Skip to main content

Uittreksel | 'n Troukoek en 'n wiskundeboek

Een

Die man wat onder die flouerige stoeplig staan, is groot en baie omgekrap en Annelize weet dit was ’n fout om die polisie so halsoorkop te bel. Nee, nie ’n fout nie: Dit was ’n kolossale flater. Spyt daag mos altyd te laat op. Hoekom het sy nie ten min­ste daaraan gedink om haar kamerjas te gryp voor sy minute tevore hier uitgestorm het nie? Het sy ooit haar deurmekaargeslaapte hare platgevee? Sy lyk seker verskriklik. Boonop is almal nou vir haar kwaad. Ag aarde, kry ’n mens ’n boete of iets as jy die polisie verniet laat uitkom?

“Laat ons kyk of ek reg verstaan,” sê die polisie­man met ’n frons. Hy lyk ook maar vaak en koulik, nagdiens in die winter is seker nie baie lekker nie. “Jy, Juffrou, dog hy is ’n inbreker, en jy, Meneer, sê dis jou ouers se vakansiehuis hierdie en jy weet nie wat sy hier maak nie.”

“Korrek,” kom dit kortaf van die donkerkopman. “Ek ken hierdie persoon van geen kant af nie.”

Wel, dit ís redelik donker, dink Annelize, en Jo­lanie se broer het haar jare laas gesien. Dit was net daardie een keer toe . . . Annelize frons. Wat was die geleentheid nou weer? Moes hy iets by Jolanie se meenthuis daar in die Vrystaat kom aflaai? Hoe ook al, daar was ’n meisie by hom en hy was só haastig om weer te ry dat hy skaars met iemand gepraat het. Boonop was Annelize se bruin hare kort, nou hang dit tot onder haar skouerblaaie. Sy onthou dit goed, want dit was net nadat sy op Stilpoort saam met Jo­lanie begin werk het. Sy herken hóm ook maar net omdat daar ’n groot gesinsfoto teen die sitkamer­muur van Jolanie se blyplek is en sy elke keer wat sy by haar vriendin kuier, in sy gesig vaskyk.

“Ek is regtig jammer,” probeer sy vir die hoeveel­ste keer verduidelik. “Soos ek sê, ’n geluid buitekant het my wakker gemaak en toe ek deur die venster kyk, sien ek iemand in die donker by die motorhuis peuter. Toe bel ek maar 10111.” Sy is óók moeg, deksels. Dit was nie ’n grap om haar hele lewe op te pak en na ’n wildvreemde dorp te ry nie. Praat nie van die besluiteloosheid oor haar woonstel en meubels nie. Hoe de joos moes sy weet Jolanie se broer gaan donkernag hier opdaag om blykbaar sy vakansie by sy ouers se strandhuis deur te bring? Jolanie het dan gesê die plek staan vir maande leeg in die winter.

“Die motorhuis se deur haak skielik vas, ek het probeer kyk wat aangaan. Ek het laat uit die Kaap vertrek en netnou eers hier aangekom.” Hy vroetel met ’n bos sleutels. “Dit was ’n lang dag en ek het nie nou nog lus vir probleme nie.”

Sy kortaf stemtoon spreek boekdele en Annelize is seker hy het spesifiek na haar gekyk toe hy die woord “probleme” sê.

“Ek het in hierdie week nog met my ouers oor die telefoon gepraat en nie een van hulle het gesê iemand gebruik die huis nie,” verontskuldig hy hom­self verder.

“Die woonstel, nie die huis nie,” kan Annelize nie help om vinnig by te voeg nie. Die polisieman kyk haar steeds agterdogtig aan. “Ek het vanmiddag eers hier aangekom. Die . . . alles is nogal vinnig gereël.”

“Dalk kan jy jou ouers skakel en vra wat aan­gaan?” stel die tweede offisier wat tot dusver stil was, voor. Sy klink verveeld.

