Skip to main content

Uittreksel | ’n Nutsman vir Nadia

Een

“Ek besit wraggies nou ’n arsenaal wapens. Dink jy dis alles nodig?” Nadia kyk onrustig na die wapen in haar hand.

“Jy oordryf nou, dis net ’n mes, rewolwer en pepersproei. Jy weet wat om wanneer te gebruik. Ons moet slaggereed wees. Jaco dink John Doe gaan volgende week ontslaan word, dan gaan hy jou kom soek of iemand stuur. Nie alleen oor Lettie nie, maar omdat hy wraak wil neem ná jy hom met die mes bygekom het. Jy weet dit net so goed soos ek.” Carla sit ’n stempel in die boonste boek van die stapel wat voor haar lê. “Dié keer gaan jy hom nie onkant betrap nie. Jy moet wakker loop.”

“Ek wens julle is verkeerd, maar ek bly waaksaam.” Nadia sit die handwapen versigtig in haar baadjie se binnesak. Haar blik beweeg terselfdertyd oor haar ma se suster. Kort grys hare, bruin oë, ’n plooilose vel. Loop heeltyd in uitgewaste jeans, tekkies en los T-hemde. ’n Onopvallende vrou wat maklik onderskat word. Niemand sou raai dat sy in haar vorige lewe ’n VIP-beskermer was, en vaardiger is met wapens as die meeste mans nie. Nou is sy ewe tuis in ’n plattelandse biblioteek met antieke boekrakke en afgeleefde boeke. “Dankie vir my voorgeskrewe boeke. Ek is so verlig die ander biblioteek wou dit uitleen. Boeke kos deesdae ’n fortuin. My beursie kan dit eenvoudig nie nou bybring terwyl ek vir Lettie moet sorg nie.”

“Dis tyd om jou trots in jou sak te steek en my toe te laat om by te dra.”

“Jy doen reeds te veel. Toe ek hierheen gevlug het, was dit nie met die idee dat jy Lettie heeltyds versorg nie.”

“My plot is hiperveilig en my personeel geniet dit om na haar om te sien.” Carla stempel die laaste boek. “Wanneer moet jou volgende werkstuk in?”

“Einde van die maand. Ek het genoeg tyd.”

Carla skud haar kop. “Eerder jy as ek. Ek weet nie hoe jy al die balle in die lug hou met jou werk én swottings nie.”

“Dis hoe ek kophou terwyl ek vir Jaco wag om uit cover te kom. Die spanning maak my mal. Ek wens eintlik John Doe, of wat ook al sy regte naam is, wil nou hier opdaag. Dan kan ons dinge eens en vir altyd uitsorteer.” Sy het haar aanvaller John Doe gedoop, want hy het hom nie eintlik voorgestel toe hy haar in haar woonstel beetgekry het nie.

“Ek wens eerder jou broer handel sy geheime projek gou af sodat hy John Doe en sy trawante in die tronk kan sit.” Carla kyk vlugtig in die rigting van die groot houtraamvensters wat op die hoofpad uitkyk. “Ek hoor ’n dieselbakkie wat by die parkering indraai. Ons praat later. Ek kan dit nie oorbeklemtoon nie: Niemand mag weet wat ons in die mou voer nie.” Sy stoot die hopie boeke oor die toonbank. “Daarsy, geniet jou leesstof.” Die foon lui in die agterste kantoor. “Wag, ek is nou terug.” Sy stap in haar kantoor in.

Die deurklokkie raas. Carla beduie sy moet oopmaak en hou aan praat. Nadia buk oor die toonbank om by die knoppie te kom. Die veiligheidsdeur se slot klik oop.

Nadia druk die vier boeke in haar boeksak. Tyd om te verkas. Netnou is dit ’n boer wat oor koeitjies en kalfies wil praat. Dis maar hoe dit hier werk. Vir ’n stadsjapie soos sy bly dit ’n aanpassing, juis omdat sy ’n paar geheime ronddra. In die stad het die bure nie ’n saak met jou nie. Hulle het nie eens deur die venster geloer toe John Doe haar voordeur omtrent afbreek nie. Geluk was aan haar kant, sy was besig om uie met ’n vlymskerp mes te kap. Die mes het in sy skouer beland, die pan oor sy kop. Hy was lank genoeg katswink sodat sy en Lettie kon rieme neerlê. Koue rillings beweeg deur haar lyf. So byna was haar doppie geklink.

