Uittreksel | ’n Skatkis vol hoop

Proloog
Met rooigehuilde oë klim Juliëtte in die appelboom. Die stam is nie meer baie stewig nie, maar dit is steeds haar gunstelingplek as sy net alleen wil wees. Niemand kom pla haar wanneer sy hier tussen die takke wegkruip nie. Vandag veral wil sy net alleen wees. Haar hart is in stukke gebreek. Hoe kan Arendt wil weggaan? En dit al die pad na ’n ander land? Hy het heeltyd planne gemaak en haar nooit iets daarvan vertel nie. Hulle het mekaar nog altyd alles vertel, maar dié keer het hy alles in die geheim gedoen. Vertrou hy haar dan nie meer nie?
Sy hoor hom roep, maar antwoord nie. Sy het niks om vir hom te sê nie. Hy het sy besluit doodluiters aangekondig asof dit glad nie ’n groot ding is nie.
“Juliëtte, ek weet jy is in die boom. Kan jy asseblief afklim sodat ons kan praat?”
“Gaan weg, Arendt.”
“Juliëtte, ek . . .” begin hy berouvol, maar sy val hom beslis in die rede.
“Ek stel nie daarin belang om na jou verskonings te luister nie!” Sy reik na die tak bo haar en begin hom met appels gooi. “Los my uit!”
“Eina! Hel, Juliëtte, weet jy hoe seer maak so ’n appel?” vra hy kwaad, en met genoegdoening sien sy hoe een van die appels hom teen die kop tref. Sy hoop dit was seer.
“Hoekom het jy my nooit van jou planne vertel nie? Ons vertel mekaar dan altyd alles!” Haar stem wankel en sy sluk aan die pynlike knop in haar keel. Sy reik na die tak bo haar maar haar arsenaal appels is vir eers buite haar bereik.
“Kan jy asseblief afklim voordat jy jou nek breek?”
“Nee. Ek is baie gemaklik waar ek is. En jy het nie my vraag beantwoord nie.”
Hy sug. “Ek het nie geweet hoe om dit vir jou te vertel nie. Dink jy dit was ’n maklike besluit om te neem? Weet jy hoe moeilik is dit om julle almal hier agter te laat? Julle is my familie. Juliëtte, my nek word seer om so op te kyk. Kan jy nie asseblief afkom sodat ons hier verder kan praat nie? Hier op die grond lê baie appels sou jy besluit om aan te gaan om my daarmee te gooi.”
“Jy kan altyd in die boom opklim,” brom sy, maar begin stadig afklim.
“Ek kon seker, maar ek weet die boom is baie oud en staan op genade.”
Dreigend lig sy haar vinger vir hom. “Kyk onder my rok in en ek vertel vir tant Johanna.”
“Kom net af.” Voor sy kan afspring, het hy sy arm om haar middel gevou en help hy haar op haar voete. “Jy kan baie raak én seer gooi.”
“Dis jou verdiende loon,” kap sy strydlustig terug.
“Dit is,” antwoord hy en streel haar hare agter haar oor in.
“Jy kon my voorberei het op jou aankondiging,” beskuldig sy hom, haar veglus na die maan.
“Ek is jammer, Juliëtte. Die laaste ding wat ek wou doen, was om jou seer te maak. Ek kry nou die geleentheid om ’n verskil aan mense se lewens te maak.”
Sy sug. “Ek verstaan hoekom jy wil gaan, Arendt, en ek is baie trots op jou. Ek is regtig baie bly saam met jou dat jou droom om ’n dokter te word, nou bewaarheid kan word. Regtig, ek is.” Al breek dit haar hart om te dink sy gaan hom nie gou weer sien nie, weet sy hoe belangrik hierdie droom van hom is.
“Dankie.” Hy kom stadig voor haar tot stilstand, sy oë ondersoekend op haar gesig gerig. “Is jy nog kwaad vir my?”
Sy trek ’n gesig. Sy kan tog nooit lank vir hom kwaad bly nie. “So ’n bietjie. Gaan jy van ons vergeet, Arendt?”
“Nooit!” Hy vou sy hande om haar skouerknoppe. “Ek belowe jou ek sal julle almal baie trots op my maak. Ek sal die beste dokter word wat ek kan wees en terugkom hierheen om die mense te help, en ek belowe ek sal nooit van een van julle kan vergeet nie. Ek sal gereeld vir jou skryf. Jy sal moeg word van al my briewe.”
“Belowe jy op jou erewoord?”
“Ek belowe.” Hy trek haar onverwags styf teen hom vas en sy kan net soos ’n drenkeling aan hom klou. Haar hart is seer, maar terselfdertyd kan sy bars van trots.
