Skip to main content

Uittreksel | ’n Warrelwind

Een

“Kotie, daardie gordyne moet af. Dis vol stof.”

“Goed, Mevrou. Ek haal dit af.”

Lillian Henderson tree terug en bekyk die gordyne krities. “Miskien ... ons moet kyk, as dit nie deeglik was nie, moet ek ander laat maak. Nee, ek dink nie daar gaan tyd daarvoor wees nie. Tien dae voor Kersfees is die meeste winkels wat gordyne maak, waarskynlik al gesluit. Wat gaan ons doen?”

“Kom ons was eers, en dan besluit Mevrou,” meen Eve, haar tweede huishoudster, in ’n kalm stem.

“Jy’s reg, Eve. Ek moet nie nou paniekerig raak nie. Dankie vir al julle harde werk, meisies. Ek weet nie hoe ek alles sou kon doen voor die groot kuier nie.”

Lillian gaan sit in haar sitkamer, leun terug teen die kussings en sluit haar oë. Wat op aarde het haar besiel om in te stem? Om van haar vriendin, Elzibi Cronjé wat net straatop bly, se familie vir die Kerstyd te akkommodeer was nie ’n goeie besluit nie. Sy moes twee keer gedink het voordat sy aangebied het. Dis net ... sy was bang sy gaan alleen by die huis wees terwyl die hele wêreld Kersfees saam met hul geliefdes vier. Wat eintlik belaglik is, want sy’s byna nooit alleen nie. Sy word na soveel funksies genooi, dat sy onmoontlik alleen kan voel.

Haar deurklokkie lui en sy frons liggies. Wie op aarde wil haar nou op skoonmaakdag kom pla?

“Toe maar, meisies, ek sal gaan oopmaak,” roep sy en loop voordeur toe. Net vir ’n oomblik sukkel sy om wat sy sien, te verwerk. Toe gee haar hart ’n verspotte bons. Sy wil groet, maar daar kom nie woorde uit nie.

“Hallo ... e ... jy’s mos Lillian, nè?”

Sy vererg haar. Die donkerkopman voor haar behoort te weet wat haar naam is. Hulle was ses maande gelede op dieselfde troue, en voor die troue het hulle vlugtig ontmoet toe hulle dieselfde partytjie bygewoon het. As hy só onseker is oor haar naam, het sy duidelik geen blywende indruk op hom gemaak nie. “Ja, ek is. En jy is Elzibi se pa, Jan, nie waar nie? Hallo, professor Nel. Dis gaaf om jou weer te sien. Wil jy inkom?”

Louis beweeg nie. Daar is dadelik ’n verwarde frons tussen sy grysgroen oë. Sy het hom heeltemal onkant gevang en sy verlustig haar daarin.

“Nee ... Ek is Louis, Elzibi se broer. Nie haar pa nie. Ons ... ons hét al voorheen ontmoet,” sê hy effens verontwaardig.

Nóú onthou die man skielik. Dis egter te laat; sy het haar klaar vir hom vervies. Sy sit ’n denkbeeldige klip op haar hart en die verspotte hartkloppings bedaar. “O, ek is jammer. Net vir ’n oomblik het jy soos julle pa gelyk. Toemaar, ek sien nou eers ek het ’n fout gemaak. Jy moet seker die oudste van haar broers wees?” Die feit dat sy aanhou torring oor sy ouderdom verdiep die frons. Dis goed so, na dese sal Louis Nel nie gou weer van háár vergeet nie. Hy gaan beslis weer aan haar dink, al is dit wanneer hy soggens in die spieël kyk en plooie soek.

“Nee, ek is die tweede oudste. Robert is die oudste.”

Sy roer haar skouers asof sy regtig nie omgee waar hy inpas nie. “Waarmee help ek, Louis?”

“Ek weet ek daag ’n bietjie vroeg op vir die vakansie, maar ek het gedink dit kan nie skade doen om solank in Elzibi se huis te bly nie. Ek wil eintlik net hoor of haar en Luca se huissleutels dalk hier is?”

Haar grysstof werk oortyd. Sy moet haar antwoord goed deurdink. Is hierdie nie ’n goeie geleentheid om Louis Nel ’n bietjie terug te kry nie? Hy wil mos so arrogant wees om van haar te vergeet. Bitter min kry dit reg. Dit ís beslis ’n gulde geleentheid. Sonder om regtig oor die nadraai te dink, skud sy haar kop. “Nee, ek is jammer, sy het nie haar sleutels by my gelos nie,” jok sy sonder om ’n oog te knip.