Die veiligheidsdeur kreun oop. Nadia kyk half oor haar skouer. Die middagsonnetjie verblind haar vir ’n oomblik. ’n Donker man met ’n donker baadjie, blou jeans en bruin stewels stap in. Nie ’n boer uit die omgewing nie; die voertuig se registrasienommer wat sy deur die staaldeur sien, wys hy is van Gauteng. Lugtig beskou sy hom. In haar huidige posisie beteken vreemdelinge net moeilikheid.

Hy stap nader, ’n breë glimlag op sy gesig. Nadia knip haar oë. Bruin oë, ligbruin kort hare, modieus geknip. Niks wat dadelik die knieë lam maak nie, maar jislaaik, sy het nog nie ’n glimlag gesien wat so ’n impak op haar kon hê nie. Dit helder sy gesig op. Maak van sy alledaagse voorkoms iets besonders. Iets betowerends. Onwillekeurig glimlag sy terug. ’n Eerlike glimlag, as daar so iets bestaan.

Hy steek ’n groot hand uit. “Middag. Ek is Ewan Badenhorst.”

Haar mond is onverklaarbaar droog. “Nadia. Hallo.” Haar kop en hande praat opeens nie met mekaar nie. Sy steek haar hand met die sak uit. Besef haar fout, ruk dit terug en laat val die sak. Boeke gly oor die bruin teëls. Haar ore word warm. Vervlaks, die mansmens gaan dink sy is japerig. Sy weet haar voorkoms bevestig die indruk: asserige blonde hare uit ’n bottel, oorgroot bruin hemp, los bruin baadjie, grys sweetpakbroek en Crocs. Jaco en Carla het haar oortuig dit sal haar in die agtergrond laat verdwyn. Maar so waar as vet, nou wens sy vir ’n helder geblomde rokkie, pikante hemelhoë sandale en haar natuurlike kastaiingbruin hare in ’n moderne kapsel wat oor haar skouers hang. En darem ’n tikkie grimering.

Hy buk vinniger as sy. “Laat ek jou gou help.” Hy kry twee boeke beet.

Sy hou haar hand vir die boeke. Sy naskeermiddel is lieflik. Sag en aanloklik. Hy kyk geïnteresseerd na die boonste boek.

Cloud computing tools and analyses. Liewe hemel, dis nou wat ek ’n indrukwekkende titel noem. Gaan jý dit lees?” Hy kan nie sy verbasing wegsteek nie.

“Wie anders? Dis nie slegs mans wat IT-boffins is nie.”

“Dis nie wat ek bedoel nie. Ek bedoel …” Hy lag verleë. “Wag, ek weet nie wat ek bedoel het nie. Laat ek dit eerder so stel, ek sal nie so ’n boek lees nie, al betaal jy my. Dan verkies ek eerder handearbeid.”

Hy bekyk die ander boek voor hy dit ook vir haar gee. “’n Onweerstaanbare vreemdeling deur Rykie Roux. Dis nou meer wat ek verwag, ’n hygroman.”

Hy knipoog speels.

Nadia staar suur na hom. Hy moenie sy oulike indruk opmors met so ’n opmerking nie. “Dis nie ’n hygroman nie. Dis ’n liefdesverhaal.”

“Dis mos dieselfde ding. Niks om oor skaam te wees nie. My suster en ma lees tonne sulke boeke. Ek weet, want ek koop dit vir hulle.”

“Ek is nie skaam nie,” lig sy hom beslis in. Dis duidelik dat hy ’n gesonde verhouding met die vrouens in sy lewe het. Dit tel darem ’n paar punte in haar boekie. Onmiddellik verlang sy na haar broer. As ’n undercover polisieman het Jaco nie aldag ’n maklike werk nie. Hy maak maar min kontak omdat dit hom kan ontmasker. Dit kan hy kwalik bekostig met die tipe skuim waarmee hy te doene kry. “Verskoon my, ek moet loop.”

“Wag. Ek soek blyplek. Kan jy iets aanbeveel?”

Nadia bly teensinnig staan. “Jy moet vir Carla, die bibliotekaresse, vra. Sy het ’n lys van plekke.” Beukesdorp is nie ’n vakansieplek nie. Dis ’n afgeleë dorpie in die verre Limpopo. ’n Plek waar boere en mynwerkers proviand aankoop. Daarom behoort John Doe te spartel om haar te vind. So hoop sy in elk geval.

Carla stap nader. “Middag. Hoe kan ek help?”

Hy stel hom weer voor. “Iemand by die petrolstasie het my hierheen gestuur. Julle kan glo help met ’n lys van blyplekke. Ek sien nie ’n hotel in die omgewing nie.”

