Skip to main content

Uittreksel | ’n Skandalige aanbod

Een

“Cassie, kom kyk en maak gou!”

Cassie doen nie eens die moeite om op te kyk nie. Sy gril liggies en stoot die mooi versierde kamerpot dieper onder die bed in. Sy rek regop en stryk die de­ken plat.

“Jy gaan dit mis!” jaag haar suster Mary haar vir ’n tweede keer aan.

“Wat gaan ek mis?” vra sy terwyl sy sonder enige belangstelling om die bed loop. Sy wil haar heimlik vir haar jongste suster vervies. Mary is veronderstel om haar met die kamers te help, maar vanoggend is haar kop op ’n ander plek. “Kom weg van die ven­sters. Jy weet mevrou Cecelia hou nie daarvan as die diensmeisies by die herehuis se vensters uithang nie. Veral nie die wat op die voorhof afkyk nie.”

“Ek sal padgee, maar nie voordat jy kom kyk nie.”

Cassie sug, los waarmee sy besig is en loop ven­ster toe. Toe sien sy die vreemde koets wat in die laan aangery kom. Dit word deur twee swart perde getrek. “Goed, ek het gesien, daar is kuiermense op pad. Kom nou, daar is werk wat gedoen moet word.”

Sy wil net wegdraai, toe Cassie sê: “Ek dink dis graaf Wyndham.”

Mary het nou haar volle aandag en sy gaan staan ook so by die venster dat sy ’n beter uitsig het. “Hoekom dink jy so?”

“Almal in die kombuis het van hom gepraat. Mevrou Cecelia verwag hom vir tee.”

“O. Nou verstaan ek die ongewone opgewon­denheid in die huis en dis seker hoekom die ingang vanoggend vroeg al gepolitoer moes word.”

“Daar word ook baie meer as ander dae in die kombuis gebak.”

Soos wat haar gewoonte is, lees sy gewoonlik die plaaslike koerant sodra die heer van die huis, meneer Henry Westley, daarmee klaar is. Die hele Londen is skynbaar in rep en roer oor die nuwe eienaar van die nabygeleë landgoed, Wyndham House. Mevrou Ce­celia Westley seker die meeste van almal. Haar Claire is al lank in die huweliksmark en niemand het nog belanggestel nie. Mevrou Cecelia hoop natuurlik dat Claire die graaf se oog sal vang. Ongelukkig vir haar is Claire ’n vaal en oninteressante meisie wat eerder met haar neus in ’n boek wil sit as om die jong mans in die gemeenskap te onthaal. Persoonlik vind Cassie niks daarmee verkeerd nie. Om sommer net vir aan­sien en rykdom te trou is al klaar ’n groot risiko en om met die verkeerde man te trou is so goed jy dien ’n lewenslange vonnis uit.

Nes Mary moet sy ook by die venster uit leun om beter te sien. Een van die lakeie storm by die voor­deur uit, maak die koets se deur oop en slaan die trappie af. Die lakei versper net vir ’n oomblik die prentjie, maar toe staan hy eenkant.

Die man wat uit die koets klim, is langer as die gemiddelde man. Sy donker hare is netjies agteroor gekam en met ’n strikkie agter in sy nek saamgevat. Die reis moes lank gewees het, want hy rek hom ef­fens uit. Toe staan hy ’n oomblik stil en kyk om hom rond. Hy wonder seker of die kool die sous werd is, flits dit sinies deur haar gedagtes.

“Hoe oud skat jy hom?” fluister Mary, asof sy bang is hy hoor haar.

“Die koerant het gesê hy’s ses en twintig, maar hy lyk ouer,” fluister sy terug.

Of hy skielik bewus raak van die twee paar oë wat hom so staan en bekyk, kyk hy boontoe na hulle. Mary ruk haar kop vinnig terug, maar Cassie se reaksie is doelbewus nie so vinnig nie. Sy wil sien hoe die man lyk wat die arme Claire waarskynlik soos ’n skouperd wil kom uitkyk.

Nie net is die graaf lank nie, maar hy is ook lenig gebou. Sy skouers pas die swart baadjie vol en sy hele postuur spreek van jeugdige viriliteit. Maar dis nie wat haar aandag boei nie, dis die effens verveel­de uitdrukking op sy aantreklike gesig. Hulle oë ont­moet, maar net vir ’n sekonde of twee. Toe loop hy voordeur toe. Die oomblik toe hy haar uniform of kappie raaksien, het hy haar seker in die regte boksie geskuif. Onbelangrik met ’n niksbeduidende lewe. Sy loop terug na die halfopgemaakte bed. Mary loer weer by die venster uit. “Los nou jou nuuskierigheid en kom trek die ander kant reg.”

