Skip to main content

Uittreksel | ’n Motorfiets vir twee

Een

Katja buk vooroor by die draadkampie voor die troeteldierwinkel en vryf die klein Jack Russell-hondjie se koppie. Haar blonde hare gly oor haar skouers en word deur geniepsige hondetandjies vasgegryp. Sy lag en trek haar hare terug.

Uit die hoek van haar oog sien sy ’n seuntjie laggend nader kom, die laaste tree skaats hy op sy denim se knieë tot stilstand. Sy glimlag af na hom.

“Dis ’n oulike hondjie, gaan Tannie hom koop?”

Sy skud haar kop en kyk af in die seuntjie langs haar se lewendige donkerbruin oë. “Ek is hopeloos te besig om so ’n aktiewe hondjie aan te hou. Maar ek wens ek kon hom saamvat. Hy is net te oulik.”

“Nou waar bly al dié honde dan, Tannie?” Sy sien die kommer in sy oë.

“Die eienaar van die winkel kyk na hulle tot ie­mand vir hulle ’n permanente huis kan gee.”

“Arme honde. Ek wens ek kan dié hondjie kry.”

“Miskien kan jy?”

Hy ruk laggend weg toe die hondjie opspring en hom aan sy vingers hap.

“Ek sal vir Pappa vra.” Sy sien hoe hy omkyk en volg sy oë. Die lang donkerkopman wat agter hulle staan, lyk glad nie gelukkig nie. Hy is verskriklik aantreklik ten spyte van die frons wat sy gesig ontsier. Sy kyk vinnig weg en hou aan om met die boepenshondjie te speel.

Die pa se stem klink streng. “Liam! Kom hier.” Die seuntjie spring op. Die man praat effens sagter met sy kind, maar sy hoor elke woord. “Ons het net vanoggend gepraat oor vreemdelinge.” Sy voel on­sigbaar en besef opnuut hoe haat sy die gevoel – dis in haar wese ingebrand.

Sy kyk onwillekeurig terug. Die seuntjie staar nou wantrouig na haar. Katja skuif verder weg. Toegegee, sy werk elke dag met misdadigers en as dit haar ou­like seuntjie was, sou sy dalk net so opgetree het. Ten minste gee die kind se pa vir hom om.

Sy vryf steeds die hondjie en wag dat hulle moet loop sodat sy ongesiens kan wegstap.

“Pappa, kan ek na die vissies in die winkel gaan kyk?”

“Maak net gou. Jy moet oor tien minute terug by Mamma wees. Ek wag sommer hier buite vir jou.”

Sy merk die twee blinkgepoleerde skoene wat langs haar kom staan. Vreemd dat hy nou sy kind toelaat om alleen in die winkel in te gaan. Sy voel aan dat hy na haar kyk en staan op, glimlag effens na hom. “Jou seuntjie is mal oor die hondjie.”

Sy gesig bly strak terwyl hy peinsend van haar na die hondjie kyk. Dit ontgaan haar nie dat sy blik tussenin vir ’n oomblik oor haar kaal ringvinger vee nie. Of is sy net oorsensitief daaroor?

Hy vryf met sy duim en wysvinger weerskante van sy kort donker baard. “Juffrou, werk jy vir die DBV?”

Sy glimlag en skud haar kop. “Nee.”

“Dan ken jy seker vir Renate, Liam se ma? Hulle bly darem al ’n hele ruk in Hermanus.” Hoekom lyk dit of hy iets probeer uitpluis?

“Nee, ek ken haar nie.”

“Dan verstaan ek nie hoe jy verwagtinge by my seun kan skep nie. Veral aangesien jy nie ons agter­grond ken nie. Ek weet nou al dat hy moeilik hier sal wegry sonder die hondjie.”

Katja se wenkbroue vlieg op. Soek hy openlik ie­mand om te blameer vir sy probleme?

“Meneer, as my vriendelikheid aanstoot gegee het, is ek jammer,” probeer sy die situasie ontlont.

“Dink dan volgende keer eers voor jy drome in ’n kind se kop sit van wie jy niks weet nie!”

Sy trek haar asem geskok in en spoeg vuur. “Luister, as jou dag nie lekker is nie, moenie dit met my probeer lekker maak nie.”

Sy storm weg terwyl die wind haar hare deur­mekaarklits.

Katja maak haar wit viertrek se deur hard agter haar toe terwyl sy stadig oor haar lippe blaas. Haar hande bewe liggies. Waar bly Bienkie tog? Liewe hemel!

Minute later gaan die agterdeur van haar voertuig oop en sien sy hoe haar suster teen die wind spook en inkopiesakke op die agterkussing laat reën.

Bienkie wip by die linkervoordeur in terwyl die wind die deur ruk en haar donker hare oor haar ge­sig waai. Sy stoot haar hare met haar sonbril weer terug en glimlag vir Katja. Een kyk in haar rigting laat haar glimlag egter kwyn.

“En nou? As jy soos ’n donderwolk lyk?”

