Uittreksel | ’n Man met ’n plan

Een
Steffi klem haar selfoon so styf vas dat haar hand eintlik kramp. Toe nou, Dawid, antwoord, asseblief! probeer sy desperaat telepatie beoefen.
As daar net iemand anders was wat sy kon bel, maar sy kom nie deur na Henko nie, en haar pa is nie ’n opsie nie. Hy sal haar lewendig afslag as hy moet weet wat sy nou weer aangevang het.
Dawid is al een wat kan help.
Die selfoonverskaffer se onbetrokke blikstem begin praat en lig haar in dat die ontvanger van die oproep ongelukkig nie nou beskikbaar is nie. Sy swets saggies, druk die rooi knoppie ongeduldig en probeer weer. Antwoord, Dawid Deysel, antwoord!
Sy móét net hier wegkom voordat Tertius wakker word. Sy wil hom nie vanoggend in die oë kyk nie. Trouens, sy wil hom nooit weer in haar lewe in die oë kyk nie.
Uiteindelik! Dawid se stem, dik en diep en deur die slaap. “Steffi! Wat de duiwel . . .Wat gaan aan? Waar is jy? Hoekom bel jy?”
Skielik kan sy nie ’n woord uitkry nie. Haar keel kramp pynlik en sy sluk wanhopig. Sy kan nie nóú begin huil nie, verbrands.
“Stephanie, wat makeer? Wat is fout? Waar is jy?” Dawid klink nou helder wakker.
Sy sluk weer pynlik. “Dawid, ek is in Johannesburg. Ek wil huis toe gaan, maar ek sit sonder vervoer. Ek het gehoop jy kan my dalk kom haal.”
Heng, dis vernederend. Sy voel soos ’n bedelaar. En soos ’n opperste gek.
Daar is ’n oomblik van doodse stilte voordat hy weer praat. “Stuur vir my jou adres se pin. Ek ry dadelik.”
Ag, dankie tog. Dis nou een ding van Dawid: Hy sit alewig hoog op sy troontjie met sy heiliger-as-jy-houding, en hy skroom nooit om haar te kritiseer en bepreek en veroordeel nie, maar hy het haar nog nooit in die steek gelaat as sy ’n krisis het nie. En krisisse het sy al méér as genoeg gehad, dink sy mistroostig.
Ai toggie, hy gaan haar weer soos ’n wurm laat voel. Hoe op aarde gaan sy verduidelik hoekom sy donkervroeg op ’n Sondagoggend in Johannesburg sit en desperaat vervoer huis toe soek?
Sy kyk rond in die kamer waar sy die langste nag van haar lewe deurgebring het. Sy het reeds die bed opgemaak en haar goedjies in haar handsak gebêre. Sy haal ’n notaboekie en ’n pen uit en skryf twee woorde in groot letters: Dankie, Yolande. Sy plaas die briefie op die kussing en maak die kamerdeur saggies oop.
Vanuit die slaapkamer langsaan kom ’n luide gesnork. Arme Yolande, hoe kry sy ooit geslaap met so ’n onaardse lawaai?
Sy sluip op haar tone uit die woonstel en trek die voordeur toe, sodat die Yale-slot toeklik.
Dankie tog, die straat voor die woonstelblok is stil en verlate. Almal slaap nog. Dis nog nie eens behoorlik lig nie. Sy loer na haar horlosie. Dis nou eers kwart oor vyf. Geen wonder Dawid het so lank geneem om sy foon te beantwoord nie.
Hy moet nog eers aantrek, en Potch is omtrent honderd kilo’s ver. Hy sal seker eers oor ’n meer as ’n uur hier wees.
Sy gaan sit plat op die grond met haar rug teen die traliehek van die woonstelblok sodat sy die straat kan dophou, en stuur ’n skietgebedjie op dat die misdadigers van die omgewing nie vroegopstaners is nie.
Haar kop voel suf van min slaap, en haar oë voel branderig en dik gehuil. Sy snuif weer. Verontwaardiging oor die stel wat sy afgetrap het, spoel opnuut deur haar. Om te dink sy het gedink Tertius is oulik! Sy het hom vertrou. Sy het selfs gedink sy is vir die eerste keer in haar lewe verlief! Dis dié dat sy soos ’n wafferse gek ingewillig het om saam met hom die partytjie in Johannesburg by te woon.
