Skip to main content

Uittreksel | Net vier kort woordjies

Een

Gesoek: Trouvrou vir een jaar. Moet bereid wees om drie maande daarvan in Amasone deur te bring; suiwer sakekontrak; geen kansvatters.
E-pos: rykbroodryk47@gmail.com


Tillie sit regop, al haar aandag by die advertensie in die koerant. Sy blaai altyd eerste na die persoonlike advertensies. Dit interesseer haar. Mense kan soms die mees absurde dinge adverteer. Net nou die dag het ’n vrou ’n advertensie geplaas waarin sy vir haar dogter ’n man soek, verbeel jou. Die arme meisie; sy het al haar simpatie. Tant Maggie moet dit darem waag. Sy sterf tien dode. Sy wat Tillie is, kan self vir haar ’n man soek, en wanneer die tyd ryp is, sal sy.

Maar veral die gedeelte wat handel oor die Ama­sone, prikkel haar belangstelling. Sy droom al so lank daarvan om daarheen te gaan, maar daar is perke. Wat dryf ’n man om so ’n advertensie te plaas en dit in ’n land soos Suid-Afrika? Geen regdenkende vrou sal so iets oorweeg nie. Die arme man moet taamlik desperaat wees. Beslis een of ander weirdo, of nog erger, ’n reeksmoordenaar.

Sy klik haar tong spytig en sit die koerant neer. Vir moord en doodslag het sy nie krag nie. Veral nie vandag nie. Vandag het sy ’n baie belangrike af­spraak. Dit sal bepaal of haar Amasone-droom ein­delik ’n werklikheid sal word. As dit nie uitwerk nie, kan sy dalk net die koerantadvertensie se moont­likhede ondersoek. Dis egter ’n baie vae plan B.

Sy teug aan haar warm koffie en snuif behaaglik. Die geure van tant Maggie se ontbyttafel prikkel haar smaakkliere. Soos gewoonlik het sy haarself weer oortref. Kook is nou nie juis Tillie se forte nie, maar tant Maggie was voor in die ry toe kooktalente uitgedeel is. Sy sal selfs vir Gordon Ramsay ’n ding of twee kan leer.

Tot haar skande moet sy erken haar tante se kos is die groot trekpleister na haar ouerhuis. Die rede daarvoor is tant Maggie se ewige mansoekery. Matilda’s het haar ook taamlik besig gehou die af­gelope tyd. Om die waarheid te sê, is dit die eerste keer in ’n lang tyd dat sy weer ’n nag by haar ouer­huis deurbring, dink sy ietwat skuldig.

Ingedagte hap sy aan ’n sny roosterbrood en sluk dit af met koffie.

“H’m, ek sien jy het ontwaak,” praat tant Maggie skielik agter haar.

Tillie spring verskrik op. In die proses beland die res van die warm koffie op haar. “Eina, dêmmit! Vir wat bekruip ta’ Maggie ’n mens so.”

“Skuldige gewete?” vra tant Maggie veelseggend. Sy gryp ’n servet en probeer red wat te redde is. “Dit gaan my verstand te bowe hoe enigeen in sulke flen­tertjies nagklere kan slaap. Dit lyk vir my maar bra ongemaklik, maak skaars toe wat toe moet wees. Nee wat, gaan trek uit. Gelukkig is hierdie tante van jou enige vlek se moses.”

“Toemaar, ta’ Mags. Dis nou ook nie ’n krisis nie – dis net nagklere.”

“Los dit in elk geval hier, want daai koffievlekke gaan jy nie uitkry nie. Van die os op die esel, het jy nou al gedink oor die dinee Saterdagaand?”

“Nee.”

“Oorweeg dit tog ernstig. Daar is hierdie oulike professortjie aan wie ek jou wil voorstel.”

Oulik nogal. Wys haar ’n oulike professor en sy eet haar hoed op. Tant Maggie moet redelik desperaat wees om haar aan ’n fossiel van ’n professor te wil afsmeer. Dit sal die dag wees as sy heelaand gaan oe en aa op al sy wonderlike akademiese prestasies. Wie de ongeluk is hierdie professor in elk geval?