“Sommer ’n simpel vent met sy klein seuntjie wat lus was vir baklei. En toe is ek gerieflik naby. ’n Regte suurknol. Maar laat ek eerder van hom ver­geet. Hy gaan nie my dag bederf nie. Buffel!”

Bienkie lag. “Hy het darem seker die nodige reaksie uit jou gekry?”

“Ek vermoed sy vel is so dik soos ’n renoster s’n.”

Bienkie waai met haar hand deur die lug. “Wit vlaggie, Adjudant. Van ’n buffel na ’n renoster. Die man het klaarblyklik iets in jou getrigger. Vertel my wat gebeur het.”

Sy herleef die voorval terwyl Bienkie skewekop na haar kyk.

“Klink my die dodelik aantreklike ou is geskei, het moontlik moeilikheid met sy eks en is oor­beskermend teenoor sy seun. Sy mentalvullisblik was propvol en toe is jy daar. Verder as gevolg van die probleme met sy eks is hy dalk effens versigtig vir vrouens. Amper ’n bietjie soos jy teenoor mans.”

Katja gaap haar aan. “En dit het jy nou uit die kort opsomming van gebeure afgelei?”

Bienkie glimlag terug en trek haar skouers op. “Wat kan ek sê? Noem my maar die hippie met ’n romantiese hart.”

Katja lag. “Was ek maar meer soos jy, my liewe Sussie. By jou kry almal tweede of selfs meer kanse.”

Bienkie sug. “Ek wens jou geluk toe saam met iemand wat jou liefhet. Jy is te eensaam.”

Katja glimlag. “Dankie, maar nee dankie.”

“O ja, amper vergeet ek. Waar is jou selfoon?”

“In my handsak, hoekom?”

“Pa probeer jou al heeloggend in die hande kry. Hy het ’n dringende e-pos vir jou aangestuur toe hy jou nie kon kry nie.”

Katja ry uit die parkeerarea. “Ek sal later daarna kyk. Kan nie dink wat so dringend kan wees nie.”


Nadat hulle die pakkies in die huis ingedra het, skop Katja haar skoene uit en gaan sit teen haar dubbelbed se kopstuk. Bienkie het reeds die inkopiesakke op die bed uitgeskud. Sy stroop haar klere skaamteloos van haar af en begin die nuwe kledingstukke een vir een aanpas.

Bienkie draai in die rondte terwyl die bont val­leromp wyd om haar bene uitklok. Die kort toppie beklemtoon haar dun sonbruin middeltjie. Sy lyk jonk en gelukkig. “Hoe lyk dit, Sus?”

“Dit is regtig mooi, blommekind, en pas perfek by jou kunstenaarsiel.”

“Is, nè. Dit maak my vreeslik happy.”

“Hoe voel jy oor jou laaste jaar op universiteit?”

Die eerste klompie klere beland op die vloer, sy reik uit na die volgende. “My laaste jaar van vry­heid; daarna moet ek ook iewers gaan slaaf vir ’n inkomste soos jy.” Sy trek haar gesig. “Ek gaan hier­die jaar ekstra baie geniet!”

Katja knik. “Maak die beste van elke oomblik. As jy eers werk, is jou jeug verby. En daarna is dit seker trou en kinders vir jou.”

“Wat van jou, Ousus? Jy het soveel potensiaal en liefde in jou. Jy kan iemand baie gelukkig maak as jy ’n kans sou waag om daardie persoon in jou lewe in te laat.”

Katja trek haar mond skeef. “Liewer nie weer nie. My plekkie op die rak raak nou erg gemaklik.” Sy swyg egter oor die hunkering na iemand spesiaal, ’n begeerte wat steeds op die agtergrond van haar gedagtes vasklou. Maar sy weet nie hoe om ’n ver­houding te laat werk nie, en daarom gee sy geen ruimte in haar lewe aan daardie hunkering nie.

“Wanneer gaan jy terug Kaap toe, Bienkie?”

“Maandagoggend. Ek sal vroeg genoeg moet opstaan. Die verkeer gaan seker druk wees Stellen­bosch toe.”

“Toemaar, ek sal jou betyds wakker maak. Ek werk Maandagoggend ook baie vroeg. Die nuwe eenheids­bevelvoerder begin dan by die honde-eenheid.”

“Is dit iemand wat julle ken?”

Sy skud haar kop. “Al wat ek weet, is dat hy van die Kaap is.”

“Sê nou maar hy is jonk, aantreklik en boonop ongetroud?”

Katja glimlag. “Hoogs onwaarskynlik. En hou op om vir my ’n man te soek. Dit werk nie.”

Bienkie trek haar mond op ’n plooi.

“Het jy nie gepraat van uitgaan nie?”

Bienkie lig haar selfoon vinnig. “Yikes, kyk waar staan die tyd al! Ek gryp net gou ’n hoodie. My pelle gaan nou hier wees!”

Sy prop die klere vinnig terug in die winkelsakke en draf na haar kamer.