“Wat van die huis langsaan se sleutels – die een wat sy as ’n gim gebruik?”

Toe Luca en Elzibi ontmoet het, het albei ’n huis besit. Ná hulle troue het Elzibi by Luca ingetrek en het sy haar huis geheel en al in ’n gim verander. Daar is egter ’n slaapkamer of twee nog in gebruik en Louis weet dit seker. Sy trek haar skouers op en onthou terselfdertyd om gasvry te wees. “Ook nie. Luister, hoekom staan ons hier op my drumpel en gesels? Kom asseblief binne.” Sy hou die deur wyer oop en effens onwillig loop hy by haar verby.

“Wat wil jy drink? Tee, koffie?” Sy kyk op haar horlosie. “Dit was al twaalfuur en soos die oumense altyd gesê het: Die vliegtuig is lankal oor. Wat van ’n glas wyn?”

“Dis nogal warm. Het jy dalk ’n koue bier?”

Haar wenkbroue lig effens geskok. ’n Six-pack bier is die heel laaste ding wat jy in háár yskas sal vind. Louis lyk uiters gesofistikeerd in sy donker snyerspak en sy het nooit vermoed hy sal bier bo wyn verkies nie. “Ongelukkig nie, maar ek het koeldrank. Verskoon my, ek gaan kry vir jou.”

’n Paar minute later hou sy ’n skinkbord met ’n glas limonade na hom uit. Sy het dit goedgedink om sommer ’n kraffie yskoue water uit die yskas saam te bring aangesien die man kwansuis verskriklik dors is.

“Dankie.”

Hy drink lank en diep uit sy glas terwyl sy hom dophou. Vervlaks! Sy vind hom steeds net so aantreklik soos die dag toe sy hom die eerste keer gesien het. Sowat sewe of agt maande gelede. Sy kort, netjies geskeerde hare en grysgroen slaapkameroë tussen digte wimpers is steeds onweerstaanbaar. Sy het ook nie vergeet hoe hy met net ’n handdoek om sy onderlyf gelyk het toe hy in Elzibi se swembad wou gaan swem nie. Sy bolyf was en is waarskynlik nog iets waaroor ’n mens ’n gedig kan skryf. Sy mooi gespierde kuite seker ook. ’n Rilling hardloop teen haar rug af, maar sy ignoreer dit.

“Wanneer presies kom Elzibi en Luca terug van hul vakansie?”

“Hulle vlug land drie dae voor Kersfees. Jou ouers arriveer die dag daarna, so ook die res van jou familie. Almal wat saam kuier, is teen Oukersoggend hier in ons landgoed.”

“Ek het werklik gehoop hulle is al terug.”

Hy laat dit klink of hy hom nou in ’n debakel bevind, en sy voel effens skuldig. “Ek het voorgestel dat sy die sleutels los sodat ek die huise ten minste kan laat afstof voor julle familie opdaag, maar sy het moontlik daarvan vergeet. Wat gaan jy nou doen?”

“Ek sal seker maar ’n hotel of ’n gastehuis moet gaan soek. Ek weet net nie waar ek dié tyd van die jaar plek gaan kry nie.”

“Wag ... nie noodwendig nie. Ek kry gou die notaboekie wat Elzibi vir my gelos het. Daarin het sy mooi uiteengesit wie van haar familie bly waar. Dalk slaap jy in haar ander bure, Louise en Gertjan, se tuinwoonstel.” Sy kry die notaboekie in ’n laai en terwyl sy terugloop, soek sy Louis se naam op.

“Wat is fout? Jy lyk ... vies?” vra hy toe sy weer sit en die notaboekie toemaak.

Lillian kry net nie ’n tweede leuen oor haar lippe nie. “Jy is oorspronklik ingedeel om by my te oornag. Jy en jou twee jonger broers, Armand en David. Lyk my Elzibi het al die ongetroudes bymekaargegooi.”

Sy kan sien dat hy, nes sy, dié brokkie nuus verwerk. “In daardie geval kan ek seker maar my bagasie indra.”

Sy word selde onkant gevang en dis moeilik om haar verbasing weg te steek. “Wat bedoel jy, jy kan jou bagasie indra? Ek ... ek verwag eers oor ’n week gaste. Ons ... ek en my huishoudsters is nou eers besig om die huis in orde te kry. Ons ... ek is nog nie reg vir besoekers nie. Julle sou eers volgende week hier opdaag, met meer as genoeg tyd vir ons om alles gereed te kry. Nee, dis ... nie ’n goeie idee nie.”

