Skip to main content

Uittreksel | ’n Trekker vir twee

Een

Ansone glimlag terwyl sy die laaste servet in ’n wynglas druk en ingedagte oor die protea bedrukte tafeldoek vee waarop haar spierwit eetgerei en silwermessegoed gedek is. Die kerse se flikkering gooi ’n sagte romantiese lig oor die tafel en laat haar verlang na mense wat sy nie ken nie.

Dromerig maak sy ’n wens.

Toe die voordeurklokkie lui, pluk sy haastig haar voorskoot af, slinger dit opgewonde na die rottangstoel in die hoek van die vertrek, en maak die voordeur oop.

“Mitsie, Adel! Ek is so bly julle is hier!” Hulle groet en druk mekaar, waarna sy haar twee vriendinne innooi. “Ek kan nie wag om my groot nuus met julle almal te deel nie, Jacques-hulle sal seker ook nou-nou hier wees.”

Mitsie hou ’n boksie sjokolade uit na haar. “Jy maak my nou baie nuuskierig, het jy uiteindelik iemand ontmoet?”

Sy skud haar kop. “Nee, nog nie. Maar my nuus gaan julle voete onder julle uitslaan. En met die nuwe rigting in my lewe, is enigiets seker moontlik. Ten minste gaan ek nou weer hope tyd hê vir myself.”

Adel glimlag. “Jy verdien elke bietjie geluk, Ansone. Veral na als wat jy vir oom Simon opgeoffer het. Ek het baie keer gewonder of hy ooit besef het hoeveel jy vir hom ingeboet het.”

Ansone glimlag geheimsinnig. “Glo my, hy het. En onthou, dit was my keuse. Maar kom ons gaan sit by die verwarmer in die sitkamer tot die ander twee by ons aansluit.”

Mitsie plof haar handsak op die mat terwyl sy op die sitkamerbank gaan sit.

Ansone kyk na haar. “En hoe gaan dit met die twee meisiekinders?” vra sy belangstellend.

“Baie goed, dis maar net die twee se stryery wat my soms onderkry, maar met die dat ek en my eks heeltyd van mekaar verskil, stel ons nie juis die beste voorbeeld vir hulle nie. Ons moet ’n manier vind om beter oor die weg te kom.”

“Julle gaan almal deur ’n aanpassingsfase, met tyd sal dit beter raak.”

Mitsie knik. “Ek hoop jy’s reg, maar genoeg van my probleme. Dink jy nie ons kan dalk ’n ander aanlyn platform as die vorige keer vir jou probeer nie? Dan kan jy ten minste solank ’n paar enkellopende mans ontmoet.”

Laggend skud Ansone haar kop. “Nee, dankie. Dit is regtig nie nou hoog op my prioriteitslys nie.”

Adel kyk belangstellend van die een na die ander. “Vertel, vertel! Wat het dan die vorige keer gebeur?”

“Mitsie het my jare gelede in ’n aanlyn platform ingeboelie om ten minste ’n plus-een vir ’n troue in die hande te kry. Maar dis lank gelede, voordat ek hierheen getrek het om oom Simon by te staan. Ek ys nou nog as ek dink dat ons hulle wraggies na my woonstel genooi het vir die eerste afsprake. Waar wás ons koppe?”

“Wel, ons was minstens twee. Elke keer. Ansone het volstrek geweier om alleen te wees tydens die ontmoetings.”

Ansone lag. “En Mitsie was natuurlik te nuuskierig om te weier.”

“Kom ons noem dit eerder beskermend,” probeer Mitsie haarself regverdig.

“Waaroor ek wonder, is wat die mans gedink het dat julle twee was,” sê Adel.

“Ja, né. Dit het nooit eens by my opgekom nie,” sê Ansone skielik ernstig.

Adel sit belangstellend vorentoe. “Was hulle darem iets vir die oog?”

