Skip to main content

Uittreksel | Nagjagter

Een

Die verhewe deksel van die Middeleeuse doodskis met koperbeslag het so pas beweeg. ’n Benoude gilletjie ontsnap oor iemand in die verdonkerde gehoor se lippe.

Daarna heers ’n martelende stilte in die King Edward Opera Theatre.
Die première van Die boggelrugvampierjagter word vanaand hier aangebied. Buite ruk ’n Oktoberwind woedend van die see se kant af aan die ou gebou se dakplate. Hier binne is die slottoneel ’n somber verligte plaasskuur. Die doodskis rus op ’n tafel in die middel van die verhoog. Rondom die tafel is die vloer besaai met rommel en hope goiing.

Olaf en Beth sit in die voorste ry, reg in die middel, danksy die komplimentêre kaartjies wat sy dogter, Franci, vir hulle gegee het. Beth het ’n swart aandrok aan. Die spleet het hoog teen haar bene oopgeval. Sy wend geen poging aan om die materiaal weer toe te vou nie.

Uit die hoek van sy oog sien Olaf die gespanne plooitjies om haar staalgrys oë en mondhoeke.

As Franci nie haar dialoog so dikwels vir hom opgevoer het nie en as hy nie die paar repetisies bygewoon het om haar te ondersteun nie, het hy vir seker ook nou hartkloppings beleef.

Van iewers begin ’n Keltiese verwerking van die oorspronklike Halloween-film se temamusiek deursyfer.

’n Spokerige hand kruip onder die kis se deksel uit.
Iemand in die gehoor giggel senuweeagtig. Beth se naels sny in Olaf se palm.

Ontspan, dis net ’n verhoogstuk met gewone akteurs, wil hy haar verseker. Dit is net Bram Stoker se 1897- Gotiese riller wat verwerk en aan gepas is deur madam Eloise Eudorina Mac Pearson.

Hy ken selfs die rolverdeling.

Taylor King, ’n goeie vriend van Franci, is graaf Dracula. Franci is juffrou Mina Murray, die onderwyseres wat die vampier wil ontmasker. Haar intieme vriend in die werklike lewe, die kaalkop Helmuth du Preez, vertolk die hoofrol. Hy is Jonathan Harker, die boggelrugvampierjagter.

Die kis se deksel word van binne weggestamp en val kletterend op die verhoog se vloer. Van onder ’n bondel goiing vlieg Franci met bloedstollende gil orent. Haar donker hare spat soos ’n verwaaide doringbos om haar kop.

Die teater ontplof van skok.

Beth klouter halflyf op Olaf se skoot.

Hy skrik self, alhoewel hy geweet het Franci lê onder die goiing. Sy het die gil dikwels by die huis geoefen, maar vanaand oortref sy haarself. Boonop herken hy skaars sy eie kind, want haar gesig is ’n doodse blouwit met donker kringe om die oë gegrimeer.

Sy pluk aan die kettings om haar polse, maar sak terug op die vloer. Enige oomblik sal graaf Dracula uit die kis klouter. Hy sal by haar gaan hurk. Met sy mantel en arms om haar, sal sy slagtande haar nekaar oopruk sodat hy sy bloeddors kan les.

Die boggelrugvampierjagter sal die deur oopskop. Ná ’n geveg al oor die verhoog sal hy sy houtpen met ’n hamer deur die monster se hart dryf. Só sal hy sy verloofde, juffrou Mina Murray, bevry van die vloek en virusbesmetting van die bloeddrinkers.

Die skuur se deur swaai oop. ’n Boggelrug met ’n hoodie oor die gesig verskyn op die verhoog. In sy een gehandskoende hand hou hy ’n skerppunthoutpen, in die ander hand ’n lywige hamer.
Olaf sit vinnig regop.

Hier is groot fout.

