Skip to main content

Uittreksel | ’n Tyd om te sing

Een

“Raai wie’t nou net voor die apteek gestop!”

“Wie?”

“Jacques van Storms en Stilte!”

“No way.”

“Gaan check vir jouself. Hy’s hier met hul bus­sie.”

Die meisies praat so hard van opgewondenheid dat die apteker, Amy Clarkson, nie kan help om hulle te hoor nie. Adrenalien skiet deur haar lyf en laat haar vries.

Sy herken nie die twee tieners nie, maar die dae is lankal verby dat almal almal op Mountain Creek geken het, soos toe sy nog ’n kind was. Hoekom pla dit haar dat die meisies so in vervoering is oor hom? Sy weet tog hy is vir hulle soos Justin Bieber terwyl die ouer geslag hom weer as Suid-Afrika se nuwe Jo Black beskou.

Amy kyk na die apteek se ingang en blaas haar asem verlig uit toe sy hom nie daar sien inkom nie, altans nóg nie. Die moontlikheid dat hy enige oomblik daar kan verskyn, laat haar hart so verwoed klop dat dit voel asof dit by haar borskas gaan uitspring en weghardloop. As dit nie vir haar ribbes was nie, het dit sekerlik al by die dorp se grense getrek. Wat makeer haar? Hulle moet mekaar die een of ander tyd raakloop. Dit is onvermydelik. Sy het tog tien jaar gehad om haarself op hierdie oomblik voor te berei.

Met ’n diep asemteug dwing sy haarself na die medisynerak en kry ’n pakkie bloeddrukpille. Sy probeer op haar kliënt fokus toe sy omdraai en na die toonbank terugloop, maar dit is asof ’n onsig­bare mag haar blik onderskep en dit trek na die bekende gesig van Ruan Smit, soos sy hom ken, of eerder geken hét.

Ruan moet bewus wees van die reaksie wat sy teenwoordigheid in hul plattelandse dorp veroor­saak, want hy kom met ’n aura van belangrikheid die apteek binne. Die selfingenomenheid verstrak egter op sy gesig toe sy oë hare ontmoet. Verbeel sy haar of verbleek hy ook?

Amy draai haar gesig haastig weg na haar kliënt en maak of sy Ruan nie herken nie. “Dankie, Oom. Hier is Oom se bloeddrukpille.”

Die omie se gesig kry ’n hele paar plooie by. “Maar ek het nie bloeddrukprobleme nie. Jy moet net my voorskrif vir die gout herhaal.”

’n Gloed stoot in haar nek op terwyl haar binneste yskoud word. Hoe kan sy so nalatig wees? Sê nou net die ou oom het iets oorgekom? “Ek is vreeslik jammer, Oom. Ek stel dit gou reg.”

Haar pa sê altyd ander mense mag foute maak, maar nie ’n dokter nie, tensy jy met iemand se dood wil saamleef. Dit geld vir haar ook. Sy beter nou konsentreer en koel en kalm optree soos sy haar lankal voorgeneem het.

Ruan kom staan in die ry.

“So ja, hier is Oom se pakkie Puricos, en weereens jammer daaroor.”

Die omie knik en lyk darem nie kwaad vir haar nie, maar dit gaan ’n rukkie neem om haarself daarvoor te vergewe.

Terwyl sy die volgende vrou help, is sy diep bewus van Ruan se oë wat elke beweging van haar volg. Kan hy nie maar wegkyk nie? Die twee tienermeisies wil so graag sy oog vang daar waar hul kamstig nie kan besluit watter vitamiene hulle moet koop nie. Sy sou nooit vir ’n man gekyk het wat tien jaar ouer as sy was nie. O, nie? En wat van Brad Pitt waaroor sy so mal was?

Ruan se oë gaan onbegrypend oor haar toe hy nader staan. “Hoekom werk jy in die apteek?”

Amy glimlag styf. “Waar anders moet ’n apteker dan werk?”

“Maar jy het gaan medies swot . . . Jy sou by jou pa se praktyk ingeval het.”

