Uittreksel | ’n Vrou staan op
Inleiding
Toe ek die nuus bekend maak dat ek drie weke ná my egskeiding verloof geraak het, was daar baie kommentaar. Hoe verklaar mens dat jou hele lewe in ses weke totaal verander en jy soos die spreekwoordelike feniks uit ’n ashoop herrys?
Met dié het ek my voete op ’n nuwe pad gesit en wou ek uit my vel spring van blydskap en vreugde terwyl almal om my wal gegooi en geglo het dat ek van die wal in die rivier spring. “Jy maak die fout van jou lewe,” het hulle gesê.
“Jy is oorhaastig. Hoekom doen jy dit?”
Dis tog voor die hand liggend. Ons is seker van ons saak, ons het mekaar gevind. Die verlede is agter ons. Bowenal, ons is nou al middeljarig en weet wat ons van die lewe wil hê.
So het ons gedink. Die verlede het ’n lewe van sy eie. En die toekoms is ’n vreemde wêreld as jy op sestig oor begin. As jy jonk is, sien jy vir alles kans … en nou?
Niks is maklik of voorspelbaar nie. Dit weet jy wel. Terwyl jy bakstene pak om die deur agter jou toe te bou, bly hy oopskiet om spoke deur te laat. Die bouery hou nie op nie. Gaan jy moed opgee?
Maar jy leer die spoke ken. Terwyl jy aan jou nuwe huis bou, moet jy, die mens in die huis, eers gespeen word van die verlede voordat jy vaste kos kan begin eet. Asof jy lank in ’n kokon vasgespin was en net nie kan uitbreek nie. Jy moet die beginpunt van die kokondraad gaan soek. Eers van daar af kan jy begin ontrafel.
Herstel ná mishandeling deur ’n narsis is ’n lang pad met baie kronkels. Maar dit is moontlik. Jy moet gló. Jy moet probéér. Só staan ’n vrou weer op …
Deel 1
Wat maak jou ’n slagoffer?
Hoofstuk 1
Bus-blues
Aldo kom deur die reën gehardloop en druk my by die bus se deur in. “Klim in, Ma, en hou die kaartjie byderhand anders kan Ma nie weer Ma se tas kry nie. Bye, love you longtime! En geniet die vakansie.” Die waardin klap die deur toe en die bus beweeg. Ek sak neer op my sitplek en probeer die wasem van die venster afvee om my kind vir oulaas te sien, maar ek sien net die heldergeel blerts van sy baadjie soos hy in die donker verdwyn na waar sy voertuig is. Die Hoëveldse donderstorm trek ’n gordyn af tussen ons. En na twee jaar se huil het my liggaam sowaar nog trane. Ek huil soos ’n kind wat weggestuur word van sy huis en almal wat sy ken en liefhet.
Ek is bang. En alleen. Vir die eerste maal in my lewe voel ek heeltemal op myself aangewese. Een middeljarige, afgetakelde vrou teen die wêreld.
Ek sit opgekrul met my kop teen die venster en trek my baadjie oor my kop. Tien minute later ry die bus voor my huis verby, waar Gesiggie die kat alleen sit; almal is nou weg. Ek, Bart, die seuns, Miemie, Daschja. Die hele gesin wat eens daar gewoon het. ’n Paar blokke verder kan ek die dak van Hannes se huis sien. Bart woon sedert hy ’n jaar terug die huis verlaat het by sy broer, Hannes. Die haatlike gevoel van verwerping spoel oor my. Gesels hy nou oor die foon met Bertha, die vrou met wie hy in die rehabilitasiesentrum ’n verhouding begin het? Voel hy hoegenaamd sleg, skuldig, jammer? Nee. Hy is nie in staat tot enigiets buiten selfsug nie. Hy is immers ’n narsis. En ek? Ek is op hierdie bus omdat ek vlug.
Ek wil nie meer in my eie huis en stad wees nie, maar ek wil nêrens anders wees nie. Die wêreld is ’n ongenadige plek sonder skuiling. Ek wil eerder by my ma in die ouetehuis wees, snoesig onder haar pienk fluweelkombers terwyl sy die monsters wegbaklei. Haar trane het geloop toe ek hulle vanmiddag groet.