Annelize sien hoe die man voor haar sy kop skud. Ludwig, dink sy, Ludwig Jansen, haar beste vriendin se hooggeleerde ouer broer.

“Ek gaan nie my ouers hierdie tyd van die nag bel nie, ek sal maar môre werk maak hiervan.” Hy lig sy arm en sy horlosie se gesig verlig outomaties. “Later vandag, bedoel ek.”

Werk maak, nogal? Wil die man haar uitskop, haar tasse met klere hier voor in die straat uitgooi? Annelize vervies haar. “Jou suster het self vir my die woonstel se sleutel gegee.” Sy lig haar ken en kyk hom ’n bietjie uit die hoogte aan. “Ek is hier om Jo­lanie se troue te help reël.”

“Soos ’n wedding planner?” vra die vroulike offisier skielik met belangstelling. “Wanneer is die troue?”

“Oor ses weke.” Annelize sluk. Nét ses weke – hulle sal moet wikkel. Daar’s nog ’n magdom werk om te doen. Jolanie draai vas en haar ma het nie gedink sy sal nou nog oorsee sit nie.

Ludwig verwerdig hom nie om haar te antwoord nie. Trouens, hy kyk nie eens behoorlik in haar rigting nie. Seker te high and mighty om ’n gesprek te voer met iemand wat pienk pajamas aanhet.

Die polisieman praat weer. “Julle moet maar julle sake beter reël, mense. Dan is daar nie misverstande soos hierdie nie.”

“Jammer oor die vals alarm,” antwoord Ludwig grimmig. “Hierdie hele situasie is buite my beheer.”

Nou frons Annelize behoorlik. Genade, pleks dat iemand dankbaar is sy was oplettend en het die polisie gebel toe sy dink ’n skelm probeer een van Jolanie se pa se motors steel. Of wat ook al in daar­die motorhuis is, sy weet nie eens nie. Daar is vier motorhuise en sy gebruik die een naaste aan die woonstel. Wel, gelukkig het die polisie darem nie met flitsende ligte en loeiende sirenes hier aangekom nie, anders was die vernedering nóg groter en die ou brombek hier voor haar miskien nóg kwater.

“Dit is laat en ek moet nog ’n plan met die stukkende deur maak,” sê Ludwig kortaf. “Dankie vir julle moeite, al was dit verniet. Verskoon my, asseblief.” Ná ’n laaste frons in haar rigting verdwyn hy in die donker.

’n Wraaksugtige ooievaar het hom seker afgelewer, dink Annelize toe sy ’n rukkie later vir haar ’n beker rooibostee in die woonstel se moderne kom­buis maak; dalk help dit haar om weer aan die slaap te raak. Bloedfamilie kan hy sekerlik nie van die gawe Jolanie en haar dierbare ouers wees nie. Dalk het sy spul grade en titels hom so bot en onvriende­lik gemaak. Enige redelike mens sal tog verstaan wat gebeur het, dalk selfs oor die misverstand gelag het.

Mans! dink Annelize toe sy later bibberend tus­sen die yskoue lakens inkruip. Is daar nie dalk iewers ’n planeet waar ’n mens geheel en al sonder hulle kan klaarkom nie?


Annelize word later die oggend wakker met die ont­stellende gedagte dat sy dalk haar tasse, wat nog nie eens uitgepak is nie, weer in haar motor moet laai as Jolanie se broer amok maak en haar uitsmyt. Sal hy so iets doen? Hy het beslis vies genoeg gelyk. Gelate staan sy op en maak die bed netjies, gaan skakel die ketel aan en trek die leefvertrek se gor­dyne oop. Die see lê glad en blink voor haar. Sy weet nie of haar toekoms ewe rimpelloos en blink daar uitsien nie. Die troue is oor ses weke. Verder as dit wil sy nie dink nie. Aan wat alles vóór haar koms hierheen gebeur het, wil sy ook nie dink nie. Verál nie daaraan nie. Sy haal ’n paar keer diep asem en bel haar vriendin.

