Skip to main content

Uittreksel | ’n Noodvlug vir Rusty

Een

“Ek kan nie nou praat nie, Ma. Ek sit voor Metusalag se deur.” Nadine hou die foon van haar gesig af weg voordat sy haar duim natlek en ’n stofstreep van Charl se wang afvee.

“Ma!” Charl ruk sy gesig weg.

“Moenie jou vir my wip nie.” Sy draai die foon na haar mond toe.

“Skuus, Ma. Die kind soek my vandag en hy gaan my kry. Sê weer?”

“Ek wil weet watter skofte werk jy dié naweek dat ons die tuinwoonstel kan skoonmaak.”

“Kan ons nie later hieroor praat nie?” Sy vee haar duim aan haar scrubs se broek af en draai weer die foon weg voordat sy vir Charl deur haar tande sis. “En jy steek jou hemp in vóór ons daar ingaan.”

“Jy kan net sê dagskof of nagskof. Jy hoef nie ’n hele gesprek daarvan te maak nie.” Haar ma bly ’n oomblik stil. “Wie is Metusalag?”

“Metusalag is die kinders se bynaam vir die skoolsielkundige, Ma. Ek dink dis meneer Cronjé of so iets. Hulle sê hy is al verby sy vervaldatum. Trouens, hy sê dit self, maar die beheerraad kry nie ’n geskikte plaasvervanger nie.”

“Metusalag is nie meer . . .” Charl kry nie verder gepraat toe Nadine haar hand oor sy mond druk nie.

“Ek en jou ouma praat nou. Trek jou kouse op.” Sy bring die foon na haar mond toe. “Ek is die naweek af. Maar waaroor ek met Ma wil praat, is nie die skoonmaak van die tuinwoonstel nie. Ek dink nie dis nodig om die plek te verhuur nie. Ons het nie geld om rond te gooi nie, maar ons kom oor die weg. Ek is net bang ons kry ’n huurder soos die laaste ene en dan sit ons met die gebakte pere en dit vir ’n paar rand.”

“My kind, jy wil dalk nie geld hê nie, maar ek kan daai geldjie gebruik om vir Hetta te gaan kuier. Wie weet hoe lank sy nog met ons gaan wees en ek wil darem graag met my eie oë gaan kyk hoe dit daar gaan.”

“Ma . . . Hou gou vas . . .” Nadine bly ’n oomblik stil toe die sielkundige se deur oopgaan. Die skerp sonlig wat deur die opening val, maak dit onmoontlik om te sien wie die deur oopmaak en sy herken eers die sekretaresse wat uitgetrippel kom toe sy die deur agter haar toedruk.

“Hy sal nou met julle wees.” Die sekretaresse glimlag van oor tot oor en stap verby na haar kantoor toe.

“Dankie.” Nadine kyk haar agterna en fluister binnensmonds: “Wat het Metusalag gedoen om jóú so opgewonde te maak?” Sy druk weer die foon teen haar oor. “Waar was ons?”

“My suster.”

“O ja. Ma, die kanker is in remissie en tannie Hetta gaan nog lank met ons wees. Ek wag net vir daai geld van die Ontvanger af om te kom dan sit ek Ma op ’n vliegtuig en kan Ma so lank kuier as wat Ma wil. Ek en Charl sal regkom. Ek het twee of drie weke opgehoopte verlof as Ma wil weggaan. Al wat ek vra, is dink net weer oor die uitverhuur van die tuinwoonstel.”

“En die swembad wat so geld vreet? As ons die woonstel verhuur, kan die huurgeld ook vir die swembad betaal.”

“Ons kan die swembad toegooi. Dis net Charl wat partykeer daarin plas.” Sy draai vinnig na Charl toe dit lyk asof hy sy ontevredenheid wil uiter. “Ek het gesê sjuut.” Sy vou haar hand oor die selfoon. “Grootmense praat nou. Ons kan nie duisende rande betaal net omdat jy twee keer ’n maand warm kry nie. Jy kan die tuinslang se sproeier aansit as dit moet.” Sy bring die foon nader toe die sielkundige se deur oopgaan. “Ek moet gaan, Ma. Praat later.” Sy sny die oproep af sonder om te wag vir ’n antwoord en vat Charl aan die hand toe sy opstaan. Sy kan sweer die silhoeët wat teen die sonlig afgeëts is, is langer as wat sy Metusalag onthou. En met baie breër skouers. Sy loop tot by hom voordat die lig haar toelaat om die man voor haar te eien. Die blouste paar oë wat sy in ’n lang tyd gesien het, neem die woorde uit haar mond terwyl sy haar nek agteroor moet buig om in hulle te bly kyk. Die oomblik duur ’n ewigheid voordat ’n effense glimlag onder die man se rooi baard begin vorm aanneem.

