Skip to main content

Uittreksel | ’n Wetenskaplike benadering

Een

“Leandi, dis malligheid. Jy tree nou weer onverantwoordelik en onbesonne op – soos gewoonlik.”

Willem Jansen frons só kwaai dat sy wenkbroue byna aan mekaar raak. Sy mondhoeke buig ontevrede ondertoe, en hy lyk skielik vir Leandi nes ’n dikmond seuntjie wat nie sy sin kan kry nie.

“Wat bedoel jy met soos gewoonlik, Willem?” vra sy geïrriteerd.

“Jy dink nie voor jy optree nie. Waarvoor moes jy bedank? Jy het ’n uitstekende werk met goeie bevorderingsmoontlikhede gehad. Maar dis tipies van jou. Jy’s ’n regte rolling stone wat nooit mos sal vergaar nie. Dis al die hoeveelste keer dat jy impulsief jou werk los net omdat iets anders op die horison verskyn het.”

Heng, maar hy oordryf nou lekker, dink Leandi verontwaardig. Swiegers en Smit is maar haar derde propperse werksplek – die string los werkies wat sy gedoen het terwyl sy studeer, tel tog seker nie? Goed, sy het minder as ’n jaar in haar eerste grootmenspos uitgehou, maar haar bestuurder was ’n gladdebek knyp-hier-vat-daar-druk-wanneer-ek-die-kans-kry-sekspes en sy was te jonk en onnosel om hom aan die pen te laat ry. Haar tweede werk het skipbreuk gely toe die firma bankrot gespeel het, en dit was beslis nie háár skuld nie.

“Jy praat bog, Willem,” verklaar sy ronduit. “Dis nie so erg nie. Buitendien, jy weet ek was nooit gelukkig by Swiegers en Smit nie. Hulle is te streng en vaal; ek sou versmoor as ek langer daar moes werk. Goeiste, kyk net na ons kollegas se kleredrag – dis grys en swart en wit net waar ’n mens kyk; as ek met ’n rooi rok daar instap, word ek aangekyk asof ek kaal loop. Geen mens met ’n greintjie verbeeldingskrag kan dit daar uithou nie. Wanneer ek terugkom van die Kaap, sal ek ander werk soek.”

Ás sy terugkom. Niks behalwe ’n handjievol vriende bind haar aan Gauteng nie, en hoewel Willem lankal skimp dat hy ’n ring aan haar vinger wil steek, weet sy dit gaan nooit gebeur nie. Willem is ’n vriend. Punt. En as hy nie ophou karring en kritiseer nie, gaan die vriendskap binnekort ’n stille dood sterf, dink sy wrokkig.

“Uit die aard van die saak is dit jou eie skuld as jy ongelukkig is by die werk, Leandi. Dis omdat jy alewig rebels is. Ék is heeltemal tevrede met die werksom­standighede by Swiegers en Smit,” sê Willem hoog­drawend.

Willem moes ’n politikus geword het. Hy gebruik graag frases soos “uit die aard van die saak” of “aan die einde van die dag”, dink sy katterig. Sy ken hom al langer as ’n jaar. Was sy nog die hele tyd blind? Hoekom sien sy nou eers hierdie eienskappe raak?

“Hierdie huis is nog ’n voorbeeld van jou kop­pigheid,” grawe Willem ’n stokou koei uit die sloot. “Jy kon al lankal ’n mooi woonstel in ’n goeie, veilige omgewing gekry het, maar nee, jy verkies om in hier­die . . . krotbuurt te bly.”

Leandi haal diep asem. Nou soek Willem skoor. Gewoonlik bly sy kalm terwyl hy stoom afblaas, maar die ergernis wat in haar binneste borrel en prut is besig om onkeerbaar op te stoot; soos melk wat wil oorkook, en hierdie meningsverskil gaan spoedig in ’n volskaalse rusie ontaard.

“Hierdie krotbuurt voldoen dalk nie aan jou hoë standaarde nie, maar ék is lief vir my skakelhuisie en ek bly lekker, Willem. Hier is ek my eie baas. Niemand kan my uitskop, soos nou met Anria en Riëtte gebeur het nie,” verdedig sy haar blyplek bot.

