Skip to main content

Uittreksel | 'n Skandalige soen

Een

“Mary, kom sit hier langs my. Ek wil met jou praat.”

Haar ouma, prinses Laetitia van België, tik op die bed en Mary gaan sit soos versoek langs haar. Haar ouma kyk lank na die plat houtkissie in haar hande. Haar oë is buitengewoon ernstig toe sy opkyk, Mary sien selfs ’n stukkie spyt in die groen beplooide oë. Of wag, dit kan dalk hartseer wees. Haar hart trek pynlik saam. Sy weet sommer die kissie in haar ouma se hande bring nie goeie nuus nie.

“Wat is in my kissie, Ouma?”

“Dit hou die sleutel tot jou toekoms, Mary.”

“Dit gaan nie ’n goeie een wees nie, nè, Ouma?” spreek sy haar kommer hardop uit.

“Dit gaan . . . wees wat jy daarvan maak, Mary.”

Haar ouma lig ’n pragtige, fyn halssnoer uit die kissie. Die kosbare pienk edelstene flonker in die lig voordat sy dit langs haar op die bed neersit. Daar is nog ’n paar stukkies bypassende juwele, maar dit is nie waarna haar ouma soek nie. Sy haal ’n verseëlde brief onder in die kissie uit.

“Soos jy weet het ek ’n paar jaar gelede reeds planne vir jou toekoms gemaak. Wat ek eintlik aan jou wil verduidelik, is hoe dit gebeur het want ek dink dis belangrik dat jy my besluit van destyds verstaan en . . . en dat jy my later nie daaroor gaan kwalik neem nie.”

Haar ouma sukkel skielik om haar emosies onder beheer te hou en Mary gryp haar arm. “Vertel my, asseblief, Ouma. Ek wil baie graag verstaan wat gebeur het.”

“Jy weet dat ek nooit jou oom Maxima kon vertrou nie. Nog minder sy bedoelinge met sy broerskinders, en ek was heeltemal reg om so te voel. Destyds toe ek hom vertel het dat ek ’n huwelik vir jou suster Cassie met graaf Wyndham beding het, en dat ons op pad Londen toe is, was hy hoogs ontsteld. Hy het my summier verbied om Habsburg met julle twee meisies te verlaat. Dis toe dat ek van sy agterbakse planne vir Cassie uitgevind het. Hy wou haar as bruid vir prins Octavius van Kyburg gee. Hy het net gewag vir die regte oomblik om sy planne in werking te stel.”

Mary se hart trek nog stywer saam. Dis die eerste keer dat sy van dié gegewe hoor.

“Gelukkig kon ek hom oortuig dat so ’n huwelik nie moontlik was nie. Cassie was reeds aan graaf Wyndham belowe en dit sou ’n internasionale insident veroorsaak indien ek die ooreenkoms met Alister se ouma, markiesin De Longueville, beëindig. Dis toe . . .”

“Ja, Ouma, wat het toe gebeur?” vra Mary onrustig.

“Dis toe dat Maxima sy fokus na jóú, die jonger prinses, verskuif het. Jy sou die bruid word wat hy aanvanklik wou gebruik.” Sy lig die brief op. “In dié skrywe gaan die prinsdom van Habsburg met die prinsdom van Kyburg ’n ooreenkoms aan. Hierin gee ek, as jou wettige voog, my toestemming dat die twee huise deur middel van ’n huwelik verbind word.”

Ten minste het sy nou ’n naam vir haar toekomstige man. “Ek gaan dus met ’n Kyburg trou?”

“Dis reg. Dit was al wat ek vier jaar gelede kon doen om sy toestemming te kry om julle weg te neem. Ongelukkig kan ek nie vir jou sê wanneer presies die ooreenkoms in werking gestel gaan word nie, maar net dat dit wel iewers in die toekoms sal plaasvind. Wanneer een van die twee heersers die beste voordeel daaruit gaan trek, skat ek.”

“Ek sien.” Mary moet baie bleek wees, want haar ouma sit die kissie neer en begin haar hande warm vryf.

