Skip to main content

Uittreksel | ’n Skandalige besluit

Een

Lady Claire Westley tel haar romp met die een hand op en met die ander hand laat sy die voetkneg toe om haar uit die koets te help. Sy maak net eers seker dat sy nie in ’n plas water of modder trap nie.

“Dankie, Peter.”

Voor haar is die uiters gewilde Franse kleremaak­ster, madame Renoir, se winkel. Sy kyk straatop en toe straataf. Londen is ongelooflik besig dié tyd van die oggend. En lawaaierig. Buiten vir koetswiele wat op die keistene knars en waens wat iewers vrag moet gaan aflewer, is daar mense net waar jy kyk. Die oggendson is skerp en sy verstel haar hoed. Toe trek sy haar handskoene reg en mik na die ingang.

Sy is nie die enigste persoon wat die winkel wil besoek nie. Iemand haastiger as sy loop haar amper uit die aarde. ’n Verskrikte gil ontsnap oor haar lippe, maar voordat sy kan val, sluit ’n vreemdeling se hande hard en sterk om haar boarms. Hy hou haar regop en eers toe sy haar volle balans terughet, los hy haar arms. Hy maak ’n buiging en vra om verskoning.

“Pardon, Mademoiselle.”

Toe sy hom net geskok aankyk, sê hy vinnig in Engels: “Ek is so jammer, Juffrou. Vergewe my, ek het nie gekyk waar ek loop nie.”

Haar onverwagse ridder, as sy hom so kan noem, se stem is goed gemoduleer en Frans is beslis sy eerste taal. Sy kleredrag verklap verder dat hy moont­lik ’n uitlander is. Dis netjies en elegant maar nie wat die Londense mode tans dikteer nie. Dis egter nie al wat sy binne ’n paar sekondes opmerk nie. Sy hare is donkerbruin en agter sy kop met ’n strikkie vasge­maak. Die oë tussen die digte donker wimpers is uit­sonderlik groen. Sy vel is blas en as sy vinnig moet raai, kom hy baie in die son. Hy trek aan sy baadjie en dit vestig haar blik op die res van hom. Hy is lank en lenig, maar nie oormatig fors gebou nie.

“Is alles reg, Juffrou?” vra hy toe sy steeds net na hom staar.

Sy ruk haar vinnig reg en knik, beduie dat hy maar eerste kan loop, maar sy maniere skop in. “Asseblief, gaan gerus eerste in.”

Sy gaan nie in die straat staan en stry nie, sy en die vreemdeling het reeds Peter en die koetsier se volle aandag. Boonop hang Jane, haar diensmeisie en ge­sellin vir die dag, nuuskierig by die koets se venster uit. Sy trek haar skouers terug, tel haar ken in ’n effense hooghartige gebaar op en loop die klerewinkel binne.

Daar is ’n ontvangsarea waar voornemende klan­te kan wag vir diens, maar sy loop die volgende ver­trek binne. Dié vertrek fassineer haar elke keer. Daar is werktafels waarop rolle en rolle materiaal van alle moontlike kleure en teksture uitgestal is, relings waaraan die klaargemaakte rokke hang en rakke vol allerhande snuisterye soos stringe krale, serpe en vere. Dis juis die rede hoekom sy aangebied het om haar rok self te kom afhaal – vir ingeval ’n verstelling nodig is, was haar verskoning – sodat sy tyd hier kan spandeer. In die verlede het sy en haar vriendin, prinses Mary van Habsburg, ure in dié wonderwêreld deurgebring, maar ná Mary se troue en vertrek saam met haar nuwe man, prins Francis van Kyburg, is die goeie tye net ’n aangename herinnering.

“Aha, lady Claire, dis so aangenaam om jou per­soonlik te sien. Welkom in my winkel.”

Die beeldskone en flambojante madame Renoir is nader aan dertig as aan twintig en die gewildste klere­maakster in Londen, veral onder die Franse hoëlui wat in Londen woon.

Madame Renoir se gesig ondergaan ’n transfor­masie toe sy die vreemdeling agter Claire raaksien. Sy lag gul. “Aha, monsieur Bovien, u is ook hier. Wel­kom,” sê sy vriendelik voordat sy terugkyk na Claire. “Lady Claire, verskoon my asseblief net vir ’n oomblik. Ek wil net vir monsieur Bovien tuis maak.”

Madame Renoir laat nie op haar wag nie en die vreemdeling word na ’n gemaklike rusbank teen die muur gelei. Sy wissel ’n paar woordjies in Frans met die man voordat sy een van die werkers beveel: “Bring asseblief vir ons gas wyn en verversings.” Toe eers vestig sy haar aandag op Claire.

“Jammer jy moes wag, lady Claire. Waarmee help ek vandag?”

“Is my rok gereed?”

“Dit is gereed en jy gaan absoluut beeldskoon lyk.” Madame Renoir trek ’n reling met rokke nader en ver­toon ’n pienk rok met valle en lieflike kralewerk om die nek en moue. “Ek hoop nie jy gee om nie, maar noudat jou papa sy rekening by ons vergroot het, het ek dit goedgedink om ’n bietjie meer rojaal met jou rok te werk te gaan.”

Natuurlik weet Claire waarop die ouer vrou sin­speel. Noudat haar pa ’n titel en rykdom bekom het, geniet sy meer aansien in die winkel.

“Hou jy daarvan?”

“Dis baie mooi.”

