Skip to main content

Uittreksel | ’n Rede om te bly

Een

Marguerite sluit die spierwit traliehek van haar nuwe besigheid oop. Die geskenkwinkel lyk soos ’n pophuisie ingedruk tussen die drankwinkel en ’n restaurant. Die straat se papiere lê haar hele stoep vol gewaai, maar verder lyk alles netjies en goed onderhou. Sy sluit die glasdeur oop en kyk na die winkel voor haar. Die reuk van boeke is wat haar tref, en naas die boeke ’n ligte poeierreuk. Sy kan nie glo sy neem vandag die leisels van Die Blou Turksvy oor nie. Sy was meer as ’n jaar laas hier en sal vinnig vertroud moet raak met die winkel se inhoud en stelsels. Heel agter in die kantoorgedeelte maak sy ’n kasdeur oop en haal ’n besem en skoppie uit om die gemors op die stoep skoon te maak.

“Môresê, Marguerite!” kom ’n vrolike stem van oorkant die pad.

“Ta’ Liesbet!” groet sy terug. Die tannie het oud geword. As dit nie vir haar geel motortjie en die krom postuur was nie, het Marguerite haar nie herken nie. Sy kom nou met mening oor die hoofstraat gestap. Viljoensvlei se bietjie oggendbedrywigheid sal seker eers oor ’n halfuur begin.

Tannie Liesbet gryp haar vas. “Welkom tuis, kind. Ons het lank vir jou gewag.”

“Dankie, tannie Liesbet. Dit is lekker om hier te wees. Ek kan nie wag om hier by Die Blou Turksvy te begin woeker nie.”

“Ek ook nie, en dit wat ek jou nie van die winkel kan leer nie, is in elk geval nie die moeite werd nie,” lag sy met haar rokershoesie. “Ek het regtig nie gedink jy sal ooit terugkom nie, maar die lewe maak soms onverwagse draaie.”

Dit maak twee van ons. Vir ’n oomblik is Marguerite terug in Kimberley. Sy dink aan haar ou werk, haar kollegas en noodgedwonge ook aan Charles. Verligting spoel oor haar. Dit is al byna ’n jaar later en haar hart voel aansienlik ligter. Die skuif terug Viljoensvlei toe het net op die regte tyd gekom.

“Marguerite, ek sit solank vir ons die ketel aan, want direk ná die oggendkoffie begin ons met jou oriëntering. Daar is ’n berg nuwe voorraad wat jou ma namens jou bestel het wat pryse moet kry, maar eers moet jy weet waar elke liewe ding in hierdie winkel is.”

Die gewoel in die hoofstraat word stelselmatig meer soos wat almal in Viljoensvlei werk toe gaan. Die supermark skuins oorkant haar se werkers drentel in hul groen uniforms werk toe. Die koöperasie maak sy groot hekke oop. Hier en daar sien sy ’n bekende voertuig verbyry, maar sy is al te lank weg van Viljoensvlei om almal te ken.

Sy kry dit reg om die eerste twee kliënte met gemak te help. Albei weet presies wat hulle nodig het en sy kan net oplui. Daar is nuuskierigheid in hul oë toe hulle groet.

Tannie Liesbet begin met ’n volledige winkeltoer en praat en beduie teen ’n dolle vaart. Marguerite weet nie of sy teen môre die helfte gaan onthou nie.

“Kyk, daar het ons die servette, dit is baie gewild. Die duur soort is vir al die la-di-da-vroue van die dorp en die goedkoop soort is sommer vir elke dag se gebruik, jy weet? Van die boekrak kan ek jou seker nie veel leer nie, maar daar regs van die boeke het ons die handeroom en badskuim. En bo die badskuim het ons . . .” Tannie Liesbet se stem draal voort.

Iets laat haar opkyk. Bernard Visagie staan in die deur. Hy glimlag verleë vir haar en lig sy pet.

“Môre, Marguerite. Ek wou net kom seker maak of jy regtig terug is.”

Sy is uit die veld geslaan. Sy ken Bernard al sedert haar eerste skooljaar toe hy al in graad drie was, maar wanneer het dié bruin gebrande boer so aantreklik geword? Sy loop nader hoewel sy nie weet hoe sy veronderstel is om hom te groet nie.

“Bernard, dit is ’n verrassing. Welkom in my winkel.”

“Dankie, welkom tuis.” Hy lê baie klem op die woord tuis. Of dalk verbeel sy haar net. Dit val vreemd op die oor, want sy dink al jare lank nie meer aan Viljoensvlei as “huis” nie.

Hy beweeg nader, maar sy is steeds onseker of hy haar gaan soen of net ’n drukkie gaan gee. Dan neem hy haar aan albei skouers en soen haar vol op die mond.