“Ek neem aan u is mevrou Bester.” Die vibrasie van die diep stem reduseer dit byna tot ’n fluistering.

“Hoe lank is jy?” Sy besef eers sy is besig om onbenullighede kwyt te raak toe dit reeds uit is, en sy probeer dit wegpraat. “Nie dat dit baie sê nie, ek is maar een komma ses vyf, maar jy is besonder lank.”

“Net so oor die twee meter.” Weer die fluistervibrasie.

Nadine voel hoe die frons tussen haar oë vorm voordat sy haar hand uitsteek. “Ek is juffrou Bester. Aangenaam. Ek het net iemand anders verwag. Ek vra verskoning.”

“Ek is inderdaad nuut hierso.” Hy omvou haar hand met syne. “Meneer Kotzé het afgetree en as ek so na sy profiel op Facebook kyk, is hy vandag wéér langs die viswater. Noem my sommer Rusty. Almal doen dit.” Hy beduie met sy linkerhand na die lessenaar terwyl hy steeds haar regterhand vashou.

“Sit gerus.”

’n Glimlag vorm om haar mond en dit verdwyn net so skielik. “Nadine. Ek is sommer net Nadine.” Sy voel hoe Rusty se vingers ontspan en sy hou haar hand nog ’n oomblik in syne voordat sy na die lessenaar draai en langs Charl gaan sit. Sy kruis haar bene en laat sak haar hande in haar skoot waar sy liggies oor die hand vryf wat oomblikke gelede knus in die man voor haar s’n genestel was. Was daar elektrisiteit in die lug, of verbeel sy haar net? Waarom voel haar hand so warm? Sy kug ’n slag en verskuif haar gewig in die stoel voordat sy op die man voor haar fokus.

Rusty het agter die lessenaar ingeskuif, maar nog nie ’n woord gesê nie. Sy gesig lyk ontspanne waar hy Charl sit en dophou terwyl dié probeer om sy hemp in sy broek in te steek. Eers toe Charl opkyk, lê Rusty agteroor in sy stoel en praat verder: “Weet jy hoekom is jy en jou ma vandag hier, Charl?”

Die kind laat sak sy kop en begin met een van sy hempsknope vroetel. Hy mompel iets.

Nadine stamp hom liggies met die elmboog: “Nee man, Charl. Tel jou kop op en kyk meneer Rusty in die oë.”

“Jy kan my ook net Rusty noem, Charl. Ek is nie ’n meneer in die skoolopset nie, maar ek kon jou nie hoor nie. Waarom dink jy is jy en jou ma vandag hier?”

Charl praat harder, maar kyk steeds nie op van die hempsknoop wat hy tussen sy vingers vashou nie. “Is dit oor Lesley?”

“Wat van Lesley?”

“Omdat ek hom pouse by die snoepie uit die ry gestamp het.”

“Dit is een van die redes.”

Nadine trek haar asem hoorbaar in en kyk vinnig na Rusty om te sien of hy dit gehoor het. Sy is net betyds om te sien hoe hy vinnig van haar af wegkyk terug na Charl toe.

“Is dit omdat ek en Frikkie nie ná pouse teruggegaan het klas toe nie?”

“Dis die ander rede.” Rusty sit vorentoe in sy stoel en sê nie ’n woord verder nie. Eers toe Charl ongemaklik raak met die stilte en opkyk na hom praat hy verder. “Is jy ongelukkig by juffrou Tina?”

Charl kyk weer na die knoop en antwoord: “Nee.”

“Sal jy eerder by juffrou Belinda in die klas wil wees? Of by juffrou Cecile of een van die ander juffrouens?”

“Nee.” Charl kyk verward op. “Ek wil by juffrou Tina bly.” Hy vat Nadine aan die arm. “Asseblief, Mamma. Ek wil nie weggaan by juffrou Tina nie.”

Dis die kalm rasper van Rusty se stem wat die kind tot bedaring bring. “As jy so graag by juffrou Tina wil bly, dan sal ek seker maak dat jy daar bly.” Hy bly stil totdat Charl se aandag by hom is. “Maar jy sal van jou kant af ook iets moet doen, Charl. Juffrou Tina het haar vandag amper doodgeskrik toe julle ná pouse nie teruggekom het klas toe nie. Sy was bang ’n skelm het jou by die hek kom steel.”

Charl se aandag is weer by die knoop, maar Nadine sien ’n streep deur die stof op sy wang waar ’n traan pas afgegly het.

“Jy moet vir my en jou mamma en juffrou Tina belowe dat jy dit nooit weer sal doen nie. Sal jy belowe, Charl?”

Die kind knik ’n paar keer vinnig. Hy gee ’n snuif. “Ek belowe.”

“Wil jy nie gou hardloop en juffrou Tina om verskoning gaan vra nie? Sy het belowe dat sy by die klas vir jou sal wag en nie huis toe sal gaan voordat jy by haar was nie.”