“Nee, o genade! Die eerste ou was so ’n bleek, skaam meerkatmannetjie. Die ongemaklike stiltes was die heel ergste. Ons moes als uit hom trek – wat hy doen, waar hy bly, en wat nog als. Na wat soos ’n ewigheid gevoel het, het hy darem besef ek gaan nie sy geesgenoot wees nie. Ek kon nie wag om die voordeur agter hom toe te maak nie, maar nee . . . toe weier sy groen karretjie om aan die gang te kom, amper nes sy baas. En daar hardloop ek en Mitsie op ons hoë hakke straataf om sy mini aan die brand te stoot.”

Ook Mitsie proes nou van die lag. “Wat Ansone uitlaat, is dat sy erg intimiderend voorgekom het. Selfs ek was bra skrikkerig vir haar. Ek vermoed die arme ou se voet het so op die petrolpedaal gebewe en geruk dat hy nie in staat was om te bestuur nie. Hy was omtrent ’n senuweewrak. Eintlik het hy nogal potensiaal gehad.”

Ansone klap haar tong. “Seker vir ’n skilpad, ja. ’n Man moet darem tog ’n bietjie oemf hê, jy weet. Ek wil hom darem nie soggens uit die beddegoed skud om lewe te kry nie.”

Adel bars uit van die lag. “Sterkte vir die man wat dink hy is vir jou opgewasse. Was daar nog ander afsprake?”

“Net een. Daarna het ek opgegee. Toe dié vent by die deur instap met sy skouerlengte toutjieshare en kettings om sy nek en arms, wou ek die deur voor hom toedruk. Hy kon netsowel my oorlede stiefpa se jonger boetie gewees het. En toe hy vir my en Mitsie so ewe saamnooi na ‘pap en gril’ soos hy dit so platvloers uitgespreek het, was ek regtig klaar met die simpel aanlyn afsprake.”

Mitsie skud van die lag. “En ek het gewens die aarde moet onder my oopmaak, want met klaar, bedoel sy klaar. Sy het dwars na my gedraai en my deurboor met daardie groot blou oë van haar, en raai wie moes van hom ontslae raak?”

Adel skud haar kop. “O goeiste, nee, dankie. Dinge moet vir my ook maar op die boeremanier gebeur. Daar is darem nog hoop. Veral omdat ek en Ansone al twee graag wil kinders hê soos jy.”

Mitsie knik. “My kinders is die ligpunt in my lewe. Dis regtig ’n groot positief uit my mislukte huwelik.”

Adel verskuif een been oor die ander. “Ansone, hoe lank bly jy al hier om oom Simon te kon help?”

“Vyf jaar . . . Vyf van die moeilikste, maar tog ook die wonderlikste jare van my lewe.”

“Sjoe . . . Ek het nie besef dis so lank nie,” antwoord Mitsie.

“Eintlik het die tyd te vinnig verbygegaan. Ek mis hom vreeslik.”

Die voordeurklokkie lui. Brit en Jacques staan styf teen mekaar toe Ansone oopmaak en hulle innooi. “Kry julle twee nooit genoeg van mekaar nie?” vra sy glimlaggend.

Brit skud haar kop en gryp Jacques se ken speels vas. “Kyk dan die gevreetjie, wie sal hom dan nie wil opvreet nie?”

Ansone kan haar verkyk aan die twee. “Julle twee gee my regtig hoop. Kom in, julle liewe goed.”

Jacques trek sy jong vrou styf teen hom vas en soen haar op die voorkop voor hy haar laat gaan. “Ek hoop ons eet gou. Ongelukkig maak liefde en koue water nie die maag vol nie.”

Hy kry ’n stamp in die ribbes. “Hou jou in, Jacques!” lag Brit.

“Jacques, skink jy solank die wyn in, dan kry ek almal by die tafel.”

Na ’n oor-en-weer-groetery skuif hulle langs oom Simon se swaar eetkamertafel in.

Ansone lig haar wynglas en kyk na hul afwagtende gesigte. “Op die toekoms . . .” Vyf glase klink teen mekaar.

“Op die toekoms.”

“Het jy al van die erfgenaam gehoor? Moet jy uittrek?” vra Adel.