Nadia glimlag liggies. Dis nie net haar kop wat ’n kortsluiting maak wanneer die mansmens so mooi glimlag nie. Carla staar met groot oë na hom, haar arm amper koketterig in haar sy. Nadia groet en stap uit. Sy glo nie Carla het haar gehoor nie. Nou gou ’n koeldrank drink by die koffiewinkel, dan terugstap. Sy sal later hoor watter plek Carla aanbeveel het. Hopelik nie Tanja se gastehuis nie.


’n Silwergrys Amarok staan voor die gastehuis op die sypaadjie. Dis die laaste huis in die singel, ’n dubbelvlakwoning met ’n wye stoep reg rondom, twee tuinwoonstelle agter en ’n goed gevestigde tuin. Tanja het groen vingers en die ure wat sy in haar tuin deurbring, se beloning is ’n lowerryke oase. Die huis staan uit bo die ander ietwat verwaarloosde wonings in die straat wat behoort aan meestal ouer inwoners sonder geld wat rondlê.

Nadia bekyk vir Ewan wat agter die voertuig verskyn en ’n tas uittel. Wat besiel Carla om hom hierheen te stuur? Wat van hul staande reëling dat slegs gereelde gaste slaapplek gebied word? Die man het nou wel ’n eerlike glimlag, maar dis nie rede om kop te verloor nie. Hier is eenvoudig te veel op die spel. Soos haar en klein Lettie se lewe. Die gastehuis is tans die enigste plek waar sy ’n mate van beskerming ervaar; hier weet sy wie kom en gaan. Sy hoop haar niggie wys hom die deur.

Sy skop ’n klip in die pad en staar afgetrokke na die stofwalms wat om haar Crocs opstu. Haar hande vorm vuiste in haar baadjiesakke, die rewolwer druk swaar teen haar bors. Dis op die oomblik te warm vir ’n baadjie, maar die sagte suede lê vertroostend teen haar lyf. Twee dekades gelede toe haar ma haar minnaar Kanada toe gevolg het, het sy verknog geraak aan haar ma se kasjmiertjalie. Nou is dit die deurleefde baadjie van haar oorlede tweelingsussie, Magda.

“Bly jy ook hier?” wil hy weet toe sy naby is.

“Soort van. Ek werk hier.” Haar antwoord is kortaf. Dis meer aspris as enigiets anders. Sy is nie van nature ongeskik nie, slegs afgehaal. Haar frustrasies begin oorborrel. Sy wil vir Jaco hier hê. Sonder hom is haar hande afgekap. Hulle het beide toesig oor Lettie, Magda se babadogtertjie, maar intussen twyfel hulle of dit ooit haar kind is. Magda het destyds die onderwerp omseil toe Nadia wonder oor Lettie se blonde hare en blou oë terwyl Magda en Stefan albei blas donkerkoppe was. Ná hulle dood kon Nadia nie Lettie se geboortesertifikaat tussen hulle dokumente opspoor nie. Binnelandse Sake was ook van geen hulp nie, en Jaco kan dit eers ondersoek wanneer sy projek afgehandel is. Dan is daar die dwelmmafia wat John Doe gestuur het om die halfmiljoen op te eis wat Magda hulle glo skuld. Anders vat hulle die kind. Nadia weet Magda en Stefan was verslaaf aan dwelms, maar het g’n benul gehad hulle het ook daarin handel gedryf nie.

“Tussendeur lees jy dik boeke oor programmering. ’n Meisie met vele talente.”

Byna rol sy haar oë. Hoekom allerhande praatjies aanknoop? Sy is mos nie naïef nie, haar voorkoms gaan kwalik ’n man tot poësie inspireer. In die skerp middagson kan sy sien die man het meer as ’n mooi glimlag. Sy oë is ’n okerbruin, sy gladde hare verskillende skakerings van ligbruin. Sy baadjie is uitgetrek en die blou gholfhemp vou netjies om breë skouers.

Sy denim beklemtoon daarby sy indrukwekkende lengte – al die elemente wat ’n normale vrou heerlik broos laat voel. Gelukkig is sy nie die patetiese tipe wat fantaseer oor ’n soliede man wat die wrede wêreld weghou nie. Tans is al wat ’n man is ’n potensiële bedreiging. Dalk is hy hier vir die geld of die kind. Hy is nie John Doe nie, maar ’n forse Nigeriër sal hier soos ’n seer vinger uitstaan. Hulle kan haar juis probeer verwar deur heeltemal die teenoorgestelde tipe te stuur. Daarom bly sy op haar hoede.