Jolanie kan nie ophou lag toe sy hoor wat gebeur het nie. “Jy sê jy sit toe sowaar die polisie op Ludwig? O, ek wens ek kon sy gesig sien!”

“Dit was nie vanoggend eenuur snaaks nie, hoor,” verseker Annelize haar. “Hy was behoorlik de vieste in en die polisie was ook nie baie beïndruk met my nie.”

“Ag, hulle sterte,” is haar vriendin se ongeërgde antwoord. “Enige mens sal skrik as daar in die nag ’n geraas op die erf is en jy boonop iemand aan ’n deur sien peuter. Jy het die regte ding gedoen, dit kon maklik ’n inbreker gewees het. Selfs op Flenterbaai is daar seker af en toe misdaad.” Sy proes weer. “Ek wens ek was ’n vlieg teen die muur.”

“Ek het omtrent soos ’n onwelkome vlieg gevoel,” antwoord Annelize. “Is jy seker jou ma-hulle weet ek is hier?”

“Ja, man, Ludwig het seker net weer soos sy dinges geluister. Of dalk het dit nie eens ter sprake gekom nie. Hy slaan so af en toe op die ingewing van die oomblik daar by die strandhuis uit, g’n mens weet vooraf wanneer dit gaan wees nie. Hy ook nie. Dit het in elk geval niks met hóm te doen dat my wedding planner ’n ruk lank in die woonstel gaan bly nie. Glo my, Suster Sêra, ons het jou broodnodig. Nie ek of my moeks het geweet ’n troue het so baie los drade wat vasgeknoop moet word nie!”

Annelize sug en gaan leun teen die kombuis­toonbank. “Jolanie, jou broer is régtig nie bly oor my teenwoordigheid nie. Ek kan mos daar by my ma-hulle se huis ook al die –”

“Luister, Annelize,” val Jolanie haar dadelik in die rede. “Die woonstel waarin jy op die oomblik staan en twak praat, is vir familie en vriende aangebou. Behalwe dat jy die troue reël, is jy my beste vrien­din en boonop een van die strooimeisies. Ludwig is daar bo in die huis, julle gaan nie eens van mekaar weet nie. Oor ’n dag of drie is hy seker ook weg; hy kan hom mos nooit lank van sy werk af weg­skeur nie. Hy werk partykeer selfs vakansietye. En nee, jy kan nié my troue van jou ma-hulle se huis af reël nie. Dis honderde kilometers van Flenterbaai af. Ons het juis iemand nodig wat dáár is. My ma is nog steeds baie ontsteld omdat my pa se kontrak skielik verleng is en sy nie nou hier kan wees nie. Dit is vir haar baie erg want sy droom al donkiejare oor haar enigste dogter se troue. Sy voel eintlik sy laat my in die steek. Maar nou is jy daar en kan sy ontspan. Ek ook, terloops.”

Sy hoop maar alles werk so goed uit as wat Jo­lanie en haar ma verwag, dink Annelize benoud toe sy later aflui. Sy staan ’n oomblik besluiteloos rond, maak ’n beker koffie en stap na die kamer waar sy geslaap het. Sy sal seker iets moet begin doen. Vars melk gaan koop. Ja, dit is ’n begin. Maar in haar pienk pajamas kan sy seker nie dorp toe gaan nie.