Mary sug oordrewe, besluit seker haar sus­ter se stemtoon kan nie geïgnoreer word nie en loop nader. “Alles aan die man is swart, het jy gesien?”

“Ek het gesien.”

“Hy lyk so belangrik. Selfs ’n bietjie sinister in die swart baadjie en broek. Ek hoop werklik nie juffrou Claire wek sy belangstelling nie. Sy is so ’n sagte en gehoorsame meisietjie. Aan die ander kant – Kok sê sy ken die graaf se familie. ’n Niggie van haar tante het vir die graaf se familie in Londen gewerk en sy het gesê hulle is by ryk verby. Dis beslis tot die Westleys se voordeel indien hulle sou trou.”

Cassie het dit ook in die koerant gelees. Nie van mevrou Cecelia wat vir Claire man soek nie, maar van die graaf se agtergrond en bloedlyn. En wat ’n bloedlyn is dit nie! Nie net is die Wyndhams af­stammelinge van twee koninklike huise nie, maar het boonop sakebelange oral in die wêreld. Tot ’n paar weke gelede was hy nog as ’n wêreldreisiger en avonturier beskou. Sy besluit om die manjifieke Wyndham House-landgoed te koop kom nie juis as ’n verrassing nie. Die eiendom was jare gelede sy oorlede oupa s’n, maar dié het dit skynbaar een aand in ’n onverskillige kaartspel verloor. Dit was nog altyd vir die Wyndham-familie ’n teer onderwerp gewees en toe die landgoed te koop aange­bied is, het hulle dit weer deel van hul skatte gemaak. Aldus die koerant.

“Rykdom is nie alles nie,” herinner sy haar suster uit gewoonte.

“Dis nie waar nie, en jy weet dit. Die rede hoekom ek en jy elke oggend voor sonop die mense van die huis bedien, is omdat ons nie geld het nie.”

“Natuurlik weet ek dit, maar om ryk te wees bring jou nie noodwendig geluk, sekuriteit en veiligheid nie; soos jy maar alte goed weet.”

“Maar dit bring gemak.”

“Miskien, maar ek sou eerder ander dinge met my geld wil doen as ek baie gehad het.” Sy dink aan die graaf. “Soos om die wêreld te gaan sien. Nie mors op sinnelose partytjies en klere wat jou heeldag wurg nie.” Dit voeg sy by toe sy Claire se rok op die stoel raaksien. “Onthou, dié rok moet waskamer toe. Juf­frou Claire het tee daarop gemors.” Sy tel die rok op en bekyk dit ’n entjie weg van haar.

“Wat kyk jy so na die rok?”

“Hierdie rok is net ’n huisdrarok. Sodra die graaf belangstelling toon, sal sy in meer moderne rokke ingeprop word. Haar middeltjie sal dunner moet vertoon en meer klem sal op haar borste gelê word. Marteltuie soos korsette sal uitgehaal word.”

“Met ander woorde, sy sal meer bemarkbaar ge­maak word?”

Cassie gooi die rok terug oor die stoel en glimlag. “Jy’s tog só slim, my sussie. Ek gaan solank langsaan werk.”

“Cassie, wag, moenie nou gaan nie.”

Die ongewone erns in haar suster se stem laat haar verbaas omdraai. “Is iets fout?”

“Ek wil net weet. Gaan ons vir altyd hier as ka­mermeisies werk? Gaan ons ooit eendag trou en . . . ’n plek van ons eie hê? Ons . . . ons wag al twee jaar vir iets beter.”

“Ek gaan nie jok nie, Mary. Ek weet regtig nie wat die toekoms vir ons inhou nie. Miskien . . . miskien moet ons vir eers net dankbaar wees ons het ’n dak oor ons kop en kos om te eet.”

“Ek is nie ondankbaar nie, dis net . . . soms raak ek ’n bietjie moedeloos.”

“Ek weet jy voel party dae terneergedruk. Ek ook. Dit was nie veronderstel om ons pad te wees nie, maar dit het nou eenmaal gebeur. Vir nou kan ons niks daaraan doen nie. Ek en jy moet elke dag vat soos dit kom.” Mary lyk egter nie beter nie en sy voeg by: “Ek sê nie ons moet dit aanvaar nie; net vir nou geniet. Die twee van ons het baie meer vryheid as die arme Claire. Ons kan gaan waar ons wil, sê wat ons wil en niemand is geskok as ons kliphard lag nie.”

“Jy is reg, Claire kan niks van dié dinge doen nie. Dit word nie van ’n dame verwag nie.”