“Daar is nog iets wat ek dink jy behoort te weet. Dit het baie mooipraat en diplomasie geverg voordat hy uiteindelik ingestem het dat ons kon gaan. Maar hy was . . . kom ons sê maar, glad nie gelukkig met my voogdyskap óf met die besluite wat ek vir julle geneem het nie. Ek dink hy het selfs ’n wrok teenoor my begin koester. Hoewel ek geen klinkklare bewyse kon vind nie, vermoed ek dat die aanval op ons koets uit weerwraak was. Net omdat ek dit durf waag het om hom teen te gaan. Ek dink ook . . . hy wou ons drie heeltemal uitwis, ten spyte van sy planne om ’n alliansie met Kyburg te vorm. Jy sien, Maxima het nie regtig vir Kyburg nodig nie, maar Kyburg se prinsdom maak wel sterk staat op ’n alliansie met Habsburg. Trouens, ek dink nie jou oom het veel ooghare vir die Kyburgs nie; hy doen dit bloot vir politieke gewin en as iets wat hy iewers in die toekoms kan gebruik.”

“Dit verklaar hoekom oom Maxima destyds niemand gestuur het om ons op te spoor nie. Cassie het vir maande die koerant dopgehou, maar daar was hoegenaamd geen nuus nie. Niemand het na die vermiste prinses Laetitia óf na haar twee kleindogters gesoek nie. Asof ons bloot in die niet verdwyn het. Hy het seker gehoop ons al drie het in die aanval omgekom.”

“Presies. Hoekom ek jou dié dinge vertel, is sodat jy weet om nooit jou oom te vertrou nie.” Haar ouma druk die brief met sy rooi koninklike seël steeds in plek, terug in die kissie.

“Wag, Ouma, asseblief. Mag ek die ooreenkoms sien?”

Haar ouma skud haar kop. “Die tyd is nog nie ryp om dit oop te maak nie.”

Mary verstaan nie die vae antwoord nie. “Wanneer sal dit wees?”

Haar ouma dink ’n oomblik daaroor en glimlag skielik gerusstellend. “’n Goeie tyd sal wees wanneer jy in Kyburg aankom. Ja, ek dink jy moet dit liefs daar oopmaak. Andersins . . . vertrou jou instink.” Sy plaas die juwele bo-op die brief en druk die kissie toe.

“Waar kom die juwele vandaan?”

“Dis deel van Kyburg se kroonjuwele. Dit is as ’n blyk van waardering aan my gestuur. Natuurlik is dit vir jou bedoel ter bevestiging van die ooreenkoms.”

“Ek mag dit seker ook net dra wanneer die tyd ryp is?”

Haar ouma glimlag en ignoreer Mary se half astrante stemtoon. Daar is nou geen teken van enige spyt of hartseer in haar oë nie. So ver dit haar ouma aangaan, is die saak verduidelik en afgehandel.

“Presies. Ek wil egter hê dat jy één ding moet onthou: Ek het destyds nie veel van ’n keuse in die saak gehad nie. Ek wou jou en jou suster op enige moontlike manier veilig uit Habsburg kry, en ek sou Maxima enigiets belowe het. Julle is al wat ek het, en julle twee se lewens is al wat saak maak. Ek weet jy dink nie so nie, maar onder die omstandighede het ek die beste ding gedoen.”

Mary knik. Sy glo dit met haar hele hart. Haar ouma se oorlede dogter, hul moeder, se twee meisiekinders was nog altyd haar alles.

“’n Laaste ding, Mary. Ek is miskien vir jou veiligheid verantwoordelik, maar jy en niemand anders gaan vir jou geluk verantwoordelik wees nie. Dit mag dalk baie van jou verg . . . ’n aanpassing wees en heelwat opoffering vra, maar op die ou end moet jy sorg dat jy gelukkig is. Verstaan jy wat ek sê?”

“Ja, Ouma, Ek verstaan. Net ek kan sorg dat ek gelukkig is.”

Prinses Laetitia glimlag tevrede.