Hierdie reis is nie die eerste wat ek alleen aanpak nie. Maar dis die eerste een onder my eie vaandel as geskeide vrou. Ek is hartseer. En woedend. Bart se woorde van vroeër vanmiddag brand nog soos swaelvuur op my vel. Gaan dit ooit ophou?
Bart ly honger, daar is niks kos in sy huis nie,” het Miemie die middag in die kamer kom sê waar ek besig was om my reistas toe te rits. Dis die begin van die Kersvakansie. Elke jaar voor ons gesin vertrek het, is die vrieskaste leeggemaak en het sy al die kos gekry. “Gee dit asseblief vir Bart, ek sal regkom, maar hy, hy sukkel.” Bart, die genadelose narsis wat my meer as veertig jaar lank mishandel het.
Sy dra agt sakke kruideniersware in na Bart waar hy nou by sy broer Hannes bly. Ek wag in die kar terwyl sy ’n laaste rukkie kuier. Dan moet ek haar aflaai en my ouers gaan groet voor Aldo my busterminus toe neem. Ek is spyt die vlugte Kaap toe is almal vol; ek het geen ondervinding van so ’n lang busrit nie.
Die busroete loop voor ons huis verby. Terwyl ek deur die ruit na die huis kyk, is daar ’n groot verlatenheid in my. Elke jaar van ons huwelik was ons Desember see toe, nooit een jaar oorgeslaan nie. Behalwe laas jaar toe ek na Tersia-hulle in Londen is.
En nou. Geskei. Nie meer deel van mekaar se lewens nie. Kerstye was altyd spesiaal vir my, die afwagting, die weke lange pakkery.
Simon, Miemie se man, het altyd ’n week voor die Kersvakansie ook kom inval; tuin skoonmaak, klein herstelwerkies aan die huis, visstokke vir Bart nagaan, lood smelt en sinkers maak, die vistrommel regpak en dan, net ’n paar dae voor ons ry, sou hy die Ventertjie uit die motorhuis haal, skoonmaak en stadigaan die hele Kers-boksemdais begin laai. Bart sal tot op nommer nege-en-negentig nog vraestelle merk, of in die merksentrum sit. Ek sorg dat almal se klere reg en genoeg is, al die dinge wat moet saamgaan seehuis toe gekoop is, en vir die Kersgeskenke. Dikwels reël ek ook my ouers, wat altyd saamgaan, se goedjies.
Dis ’n weke lange gewoel en werskaf en boonop die besigste tyd by die werk. Almal het Novemberitis: kort lonte wat maklik ontvlam, die jaar moet nou klaar. Dis byna rustyd …
Een jaar het ek besluit al my Kersgeskenke moet in silwer en pers toegedraai word; elke pakkie met ’n ander handgemaakte tooisel op. Iewers is daar nog ’n foto. Dit was so mooi; ’n labour of love. En die jaar toe ek die swart-en-wit Kerstafel geskep het, met swart miniatuurvoëlkoutjies van karton as naamkaartjies, elk met ’n piepklein wit viltduifie binne-in. Dit was ’n taak wat ’n maand se etenstye in beslag geneem en my hande, danksy die matmessie, vol eelte gelaat het. Kerstyd was die enigste tyd dat ons soos ’n gewone, normale gesin sou funksioneer. Baie min rusie, die see, rus, vrede. ’n Vreugdetyd vir my.
Ek het altyd Bart se vakansie- en visvangklere gaan koop. Hy self het “nooit tyd” daarvoor gehad nie. Ek het die mate van sy klere, die groottes en broeklengtes soos die Geloofsbelydenis geken. Presies soveel kortbroeke, T-hemde, visvangstewels. Alles word volgens lysies gepak sodat daar geen foute kan insluip nie.
En hier sit ek nou voor Hannes se huis waar Miemie vir haar gewese werkgewer kos moet bring. Totaal uitgeboer. En dit kon alles voorkom gewees het. Laas jaar in Londen wou my hart nog breek toe daar geen Kerswense van hom af kom nie. Miskien moet ek hom darem ’n geseënde Kersfees toewens. Hy bly tog ’n mens, al is hy nie meer my man nie. Ons ken mekaar meer as vier dekades en as ek by enige van my hoërskoolmaats verbyloop, sou ek hulle tog groet. Dit is steeds ondenkbaar dat ons, na twee-en-veertig Kersfeeste saam, nie eers meer Kerswense wissel nie. Dis tog ’n tyd van vrede. Goeie maniere verdamp mos nie saam met ’n egskeiding nie?