“Moenie van ons vergeet nie, Arendt,” sê sy gesmoord teen sy bors.
“Ek sal nooit iemand soos jy kan vergeet nie, Juliëtte. Dít kan ek jou belowe.”
Een
Met ’n glimlag hou Juliëtte die laggende, jillende kinders dop terwyl hulle mekaar al om die groot appelboom jaag. Die arme boom het al talle storms trotseer en staande gebly, en is steeds haar beste wegkruipplek wanneer sy alleen wil wees, alhoewel sy deesdae net op die laagste tak gaan sit. Soos Johanna haar al tale kere berispe het, is sy nou ’n volwasse vrou wat nie soos ’n jong meisie in bome kan rondklouter nie. Sy loop nader en streel oor die boom se stam. Hoeveel geheime lê vasgevang tussen die boom se takke? Sy weet daar is heelwat van haar eie, baie wat sy nog nooit met enige iemand gedeel het nie.
“Juliëtte, hoekom vryf jy die boom?” vra Amira verward, en Juliëtte kan nie anders as om te lag nie; dit moet seker baie vreemd voorkom. Sy trek een van die blonde krulle wat vandag weer wild om Amira se kop staan.
“Ek dink maar net,” antwoord sy en hou die klok na haar toe uit. “Lui jy vandag vir ons die klok. Dis tyd vir die skooldag om te begin.”
“Moet ons regtig nou al met ons klas begin?” vra een van die seuns.
“Ja, Gysbert. Kom, kom, minder voete sleep. Hoe vinniger julle naderkom, hoe vinniger kan ons met die dag se les begin, en voor julle weet, is die skooldag om.”
“Hoekom moet ons skoolgaan? Ek kan al klaar lees en skryf,” mor hy.
“Sodat jy nog slimmer kan word en vir jouself ’n goeie werk kan bekom,” antwoord sy en du hom by die klaskamer in. Sy trek die deur agter hulle toe om die koue luggie uit te hou. Die lente vat ook maar sy tyd om vanjaar te begin.
“Haal asseblief julle leesboeke uit. Amira, minder gesels, asseblief.” Sy laat gly haar blik oor die groepie kinders. Sy frons effens toe sy die twee leë sitplekke sien. Die twee De Vries-kinders. Hulle was nog nie een keer hierdie week by die skool nie. Kan hulle siek wees? Maar dan sou hulle moeder haar tog laat weet het. Sy het dit altyd in die verlede gedoen.
“Gysbert, het een van julle dalk vir Kristoffel of Carolien die week gesien?”
“Nee, juffrou Juliëtte. Ons gaan help altyd vir mijnheer Gerritsen, maar hy was ook nie dié week een keer daar nie.”
“Dankie.” Dalk het dit tyd geword dat sy gaan uitvind wat fout is.
“Amira, aangesien jy so graag wil praat, begin vir ons lees op bladsy vyftien.”
Juliëtte trek die klaskamer se deur agter haar toe en loop diep ingedagte na die groot huis. Te danke aan Jean en meneer Gerritsen kon hulle die gebou as klaskamer oprig en het hulle die ou klaskamer in nog kamers omskep vir die kinders wat oor die jare al hoe meer geword het.
“As jy aanhou om so te frons, gaan jy een van die dae net so baie plooie soos ek hê,” terg Johanna en proe aan die pot sop op die stoof. “Lekker.”
Juliëtte glimlag. “Dit ruik beslis baie lekker. Het Tante in die week vir Renske iewers gesien?”
“Haai, my kindjie, noudat jy dit noem, nee. Bring vir ons twee koppies. Al die gewoel hier in die kombuis het my nou baie dors.”
Juliëtte haal twee koppies uit die kas en sit dit op die tafel neer. “Die kinders was ook nie by die skool nie.”
“Ou Servaas het hulle seker weer op daardie ou geroeste boot van hom in die werk gesteek.”
“Besef hy dan nie hy het twee intelligente kinders wat meer kan maak van hulleself as om net gewone vissers te wees nie?” vra sy en kyk sydelings na Johanna terwyl sy die tee skink.
“Juliëtte, ons kan nie inmeng in ’n ander man se huishouding nie. Niemand kan hom dwing om sy kinders skool toe te stuur as hy nie wil nie. Dit het my baie verbaas toe hy dit in die eerste plek toegelaat het. Jy moet onthou, bitter min van die vissers weet wat ’n skool regtig is. Die meeste van hulle kan nie eers lees of skryf nie.”
Juliëtte sug en roer haar tee. “Dis seker waar, maar hulle is gretig om te leer. Veral Kristoffel. Tante het self al telkemale gesê die kaai is nie ’n plek vir ’n meisie nie.”