Gelukkig het Flenterbaai ’n superette, al het sy eers per ongeluk tot by die verbypad agter die dorp gery op soek daarna en toe noodgedwonge uitgeklim en aanwysings gevra by ’n tannie wat haar petunias gestaan en natlei het. Annelize dwaal deur die win­kelrakke en wonder wat ’n mens moet koop as jou begroting skielik onseker is, en jou behuising net so onseker is. Nie nou aan begrotings en soortgelyke reusagtige probleme dink nie, maan sy haarself en konsentreer op die rak met los tamaties en uie voor haar. “Vitamiene en minerale,” sê sy saggies deur haar tande en gooi vier vet rooi tamaties met hul stingels nog aan, in ’n sakkie. Sy kry uie en uit ge­woonte laai sy ’n paar pakkies groen groente in haar waentjie – brokkoli, murgpampoentjies en gesnyde groenbone. Pak dan die helfte weer terug toe sy sien hoe duur dit is. Goeiste, mag ’n winkel regtig só baie vir ’n bondeltjie groenbone vra?! Avokado’s is darem nou redelik goedkoop en vol gesonde olie wat goed is vir die brein. Spanning tap die liggaam se hulp­bronne, dit weet sy.

Die klant langs haar ly miskien ook aan stres, want sy pak die een avokadopeer ná die ander in haar mandjie. ’n Baie mooi vrou met kenlengte blonde hare en ’n spanbroek by stewels. Annelize hoor al in haar gedagtes hoe haar ouma sal vra of die vrou dan haar broek by die huis vergeet het en eerder in haar sykouse rondloop. Sy kyk af na haar eie swart sweet­pakbroek en tekkies terwyl sy wegstap, en voel soos ’n slonskous. Maar al haar klere is nog in tasse. Waspoeier, onthou sy dan en draai in ’n ander rigting. Sy sal seker ’n bietjie vleis en eiers ook moet kry, want al wat sy uit haar woonstelkombuis kon saambring, is ’n boks met koffie, tee en ’n hand vol ander items wat nog nie opgebruik was nie. Met al die drama was eet en inkopies doen die laaste ding waaraan sy gedink het en boonop het sy geweet sy gaan weg, móét weg. Dan koop ’n mens tog nie sakke vol kruideniersware nie; jy gebruik wat jy het. Annelize haal diep asem en blaas dit stadig uit. Daardie tyd is verby en sy moet weer behoorlik na haarself begin omsien.

By die toonbank pak sy haar inkopies uit en knyp haar oë toe vir die bedrag wat van haar bank­kaart afgaan. Enige bedrag klink nou astronomies omdat sy weet haar laaste salaris was presies dit: die laaste.

Buite die winkel verblind die oggendson haar en byna sien sy Ludwig Jansen te laat raak. Hy het ’n selfoon teen sy oor en staar ingedagte voor hom uit, ’n kwaai frons tussen sy donker wenkbroue. Annelize versnel haar pas en swenk regs, by die naaste deur in. Vir hom en sy gebrom sien sy regtig nie op haar nugter maag kans nie – netnou vra hy haar wat sy nog hier op die dorp soek.


Ludwig lui af en druk sy selfoon in sy hempsak, sy oë op die deur van die boekwinkel waarin die meisie­mens pas verdwyn het. Praat van die duiwel! Verbeel jou: Sy bel sommer die polisie terwyl hy heel on­skuldig probeer kyk hoekom maak sy eie pa se mo­torhuisdeur nie heeltemal tot onder toe nie.

Ingedagte haal hy sy skouers op. Sy was seker bang, wat te verstane is. Haar oë was so wyd gerek dat hy selfs in die flou stoeplig kon sien dit is lig van kleur – blou of groen. Maar sy ma het hom pas oor die foon vertel hulle weet sy gebruik die woonstel vir ’n ruk; gaan glo met Jolanie se troureëlings help. Hulle sal dit só waardeer as hy sommer so half en half ’n ogie oor haar kan hou, dis so onveilig vroualleen, selfs op Flenterbaai.

Ludwig sug swaar en kyk ongeduldig op sy horlosie. Hy is hier om te werk, hy het nie tyd om sy suster se maters op te pas nie. Ook nie om on­bepaald voor winkels te staan en wag nie: Gemma moet nou gou maak met daardie avokadopere wat sy kom soek het.