Ná twee vinnige toetklanke buite kom Bienkie groet. “Ons klomp gaan Gansbaai toe. Moenie wak­ker bly nie. Ek vat my sleutel.”

“Geniet dit, wees asseblief net veilig.”

“Altyd. Love you.”

Toe die voordeur agter Bienkie toeklap, haal Katja haar selfoon uit haar handsak en stap sit­kamer toe. Sy gaan lê skuins oor die bank en soek na die e-pos wat van haar pa af kom. Hoekom sal hy vir haar ’n e-pos stuur? Hulle praat hoogstens verjaardae en Kersfees met mekaar oor die foon.

Sy trek haar mondhoek skeef toe sy dit opspoor en begin lees. Haar pa se woorde weerspieël die verhouding tussen hulle. Klinies. Koud. Dit sal ook nooit verander nie.

Katja, ek het die onderstaande e-pos ontvang. Ek stuur dit aan indien jy daarop wou reageer. Groete, Pa.

Sy rol af na die vorige boodskap. ’n E-pos van Maatskaplike Dienste?

Geagte professor Pienaar
Ek het ’n navraag van Katja se biologiese ma ontvang om met haar kontak te maak. Sal u dit asseblief met u aangenome dogter bespreek en indien sy sou belangstel, kan ek voorlopig as tussenganger tussen hulle optree totdat beide partye gereed voel om direk met mekaar te kommunikeer.
Indien sy nie kontak wil maak nie, kan u of sy my net daarvan in kennis stel, dan dra ek die boodskap oor.

Katja voel skoon lighoofdig. Sy smyt die foon op die bank en stap kombuis toe. Vir ’n oomblik staar sy na die inhoud van die oop yskas en haal dan ’n bottel wyn uit die deur en skink vir haar ’n glas vol. Hoekom nou? In haar twee en dertig jaar het sy gesweer sy sal nooit na haar biologiese familie soek nie. Hulle wou haar tog nie gehad het nie.
Haar kop klop terwyl sy uitstap na die swembadarea. Ingedagte sak sy af op een van die dekstoele. Vir ’n oomblik druk sy die koue glas teen haar warm wang voordat sy nog ’n groot sluk vat. Ou gevoelens borrel oor. Sy wil nie meer hierdeur maal nie. Sy is tot satwordens toe siek om haar verlede te herkou. Sal sy dit ooit afgeskud kry?

Katja leun terug teen die dekstoel terwyl haar gedagtes in die verlede ronddwaal. Donker wolke is besig om voor die son in te skuif. Haar selfoon lui in die sitkamer en sy stap vinnig terug.

“Denise, hallo.”

“Katja, pla ek?”

Haar stem klink hees in haar eie ore. “Nee, jy pla nie.”

“Oor Louise wat vanaand in jou plek wou sing . . . iets het voorgeval. Sy kan dit nie meer maak nie. Jy is nie dalk beskikbaar nie?”

“Seker . . . ek bedoel, ja wat, hoekom nie? Sien later.” Sy stuur ’n boodskap vir Bienkie dat sy later by die Oyster Box sing. Haar kop klop steeds. Sy gaan staan onder ’n warm stort en probeer alles wat vandag gebeur het van haar afwas. Om te sing is sedert agtjarige ouderdom haar ontvlugting. Dit help altyd om uiting te gee aan opgekropte emosies.

Katja staar na haar spieëlbeeld terwyl sy die 1920-geïnspireerde swart moulose rok oor haar kop laat gly. Haar gedagtes is net gedeeltelik by wat sy sien. Die soom se fraiings kom lê sag teen haar skraal bene terwyl sy die swart kopband met ’n swart veer om haar blonde hare vasknip, dan volg haar swart hoëhakskoene. ’n Onverwagte droë snik ruk sidderend deur haar.

Ma Hazel was haar enigste ma, die een wat haar gekies het, al is sy lankal nie meer daar nie. Sy probeer energie uit die gedagte aan haar ma put. Sy vee oor die rand van die fotoraam op die bedkassie. “Ma was altyd my anker in die onseker wêreld.”

Sy haal diep asem. Die gedagte dat die keuse hierdie keer hare is, laat haar effens beter voel. Minute later ry sy na die Oyster Box.

In die gedempte lig op die klein verhogie wag sy vir die orkes om te begin met die inleiding van haar sielslied. Sy tik met die punt van haar hoëhakskoen op die maat van die musiek en maak haar oë toe.

Op presies die regte oomblik lig sy die mikro­foon teen haar lippe. Haar siel bloei die woorde van “Creep” voor die vreemdelinge uit.

When you were here before
Couldn’t look you in the eye
You’re just like an angel
Your skin makes me cry
You float like a feather
In a beautiful world
I wish I was special
You’re so very special
But I’m a creeeeeeep
I’m a weirdo
What the hell am I doin’ here?
I don’t belong here . . .

Die gaste se applous ruk haar terug. Sy is verbaas oor die klammigheid op haar wange. But the show must go on.