“Wat ek glo en wat ander glo, gaan verskil, Juliëtte. Servaas is nie iemand met wie jy wil moeilikheid soek nie. Hy sal sy kinders terugstuur skool toe wanneer dit hom pas.”
Sy glimlag effens. “’n Mens kan ook seker net soveel doen,” beaam sy, al weet sy sy is nie van plan om die sakie net so te laat nie. Sy ken vir Servaas en weet hy kan baie moeilik wees, maar nie gewelddadig nie. Nie teen vrouens nie, in elk geval. Sy gaan mooi met hom praat en hom probeer oorreed om die kinders ’n beter geleentheid te bied. Daarna sal sy weet sy het haar bes gedoen. Johanna gaan egter niks van dié plan van haar weet nie.
“Ongelukkig is dit een van daardie harde werklikhede in die lewe. Maar wag, ek moet jou nou eers die jongste nuus oor Arendt vertel. Die seun se briewe laat my altyd so baie na hom verlang. En om te dink hy is nou ’n dokter. Ek is so trots op hom.”
Met ’n halwe oor luister sy na Johanna se vertellings oor hoe goed Arendt doen en hoe gelukkig hy is.
Sedert hy vyf jaar vantevore op daardie skip na Frankryk geklim het, het daar nie ’n dag verbygegaan wat sy nie na hom verlang en nie aan hom gedink het nie. Die eerste twee jaar het hy gereeld geskryf, maar soos die tyd verbygegaan het, het sy briewe al hoe minder geword, totdat dit heeltemal gestop het. Sy was aanvanklik seergemaak toe sy briewe vir Johanna bly kom het, selfs heimlik jaloers, maar soos sy ouer geword het, het sy geleer om dit so te aanvaar. Almal se belange verander maar namate hulle ouer word.
“Hoor jy, Juliëtte? Hy kom dalk binnekort huis toe.”
Sy glimlag. “Hier is ’n tekort aan dokters, hy sal dus ’n aanwins vir die gemeenskap wees,” gee sy werktuiglik haar opinie, al skeel dit haar min of hy terugkom of bly waar hy is. Sy gaan nie haar hart op enige iets sit nie. Vyf jaar het verloop, sy hoop maar vir Johanna se onthalwe die man wat terugkom, is nog die Arendt wat Johanna in haar kop het. Arendt met die lagduiweltjies in sy helder blou oë, bestaan dalk nie meer nie.
“Dit sal wonderlik wees. Maar wag, ek gaan gou een van die seuns voorkeer om vir my ’n paar goedjies te gaan kry.”
“Ek sal gaan,” bied sy vinnig aan, dalk te vinnig, dink sy toe Johanna met opgetrekte wenkbroue na haar kyk. Nou is die perfekte geleentheid om weg te glip sonder dat enige iemand vrae vra oor waarheen sy gaan. Almal weet sy bly lank weg wanneer sy dorp toe gaan, so dit sal nie snaaks wees as sy nie gou terugkom nie.
“Van wanneer af is jy so gretig om dorp toe te gaan?”
“Ek is verveeld,” veins sy.
“Jy wil net gaan ronddwaal.”
Juliëtte glimlag skuldig. “Dalk. Dit bly vir my lekker om so tussen al die stalletjies rond te loop. Soms sien ’n mens iets nuuts raak. Dis reeds daar waar ek daardie mooi borsspeld vir Tante gekry het.”
“En dis pragtig. Dis ook net jy wat sulke goed sal raaksien. Ek maak dan gou vir jou ’n lysie.”
Juliëtte kyk Johanna agterna. Sy hou nie daarvan om vir Johanna te jok nie, maar sy sal haar nooit toelaat om kaai toe te gaan nie, en met rede. Maar hoe anders moet sy maak? Sy byt op haar onderlip, ’n klein fronsie tussen haar wenkbroue. Nee, sy weet nie wat anders om te doen nie. Sy gaan kaai toe en klaar, besluit sy vasberade.