Die vampierjagter in madam Mac Pearson se riller dra ’n kostuum met ’n ingeboude boggel, maar die hoodie en die wit handskoene is vreemd. En hy kom meer as sewe minute te vroeg op die verhoog.
Die vampierjagter waggel tot by die tafel en buk oor die doodskis. Met die houtpen weggesak in die kis, lig hy die hamer bokant sy kop.
Olaf se maagspiere verstyf.

Die hamer tref die houtpen met ’n dowwe knal.

Spokerige hande gryp krampagtig vanuit die kis om die houtpen.
Nog ’n hamerhou val.

Dié keer skop twee voete bo die rand van die kis uit. Ontstelde krete klink in die gehoor op. Franci spring weer orent. Sy beur aan die kettings om haar polse. Haar gille verskeur die lug terwyl nog hamerhoue knal. Olaf skiet orent en tot op die verhoog. Met sy arms om sy dogter, dwing hy haar tot op die vloer.

Die teater en verhoog word meteens in nagdonkerte gehul.
Oral flikker selfoonliggies aan. ’n Ligte applous breek los, maar die meeste mense klouter oor mekaar in die rigting van die deure. Sekuriteitswagte word uit die pad geloop.

Olaf hou Franci styf teen hom vas en probeer haar kalmeer.
Die ligte sukkel weer een vir een aan totdat die hele teater helder verlig is. Met Franci nog in sy arms, draai hy om. Haar lyf ruk onbeheers teen hom.

Die boggelrug is weg. Bokant die doodskis steek die houtpen roerloos uit. Een van Taylor se bene hang oor die rand, asof hy probeer het om uit te klim. Dun straaltjies bloed tuimel van die tafel af.

Beth spring ook op die verhoog. Sy flits haar kaart in die rigting van die gryse madam Mac Pearson wat deur die skuur se deur haar opwagting maak. “Polisie!”

’n Vreemde man kom uit die gehoor met die trappies die verhoog op. “Ek is ’n dokter. Mag ek kyk?”

Beth wink hom nader. “Moet net nie aan die houtpen raak nie.”

Franci boor haar gesig in Olaf se bors. “Wat gaan aan, Pappa?”

Haar stem bewe. “Wie was die man met die hamer?”

“Was dit dan nie Helmuth nie?”

“Helmuth sal mos nie so iets doen nie.”

“Kon jy sy gesig sien?”

“Nee.” Sy probeer die kettings losruk. “Waar is Helmuth?”

Olaf hou haar stywer vas. “Ons sal hom gaan soek.”

“Hierdie man is dood,” verklaar die dokter langs die kis.

“Helmuth!” roep Franci uit.

“Hy sit in sy kleedkamer op die vloer,” antwoord madam Mac Pearson.

Olaf het sy hande vol om Franci tot bedaring te bring. “Kan iemand haar kettings kom losmaak?”

Die skraal madam sweef nader. “Sy is tog nie regtig geboei nie.” Met die klik van ’n knip val die kettings op die verhoog se houtvloer.

Franci ruk haar los uit sy arms. “Wat makeer Helmuth?”

“Ek dink hy is oor die kop geslaan,” antwoord madam Mac Pearson.
Olaf kry Franci aan die hand beet en volg saam met haar die gryskopvrou van die verhoog af.

In ’n smal gang hoor hy voetstappe agter hom. Die dokter kom ook saam.

By ’n deur in.

Dit is ’n kleinerige kleedkamer met spieëls teen die oorkantste muur. Grimeertafel. Wasbak. Die kaalkop sit met ’n verdwaasde uitdrukking plat op die vloer. ’n Wond skel teen sy agterkop. Bloed stroom teen sy nek af.

Franci spring vorentoe, maar Olaf hou haar teë. Haar vingers grawe in sy rugbiltonge.

Die dokter hurk voor Helmuth.

“Help hom,” soebat Franci.

“Hy reageer op geen impuls nie,” antwoord die dokter. “Lyk soos harsingskudding.” Hy maak ’n gesighanddoek in die wasbak nat, vou dit oor die bloeiende wond en laat Helmuth versigtig agteroor sak. “Maar ek glo hy sal oorleef. Met ’n lelike litteken.”