“H’m, hier voor julle sit oom Simon se enigste erfgenaam.”

Jacques kyk geskok na haar en frons. “Ek verstaan nie. Die ou man het dan altyd gesê als wat hy het, gaan eendag na die welsyn.”

Jacques se kras verwysing na oom Simon maak seer. Ansone kan hom egter nie regtig kwalik neem nie, want eintlik het oom Simon net vir haar in sy lewe toegelaat. Met ander mense was hy meestal kortaf en bot. Selfs vir haar was dit by tye nie maklik om die sensitiewe siel agter die harde kors te soek nie, maar uiteindelik was hulle soos familie vir mekaar.

Brit gee haar man ’n ligte klappie teen die arm. “Sy was baie lief vir hom, Jacques. Hy was eintlik soos ’n pa vir haar, en waarskynlik was sy die dogter wat hy nooit gehad het nie.”

“Dankie, Brit. Ek kon dit self nie beter gestel het nie. Maar dis nie al nie, julle . . . Oom Simon het ook ’n kleinhoewe naby Tesselaarsdal aan my bemaak. Daarom het ek die huis reeds uitverhuur en gaan ek nou op my plasie boer. Is dit nie wonderlik nie?” Sy voel verlig dat die nuus nou gebreek is, en kyk opgewonde na die gesigte wat geskok na haar staar.

“Boer?!” skree vier monde gelyk toe hulle uiteindelik tot verhaal kom. Sy glimlag net, want niks kan haar opgewondenheid demp nie. Sy is net bly dat hulle almal nou weet.

Mitsie skud haar kop. “Moet jy altyd so skokkend impulsief optree? Waar is Tesselaarsdal ooit? Ek het nog nooit van die plek gehoor nie.”

“Iewers tussen Caledon en Stanford.”

“Is jy nie bekommerd oor jou veiligheid so alleen op ’n kleinhoewe nie?” vra Brit. “Ek sou dit beslis nie gewaag het nie.”

“Waar op deeske aarde is ’n mens ooit honderd persent veilig? Maar net om julle gerus te stel, volgens die internet is hul misdaadsyfer van die laagste. Ek het klaar besluit, en dis nie oop vir onderhandeling nie. Sodra alles in plek is, sal ek julle soontoe nooi. Intussen gaan ek groente plant, tuinmaak en alles doen om selfversorgend op die plasie te leef.”

“Hoekom wag jy nie maar net tot die winter eers verby is nie, Ansone? Jy kan dalk net eers na die plek gaan kyk, en daarna besluit hoe jy daaroor voel. Hierdie besluit van jou klink te halsoorkop,” protesteer Adel.

“Jammer, outjies, dis reeds te laat daarvoor. Die verhuringskontrak vir die huis is reeds deur die huurder en myself onderteken. Hulle trek oor ’n paar dae in. Ek moet uit. Maar kyk net hoe mooi is dit daar! Hierdie skilderye teen die mure is deur oom Simon op die kleinhoewe geskilder. Boonop het hy altyd vertel dat einde Julie, Augustus die maande is wanneer die lande oortrek is met geel kanolablomme. Wat kan dan tog mooier wees as dit?”

“Maar wat as dit nie is soos jy jouself voorstel nie?” vra Mitsie.

“Dan figure ek iets uit.”

Stilte daal oor die tafel. Sy kom orent en glimlag op haar mooiste. “Dankie dat julle so baie vir my omgee, ek is net so lief vir julle klomp.” Ansone stap na die kombuistoonbank waar die warmskinkbord die kos warm hou. “Kom kry vir julle, hier is skaapboud, gebakte aartappels, pampoenkoekies en groenboontjies met spek. Maar hou ook ’n gaatjie vir die gebakte poeding, hoor.”

Dadelik is die spanning gebreek, want sy tob nooit oor dinge nie.

Wanneer die meeste mense hopeloos te veel dink en hulle bekommer oor allerhande dinge wat dalk nooit eers gaan gebeur nie, verkies sy eerder om op die ritme van die lewe te dans.