Vervlaks, dat haar eie voortvarendheid en leuen oor die sleutels haar nou sowaar aan die broek kom byt!

“Kyk, ek is mos hier ingedeel, wat maak dit saak as ek ’n paar dae vroeër intrek?”

“Dit maak saak, want hierdie is nié ’n gastehuis nie. Dis mý huis en hier doen ons dinge georganiseerd.”

“O, ek sien. Jy is effens van ’n beheervraat wat alles volgens ’n lysie en ’n tydskedule wil doen. Dis oukei, ek gee nie om nie. Jy en jou huishoudsters kan maar voortgaan om skoon te maak. Dit sal my glad nie pla nie.”

Sy snak na haar asem. Voordat sy egter iets kan sê, sit hy sy glas neer en kom orent. “Ek’s nou-nou terug.”

Sy steek haar hand uit, maar hy sien nie eens haar desperate poging om hom te keer, raak nie. Weereens werk haar verstand oortyd. Dié is totaal onvoorsiene sake. Ja, sy het ’n paar maande gelede gedink daar is net daardie ietsie aan hom. Iets wat haar hart vinniger laat klop en haar herinner dat daar tog nog ’n boks vol vlinders in haar binneste weggebêre is. Vlinders wat sy baie lanklaas vrygelaat het. Sy roer haar skouers. Watse skade kan dit nou eintlik doen as die man ’n paar dae vroeër by haar kom bly? Dis nie asof sy ooit toelaat dat enigeen haar oorrompel nie. Sy’s mos altyd in beheer van alles, insluitend haar hart en daardie boks vlinders.

Sy tas se wieletjies girts oor haar groot blink Italiaanse teëls toe Louis die sitkamer ’n rukkie later binneloop. Oor sy skouer hang ’n rekenaarsak en sy neem sommer aan hy is een van daardie mans wat maar net nie sonder sy skootrekenaar kan klaarkom nie.

“Waar slaap ek?”

Sy kom orent. Dié man is hopeloos te arrogant en dis belangrik dat sy sommer uit die staanspoor ’n paar dinge duidelik maak. “Ek stem nie in nie, dit moet jy mooi verstaan. Ek laat jou bloot hier intrek omdat Elzibi my vriendin is en jy gestrand is. Loop saam.”

Sy loop die trappe na die slaapvertrekke uit en stoot ’n deur oop. “Hierdie is jou kamer. Die badkamer is by daardie deur in en jy is meer as welkom om te sê as jy iets kort.”

Hy kyk om hom rond. “H’m, hierdie vertrek is baie mooi; dit lyk inderdaad soos ’n gastehuis se kamer.” Hy trek sy baadjie uit en lê dit netjies op die bed neer.

“Dis omdat ek van mooi goed hou.”

“Niks daarmee verkeerd nie. Gee jy om as ek ook ’n bietjie deur die res van jou huis loop? Ek hou daarvan om presies te weet hoe alles om my lyk. Dit laat my altyd meer tuis voel.”

Lillian wil frons oor die “meer tuis voel”. Sy’s nie seker of dit ’n goeie ding is nie. Sy wil nie hê hy moet té tuis voel nie.

Sy oë glim, maar sy gesig bly sedig. “Wel, gaan jy my nie verwelkom met ’n natuurlik-kan-jy-rondkyk-en-my-huis-is-jou-huis nie?”

“Nee, só gasvry voel ek beslis nie.”

Hy lag. “Ek wil nietemin alles sien, asseblief. Dit is net hoe ek is, Lillian. My omgewing moet vir my bekend wees.”

Sy mond lyk só mooi toe hy haar naam sê en voordat sy dink, gee sy summier in. “Goed, los jou tas en stap saam. My kamer is langs joune.” Hy loer by haar deur in en hulle loop verder. “Jou broer Armand gaan in die linkerkantste en David in die regterkantste kamer slaap. Hulle sal ’n badkamer moet deel. Die volgende vertrek is my privaat gimnasium en jy is welkom om daarvan gebruik te maak. En hier het ek ’n jacuzzi laat inbou, maar ek verkies om alleen daarvan gebruik te maak. Moet ek die vertrek sluit, of gaan jy by my reëls hou?”

“Dit sal nie nodig wees nie. Ek sal by die reëls hou. Of wag tot jy my saam nooi ...”