Charl druk sy stoel agtertoe en kyk vinnig na Nadine toe hy by die deur uitstorm.

Rusty tel sy foon op en begin vinnig daarop tik. “Ekskuus, ek is nou by jou. Ek waarsku net gou vir Tina dat hy op pad is.” Hy tik nog ’n paar oomblikke en sit sy foon op die tafel neer voordat hy haar vas in die oë kyk. Weer ’n oomblik stilte wat voel soos ’n ewigheid. “Nadine, ek is nie iemand wat in die verlede rondtas nie, maar die feit dat jy meneer Kotzé verwag het, sê vir my dat dit nie jou eerste besoek aan dié kantoor is nie.”

Nadine sug en skuif reg. “Inderdaad, Sherlock. Maar dit het jy seker in Charl se lêer gelees.”

Met ’n skewe glimlag maak hy of hy iets in ’n lêer skryf. “Blootstelling aan sarkasme by die huis.” Hy sit die pen neer en vleg sy vingers op sy skoot ineen. “Nadine, ek lees nie maklik ’n kind se lêer nie. Noem my maar onortodoks, maar ek glo nie daarin om ander mense se menings oor ’n kind op my onderbewussyn af te dwing voordat ek darem eers my eie mening gevorm het nie. Ek sal hoogstens Charl se lêer gaan trek as ek ná ’n maand of twee sien hy verkies dit om steeds aandag te soek deur op sy bestaande gedragspatrone staat te maak.”

“Ek is jammer oor my sarkastiese opmerking.” Sy vee haar blonde kuif voor haar oë weg. “Ek is net al só moedeloos met hom gesukkel. Alles wat ek hier sê, is vertroulik, nè?”

“Vanselfsprekend.”

“Charl is nie ’n dom kind nie en ek weet nie waar kom sy streke vandaan nie. Ek is seker ook skuldig met die lang ure wat ek werk, maar dan kyk my ma na hom . . .”

“En jy werk as ’n . . .?”

“Verpleegster. Meestal op die lugambulanse. Andersins in die trauma afdeling.”

“Dit verklaar jou uitrusting.” Sy sien hoe hy onbeskaamd haar lyf met sy oë volg tot waar dit wegraak agter die lessenaar.

“Ek kom nou van die werk af. Ek het regtig nie tyd gehad om eers iets anders te gaan aantrek nie . . .”

“Ontspan. Ek slaan nie veel ag op klere nie.” Sy oë lag ondeund toe hy byvoeg: “Ek bedoel nie dat ek nie veel ag slaan op klere nie.” Hy lê vorentoe en stut met sy elmboë op die lessenaar. “Wat ek wou sê, is ek slaan nie veel ag op klerestyl of modes nie, maar ek dink jy verstaan wat ek bedoel.”

Nadine voel hoe die blos teen haar nek opstoot en haar wange bekruip. “As ek nie van beter geweet het nie, sou ek gesê het jy flirt met my.”

“Nee, dis nie wat ek doen nie, maar sê my . . .” ’n glimlag bly om sy mondhoeke speel, “sou dit gewerk het?”

Sy skuif haar weer reg in die stoel en sluk ’n droë sluk. “Waarskynlik nie.” ’n Witleuen skiet haar te binne en neem in haar mond vorm aan voordat sy dit kan sluit. “Ek is tans in ’n verhouding, meneer Rusty . . .”

“Net Rusty.” ’n Glimlag speel op sy lippe.

“Wat ek probeer sê, is . . .” Sy skuif in die stoel en haar oë soek buite die vensters na woorde.

“Ek luister?”

“Daar is iemand. En boonop is jy nie my tipe nie.”

“Is dié spesiale persoon ’n man of ’n vrou?” Die vraag skiet uitdagend uit Rusty se mond.

“Maak dit saak?” Nadine skuif tot op die punt van die stoel.

“In dié geval, ja.”

“Dis ’n man.” Die stelling hang in die lug terwyl Nadine haar gedagtes agtermekaar kry. Die verdomde sielkundige moet nou net nie met nóg vrae oor die denkbeeldige man vorendag kom nie, anders sal sy ’n geliefde in haar verbeelding moet optower. ’n Swanger stilte vul die kantoor en Nadine skuif terug in die stoel om gemakliker te sit.

“Ek is bly daar is iemand.” Rusty kyk haar ’n oomblik aan terwyl die glimlag van sy mond af wegsyfer. “En ek hoop dat dit ’n stabiele leefruimte vir Charl kan word. ’n Veilige hawe.”

“Wat bedoel jy?”