Miemie en Bart kom uitgestap. Ek klim uit en staan nader, maar toe ek my mond oopmaak om te praat, storm hy op my af. Hy begin gil en vloek en raak obseniteite kwyt. Ek sien sy oë rooi blink en spoegskuim by sy mond uitspat. Dít ken ek te goed.
Bart is dronk. Hoe dan anders?
Op hierdie Donderdagmiddag van 7 Desember 2017 met die son nog hoog in die lug is hy reeds by die slingerpunt verby en op die aggressietrein. Hier gaan geen Kerswense uitgeruil word nie. Dit is net ’n voortsetting van hoe ons huwelik die afgelope dekades was. Ek pirouette byna in die lug soos ek probeer wegkom. Ek is reeds in die kar teen die tyd dat Miemie inspring. Ons jaag uit die doodloopstraat waar hy woon.
’n Paar sekondes later lui Miemie se selfoon. Dis Bart. “Miemie, sê vir Esli sy kan in haar moer in vlieg. Wie dink sy is sy om hier te kom afklim? Sy moet my eers vra of ek haar wil sien, sy kom nie net hier aan en …”
“Bart, luister net. Ek het jou gesê Esli wag buite, jy het geweet sy vat my weg taxi toe, en jy het al die kos gevat wat sy gestuur het …”
“Fok haar en haar kos. Dis nie sy wat dit gekoop het nie, dis ek. Dis ek wat elke ding in daardie huis tot vandag toe betaal.” Bart hou aan skreeu en vloek. Later begin hy my met my ma vergelyk: hoe ’n slegte ouer ek is, dieselfde verkleinerings wat ek jare lank moes verduur. Miemie sit die foon op haar skoot; sy weet al dis nodeloos om deel te neem aan die gesprek. Sy dronk tirade duur voort terwyl ek in die spitsverkeer probeer kophou. Na ’n ruk kan sy hom lank genoeg stilmaak om te sê dat haar battery tot by die huis moet hou, sy moet groet.
“Waar is Esli?” skree hy.
“Jy weet mos ons is in die kar, sy sit hier langs my.”
“Nou sê vir haar een ding wat sy …”
“My battery is flat, ek moet groet. Ek sal jou volgende jaar kom soek as ek van die holiday af kom. As jy nóg daar bly. Kyk mooi agter jouself en onthou dis die Here se Krismis. Moet asseblief nie so baie drink nie.” Sy druk die foon moedeloos dood.
Ek kry ’n parkeerplek. Ons sit doodstil onder ’n groot jakarandaboom. Sedert Bart uit die huis getrek het, het ek finansieel gewurg. Skielik het ek al sy verantwoordelikhede geërf. Die laaste ding wat ek kon bekostig is om vir hom ’n maand se kruideniersware te gee. Wanneer ek terugkom van die vakansie is al my opgespaarde voorraad weg. En tog gaan doen Esli People Pleaser dit so waar as wragtig weer.
En kry ’n vervloeking as dank. Geen sprake van waardering of affiniteit nie. Net … niks. Niks behalwe aggressie, minagting en haat nie.
“Jy moenie vir hom kwaad wees nie,” paai Miemie. “Jy weet mos dis die dop wat praat.” Miemie, wat al ses-en-twintig jaar by ons werk. Sy ken hom net so goed soos ek – ás dit moontlik is om Bart hoegenaamd te ken.