Beth tree ook na binne. “Julle moet almal uit. Nooddienste en die SAPD is op pad. Gaan sit in die teater en wag daar. Uit. Uit.”
“Behalwe ek,” sê die dokter.

Die bloedspatsels teen die muur links van die stoel is vir Olaf die teken dat Helmuth voor die spieëls gesit het om voor te berei vir die laaste toneel toe hy van agter deur ’n regshandige oor die kop geslaan is.

“Asseblief, Olaf,” versoek Beth weer.

“Natuurlik.”

Helmuth sou sy aanvaller in die groot spieël kon sien inkom, tog het hy bly sit. Dit kan beteken hy het die persoon herken en glad nie die aanval verwag nie.

“Olaf! Gaan nou.”

“Natuurlik, maar ek wil net sê, ek dink hy het eers vir Helmuth hier kom platslaan om hom uit te skakel. Toe gaan vermoor hy Taylor op die verhoog.”

“Natuurlik is dit moontlik,” gee sy toe. “Gaan nou. Vat Franci saam met jou.”

Teen Franci se sin lei hy haar by die deur uit, in die gang af en tot in die verlate teater.

Hy gaan sit met haar in die voorste ry. Op die verhoog steek die houtpen steeds bokant die rand van die kis uit.

“Ek voel ek gaan uitpass,” sê Franci met ’n lomp tong.

Hy hou haar teen hom vas.

“Wie kon so mean wees, Pappa?”

“Het jy heeltemal niks van sy gesig gesien nie?”

“Nee. Die hoodie en die skaduwees . . . nee . . .” Stil trane verander haar swaar grimering in swart en grys patrone oor haar wange.

Die ander akteurs en personeel sluip ook drupsgewys die teater binne en sluit by hulle aan. Op die agtergrond hoor hy Beth se stem soos sy die situasie reguleer.

“Julle bly net hier, die polisie is op pad,” beveel sy toe almal eindelik daar is. “Ons sal by elkeen ten minste ’n getuieverklaring afneem.” Sy kom sit langs Franci. “Ek is jammer, maar ek moet met jou praat.”

Franci knik teen Olaf se bors.

“Jy was op die verhoog,” sê Beth. “Jy was die naaste van almal aan die moordenaar.”

Franci sluk.

Beth neem haar hande. “Ontspan. En sê vir my of hy een van die mense hier agter ons is. Jy hoef nie bang te wees nie. Ons is by jou.”

“Ek kon nie sy gesig in die hoodie sien nie.”

Beth buig nader aan haar. “Dink nou baie mooi, poplap.”

“Wat probeer jy doen, Beth?” vra Olaf.

“Die yster smee terwyl hy nog rooiwarm is. Ek vra weer, Franci, het jy hom herken?”

Franci kyk af na haar hande. “Ek sê mos nee.”

Beth staan op. “Die speurders sal vir jou dieselfde vrae vra. Onthou, die waarheid is altyd die beste opsie.” Sy laat hulle alleen.

Franci se oë skiet weer vol trane. “Wat ’n bitch!”

“Beth klink maar net so as sy haar werk doen.”

“Wel, ek is nie haar donnerse suspect nie, wat de hel dink sy van my?” Sy leun met haar kop teen sy skouer. Haar lyf bewe teen hom. “Ek gaan crack.” Haar tande klap liggies op mekaar.

“Ons moet vir jou ’n kalmeermiddel kry,” stel hy voor. “Miskien by die nooddienste as hulle vir Helmuth kom haal.”

Sy skud haar kop. “Ek het iets in my handsak in my kleedkamer. Ek sal dit drink wanneer ons kan gaan verklee.”

“Wat is dit?”

“Sommer ’n natuurlike produk. Ek haat chemiese goed.”

Hy streel oor haar hare en arms en hou haar stywer vas. ’n Intense koue steek in sy binneste op.