Hitte versprei oor haar hele gesig. Wat is fout met jou, Marguerite? Hy was byna haar hele skoolloopbaan saam met haar in die skool en koshuis en sy is seker hy het haar al gesoengroet, al is dit ook tien jaar gelede. Maar sy kan nie onthou dat hy haar ooit so ontsenu het nie. Haar gedagtes is ’n warboel. Was sy arms ooit so gespierd? Sy hare is steeds die donkerbruin wat sy onthou en netjies gesny. Hoekom is sy so bly om hom te sien? Sy hoop nie hy kan die vreugde op haar gesig sien nie.

“Hoe voel dit om terug te wees?” Daar is opregte belangstelling in sy oë.

“Dit is nog te vroeg om te sê, ek het eers gistermiddag hier aangekom, maar ek sien uit. Ek hoor hier is ’n lekker klomp jongmense op die dorp.” Bedaar, hart, bedaar.

“Hier is nou weer ’n klomp jonges wat by hul ouers begin oorneem. Jy weet mos, hier skep ons maar ons eie vermaak. Ek kom nie altyd so gereeld in dorp toe soos wat ek graag sal wil nie. My pa het heelwat versorging nodig op die plaas en so . . .”

Sy sien oor Bernard se skouer hoe tannie Liesbet haar kamma besig hou by ’n rak, maar dis duidelik niks ontglip haar kraalogies en gespitste ore nie. Marguerite doen haar bes om haar hart se holderstebolder bewegings te laat bedaar.

“Hoe gaan dit met jou pa?”

“Onder die omstandighede goed, maar hy is vreeslik hardkoppig en boer kliphard van die stoep af. So, ek moet maar spring.”

Marguerite gee vir hom ’n bemoedigende glimlag. Van ’n hardkoppige pa kan jy haar min vertel.

“Sterkte met die winkel. Ek hoop jy is baie gelukkig hier. Ons sal mekaar seker weer raakloop.” Hy gee vir haar ’n skitterwit glimlag.

Dit is al wat haar hart nodig gehad het om weer te begin galop. Sy gaan haar hart blitsig moet stilmaak. Haar brein en haar hart is veronderstel om ’n span te wees. Hulle kan nie moedswillig elkeen hul eie koers inslaan nie. Sy kan nie en gaan nie weer enige opwinding rondom ’n man koester nie.

“Dankie vir die inloer. Sien jou, en sterkte op die plaas.”

Bernard is skaars buite Die Blou Turksvy of tannie Liesbet skuif nader.

“Dat dié man nog los rondloop, is een van die grootste raaisels op Viljoensvlei. Nie dat die vroue nie kliphard probeer om hom aan te keer nie, maar hy laat hom nie vasvat nie.”

Marguerite sug. Sy het nie lus vir skinderpraatjies nie, maar sy kan nie help om ’n bietjie belang te stel in inligting oor Bernard Visagie nie. Tannie Liesbet het gelukkig geen aanmoediging nodig nie, bloot ’n gewillige oor.

“Hier is nog ten minste twee meisiekinders in hierdie dorp wat groot drome droom oor ou Bernard. Dit lyk vir my hy wil eerder in die bondel vry. Nie dat daar veel tyd is vir vry nie. Dis dié dat hy so goed lyk. Werk hom gedaan.”

Moet tannie Liesbet nou Bernard se spiere onder haar neus vryf? Sy wonder wie kamma die twee meisies op die dorp is wat so agter hom aan is. Nie dat dit saak maak nie. Dis nie asof sy belangstel om te begin toustaan nie. Hy was nog altyd ’n aangename ou en op hoërskool al ’n ware gentleman. Op hoërskool het hy een of twee meisies gehad en sy onthou vaagweg iets van ’n groot liefde toe hy gaan studeer het.

“Dagsê, buurvrou. Welkom!” groet ’n stem van die deur af. Richann van Zyl staan met drie koppies wegneemdrankies op ’n skinkbord.

“Richann! Ek is so bly om jou te sien.” Sy stap nader om die skinkbord by hom te neem. Toe sy dit op die toonbank neersit, trek hy haar in ’n beeromhelsing in.

“Ek het gedink jy kan nie hierdie dag aanpak sonder koffie uit my restaurant nie. Vir tannie Liesbet het ek ’n rooiboscappuccino gebring. Ek is bly jy’s terug. Daar is niks wat ’n gebroke hart so kan heelmaak soos vars lug, die Karooson en ’n goeie skeut ‘stadiger lewe’ nie.”

“Wie sê my hart is nog gebreek? Maar jy is reg, ek kan nie wag dat hierdie ongenaakbare son al my spinnerakke laat verdwyn nie.” Dis aangenaam om weer haar ou skoolvriend te sien. Haar hart is dalk nog nie so gesond soos wat sy haarself probeer oortuig nie, maar sy is verras dat hy wel nog kan bokspring en dit oor ’n ou skoolkennis.

“As jou hart al besig is om gesond te word, moet hy dalk net jou hartseer oë ook daarvan laat weet. Ek kan nie wag dat ons behoorlik moet opvang nie. WhatsApp-geselsies kan ’n mens ook net só ver bring. Dit is tyd dat ons vergoed vir die afgelope paar jaar se afskeepkuiers. Jy moenie huiwer om op my knoppie te druk as jy hulp nodig het hier by die winkel nie.”