“Tante konkel al weer. Ons het tog al hieroor ge­praat.”

“Ag, kind, ek wil net nie hê jy moet op die rak bly sit nie. Vier en twintig is ook nou nie meer bloed­jonk nie. In my jong dae . . .”

“Ja, toemaar, ta’ Mags, ek weet,” val sy haar in die rede. “Maar Tante moet verstaan, vandag werk dinge anders. Mense trou eerder later as vroeër, in­dien enigsins. Daar is nog baie dinge wat ek eers wil doen voor ek trou. Intussen kyk ek die kat eers goed uit die boom,” sê sy teen haar beterwete, want teen dié tyd weet sy al tant Maggie is soos ’n bulhond wat nie laat los waar sy eers ’n spoor gevat het nie.

Soms voel sy vasgevang tussen twee vure, aan die een kant tant Maggie wat om elke hoek en draai vir haar ’n man soek en aan die ander kant haar pa, wat elke liewe man wantrou. Niemand is goed genoeg vir Barend Vosloo se enigste dogter nie. Hy glo vas al wat ’n man is, is ’n fortuinsoeker wat agter sy miljoene aan is. Miljoene wat hy gemaak het nadat hy homself hart en siel in sy besigheid gewerp het ná die tragiese dood van haar ma, Tess, in ’n motorongeluk.

Gerieflikheidshalwe vergeet hy sy krap lankal haar eie potjie. Matilda’s bring meer as genoeg in om haar te onderhou. En dan praat sy nie eens van die erfporsie van haar ma nie.

“Het jy nou net baie diplomaties die uitnodiging van die hand gewys?” Tant Maggie lig haar wenk­broue betekenisvol.

Sy kom miskien voor as ’n ystervrou, maar in werklikheid is haar hartjie baie sag. Net die gedagte aan die seergemaakte uitdrukking op haar gesig is genoeg om Tillie in haar spore te stuit. Sy sal egter haar voet moet neersit.

“Ongelukkig, ja. Ek is buitendien nie mal oor so ’n stywe gedoente nie, dit weet Tante tog.” ’n Vin­nige blik op haar horlosie maak haar skielik haas­tig. “Luister, ta’ Mags, as ek nie nou roer nie, gaan ek laat wees vir ’n afspraak.” Daarmee maak sy haar vinnig uit die voete voor tant Maggie verder karring. Sy sug verlig toe sy die kamerdeur agter haar toemaak. Sy stap na die aangrensende badkamer en maak die stortkrane oop. Sy stroop die bevlekte nagklere af en klim onder die stomende water in. Haastig seep sy haar lyf in dat die skuimbolle spat.

Tant Maggie kry sekerlik ’n oorval as sy uitvind wat haar grootmaakkind beplan. Izelle het haar ver­tel van ’n ekspedisie na die Amasone, gelei deur pro­fessor Broderick Broodryk, ’n baie goeie vriend van haar verloofde, Willie. Vanoggend het sy ’n afspraak met Gerrie Sonnekus, professor Broodryk se regter­hand.

Sy moet ten alle koste vir haar ’n plek op daar­die ekspedisie verseker, eers dan sal sy haar pa en tant Maggie inlig. Iets waarna sy nie baie uitsien nie, want sy weet by voorbaat die vonke gaan spat. Die twee hou glad nie van die gedagte dat sy die Ama­sone wil invaar soos hulle dit stel nie. Hulle reken dis nie die plek vir ’n fyn opgevoede stadsjuffroutjie nie.

Sy is moeg vir die sleur van haar daaglikse roetine. Sy smag na avontuur. Dis hoog tyd dat sy haar avon­tuurlustige drome waar maak.

Tillie kyk ’n laaste keer in die spieël. Haar enigste grimering is maskara en pienk lipstiffie. Haar groen oë glinster blink van afwagting. ’n Laag sproete lê goudbruin oor haar wipneus. Haar guitige glimlag laat twee oulike kuiltjies in haar wange verskyn. Verspot steek sy tong uit vir haar spieëlbeeld voor sy vir oulaas ’n kam deur haar skouerlengte koperrooi spiraalkrulle trek. Tevrede met haar voorkoms, draai sy om en stap haastig uit.