“Die ontvangs is daar.” Sy beduie na die groot houtvoordeur wat wawyd oopstaan, en glip verby hom.

“Wag ’n bietjie.”

Sy sug en gaan staan. Wat nog? Wanneer kry hy die boodskap sy is nie lus vir geselsies nie?

“Is jy altyd so haastig? Ek dog die mense op die platteland vat dinge rustiger.”

Sy draai onwillig om. “Dis wat julle stadsjapies graag dink, maar julle is verkeerd.” Sy was drie maande gelede ook een. Tot sy hier kom wegkruip het. Sy ken darem die platteland. Haar pa is van een na die ander klein polisiestasie geskuif, nie vir bevordering nie, maar oor drankmisbruik. Hy was ’n briljante speurder, maar ook ’n verleentheid vir die mag. Sy kinders moes agternapiekel. Tot haar sussie keelvol geraak het vir die nomadiese lewenstyl asook hul pa se alewige gedrinkery en op sewentien weggeloop het.

“Hoekom het jy nie gesê jy werk by ’n gastehuis nie?”

Sy kyk weg van sy nuuskierige blik. “Jy het nie gevra nie. Jy sal Tanja binne kry. Die plek behoort aan haar.”

“Ek het reeds met haar oor die foon gepraat. Lyk my ons gaan bure wees.” Hy sê dit asof dit ’n prestasie is.

Sy snork en bedek dit met ’n hoesbui.

“Jy lyk nie opgewonde nie. Is daar iets fout?” Hy grinnik.

“Daar is niks fout nie.” Die man vind haar reaksie snaaks. Hy is nogal vreemd. Sy ken nie mans met lang lonte nie. Haar pa sou haar terstond op haar plek gesit het.

“Hallo, hartjie. Als reg?” Die buurvrou waai van haar stoep af.

“Ja, alles is reg, dankie Tannie.” Rina is effektiewer as ’n kwêvoël, sy weet presies wat in die straat aangaan en waarsku almal. Sy ly ook aan insomnia en daarom mis sy niks in die nag nie. Toe Nadia met ’n blou oog en stukkende lip hier opgedaag het, het Rina vas geglo sy is ’n afgeranselde vrou wat weghardloop van haar eksman. Nadia het later handdoek ingegooi om die feite reg te stel sonder om terselfdertyd die waarheid te verklap. Dit werk eintlik tot haar voordeel. Niemand vra oor haar vorige lewe nie, te ongemaklik om die onderwerp aan te roer.

“Middag, Meneer.”

Hy lig sy hand in erkenning en kyk weer vir Nadia. “Watse werk doen jy hier?”

“Ek is die ontvangsdame.” Basjan kom aangeluier, skuur sy lyf teen haar enkels. Sy tel hom op.

“Jou kat?”

“Jip.” Sy vryf haar wang teen sy sagte bruin pels.

“Hoe lank bly jy al hier?”

Maggies, die man weet ook nie wanneer om sy mond toe te hou nie. Haar hart ruk in haar bors. Is sy vrae bloot onskuldige belangstelling of probeer hy meer uitvis? “Lank genoeg om nuuskierige gaste na hul peetjie te stuur.” Sy stap weg. Hoekom lag hy? Daar was wragtie niks grappigs aan haar opmerking nie.


Daar is ’n sagte klop aan die oop woonsteldeur. Tanja stap in. “Hallo, Nadia. Hoekom het jy nie kom groet nie? Is iets fout?”

“Hoekom laat julle die man hier bly? Was dit jou ma se besluit?” val Nadia met die deur in die huis. Sy sit nou al ’n uur en tob oor die man. Is dit bloot toevallig dat hy by die gastehuis beland het of is dit deel van ’n slinkse plan om deur Carla plek hier te kry?

“Sjoe, maar jy is opgewerk.” Tanja glimlag gerusstellend. “Mamma het vir hom voorbrand gemaak.” Tanja strek haar op die ligblou duvet uit, Basjan spring op die bed en maak hom gemaklik in haar skoot. “Sy sê hy lyk betroubaar en jy weet sy het goeie oordeel. Hy is ook ’n hottie, sy glimlag doen dit vir my.”

“Moenie romantiese idees in jou kop kry nie, hy is te oud vir jou.” Nadia weet haar argument klink maar flou. Daar is egter iets aan die prentjie van Tanja en Ewan wat haar krapperig maak.

