Skip to main content

Uittreksel | 'n Skatkis vol liefde

Een

Nederland 1802

Karlijn Verhoeven byt senuweeagtig op haar onder­lip. Hier waar sy in mevrou Janssen, die matrone van die kinderhuis, se kantoor sit en wag, kan sy voel hoe bewe haar ingewande. Sy het geen idee waarom hulle ingeroep is nie, en die gewag doen nie veel om die kommer wat in haar aan die opbou is te laat taan nie.

Sy kyk na die ander drie meisies wat saam met haar vir die matrone wag. Elsje, haar beste vrien­din sedert hulle vyf jaar oud is, se rosige wange is vandag spierwit van vrees. Jacomien, wat nooit kan ophou praat nie, sit doodstil eenkant en staar na die vloer. Anneliese lyk ook bekommerd. Al vier van hulle word in hierdie jaar agtien. Binne enkele dae vier sy haar verjaardag. Het hulle ouderdom dalk iets daarmee te doen dat hulle ingeroep is? Sy het al met mevrou Janssen gepraat oor haar toekoms en die matrone het beloof om haar te help.

Al vier van hulle kyk angstig op toe mevrou Jans­sen die kantoor binnekom en woordeloos agter haar lessenaar plaasneem. Sy leun vorentoe en vou haar hande op die lessenaarblad saam.

“Soos julle seker reeds weet, het die kinderhuis die laaste paar maande baie swaar getrek. Ons geldsake lyk nie goed nie en ek is bevrees daar gaan ’n tyd kom wanneer ons nie meer na al die kinders kan omsien nie. ’n Paar dae gelede het ek ’n telegram van kennisse in die Kaap van Goeie Hoop ontvang. Daar is blykbaar mans, Nederlanders, wat die wens uitgespreek het om vrouens uit hulle eie land te laat kom met wie hulle sal wil trou. ’n Skip vertrek binnekort na die Kaap en hulle het nog plek vir vier mense. Die raad het gisteraand vergader en besluit om julle vier te stuur. Jacomien, jy en An­neliese het reeds voornemende bruidegomme wat die wens uitgespreek het om met julle te trou. Elsje, ons het vir jou werk bekom in ’n winkel, en vir jou, Karlijn, werk as goewernante. Daar is ’n losieshuis waar jy en Elsje sal tuisgaan totdat ’n geskikte man vir elkeen van julle gevind is.”

In geskokte ongeloof luister Karlijn na mevrou Janssen. Sy kan skaars glo wat sy hoor. Sy het nou wel al baie gedroom oor die dag wanneer sy haar vlerke kan sprei en ander lande besoek, maar nie op só ’n manier nie. Daar is egter ’n sprankie van hoop. Sy het nog nie ’n voornemende bruidegom nie. Sy voel hoe ’n tikkie opgewondenheid haar beetpak. Sy gaan gouer haar avontuur beleef as wat sy gedink het!

“Wanneer vertrek ons?”

“Oor twee weke. Ek kan sien my nuus het julle onkant betrap, maar ons het egter geen ander keuse nie. Vir die ouer seuns het ons ook plasings op plase gekry. Ek is jammer, julle, maar ek glo daar wag ’n mooi toekoms op elkeen van julle. As af­skeidsgeskenk het die raad ooreengekom dat julle elkeen twee nuwe uitrustings kan kry. Julle kan nou maar weer gaan. Ons sal later die finale reëlings be­spreek.”


Karlijn rol haar lang vlegsel in ’n bolla op haar kop saam en steek dit met haarnaalde vas. Sy staan effens terug en stryk met haar hande oor die grys rompgedeelte van haar rok. Sy lyk en voel net so vaal soos die grys rok, dink sy en sug sag. Met haar ligte vaalbruin hare en vervelige ligte bruin oë is sy die lelike eendjie tussen die ander meisies. Selfs van die jongeres het al klaar die ontluikende skoonheid wat later tot volle vervulling gaan kom. Hoekom moes sy nou juis geseën geword het met so ’n vaal voorkoms? Kon sy nie net mooi oë of selfs Elsje se goue hare gehad het nie? Nee. Sies vir jou, Karlijn. Ondankbaarheid is ’n baie lelike eienskap en jy het baie om voor dankbaar te wees, berispe sy haarself woordeloos.
Sy draai weg van die spieël en glip by die kamer uit. In die vertrek langsaan hoor sy die ander mei­sies opgewonde kekkel oor die nuwe lewe wat vir hulle voorlê. Dis al waaroor hulle kan praat sedert mevrou Janssen gister die aankondiging gemaak het. Vandag kry hulle nuwe uitrustings wat nog meer bydra tot almal se opgewondenheid. Alles van strikke, valle en kleur word bespreek. Sy gee per­soonlik nie regtig om hoe die rok lyk nie, solank dit mooier is as die lelike grys.

