons en toe die ruitveërs beweeg, sien Isabelle dis net die een aan die bestuurder se kant wat nog werk.