Sy gaan voort: “Jy weet, toe ek vanmiddag daar instap met die groceries, daai klomp boarders wat saam met hom en Hannes bly, gryp die kos dat ek vir hulle skaam was. Die ketel kook nog voor hy eers na die sakke gekyk het, hulle maak koffie, gryp die brood en smeer, eet sommer Weet-Bix tussenin. Soos honger weeskinders. Nie soos mense wat werk nie. En Bart sit net daar. Hy staan nie op nie, hy pak niks weg nie. Ek het die vleis in die vrieskas gaan pak. Maar dis useless. Daar’s nie ’n slot op nie, hulle gaan die kos eet wat jy vir hom stuur. Al wat hy doen, is om op te staan en ’n dop te gooi. Ja, hy het siegrets ook. Ek het so gehoop die divorce sal hom change, jy weet, as hy sien dié keer gaan hy jou regtig verloor. Want toe die boarders loop, huil hy, hy vra waar gaan jy heen vir die Krismis en hy huil oor Kleinmond en die seuns op hul eie pad, maar as die ander naby is, dan hy praat soos hy altyd met jou praat.
“Ha ke tsebe. Ek weet nie hoe sy kop werk nie. Sometimes I think I understand, dan praat hy weer ander woorde as wat hy voor jou praat. Voor jou, hy praat soos met die hond; agter jou hy huil soos die kind. Die laaste ding wat hy gesê het voor ons uitgeloop het was dat hy jou na die vakansie gaan kom terugvat, maar toe hy jou sien, vloek hy jou.”
Ek skud my kop. “Miemie, dit sal nooit gebeur nie. Dis klaar. Ons is geskei. Dis verby. Ons moet groet, jy gaan jou taxi mis. Ek sien jou Januarie.”
Miemie klim uit en ek help haar met haar pakkies. Sy groet en loop stadig weg, draai om en kom terug. “Promise my jy gaan terugkom van die Kaap af, jy gaan my nie los nie. Jy weet dis nou net ek en jy. Ons moet nie óók divorce nie.”
“Ek belowe. Waarheen sal ek in elk geval gaan?”
“You never know wat kan gebeur. Onthou net, ek wag die eerste Maandag van January vir jou soos elke ander jaar. Please, kom net terug.”
Miemie is ’n klein mensie, maer en net vyf voet lank, ’n grootmens in ’n kind se lyf. Sy het my kinders grootgemaak en die ruwe pad saam met my gestap soos die huwelik ontrafel het. Ons is al wat sy ken, die enigste mense by wie sy nog ooit gewerk het.
Die vrees in haar oë klim saam met my in die bus Kaap toe …
My kop slinger nes die bus, soos hy sy pad uit die stad kry. Die afgelope maande se intriges en die laaste paar dae se emosies is te veel; die vinnige nie-groet met Aldo, Bart se laaste vervloeking, my ma se trane en Miemie se verwese gesiggie druk my teen die sitplek vas soos swaartekrag in ’n vliegtuig wat opstyg.
My binneste voel kliphard. Wanneer dinge te oorweldigend raak soos nou, is dit asof ek versteen. Ek word steeds Lot se vrou. Wel, seker nou Lot se gewese vrou. Ek sit en wag vir die slag wat my finaal kom verpletter. Ek is oortuig dit gaan gebeur. Miskien sal my hart net ophou klop en is alles in een sekonde verby.
Gelukkig het Dana vir my ’n enkelsitplek in die luukser deel van die bus bespreek en het ek ’n bietjie privaatheid. Nogtans bewe ek kort kort. Ek voel uitgesluit soos ’n nat hond voor ’n toe agterdeur.
In die nanag stop ons op Colesberg. Ek voel nou net gelate; just going with the flow. Ek is glad nie in beheer van wat tans in my lewe gebeur nie, asof ek net ’n passasier is en iewers weer net afgelaai gaan word.
Ons kan uitklim. Die meeste passasiers storm kleedkamer toe en dan na die restaurant. Ek gaan sit by ’n tafeltjie om te rook. Ek rook twee sigarette so vinnig dat my kop tol, maar terug in die bus raak ek stadigaan rustiger. My gedagtes begin vloei en my asemhaling word stadiger. Ek sien Aldo se gesig terwyl ons vir die bus gewag het; ek hoor sy hartseer oor alles wat ons die laaste jare beleef het. Dit vervloei met Bart se skelwoorde en Miemie se hangskouers toe sy wegstap, asof daar ’n swaard bo haar kop hang.
Hier in die buik van die bus ervaar ek die gevoel van my ma wat my kleintyd troos en aan die slaap sus. Ek dink aan ons kleintyd en vakansies. Ek onthou onverwags die vakansie op Morganbaai. Slaap verdamp en herinneringe hou my wakker.