Karlijn loop tussen die rye materiaal deur. Daar is so baie om van te kies. Sy het nog net een keer van­tevore die voorreg gehad om self materiaal te kom uitkies vir klere.

“Die ander meisies het alreeds hulle keuse ge­maak,” praat mevrou Janssen agter haar.

Karlijn glimlag. Soos sy hulle ken, het hulle net pienk gekies. “Hier is so baie wat vir my mooi is.”

“Kan ek ’n voorstel maak?” vra Edna, die klere­maakster.

“Asseblief.”

“Die sagte blou met die fyn wit blommetjies sal perfek by jou pas. Ek het gesien jy bewonder dit.”

“Blou is een van my gunstelingkleure.”

“Dan is dit die materiaal vir een van jou rokke. Watter kleur staan nog vir jou uit?”

Karlijn kyk om haar rond. “Die ligte geel en selfs daardie sagte groen is baie mooi.”

“Albei is baie goeie keuses en sal mooi by jou gelaat pas. Laat die finale keuse aan my oor. Ek be­lowe jou jy sal baie daarvan hou.”

“Nou goed,” stem Karlijn gelate in. Edna weet meer van mode af as sy. “Dankie, Mevrou.”

“Dit is ’n groot plesier. Ek is sommer saam met julle meisies opgewonde oor die groot avontuur wat op julle wag. Julle kan oor ’n week julle uitrustings kom haal.”

“Dankie, Edna. Kom, meisies, ons het nog baie om te doen.”


Vandag is sy agtien, dink Karlijn waar sy op die kop­pie agter die kinderhuis sit en die son dophou wat sy kop skaam-skaam bo die horison uitsteek. ’n Ligte briesie waai ’n string hare wat uit haar vlegsel losgekom het oor haar gesig en sy vee dit mymerend agter haar oor in. Sy voel nie anders nie en sy lyk ook nie anders nie, maar tog is sy ’n jaar ouer. Sy is nou ’n volwassene. ’n Vrou.

Oor twee dae vertrek hulle op die maande lange seereis na die Kaap van Storms. Sy wonder hoekom noem hulle dit so? Tog noem baie mense dit ook die Kaap van Goeie Hoop. Sy sal moet uitvind waarom.

Sedert die vorige dag is almal besig om reg te maak vir hulle vertrek. Sy sien baie uit na die nuwe lewe wat op hulle in die Kaap wag, maar tog sal sy na die ander kinders en mevrou Janssen verlang. Elkeen van hulle het ’n teer plekkie in haar hart. Die kinder­huis was haar tuiste sedert sy vyf jaar oud was, en nou moet sy alles en almal wat bekend is vaarwel toeroep. Sy het geweet hulle moet almal een of ander tyd weggaan, maar ’n reis na so ’n verre en vreemde land was sy nie te wagte nie. Volgens mevrou Jans­sen was dit die beste opsie vir hulle. Sy hoop maar die besluitnemers was reg. Sy spring vinnig op toe die etensklok deur die oggendstilte weergalm en haas haar terug na die huis.
Uitasem skud sy haar rok reg en druk nog hare wat uit haar vlegsel losgekom het, terug in plek. Sy haal ’n slag diep asem en loop dan die eetsaal binne.

“Kom nou, Karlijn, maak oop jou geskenke,” por die kinders haar ongeduldig aan. “Ons wil sien of jy daarvan hou.”

“Hoe weet julle wat daarin is?”

Hulle kyk skuldig na mevrou Versteek. “Ons het dalk afgeloer toe u dit toegedraai het.”

“Maar ons het niks vir Karlijn vertel nie,” voeg ’n ander een vinnig by.

“Julle stouterds,” sê sy kamma kwaai. “Dis net ietsie kleins, Karlijntjie. Jy was altyd so behulpsaam met alles en ek wou vir jou ’n kleinigheid gee om ons te onthou wanneer jy daar in die verre vreemde is.”