Haar wenkbroue wil al weer beterweterig lig, maar sy hou haar in. Of hy ooit sy lieflike lyf in haar jacuzzi sal sit, sal nog gesien moet word. Sy loop terug trappe toe. “Goed, kom ek vat jou op ’n toer deur die res van die huis.”

Nadat hulle die ander leefareas bekyk en sy hom die swembad en buiteonthaalarea gewys het, lei sy hom terug sitkamer toe. Sy beduie dat hy weer mag sit.

“Aangesien ons die huis ’n paar dae gaan deel, is dit seker nodig dat ons mekaar effens beter leer ken. Kan ons maar ’n bietjie persoonlike inligting uitruil?”

“Ek gee nie om nie ... Wat wil jy weet?’

“Hoe oud is jy?”

“Vyf en dertig. En jy?”

Daar is geen rede om dit weg te steek of daaroor te jok nie, en sy antwoord dadelik. “Dertig. Ek is ’n paar jaar gelede van die bekende advokaat Tim Henderson geskei. Dis geen geheim nie, en ek vertel jou sodat jy nie later daaroor wonder nie. Tim het my met sy sekretaresse verkul. Ek het hom uitgevang en hy het baie duur vir sy indiskresie betaal.”

Sy beduie betekenisvol na die mooi goed om haar en reken sy hoef nie meer daaroor te sê nie.

“Wat van jou? Is jy nog altyd enkellopend, of was jy dalk al getroud? Ek vra, want op die ouderdom van vyf en dertig moes jy jou tog seker al ten minste een keer ernstig aan ’n vrou verbind het.”

Hy skud sy kop. “Jy gaan dink dis ’n cliché, maar daar was nog nie tyd vir ’n vrou in my lewe nie. Natuurlik was daar al spesiale vriendinne maar dit was dit.”

“H’m, ek het Elzibi een keer gevra watse werk jy doen, maar sy het grappenderwys gesê dis ’n familiegeheim. Is dit?”

“Nee, nie regtig nie, maar ek is werksaam by ’n internasionale intelligensiemaatskappy wat lande se interne veiligheid monitor.”

“Jy bedoel ... Jy’s ’n spioen of so iets?” Lillian is nie seker hoe sy oor dié brokkie inligting voel nie. Beïndruk, maar dalk ook ’n bietjie lugtig.

“Nee, ek is allesbehalwe ’n spioen. Soos ek sê, ons versamel en bestudeer net die data om sodoende tydig ’n moontlike gevaarpunt in die land te identifiseer. Daardie klas van ding.”

“Wat is jou rol in hierdie ... e ... monitering?”

“Ek bestuur een van die plaaslike takke. Wel, nie op my eie nie; ek het ’n darem ’n span wat saam met my werk.”

“Is jy nét in die Kaap gestasioneer?”

“Hoofsaaklik, maar my tipe werk bring mee dat ek nogal baie moet reis. Dit is nie altyd lekker nie, maar deel van my pligte. Hotel- en vliegtuigkos is dus niks vreemd vir my nie.” Hy kyk haar stip aan asof hy haar gedagtes probeer lees. “Moet jou asseblief nie daaroor kwel nie. My werk is regtig nie ’n big deal nie. En jy? Wat doen jý vir ’n lewe? Is jy net ’n huisvrou of is daar iets meer?”

Sy frons en hou regtig nie van sy woordkeuse nie. Dis duidelik dat die man nog nooit na die Real Housewives van enige plek gekyk het nie. Hy weet duidelik ook niks van welaf vrouens wat ’n vol en produktiewe lewe lei én hulself die titel van huisvrou toe-eien nie. Sonder om ooit aan ’n stoflap of ’n afdroogvadoek te raak. Wel, nie dat dit presies haar beskrywing is nie, maar sy val definitief iewers in daardie kategorie. Sy gaan hom egter nie nou reghelp nie. “Jy kan my maar ’n huisvrou noem as jy wil. Of ’n tuisteskepper. Nie dat ek ’n tuiste vir iemand buiten myself skep nie.”

“Mevrou Lillian, middagete is gereed.”

“Baie dankie, Eve. Hierdie is meneer Louis Nel, mevrou Elzibi se broer. Hy gaan ’n rukkie by ons tuisgaan.”

“Ek het so afgelei en plek vir twee gedek, Mevrou. Kotie het ook reeds sy tas uitgepak. Goeiemiddag, meneer Nel. Sê asseblief indien daar iets is wat ons vir u kan doen.”