“Presies. Opskud, ek sal Kok vra of jy saam met my mark toe kan gaan. Die wa ry later vanmiddag Wyndhamshire toe.”

“Asseblief. Dit sal lekker wees. En sit tog jou kap­pie reg op, Cassie! Mevrou Lynch gaan die aapstui­pe kry as sy daai rooi hare sonder bedekking sien.”

Cassie voel agter haar nek en trek die kappie teensinnig terug op sy plek. Die huishoudster het haar al ’n paar keer oor haar hare berispe en sy wil dit liefs vermy. “Dis al wat ek van my lewe as diensmeisie verpes – die kappiedraery.”

Haar glimlag verwater egter toe sy by die deur uit is. Sy haat dit as Mary terneergedruk raak. Sy wil haar suster graag nét gelukkig sien. En veilig. Onder die Westleys se dak ís hulle redelik veilig. Hulle ge­heim is ook. Hopelik vir altyd.


“Cassie, Kok sê jy moet in die sitkamer uithelp. Daar is geen spoor van Suzy nie en iemand moet die tee en versnaperinge uitdra,” sê Joyce, een van die kom­buiswerkers, toe sy ’n rukkie later vir Cassie opspoor. Haar gesig is rooi van al die hitte in die kombuis; haar voorskoot vol pampoen.

Hierdie keer gee Cassie nie om om van bakboord na stuurboord rondgestuur te word nie. Sy los die lap waarmee sy die groot koperblompot poets, en haas kombuis toe. Dis haar kans om die veelbe­sproke graaf van nader te bekyk.

“Trek vir jou ’n skoon voorskoot aan. En kry ’n an­der kappie,” beveel Kok haar toe sy die kombuis bin­neloop. “Vandag draai ek daardie Suzy se nek om,” baklei sy terwyl sy voortgaan om die toebroodjies op ’n skinkbord uit te sit.

Cassie se oë rek. “Al die kos net vir een persoon se besoek?”

“Wel, hy’s ’n graaf is hy nie? Toe, roer jou.”

“Waarheen neem ek dit?”

“Mevrou Cecelia wou hom in die sonkamer onthaal. Die uitsig oor die tuin is blykbaar beter.”

Dit maak nie sin nie; hoekom sal die tuin hom beïndruk, wonder sy sinies. Beide deure na die sonkamer is oop en sy hoef nie te klop nie. Mevrou Ce­celia en Claire sit op die pienk sofa. Meneer Henry sit langs hulle en die graaf teenoor hulle. Die ouer man is besig om iets te vertel.

“Verskoon tog, mevrou Cecelia, ek bring net die eetgoed.”

“Waar is Suzy?”

“Sy verrig elders ’n takie vir mevrou Lynch,” jok sy vlot.

“Sit dit op daardie tafeltjie neer.”

“Goed, Mevrou.”

Cassie doen soos sy aangesê word, maar voor­dat sy kan loop, draai die graaf sy kop. Hy kyk di­rek na haar. Dis nie ’n verveelde, ongeërgde kyk nie, maar sy blik is skerp en definitief ondersoekend. Sy oë vernou ’n oomblik, maar toe is sy gesig weer uitdrukkingloos. Nee, dis nie presies die geval nie. Hy lyk soos ’n graaf maar gewoonlik in die teen­woordigheid van die werkersklas lyk. Belangrik en hooghartig. Maar hoe dit ook al is, sy kry kans om sy gesig te bestudeer. Buiten vir sy donker hare wat netjies van sy gesig weggekam is, is sy vel blas. Sy gesig se kontoere is sterk, veral sy hoekige kaak. Wat haar egter verras, is die kleur van sy oë. Met sy donker hare en digte swart wimpers het sy verwag dat dit moontlik bruin sal wees, maar dis ’n deur­dringende donkerblou.

Eers toe ’n ligte frons tussen sy oë verskyn, besef sy dat sy openlik staar. Hy verstaan nie hoekom sy dit doen dit nie. Sy weet sy moet haar oë beskeie neer­slaan soos dit ’n goeie diensmeisie betaam, maar voordat sy haar kom kry, trek sy haar skouers terug en ontmoet sy blik voluit. Hy merk definitief haar astrante houding op, want hy kantel sy kop net ef­fens na links. Sy oë kyk haar nou opsommend aan en sy besef dat sy droogmaak. ’n Lae profiel was nog altyd van kardinale belang. Sy kyk eerste weg en maak terselfdertyd ’n bedeesde kniebuiginkie. “Ek bring nou die ander skinkbord, mevrou Cecelia.”

“Dankie, Cassie.”