“Ek het ná my eerste jaar opgeskop en van rigting verander. Waarmee kan ek jou help?” Sy hoop haar stem kom sterk en ongeërg genoeg voor, want dit voel asof haar binneste die ritteltits het. Dit is onmoontlik om hom nie van tyd tot tyd op ’n advertensie te sien nie, maar dit is anders om voor Ruan Smit, nou ’n volwasse man, te staan. In matriek was hy gefrustreerd omdat hy nog nie ’n baard gehad het nie. Vandag beklemtoon sy stoppelbaard sy manlikheid en laat hom ontstellend sexy lyk.

Hy gee vir haar ’n papier aan. “Ek het net dié voorskrif vir my ma kom haal.”

Haar oë verstar op die medikasie. “Chemopille?”

“Ja. Het jy nie gehoor nie? Sy het borskanker en laas week ’n mastektomie gehad.”

Ontsteld kyk Amy op na hom. Tannie Mercia is een van die wonderlikste mense wat sy ken. Sy het ’n ruim hart en deel liefde uit waar sy ook al kom. Amy het haar nog nooit hoor kla nie, al was oom Doep ’n moeilike man. Daarby het hulle dit nie breed nie. “Nee, ek het nie geweet nie. Ek’s jammer.”

Ruan se mondhoeke pluk vlugtig. “Dankie.”

Sy bepaal haar maar weer by die voorskrif. Dit lyk nie of hy oor sy ma wil praat nie. “Laat ek net kyk of ons voorraad het, anders sal ek moet bestel.” Die plek op die rak is leeg soos sy gedink het. “Jammer, dit is uit, maar ek sal dadelik ’n bestelling insit. Kan ek ons drywer stuur om dit af te lewer sodra dit kom?”

“Dis darem nie dringend nie, maar dit sal gaaf wees, dankie.”

Amy gee hom haar plesier-dankie-en-koebaai-volgende-kliënt-glimlag, al reik haar hart pynlik na hom uit en al brand sy om te vra hoe dit met hom gaan.

Ruan se oë gaan oor haar. Sy mond gaan oop asof hy iets wil sê en toe weer toe. Met ’n skrams glimlag draai hy om. “Goed gaan, Amy.”

Haar erkentlike glimlag verdwyn vinniger as wat dit gevorm het; hy het nie lank genoeg gekyk om dit te sien nie. Sy sluk, maar die beklemming in haar keel wil nie weggaan nie. “Sê sterkte en beterskap vir jou ma.”

Ruan hou net aan loop. Maak hy of hy haar nie kan hoor nie, of het sy te sag gepraat? Sy kon dit nog nooit regkry dat haar stem ver dra nie, miskien omdat sy bang is dat dit soos skree sal klink, iets wat haar ouers ten sterkste afkeur.


Ruan hou hom doof vir Amy se stem. Hy het al vergeet hoe hemelsoet en sag dit klink, fyn gemoduleer asof sy uit die een of ander koningshuis kom. Eintlik hét sy in ’n paleis van ’n huis grootgeword – by verre die mooiste huis in Mountain Creek – en haar ouers het gesorg dat geen vinger na haar opvoeding gewys kan word nie.

Doep Dop se seun het ongelukkig nie dieselfde voorregte as sy gehad nie.

Hy slaan Storms en Stilte se bussiedeur toe. Dit is hoekom hy Mountain Creek soos die pes vermy. Hoekom moet hy elke keer die bitter beker drink wanneer hy hier kom? Die pad om te kom waar hy nou is, was lank en swaar genoeg.

Was dit nie maar genade van Bo nie? Hy kon ook regtig sy hand vir Amy gelig het om dankie te sê. Dit is egter te laat om terug te gaan en sal haar die verkeerde indruk gee.

Maar dit is nou genoeg van Amy en die Clarksons. Hy moet op sy ma fokus en die rukkie wat hy hier is vir haar so aangenaam moontlik probeer maak. Met sy suster Sandra wat Australië toe geëmigreer het en sy stiefpa wat laas jaar dood is, is hy al een wat haar kan ondersteun.

Die woord “stiefpa” lok ’n grynslag by hom uit. Die “stief” is heel gepas, want dit is hoe sy gewaande pa hom altyd behandel het.