“Dit was seker een van die domste besluite wat jy al geneem het, Juliëtte,” baklei sy sag met haarself terwyl sy vinnig tussen die visserskuite deurloop en die gefluit en smerige taal moet verduur. Haar hart klop benoud teen haar ribbekas en haar wange brand van verleentheid oor wat die mans vir haar skreeu. En dit is nou die leefstyl wat ’n pa vir sy dogter wil bied? Sy koes vir ’n wa wat vinnig verbykom, die bestuurder min gepla oor mens of dier in sy pad. Sy struikel byna oor ’n houtkrat en gryp vinnig na die muur om staande te bly. Dit was amper! Sy leun vir ’n oomblik teen die gebou om haar asem terug te kry en kyk om haar rond. Die geroesemoes van mense laat haar aan ’n spul miere dink, almal op pad iewers heen, die een haastiger as die ander. Sy het altyd gedink markdag in die dorp is besig, maar hier is meer mense bedags op die kaai as wat daar blyplek in die dorp is. Sy wonder nogal waar almal vandaan kom. Sy kyk verskrik om toe twee mans laggend by die gebou uitkom en staan vinnig weg van die muur af. Sy moet haar besigheid afhandel sodat sy hier kan wegkom.
“Jy is op die verkeerde plek, skattie,” kom ’n helder en vrolike vrouestem vanaf die hoek van die gebou.
Juliëtte kyk vinnig om en sien die lang, maer vrou teen die muur aangeleun staan. Haar lang donker hare hang in lokke teen haar rug af en haar bloedrooi rok se hals is so laag dat dit haar wat Juliëtte is, ongemaklik laat wegkyk. Tant Johanna het hulle baie beskermd grootgemaak, maar sy het al ’n legio stories van die vrouens op die kaai gehoor. Meisies met losse sedes wat nie omgee om aan die matrose met hulle lywe vir ’n paar sjielings plesier te verskaf nie. En hier staan een reg voor haar. By die kerk word vrouens soos dié agter sakdoeke bespreek en veroordeel. Sy is self een van die mense wat die vrouens veroordeel sonder dat sy hulle omstandighede ken.
Sy wil weghardloop toe die vrou naderkom, maar haar voete wil nie die bevel van haar brein gehoorsaam nie.
Sy skraap haar keel. “Ek is op soek na Servaas de Vries,” kry sy dit uiteindelik oor haar droë lippe uit.
“Hy is daar by sy boot. Meraai is die boot se naam. Jy waag baie om hierheen te kom, Juffie. Die lot matrose sal ’n mooi dingetjie soos jy gryp en hulle wil op jou afdwing. Ek stel voor jy draai om en gaan terug na waar jy vandaan kom.”
Juliëtte sluk droog, die vrees in haar besig om haar te versmoor. Die verstandige deel van haar brein maan haar om die vrou se raad te volg en weg te hardloop, maar die hardkoppige streek in haar weerhou haar daarvan. Sy het nie verniet al die pad hierheen gekom net om onverrigter sake terug huis toe te keer nie.
“Dit sal seker wys wees van my, maar ek moet met hom oor sy kinders praat. Ek het klaar al die pad hierheen gekom, so ek gaan eers met hom gesels. Ek is die skooljuffrou.”
Sy knik. “Albei van hulle is baie slim. Hy laat hulle baie hard werk. Sy dogter is ook ’n mooi dingetjie. Nes vir jou, is die kaai nie die regte plek vir haar nie, maar hy wil nie hoor nie. Kom dan, ek sal saam met jou tot daar loop. Ek sal jou nie juis kan beskerm sou iets gebeur nie, maar twee van ons sal seker meer lawaai kan maak as een. Ek is Luna.”
Juliëtte glimlag effens, sy is nou meer op haar gemak. “Juliëtte.”
“Jy waag baie om hierheen te kom, Juliëtte, maar ek bewonder jou waagmoed. Min van jou soort sal dit hier waag en dit vir kinders.”
“Wie is jou nuwe vriendin, Luna? Kom stel haar aan ons voor!” roep een van die mans wat voor ’n taverne sit.
“Sy is te goed vir jou, Machiel. Juliëtte, dit begin laat word, matrose en vissers gaan begin instroom na die tavernes en dan gaan jy in groot moeilikheid wees. Kry jou besigheid met Servaas afgehandel en gee pad hier.”
Juliëtte knik. As Johanna weet waar sy haar nou bevind, is daar vanaand baie groot moeilikheid.
“Juffrou Juliëtte,” hoor sy Kristoffel uitroep. Sy glimlag en lig haar hand in ’n groet.
“Jy is op die verkeerde plek, Juffrou,” sê Servaas en kom nader.
“Ek kan sien julle is baie besig, maar as ek net so ’n paar minute van u tyd kan kry, Meneer?”
Hy lag en vee sy hande aan ’n lap af. “Meneer. Dis selde dat iemand my so aanspreek. Wat kan ek vir jou doen, skooljuffrou?”
“Die kinders was die hele week nie by die skool nie en ek het bekommerd geraak.”
Hy draai om en beduie na die twee kinders op die boot. “Soos jy self kan sien, is albei gesond, maar hard aan die werk. Daar is visse wat gevang en verkoop moet word sodat ek kos op my tafel kan sit.”