Tanja lag. “Nee wat, ek is nog nie so desperaat om vir ’n ou man te val nie. Volgens sy identiteitskaart is hy vyf en dertig. Dit is meer as ’n dekade ouer as ek. Maar hy het die looks en die charm waarvan ek hou. Ek het hom egter meer vir jou in gedagte.”

Nadia gaap Tanja aan. “Waar kom jy vandaan? Het ek ooit die indruk geskep ek is naarstiglik op soek na ’n man?”

“Nee, jy het nie, maar dié keer reageer jy anders as normaal. Ek het julle tweetjies fyn dopgehou daar by die hek. Ek kon omtrent die vonke sien spat. En toe jy wegstap, staar hy jou agterna asof hy nog nooit ’n vrou in sy lewe gesien het nie. En net so,” Tanja klap haar vingers, “besluit hy om langer te bly.”

Nadia skud haar kop. “Sjoe, jy het ’n lewendige verbeelding. Hy het my uit die staanspoor met sy ondervraging geïrriteer, en die arme man het seker nog nooit so ’n verslonste meisie in sy lewe raakgeloop nie. Ek wed jou hy het my met afgryse agternagestaar.” Onwillekeurig vat sy aan haar kort hare. Vir die eerste keer berou sy haar brawe poging om dit met ’n skêr stomp tot by haar skouers af te sny. Min van haar ou kennisse sal haar nou herken, en dis die hele idee. Wat sy nie kon voorsien nie, is hoe sy nou meer na haar tweelingsussie lyk wat nie lang hare kon verdra nie en haar kort kapsel in helder kleure van blond tot pienk gekleur het. John Doe was juis oortuig sy is Magda. Sy sug saggies. Die gemors is Magda se skuld. Teen haar aard koester Nadia nou agterdog teenoor elke vreemdeling. Dis glad nie hoe sy is nie. “Hoe lank bly hy?”

“Dis wat so vreemd is. Oor die foon was dit aanvanklik drie dae, en toe hy hier opdaag, word dit sommer ’n paar weke.”

“Het jy ’n verduideliking geëis?” Sy besluit maak haar ongemaklik. Weet hy wie sy is? Hang hy hier rond tot hy vir Lettie vind?

“Nee, nooit! Hoekom gaan ek kla as ’n gas langer wil bly? As hy my mooi niggie wil leer ken, gaan ek nie ’n klip in sy pad stoot nie.” Tanja knipoog oordrewe.

“Jy is nou verspot.” Nadia sak op die lessenaarstoel neer. ’n Lamheid het haar beet. ’n Stemmetjie waarsku haar die man tree suspisieus op. “Het hy gesê hoekom hy hier is?”

“Hy wil ’n doen-dit-selfwinkel begin. Hardeware. En dis die heilige waarheid, ek het sy visitekaartjie gesien. Hy is ’n verteenwoordiger van ’n groot franchise.”

Nadia lag spottend. “Ja, rêrig, en my kaartjie sê ek is ’n modeontwerper. Jy dink tog nie dis genoeg bewyse nie?”

Tanja grinnik ingenome. “Ek het die nommer gebel en die ontvangsdame het dit bevestig. Hy werk by die plek. Sy sê hy is uitstedig.”

“Hy kon die man se naam gesteel het.”

Tanja draai Basjan se lang stert in ’n sirkel.

“Moontlik. Maar soos Mamma sê, hy het ’n eerlike gesig en is rêrig gaaf. Ek gaan hom glo tot jy die teendeel bewys. Ek dink nie hy het enigiets uit te waai met die dwelmsindikaat nie. Jy dink tog nie rêrig die dwelmmafia gaan iemand stuur om doodluiters by ’n gastehuis in te boek en jou by die teetafel vra om asseblief die halfmiljoen terug te gee, of anders wil hulle vir Lettie hê nie? Nee, hulle gaan die groot kanonne stuur wat hier instorm wanneer jy alleen is. Ek wed jou dié keer kom meer as een ou, want John Doe het eerstehands ervaar jy is nie ’n walkover nie.”

“Dankie, jy laat my stukke beter voel.” Nadia loer na die laai langs die bed waar sy pas die rewolwer gebêre het. Haar pa het sy dogters van jongs af touwys gemaak in selfverdediging en die hantering van wapens. Carla het dieselfde met Tanja gedoen, anders sou Nadia nooit hierheen gevlug en haar familie in gevaar gestel het nie.

Tanja sit regop. “Ek moet ophou ginnegaap. Die gastehuis is vol.” Basjan spring op die vensterbank en verdwyn deur die oop venster. “Kom jy middagete kry?”

Nadia skud haar kop. “Ek sal later iets uit die kombuis vat.”