Dis onverklaarbaar, maar sy voel sy oë teen haar rug toe sy deur toe loop. Sy weet instinktief dat sy hom om die een of ander rede verras het. Hom moontlik nog verwar het. Heel moontlik dink hy nou dat hy met ’n uiters voor op die wa diensmeisie te doen het. Een wat nie haar plek ken nie. Sy loop sta­diger toe sy skielik iets besef. Sy weet nie hoe sy stem klink nie. Hy het nog nie voor haar gepraat nie.

Sy loop vir ’n tweede keer die sonkamer binne en dié keer staan hy en die heer van die huis voor die venster. Meneer Henry is aan die woord. Sy pak die borde op die tafel uit en weet nie wat volgende van haar verwag word nie. Sy wens net haar oë wil nie kort-kort in sy rigting draai nie, maar dié het skielik ’n wil van hul eie.

“Claire, sal jy asseblief vir die graaf tee skink?”

“Kan Cassie dit nie doen nie, Moeder? Ek’s lomp met sulke goed . . .”

Haar ma se lippe pers net effens saam. Sy wil haar duidelik vir Claire se belangeloosheid vererg, maar sy wink Cassie nader. “Skink jy.”

Sy knik en loop venster toe. “Verskoon my, as­seblief, maar hoe drink u u tee?”

“Swart, asseblief.”

Sy het dit geweet! Sy stem gaan perfek by sy stil en broeiende voorkoms pas. Dis sterk en manlik en sy bespeur geen verfyndheid of aansitterigheid soos ’n mens so dikwels by adellike jong mans kry nie.

“Suiker?”

“Net een.”

Noudat sy voor hom staan en die teekoppie na hom uithou, merk sy ’n baie dun letseltjie teen die kant van sy gesig, net onder sy oor. Dis nie baie opvallend nie, maar hy kan dit ook nie juis wegsteek nie. Hulle oë ontmoet weer en dié keer gee haar hart ’n verspotte bons. Iets omtrent haar voorkoms pla hom, lees sy in sy oë. Maar enigiets kan hom pla. Dis dalk haar uitsonderlike donker­rooi hare wat sy aandag trek. In vergelyking met die ander werkers staan haar en Mary se hare soos seer duime uit. Gelukkig het nie sy óf Mary sproete nie, maar spog hulle met baie ligte en mooi velle. Of dalk is dit haar groen oë. Baie mense sê dis die eerste ding wat hulle omtrent haar opmerk. Haar uitsonderlike groen irisse. Toe besef sy dat sy begin dagdroom. ’n Graaf gaan beslis nie haar óf haar sus­ter se vreemde skoonheid raaksien nie, nog minder daaroor wonder.

Sy skink vir die res van die mense tee, maar dié keer maak sy seker daar is geen oogkontak nie. Toe almal gelukkig en tevrede aan iets peusel, sê mevrou Cecelia: “Jy kan maar gaan, Cassie.”

Sy maak die gebruiklike kniebuiginkie en verlaat die vertrek.

“En?” vra iemand toe sy om die hoek loop. Sy skrik. Die kok en van die ander huiswerkers bondel net om die hoek saam.

“En wat? Hoekom staan julle almal hier en wag? Of wou julle afluister?”

“Ons wil weet of hy met juffrou Claire gepraat het?”

“Ja, jy was daar binne. Lyk dit of sy hom beïndruk het?”

“Wat presies gaan hier aan? Hoekom wil almal weet?” vra sy omgekrap.

Kok skud haar kop. “Want die Westley-huis het in dekades nie ’n troue gehad nie. Indien die graaf ’n huweliksaanbod maak, hou ons troue.”

“Ja, voor die troue sal daar eers ’n paar onthale wees. Ons sal besoekers van oral af kry,” voeg ie­mand anders by.

Cassie voel lus om haar kop te skud. Het die wêreld mal geraak? Hoekom sal ’n viriele man soos die graaf met die eerste oogopslag op iemand so vaal en stil soos Claire verlief raak? Sy gaan egter nie vra nie.

“Ek het net tee geskink en toe geloop. Hy en me­neer Henry het meestal met mekaar gepraat.”

“En juffrou Claire?” vra Kok.

Sy sug. “Wat van juffrou Claire?”

“Het dit darem gelyk of sy van hóm hou?”

“Ek weet eerlik nie; sy’t niks laat blyk nie.”

“Nou goed. Almal terug na hulle werksplekke toe! Mevrou Lynch mag ons nie hier betrap nie,” jaag Kok die spulletjie uitmekaar.

Terwyl sy haar koperblompot verder poets, bly haar gedagtes by die graaf. Het hy regtig na haar gekyk, mét belangstelling, of was dit alles net haar verbeelding? Sy sal seker nooit weet nie.