“Ek verstaan dit, maar is skool nie ook belangrik nie? U kinders is baie slim en kan meer van hulle lewe maak.”
“Juffrou, my pa, my oupa, en sy pa voor dit, en so kan ek aangaan, was almal vissers. Dis wat ons ons lewe lank doen en wat ons ken. Dis ’n eerbare beroep. Nie die skoonste nie, maar dit sorg vir kos op my tafel en ’n dak oor my kop. My kinders kan lees en skryf en somme maak; meer as dit het hulle nie nodig nie. Ek verwag nie van mense soos jy wat in die bodorp bly, om mense soos ons te verstaan nie.”
“Meneer, ek is een van tant Johanna se wesies, ons ken swaarkry en harde werk. Ek het geen idee wat enige van my ouers gedoen het nie, maar tant Johanna het seker gemaak ons gaan skool. Dis een van haar strengste reëls. Ek probeer nie vir u voorskryf nie, ek wou u net kom vertel het watter slim en besonderse kinders u het. Kristoffel is briljant as dit kom by somme maak en Carolien kan die mooiste sketse maak. Hulle is albei uiters talentvol. Dankie vir u tyd. Ek sal nou gaan. Ek hoop ek sal hulle binnekort weer in my klaskamer sien.”
“Jy het ’n pragtige dogter, Servaas, en as ek jy was, het ek na die skooljuffrou geluister. Sy verdien ’n beter lewe as dié. Ek en jy is gehard, ons weet hoe om na onsself om te sien, maar jy weet self, as die klomp eers begin drink het, is geen vrou veilig nie,” gee Luna ook haar opinie.
“Jy het baie gewaag om hierheen te kom, Juffrou.”
Juliëtte glimlag. “U het besonderse kinders.”
Hy knik. “Ek hoor so. Jy beter nou hier padgee voordat die kaai oorval word met matrose. Daar het ’n rukkie terug ’n skip ingekom, en as die matrose so lank op see was, is geen vrou veilig nie. Kristoffel, kry jou ma en suster by die huis.”
“Reg, Pa. Totsiens, juffrou Juliëtte.”
“Luna, kry jy vir juffrou Juliëtte hier weg.”
“Kom nader, my duifie. Ek sal jou die pad huis toe help kry,” roep een van die vissers en maak ’n geluid wat haar openlik laat gril. Sy waag ’n blik in sy rigting. Sy hare is olierig en daar sit stukke kos in sy baard vas. Sy voel skoon naar toe hy lag en sy sy geel tande sien. “Wat van ’n ou soentjie? Net enetjie.” Onwillekeurig staan sy nader aan Servaas. Hier moet sy definitief nou padgee.
“Laat haar met rus, Coen. Val haar weer lastig en jy kry met my te doen.”
“Dankie, Meneer,” sê sy en loop vinnig saam met Luna verby die besige tavernes.
“Van hier af behoort jy veilig te wees,” sê Luna toe hulle tussen die skare mense kom wat op passasiers wag.
“Dankie vir jou hulp, Luna,” sê Juliëtte en druk ’n muntstuk in die ander vrou se hande. Sy hoop die vrou sal dit vir kos of ’n ander noodsaaklikheid gebruik.
Luna glimlag breed. “Dit sal my huur vir twee maande by die ou slegte handelaar betaal.”
“Hoekom doen jy wat jy doen?” kan sy nie verhelp om te vra nie. Sy het haar voorgeneem om nie te vra nie, want dis immers die vrou se privaat sake, maar soos altyd, kry haar nuuskierigheid die oorhand. Tant Johanna gaan haar afslag as sy haar nou moet hoor, maar sy wil graag weet.
Luna trek haar skouers op. “Dis die lewe wat ek ken, Juliëtte. Ek het nie ’n juffrou Juliëtte gehad wat my op die regte pad kon help nie.”
“Maar kan jy nie . . .” begin Juliëtte, maar die vrou val haar met ’n glimlag in die rede.
“Dis nou te laat vir my om te verander. Ek weet jy gaan dit vreemd vind om te glo, maar ek is gelukkig. Die mans behandel my nie sleg nie. Jy kan selfs sê ons het ons eie familie hier op die kaai tussen die stink en water. Ek hoop Servaas gaan jou raad volg en dink oor die lewe van sy eie dogter. Jy het ’n goeie hart, Juliëtte, maar ek stel voor jy bly weg van die kaai af, want hier gaan jy net seerkry.”
Juliëtte glimlag en knik. So het sy agtergekom.
“Dankie, Luna. Mooi loop.”