“Dankie. Ek waardeer dit baie.” Karlijn maak die bruinpapier versigtig oop en trek haar asem sag in toe sy die mooi haarborsel sien. “Dis pragtig! Baie dankie.”

“Karlijn, en dié pakkie is ’n geskenk van ons almal hier by die kinderhuis,” sê mevrou Janssen en oor­handig ’n pakkie aan haar. “Wanneer julle klaar koek geëet het, kom sien my asseblief in my kantoor.”

“Reg, Mevrou.”

“Toe, toe, Karlijn, maak nou oop!”

“Nog ’n rok!” roep Elsje uit. “Karlijn, jy gaan so mooi lyk in die geel.”

Karlijn laat gly haar vingerpunte oor die sagte materiaal van die tabberd. Dis dieselfde materiaal waarna sy in die winkel gekyk het. Hulle vier se nuwe rokke is die vorige dag afgelewer en sy is veral mal oor die bloue, ook die groen wat Edna gekies het. Die nuwe onderklere en kouse wat saam met die rokke gekom het, het nie een van hulle vier verwag nie. Dit was ’n geskenk van Edna. Sy ken hulle al so lank en dit was haar afskeidsgeskenk aan hulle. Die geel rok is net so ’n aangename verrassing.

“Dis pragtig. Baie dankie vir al my geskenke.”

“Al is ek ’n bietjie jaloers oor jou nuwe rok, is ek baie bly jy hou van jou geskenke,” sê Elsje. “Gaan hoor jy solank hoekom mevrou Janssen met jou wil praat. Ek sal jou geskenke in die kamer gaan bêre.”

“Dankie, Elsje.”


Sy stryk met haar hande oor die romp van haar rok, haal diep asem en klop dan aan die deur.

“Binne!”

Sy bly huiwerend in die deur staan. “Mevrou wou my sien?”

“Kom binne, Karlijn. Sit, asseblief. Ek het nog iets hier vir jou.”

Karlijn kyk onbegrypend na die ou, verslete leer­sak wat die ouer vrou oor die lessenaar na haar toe skuif. Fronsend van onbegrip kyk sy op. “Wat is dit?”

“Dit het aan jou vader behoort, Karlijn. Jy is van­dag agtien, op die punt om na jou nuwe bestemming te vertrek, wat dit die regte tyd maak om dit vir jou te gee. Tesame met dié,” sê sy en stoot ’n klein boksie ook na haar toe. “Dit het aan jou moeder behoort.”

Karlijn maak die dosie byna eerbiedig oop en trek haar asem sag in. Met trane in haar oë kyk sy op. “’n Hangertjie! Ek het nie gedink ek besit enige iets van my ouers nie.”

“Ons het alles vir jou in veilige bewaring gehou. Daar is ’n trommel bo in die solder met ’n paar be­sittings van jou ouers. Die goed wat jy op die reis mag saamneem, is ongelukkig beperk, maar dalk is daar iets in wat jy nou saam met jou wil vat. Die res sal ons vir jou aanstuur sodra jy gereed is om dit te ontvang. Wil jy gaan kyk?”

Sy kom gretig orent. “Asseblief.”


“Nou waar sal jou trommel wees?” vra mevrou Jans­sen terwyl sy in die stowwerige, volgepakte solder loop. Alles van stukkende beddens tot ou eetgerei word hier gestoor, dink Karlijn en moet haar rok lig om oor ’n krat te klim.

“Hier is dit.” Mevrou Janssen trek die trommel nader en gee die sleutel vir Karlijn. “Kyk gerus daar­deur.”

“Dankie.”

Oorweldig sak Karlijn op haar knieë langs die trommel neer. Hier het sy iets van haar ouers! Dit is seker die beste geskenk wat enige iemand haar kon gee. Sy vee die stof met haar hande af, draai die sleu­tel in die slot en lig dan die deksel al krakend op. Sy haal die ou klere uit en pak dit netjies op die vloer langs haar. Een vir een begin sy haar ouers se kos­baarhede uitpak. Niks is juis van veel waarde nie, maar elke dingetjie is nietemin vir haar kosbaar. Die trommel is al wat sy van haar ouers het en sy gaan dit koester. Sy begin alles weer terugpak, behalwe vir die roomwit tjalie en die geraamde foto van haar en haar ouers. Dié gaan sy saam met haar vat. Sy maak die trommel toe, skud haar rok af en met die twee kosbare goedjies loop sy by die deur uit.