“Ek weet jy voel sentimenteel oor die plekkie omdat jy dit by die ou vrou saam met wie jy gebly het, geërf het, maar jy is onder geen verpligting om dit vir ewig te hou nie. Jy kan die plek verkoop en die geld beter belê.” Willem se stem word sagter. “Jy weet ek gee om vir jou, Leandi. As jy ja sê, kan ons verloof raak, ons geld saamgooi, en ’n mooi huis in ’n goeie omgewing koop.”

“En waar bly ek dan?”

“Saam met my, natuurlik.”

Leandi pers haar lippe opmekaar. Ken Willem haar werklik nog só sleg?

“Nee, dankie. Jy weet wat ek van ’n saamblyery dink,” antwoord sy kortaf.

Willem grynslag. “Weet ek dit nie! Jy hou my nie verniet al maande lank op ’n afstand nie. Vir so ’n moderne, liberale meisie is jou houding oor seks nie net uit die oude doos nie, dis heeltemal argaïes.”

Leandi bedwing die impuls om hom te bestorm en sy maermerrie blou te skop. Sy gaan rustig voort om die laaste skottelgoedjies weg te pak. Daarna vee sy vir oulaas die kombuiskaste af. Netnou, wanneer Willem sy ry gekry het, sal sy die kombuisvloer was, en dan is alles blinkskoon en gereed vir die tweeling om môre in te trek.

Vreemd hoe perfek dinge uitgewerk het, peins sy. Juis toe sy begin speel met die gedagte om Vlakfontein toe te gaan, is haar vriendinne se woonstelblok verkoop en moes hulle dringend ander blyplek soek. Hulle was maar te bly toe sy vra of hulle haar huis sal oppas in ruil vir gratis verblyf. Die tweeslaapkamerhuisie is klein, die tuintjie so groot soos ’n posseël, en dis dalk nie in die “beste” omgewing van hierdie Oos-Randse dorp geleë nie, maar dis haar eie, en sy is lief vir die plekkie.

En as dinge verkeerd loop en sy stert tussen die bene moet terugkom, waar gaan sy bly? Gaan sy An­ria en Riëtte weer uitskop? Of by Willem intrek? por ’n lastige stemmetjie, maar sy ignoreer dit.

“Ek moet eerlik wees, ek kan jou beheptheid met die kind nie verstaan nie,” versplinter Willem se on­vergenoegde stem weer haar gedagtes. “Dis nie asof Christo bloedfamilie van jou was nie.”

Sy woorde maak seer. Vir iemand wat kastig vir haar omgee, kan Willem partykeer verskriklik onsen­sitief wees.

“Ek wil net vasstel of my broer se kind versorg is, Willem,” antwoord sy stil.

“Jou aangenome broer.”

“My bróér,” reageer sy heftig. Sy wens sy het nooit vir hom vertel sy is ’n aangenome kind nie. Christo was die maat van haar kinderjare en die vertroueling van haar jongmeisiejare. Nou is hy en Clarinda, sy popfyn vroutjie, dood en hulle weerlose dogtertjie is alleen, en as Willem nie ophou om met sy skerp vingers op die rou seerplek te druk nie, gaan sy hom sowaar met ’n pan oor die kop slaan en by haar huis uitsmyt.

“As jy net wil weet of die kind versorg is, hoekom moes jy bedank? Jy kon mos net verlof geneem het. Waar gaan jy weer so ’n goeie werk kry?”

“Ek gaan nie net vir ’n paar dae Kaap toe nie, Wil­lem. Ek gaan dalk vir ’n maand, of twee, of tien. Ek wil daar bly tot ek doodseker is Madelein is gelukkig.”

“Waarvan gaan jy leef? En waar gaan jy werk kry? Ek het op die internet gekyk – Vlakfontein bestaan om­trent net uit ’n stasie, ’n hotel en ’n negosiewinkeltjie. Al werk wat jy dáár sal kry, is om koffie en suiker aan die locals te verkoop.”