“Dankie, Richann. Ek sal so maak. Ek sien ook uit na ’n lekker kuier. Laat weet maar wanneer jy my in jou besige sosiale skedule kan inpas.”

“Jy moenie spot nie. Van volgende week af sleep ek jou saam na die dorpstennis en selfs ons boekklub. Jy sal nie kan glo waarmee ons alles hier werskaf nie. Lekker werk!” Hy tik haar op die skouer voor hy met haastige voetstappe verdwyn.

Tannie Liesbet praat voort asof daar geen onderbreking was nie. “Richann is self ’n aantreklike kêrel. Hy doen so baie vir ons ou dorpie. En hy is ’n knap sakeman, soos jy seker self weet. As hy nie soveel geboue in hierdie hoofstraat gerestoureer het nie, sou dit maar ’n hartseer gesig gewees het.”

Richann is aantreklik en suksesvol en tog het sy teenwoordigheid nie naastenby so ’n uitwerking op haar hart nie. Dis dalk omdat sy soveel gemakliker by hom voel ná hul jare lange vriendskap. Die skielike opwinding oor Bernard Visagie se vinnige inloer is waarskynlik net haar verbeelding. Dis waar dit gaan bly. Haar hart is in elk geval nog seer en ’n Karooboer is die heel laaste ding wat sy nou nodig het. Sy loop eerder kaalvoet oor die naaste berg as om ooit weer die gedagte te kry om haar aan ’n man te verbind.

Die res van die dag vlieg verby met verskeie bekende en onbekende gesigte wat kom inloer. Vir middagete het tannie Liesbet vir hulle pannekoeke met maalvleis ingepak.

“Op Vrydae bederf ek myself, dan bestel ek iets lekkers hier by Richann se restaurant.”

“Ek sal met graagte by daardie tradisie van Tannie inval. Ek verpes kos maak. So tussen die restaurant, die tuisnywerheid en die supermark hoop ek op maklike klaarbereide etes vir een.”

“Ai, kind, maar jou ma sal darem seker ook af en toe vir jou iets inbring dorp toe, of hoe?”

Marguerite gee ’n wrang glimlag. Haar ma sal seker af en toe huiskos saambring dorp toe. Haar pa laat gewoonlik nie ’n geleentheid verbygaan om haar te herinner dat alle “boervroue” kan kos maak nie. Gelukkig is sy nie ’n boervrou nie en wil sy ook nie een wees nie. Gelukkig is sy niemand se vrou nie. Dis ’n genade dat sy nie ’n man het wat saans vaal van die honger op die uitkyk is vir ’n bord heilsame kos nie. Charles het nooit oor haar gebrek aan kosmaakvernuf gekla nie, maar uiteindelik het hy soveel meer as tuisgemaakte kos elders gekry. Sy blaas haar asem stadig uit. Sedert hulle uitmekaar is, het hulle mekaar net twee keer in Kimberley raakgeloop en albei kere het sy gemaak asof hy nie bestaan nie. Sy kon sien hy probeer haar groet, maar sy het niks vir hom te sê gehad nie.

“Marguerite, hoekom lyk jy nou só?” Niks ontglip tannie Liesbet se oë nie.

“Dis niks, Tannie. My gedagtes het sommer gedwaal. Wanneer maak julle gewoonlik die winkel skoon?”

“Gewoonlik sommer saans wanneer die deur toemaak. Dit was altyd vir my lekker om soggens in ’n skoon winkel wat lekker ruik in te kom. Ons maak altyd Saterdagmiddae ordentlik skoon, dan is alles weer reg vir Maandae. Maar as die vloere en ergste afstof daagliks gedoen word, bly alles onder beheer.”

“Dankie, Tannie, dan gaan ek dit ook só doen.”


Toe Marguerite tuiskom, staan daar ’n boks met groente en ’n mandjie op haar woonstel se voorstoep. Sy glimlag. Sy het al vergeet hoe gasvry plattelandse mense is. By die mandjie is daar ’n plakker wat sê: Welkom, buurvrou! Dit is seker die Jacobse wat langs haar bly wat dit gestuur het. Op een van die boks se flappe staan daar in ’n sterk handskrif: M, ek wou dit nie by die winkel afgee nie. Lekker eet! Groete, Bernard.

Wat sal Bernard sê as hy moet weet sy kan nie eens kos maak nie? Sy moet sekerlik niks meer in hierdie gebaar lees nie, maar haar hart kan nie help om ’n bietjie te riel nie. Sy het gewonder hoe maklik sy in haar grootworddorp sal aanpas. Die dorp het agteruitgegaan sedert sy hier in die koshuis was. Sy is ook nie meer die naïewe agtienjarige wat haar oë laat verblind deur die stad se liggies nie. Miskien moet sy nie haar nuwe lewe te ver vooruitbeplan nie. Een voet voor die ander is al wat sy nodig het vir eers.