“Baie dankie, Eve, ek waardeer dit,” antwoord hy en lyk sowaar beïndruk. “As jy my nie so vinnig reggehelp het nie, sou ek regtig gedink het ek het in ’n gastehuis beland.”

“Wel, dit is nié ’n gastehuis nie.”

Die tafel is met haar beste eetware gedek. Dis hopelik nog iets waarmee sy hom kan beïndruk.

“Waaroor het ons nou weer in die sitkamer gesels? O, ja. Oor jou.”

Hy glimlag. “En oor jou. Jy het genoem jy is geskei, maar nie of daar weer ’n man in jou lewe is nie. Een wat ek moontlik nog in die huis gaan raakloop?”

Daar kon gewees het, as die einste lieflike mansmens voor haar destyds net ’n bietjie in haar belanggestel het. Maar hy het nie. Daarom het sy dit net daar gelos. Van mans wat haar nie wil hê nie, het sy genoeg gehad. Oor géén onwillige man is sy verleë nie.

“Daar is nie. Toe Luca, jou suster se man, in die buurt ingetrek het, het ek vir ’n rukkie my oog op hom gehad, maar dit het nie uitgewerk nie. Elzibi het meer as ek belanggestel, en ek het teruggestaan.”

“Dit was nogal ... ridderlik van jou.”

“Geensins. Die aantrekkingskrag was nie soseer Luca nie, maar die hele pakket. ’n Man en kinders maak ’n kitsgesin. Ek sou my in die toekoms nie te veel oor ’n familie van my eie hoef te bekommer nie. Dit sou alles reg in my skoot val.”

Louis frons liggies. “Bedoel jy daarmee jy wil nie kinders van jou eie hê nie?”

Sy roer haar skouers. “Ek het nog nooit my kop daaroor gebreek nie. Ek hou bloot my biologiese horlosie dop. Dit sal my waarsku wanneer die tyd reg is, of nie.”

“Is jy heeltemal oor Elzibi se man? Ek sal nou nie kan sê nie, maar Elzibi dink hy is vrek aantreklik en sexy. Het daar geen gevoelens vir hom oorgebly nie? Ek weet jy het destyds haar troue vir haar gereël, maar dis nie te sê daar het nie ’n ou vonkie vir haar man oorgebly nie ...”

Lillian lag sonder om aanstoot te neem. “Jy ken my duidelik nie, Louis. Ek is die laaste vrou op aarde wat na ’n ander vrou se man sal kyk. Dis bloot nie die moeite werd nie.”

“Ek het net gewonder.”

“Jy hoef nie.”

Hulle eet ’n rukkie in stilte voordat sy sê: “Wat gaan jy met jouself aanvang vir tien dae? Ek bedoel nou voor jou ouers, broers en ander familie by ons aansluit.”

“Ek sal wel iets kry wat my vakansie die moeite werd maak.”

“Net solank jy nie van my verwag om jou heeldag te vermaak nie,” maak sy net seker hy verstaan die situasie reg.

“Natuurlik sal ek nooit so iets doen nie.”

Sy vertrou nie sy sedige gesig, óf die vonkel in sy oë nie. Hy bedoel nie ’n woord daarvan nie, weet sy sommer.

Ná ete sê sy beslis: “Nou ís seker die tyd om te sê: Maak jou tuis en dink aan my huis as joune. Die swembad is buite. Die televisiekamer is by daardie deur in. Jy sal alles op die grootskerm-TV vind. Internet, M-Net, Netflix, of wat ook al jou smaak is. Jy weet waar die gim is, en as jy regtig iets soek om jou mee besig te hou kan jy gholf gaan speel. Daar staan ’n gholfkarretjie in my motorhuis.”

“Speel jý gholf?”

Sy is dadelik verontwaardig. “Baie beslis nié. Ek sien myself nie ure in die son en dit om agter ’n wit balletjie aan te foeter nie. Dit was my eksman s’n.”

“Jy speel nie gholf nie, maar jy wou dit ook nie vir hóm gee nie?”

“Doodreg.”

Weer lag hy, want hy wóú haar ’n bietjie uitlok.

“Ek wou maar net seker maak ek het jou reg opgesom.”

“O, ek twyfel sterk of jy my in so ’n kort tydjie kon opsom. Ek’s seker ek gaan jou nog ’n keer of wat verras met iets.”

“Daaraan twyfel ek nie vir ’n oomblik nie ...”

Sy draai om en loop weg. Dis ongewoon, dié man wat haar met alles wil troef; wat op alles iets te sê het. Sy kan net nie besluit of sy daarvan hou of nie.