Sy toon is neerhalend, en Leandi sug innerlik. Wil­lem sal nie verstaan nie. Hy is ’n linkerbreinmens: presies, wetenskaplik, verbeeldingloos. Emosies en sentiment speel geen rol in sy lewe nie. Dis eintlik ’n jammerte haar aanneempa en -ma het hom nooit ontmoet nie.
Hy sou voldoen aan al hulle vereistes vir ’n skoonseun. Hy is verstandig. Verantwoordelik. Ambisieus. Nog belangriker: Sy familie het sakke vol ou geld. En natuurlik, die kersie op die roomkoek: Hy het ’n vlekkelose, flatervrye stamboom wat strek tot by Jan van Riebeeck se oeroupagrootjie. Die paar drup­pels Engelse blou bloed wat in die 1800’s in Suid-Afri­ka uitgespoel en met die suiwer Jansenbloed gemeng het, het sy bloedlyn nie bederf nie, eerder verbeter.

Ja-nee, haar grootmaakouers sou van Willem ge­hou het. Hy is nét so snobisties soos hulle.

“Nog iets, Leandi – wat van ons twee? Ek hou niks van die idee dat jy vir ’n onbepaalde tyd so ver weggaan nie. Jy is nie ’n vlinder wat van plek tot plek vlieg soos die impuls jou beetpak nie. Dis tyd dat jy grootword en jou verantwoordelikhede aanvaar. Anders . . .”

Sy skud die vadoek uit en sprei dit sorgvuldig op die wasbak oop om droog te word. Toe draai sy om. “Anders wát, Willem?” Haar stem is bedrieglik kalm.

“Anders moet ek dalk ons vriendskap heroorweeg. Ek is vier en dertig. Ek wil gevestig raak – trou en met ’n gesin begin. Ek het gedog jy is my ideale vrou, maar ek weet nie meer nie. Jy is nie meer ’n voortvarende tiener nie, maar jy tree soos een op. Ek wil nie met ’n kind trou nie. My vrou moet ’n standvastige, besten­dige maat vir my wees, iemand wat my bystaan en ondersteun; nie iemand wat halsoorkop hiér gryp en dáár los sonder om aan die gevolge te dink nie.”

Leandi glimlag soet. “Jy’s heeltemal reg, Willem. Jy het ’n vrou nodig, maar dit sal nooit ek wees nie. Ons twee pas eenvoudig nie by mekaar nie. Ek sal jou nooit gelukkig kan maak nie. Jy moet my nou verskoon, ek wil môreoggend vroeg ry en ek moet nog inpak.”

Willem maak sy mond oop om te protesteer, maar sy neem hom aan die arm en stuur hom voordeur toe. “Totsiens, Willem. Ek hoop jy kry spoedig die vrou wat by jou pas.”

Sy gesig is ’n prentjie van verslaentheid toe Leandi die voordeur agter hom toemaak.

Sy leun met haar rug teen die deur. Nog ’n vriend­skap het in die stof gebyt, dink sy wrang. Soos soveel ander. Leandi Steyn het nou maar eenmaal nie die gawe om ’n langtermynverhouding te laat slaag nie.

Om te dink sy was aanvanklik nogal gevlei toe die aantreklike ingenieur haar vir ete nooi. Daarna het hulle ’n paar keer saam uitgegaan, maar sy het lankal vermoed dat hulle verhouding in ’n doodloopstraat is. Willem probeer gedurig aan haar voorskryf wat om te doen en haar weiering om na hom te luister irriteer hom verskriklik terwyl sy baasspelerige, on­sensitiewe houding haar teen die mure wil uitdryf. Sy kry dalk later spyt, maar op hierdie oomblik ervaar sy net verligting dat hierdie vriendskap verby is.

Nou kan sy Kaap toe gaan en ’n nuwe lewe be­gin sonder bande of verpligtinge – byna soos ses jaar gelede toe sy Gauteng toe gekom het, mymer sy. Maar tóé het haar ma haar by die bushalte afgelaai met ’n buskaartjie en ’n tas vol klere. Sy was vingeralleen, platsak, sonder kwalifikasies of werksondervinding. Nou besit sy ’n huis en ’n gesonde bankrekening, sy het goeie kwalifikasies en werksondervinding. Asook twee dierbare vriendinne wat haar nooit in die steek sal laat nie.
Die belangrikste van alles: Sy verlaat Gauteng uit eie vrye wil, anders as ses jaar gelede, toe sy nie ’n keuse gehad het nie.