Sugtend kyk in die hoofstraat af. Bestaan Marietjie se blomwinkel nog? Vandag wil hy opmaak vir al die bosse blomme wat sy stiefpa nooit vir sy ma gekoop het nie. Daar was altyd net geld vir brandewyn en Coke. Sandra kon hom ook nogal lekker om haar pinkie draai om vir háár nuwe tekkies en brand name-klere te koop.


Ma Mercia se oë gaan oop en sy glimlag sag toe Ruan by haar kamer inkom. “Kon jy regkom?”

“Die apteek het nie voorraad gehad nie, maar hulle het bestel en sal dit kom aflewer sodra dit kom. Ek het vir Ma blomme gekoop.”

“Sjoe, maar dis ’n vreeslike groot ruiker en so mooi. Baie dankie, jy moenie my so bederf nie.”

Dit is hoog tyd dat iemand dit doen. “Waar kan ek dit vir Ma neersit?”

“Sommer op my spieëlkas waar ek heeltyd daar­na kan kyk. Sal dit daar inpas?”

Ruan loop soontoe en pers sy lippe saam. Dááraan het hy nou nie gedink nie. “Wat van op die koffietafel in die TV-kamer?”

“Ja, dit sal ook mooi lyk daar. Dankie, my seun.”

Hy sit die ruiker eers op die eetkamertafel neer om die koffietafel te kan leegmaak. Die stapel tydskrifte dateer uit sy hoërskooldae en is van bin­nenshuisversiering en tuinmaak. Hy kan hom net voorstel met hoeveel verlange sy ma altyd daarna gekyk het, terwyl sy geweet het dat sy nooit so ’n mooi huis of tuin sou hê nie. Dit is die een ding wat hy hom ná skool voorgeneem het: dat hy nooit so van ellende sou krepeer nie.

Die ruiker staan amper die hele koffietafel vol. Tevrede met homself staan hy terug om daarna te kyk, maar in plaas daarvan dat dit die vertrek ophelder, lyk dit onvanpas, soos ’n boemelaar in deftige klere. Die vaalbruin banke het oranje oorgooi­doeke oor om die stukkende plekke weg te steek terwyl die ruitjies van die gordyne amper tot ’n eenderse bruin-en-oranje verdof het.

Diepe ontevredenheid kolk saam met die bitter­heid in hom toe hy omdraai en na sy ma terugkeer. “Kan ek iets vir Ma kry om te eet?”

“Nee, dankie. Ou Sofie het reeds ’n pakkie gevriesde sop vir my warm gemaak en gebring. Ek het haar gevra om vir jou ’n blikkie boeliebief saam met uie te braai. Jy kan dit net opwarm en op ’n stuk roosterbrood eet.”

Boeliebief – sy gunsteling! Hy moenie so ondank­baar wees nie, maar dit eerder waardeer dat sy ma in haar toestand nog aan hom kan dink. “Dankie, Ma. Ek sal vir my kry.”

’n Moeë glimlag raak aan haar mond. “Ek gaan nou slaap, as jy nie omgee nie?”

“Nee, glad nie. Ma moet my net roep as Ma my in die nag nodig kry.”

“Ek sal, dankie. Sofie het jou bed skoon oorgetrek.”

Nog ’n vooruitsig – sy ou bed! Dit gaan nie eens help om die matras op die grond te gooi nie. Die spi­raaldrade gaan hom nog steeds in sy ribbes steek. Hoe gaan hy deur hierdie paar dae kom?

Pleks dat hy sy ma eerder na sy meenthuis ge­neem het. Hy kon ’n gekwalifiseerde suster huur om haar te versorg, dan sou hy nie so skuldig voel omdat hy nie weet wat om te doen nie. Gelukkig is Sofie hier om te help.

Sy ou bed kraak waarskuwend toe hy te hard daarop neerval. Hy blaas sy asem trillend deur sy lippe uit en sit sy hande agter sy kop. Hy is nie hon­ger genoeg vir boeliebief nie en tel eerder sy selfoon op.