Claire hou die rok teen haar lyf. Dis ’n donkerder pienk as waaraan sy gewoond is, maar dit sal hopelik help om haar bleek porseleinvoorkoms op te helder. Sy wens net daar was iets wat sy aan haar muisvaal blonde hare kon doen. Die enigste opvallende kleur in haar gesig is haar groot blou oë. Gelukkig het sy lang donker wimpers wat die kleur help uitbring. Sy draai haar kop en bekyk die prentjie krities. Ja, sy dink sy gaan mooi lyk vanaand.

Claire verskuif haar blik ’n aks en in die weerkaatsing van die spieël vind sy ’n toeskouer. Die man wat haar amper uit die aarde geloop het probeer nie eens subtiel wees nie. Hy staar openlik na haar en gee nie om dat sy dit sien nie. Toe hulle oë kontak maak, glim­lag hy sowaar vir haar. Sy kyk vinnig weg, maar haar oë dwaal na ’n paar sekondes werktuiglik terug. Sy het nie ’n fout gemaak nie. Die man is óf openlik voor op die wa óf hy steur hom bloot nie aan etiket nie. ’n Vrou word doodeenvoudig nie uit haar skoene gestaar nie, dis ongehoord. Weet hy dit dan nie?

Madame Renoir leun nader en fluister. “Aha, ek sien jy het die lieflike monsieur Bovien raakgesien. Is hy nie pragtig nie?”

Claire doen haar bes om nie vir ’n derde keer terug te kyk nie. “Ek . . . nee, ek dink nie hy is nie,” fluister sy terug.

“’n Vrou se oë kan nooit jok nie, lady Claire, onthou dit gerus in die toekoms,” sê madame Renoir saggies terug. Toe beveel sy een van die werkers in haar ge­wone stemtoon: “Verpak asseblief lady Claire se rok en maak gou.”

Claire gaan staan by ’n rak met allerhande snuis­terye. Sy ondersoek die klaar gemaakte manteltjies en vroetel tussen die hoedens wat reeds versier is rond – enige iets om die tyd te verwyl terwyl sy vir haar rok wag. Innerlik brand sy om in die vreemdeling se rigting te kyk. Sou hy steeds na haar staar? Sal sy dit waag om in sy rigting te kyk? Dit voel in elk geval of sy oë in haar rug boor, hoe onmoontlik dit ook al mag wees.

Nee! Ordentlike jong meisies doen nie sulke goed nie! Aan die ander kant . . . sy is ordentlik, maar nie presies meer ’n jong meisie nie. Op een en twintig word sy eerder as ’n goeie kandidaat vir oujongnooiskap beskou.

Sy is reg, hulle oë ontmoet die oomblik toe sy om­draai. Vir ’n tydlose oomblik hang daar ’n vreemde vibrasie in die lug. Asof twee paar oë mekaar toets. Vroeër het hy vir haar in die spieël geglimlag, effens tergend, maar nou het daar definitief ’n tikkie bewon­dering in sy oë bygekom.

Hy staan op, gee ’n tree nader en vir ’n oomblik dink Claire hy gaan alle reëls oorboord gooi en ’n gesprek met haar begin, maar ’n diensmeisie kortwiek sy planne.

“Lady Westley, u rok is gereed. Sal ek dit koets toe neem?”

“Laat my asseblief toe om dit vir u te dra.”

Die vreemdeling wil die rok, wat in bruinpapier toegedraai is, by die diensmeisie neem, maar Claire druk dit vinnig terug in die meisie se arms. Sy frons kwaai. “Meneer, jy is voor op die wa. Ek ken jou nie eens nie. Hoekom sal ek jou toelaat om my rok te dra?” Sy draai na die diensmeisie. “Kom, bring my rok.”

Claire draai om en mis nie die geamuseerde glim­lag op madame Renoir se gesig nie. Haar wange word warm. Hoe lank sou sy al in die deur staan?

“Goeiedag, lady Claire, ek hoop om jou binnekort weer te sien,” groet die kleremaakster.

Claire knik net. Die diensmeisie volg haar met die rok. Agter haar hoor sy die Franse vrou sê: “Monsieur Bovien, ek het nou tyd vir jou. Volg my asseblief na my kantoor waar ons ongestoord kan praat.”

Claire se hart klop vinnig en onstuimig toe sy in die koets klim. Sy is ontsteld, weet nie mooi waaroor nie, maar sy dink sy dra die meeste skuld vir haar emosies. Die man . . . monsieur Bovien, het waarskynlik gedink sy stuur een of ander sein uit – dat sy graag met vreemdelinge gesprekke aanknoop. Dat sy moont­lik . . . beskikbaar is. Haar wange word weer warm. Ja, hulle leef miskien nie meer in die Middeleeue nie, maar Londen se hoë sosiale kringe het steeds reëls. En ongetroude meisies, of sy nog jonk is of op die rak sit, moet daarby hou.

“Is alles reg, juffrou Claire?” vra Jane besorg. “Dit lyk of jy baie warm kry. Wag, ek het ’n fles water in­gepak.”

Die water wat Jane na haar uithou, help om haar ef­fens te kalmeer, maar kry dit nie reg om ’n paar groen oë uit haar gedagtes te verdryf nie. Die jong vreem­deling is nogal aantreklik. Eintlik van die aantreklikste wat sy al gesien het. Sy skud haar kop. Dit help nie sy dink verder aan hom nie. Sy gaan hom waarskynlik nooit weer sien nie.