“Nadine, dit is nie my werk om te oordeel nie en ek kan net werk met die inligting tot my beskikking. Ek is ook nie ’n sielkundige nie, maar studeer in daardie rigting. Op dié oomblik is ek nog net ’n jeugwerker.” Hy staan uit sy stoel op en begin heen en weer agter sy lessenaar loop. “Charl se gedrag stem tipies ooreen met ’n kind waarvan die vaderfiguur tydens die vormingsjare afwesig is.”

“Wat insinueer jy?” Sy is dadelik op haar agterpote.

Hy gaan staan agter sy stoel en druk met sy elmboë daarop. “Charl mis ’n pa. Nie noodwendig sy pa nie. Soos ek verstaan, het hy hom nooit geken nie. Maar ’n pa.”

Nadine vlieg dankbaar in haar stoel om toe die deur oopgaan.

Charl kom reguit na sy ma gehardloop en hy gee haar ’n stywe druk. “Juffrou Tina sê ek kan in haar klas bly. Ek het gesê ek is jammer en sy het gesê sy vergewe my.”

“Mamma is baie bly.” Sy trek Charl vlugtig teen haar aan en hou hom dan op ’n armlengte van haar af voordat sy hom in die oë kyk. “Wil jy nie net so ’n oomblikkie buite wag terwyl ek en Rusty net gou klaar praat nie?”

“Toemaar, Charl, jy kan bly.” Rusty trek sy stoel uit en gaan lê gemaklik terug daarin met sy hande agter sy kop gevou. “Ek en jou ma is amper klaar.”

“Is ons?” Sy beduie vir Charl om te sit.

“Ja.” Die glimlag op Rusty se gesig strek byna van oor tot oor en Nadine weet dadelik dat hy ’n laaste steek gaan inkry omdat sy nie voor sy kamstige sjarme wou val nie. “Daar is net nog een ding.” Hy draai sy blik na die kind. “Charl, hou jy daarvan om in ’n tent te slaap?

Nadine moet vinnig keer dat Charl se stoel agteroor val toe hy opvlieg. “O ja! Ek hou baie daarvan.” Hy draai na sy ma en probeer sy arm uit haar greep loswoel. “Onthou Mamma daai keer wat ek saam met Wayne en sy pa by die dam gaan visvang het? Ons het toe in ’n tent geslaap. Mamma het belowe dat ons dit weer kan doen. Wanneer kan ons in ’n tent slaap, Mamma?”

“Charl, ek en jou ma het vir jou goeie nuus. Eintlik ’n verrassing.” Rusty haal sy hande agter sy kop uit en vou sy arms voor sy bors.

“Regtig, Mamma? Wat is dit?”

“Laat Rusty jou vertel.” Nadine se mond hang oop van verbasing en die onsekerheid oor Rusty se verrassing laat die woorde in haar mond opdroog.

“Charl, weet jy van die skool se jaarlikse gesinskamp aan die begin van Maart?”

“O ja!” Die damwal wat die woorde teruggehou het, breek opeens. “Dis waar Dawie verlede jaar geval het en sy arm gebreek het. Mamma het gesê ons kan nie gaan nie, want sy het nie ’n tent nie en al kan sy een leen, weet sy nie hoe om dit op te slaan nie en ek het nie ’n pappa wat dit kan opslaan nie en nadat Dawie geval het, het hy sulke blou gips gekry en ons almal het prentjies daarop geteken behalwe Frikkie wat ’n lelike woord geskryf het en toe . . .”

“Dankie, Charl.” Nadine vat hom aan die hand toe sy opstaan. “Ek dink Rusty kry die boodskap.”

“Sal jy graag vanjaar wil saamgaan op dié kamp?”

Nadine sien hoe Rusty se blik na hare gly terwyl hy met die kind praat. Sy weet instinktief dat enigiets wat die snuiter van ’n jeugwerker gaan kwytraak, nie goed kan wees vir haar nie. Sy rek haar oë en skud haar kop terwyl sy die woord “moenie” met haar lippe vorm.

“Jou mamma en haar vriend wil vanjaar saam met jou op dié kamp gaan.”

“Regtig?” Charl gooi sy kop om na sy ma toe terwyl hy sover as wat haar greep op hom dit toelaat, op en af spring. “Gaan ons regtig vanjaar saam met die skoolkamp?”

Nadine weet dat enigiets minder as ’n belofte die kind se hart gaan breek en sy swets in haar binneste. As die stof eers gaan lê het en sy haar uit dié dilemma kan loskry, gaan sy Rusty by die skoolhoof aangee. En by die beheerraad. En by die raad vir gesondheidsberoepe. En sy sal ’n brief in die koerant ook skryf. Sy probeer glimlag terwyl sy na haar kind kyk. “Ons sal sien of jy soet is tot dan.”

“Dankie, Mamma.” Hy gee sy ma ’n drukkie voordat hy terugstaan en haar in die oë kyk. “Wie is Mamma se vriend wat saamgaan?”