Instagram wys hy is oor die duisend boodskappe agter. Die selfie van hom by sy ma in die hospitaal het groter reaksie uitgelok as wat hy gedink het. Hy vluglees oor die eerste paar boodskappe.

Baie sterkte. Bid vir julle.
Jammer om van jou ma te hoor. Sterkte.
So jammer om te hoor. Mag die Here haar aanraak en genees.
Dink aan jou. Sterkte.

Hy verloor belangstelling en gaan terug na die hoofblad. Die vergrootglas vang sy oog. Ná ’n oomblik se huiwering tik hy Amy Clarkson by die blokkie in.

Haar rekening is privaat en hy kan net haar pro­fielfoto sien. Sy moes ’n professionele fotograaf gekry het. Net haar gesig en die viool is verlig om ’n dramatiese effek teen die donker agtergrond te skep, en die grasie waarmee sy speel vas te vang.

Haar vel is nog net so vlekloos as op skool. Hy wens hy kan haar fyn gesig in sy hande neem, oor haar reguit neusie streel en haar skraal vingers deur syne vleg.

Sy oë rek en hy vergroot die foto. Het sy ’n tatoeëermerk gekry? Dit lyk soos ’n takkie met blaartjies wat soos ’n armband om haar linkerpols gaan.

Haar ma het seker die aapstuipe gekry, en haar pa sou dit sekerlik nie goedkeur nie, maar hy moet erken dat hy self verbaas is.

’n Swaar gewig druk teen sy borskas en veroor­saak dat hy al hoe swaarder asemhaal. Hy sit die skerm af en gooi sy selfoon eenkant op die bed neer. Boeliebief is baie lekkerder as om aan Amy Clarkson te dink.


Amy sug toe sy die pakkie medisyne en toege­draaide geskenk sien. Het Simon, hulle aflewerings­man met die klein motorfiets, dit sowaar vergeet? Sy het die medisyne eenkant gesit omdat sy nog vir tannie Mercia ’n geskenk wou saamstuur.

Tannie Mercia hou van lekkerruikgoed en sy het vir haar ’n stelletjie laventelgegeurde poeier, room en ’n sepie laat toedraai. Eintlik wou sy graag vir haar ’n botteltjie parfuum gee, maar hulle is vervreem van mekaar ná Ruan met haar uitgemaak het.

Wat moet sy nou doen? Dit is al vyf voor ses en die apteek maak oor vyf minute toe. Sy kan Simon seker maar môre stuur.

Sal Ruan nog by sy ma wees, of het hy haar net teruggebring? Hy moet ’n vol program hê en sal nie sommer van sy opvoerings kan afstel nie. Sy wil tannie Mercia so graag sien.

Dit is seker verkeerd om so te dink, maar tan­nie Mercia het meer soos ’n ma vir haar gevoel as haar eie ma. Wanneer sy in die middae daar gaan kuier het, het die tannie haar en Ruan ingespan om met aandete te help. Ander kere het hulle saam met haar beskuit en koekies gebak. Die lekkerste was om by die kombuistafel te sit en kuier met ’n beker koffie en vars gebakte koekies.

Ruan het nooit daarvan gehou dat sy ma hulle so in die werk steek nie. Hy kon nie verstaan dat dit vir haar so lekker was nie en wou haar vir homself hê. Daarom het hulle baie keer eerder by haar huis gaan kuier waar daar in die dag niemand behalwe die huishulpe was nie.

In die somer het hulle meestal in die swembad baljaar; in die winter het hulle flieks by die kaggel gekyk. Hy was mal daaroor om snoeker te speel en het haar altyd gewen. Sy het hom met skaak geklop, maar net een keer. Daarna wou hy nie weer speel nie.

Die kassier wat die deure agter die laaste kliënt sluit, ruk Amy terug na die hede. Sy sit haar rekenaar af en tel tannie Mercia se pakkies op.

Dit was toe nie so goed om Ruan weer te sien soos sy altyd geglo het nie. Sy het gedink sy is oor hom. Nou voel dit egter of die tyd teruggedraai het en sy weer in matriek is. Haar hartseer het eindeloos gevoel.

Dit het nie verander nie.