Hoe naïef kan ’n mens wees?
Tertius is anders as haar gewone vriende. Hy is ouer, gesofistikeerd, en baie, baie sjarmant. “Kom saam met my partytjie toe,” het hy gesê en sy bruin oë se warm glinstering het haar hart omtrent bollemakiesie laat slaan. “Ná die partytjie kan jy by my oorslaap. Daar is oorgenoeg plek.”
Toe sy wantrouig na hom kyk, het hy gelag.
“Moenie so agterdogtig lyk nie, blouoog. Jy kan my vertrou. My woonstel het twee ruim slaapkamers.”
Hmf! Oorgenoeg plek voorwaar. Net jammer hy het nagelaat om haar te vertel van die sexy swartkopmeisie wat die woonstel met hom deel. En as die kennismaking met skraal, swaar gegrimeerde Yolande maar die enigste verrassing van die aand was, sou sy miskien nie nou so woedend gevoel het nie. Woedend, verneder en besoedel.
Die partytjie was ’n belewenis. Die vet weet, sy is ’n ervare partytjieganger. Sy is gewoond daaraan dat haar pelle hulle dikwels aan drank en selfs aan dwelms te buite gaan. Sy weet ook dat party mans vuilbekkig en vatterig raak wanneer hulle ’n paar glasies inhet. Maar gisteraand was anders. Die gaste was ouer, welvarender en meer gesofistikeerd as Henko en die pelle saam met wie sy gewoonlik uithang. Hulle grappies was verfynder, maar nie minder vuil nie; die vatterigheid was subtieler, die vulgariteit bedek onder ’n lagie sofistikasie waaraan sy nie gewoond is nie.
En Tertius, die oulike ou met sy bruin oë en fluweelstem wat ’n kursus op haar tuisdorp bygewoon het en binne ’n week dit byna reggekry het om haar voete onder haar uit te slaan – Tertius was ook anders. Hy het sy arm besitlik om haar gehou en gelag vir haar verwondering oor die dinge om haar, maar wanneer sy met iemand anders gedans het, was sy oë donker en broeiend op haar gerig.
Hy het gesorg dat haar glas vol bly.
Haar kop was taamlik wollerig toe hulle woonstel toe gekom het. Tertius het haar ewe bedagsaam verwelkom en voorgestel dat hy haar gaan wys waar haar kamer is. Die oomblik toe hulle in die kamer kom, het hy haar in sy arms geneem en begin liefkoos.
Sy mond en sy hande was orals. Steffi se wange brand as sy dink hoe gou hy dit reggekry het om haar nuwe swart minirok in ’n bondel op die slaapkamervloer te laat beland. Grietjie tog, sy is gewoonlik so bedrewe om belustige mans te ontwyk en op ’n afstand te hou! Dit moes die drank gewees het wat haar inhibisies en haar reaksies so afgestomp het.
Maar toe gaan die slaapkamerdeur meteens oop en ’n skraal swartoogmeisie en ’n vreemde man staan daar. Terwyl sy vervaard rondskarrel en probeer toemaak wat toe hoort, begin hulle koeltjies hulle klere afstroop, en die wildvreemde man begin háár bevoel en bevat terwyl Tertius na die swartoog draai.
Gouer het niemand nog ooit tevore ’n paar harde lewenslesse geleer nie.
Voor haar oë het haar droomheld in ’n gefrustreerde, sarkastiese monster verander. Vir die eerste keer in haar negentien jaar was sy in ’n situasie wat sy glad nie kon hanteer nie. Haar pa en Dawid se preke het skielik sin gemaak, en sy was regtig bang.
Vreemd genoeg, dit was die vreemde meisie – Yolande – wat tot haar redding gekom het. Sy het vir Tertius gesê om haar uit te los en vir Steffi aangesê om in háár slaapkamer te gaan slaap. Sy het in die deur bly staan totdat Steffi die slaapkamerdeur met bewende hande toegedruk het, toe het sy teruggegaan na die kamer waar die twee mans vir haar gewag het.
Steffi sug weer sidderend. Dit was ’n noue ontkoming.
Sy was stikdomonnosel. ’n Gek. ’n Opperste dwaas.
“Jy was ’n dwaas!”
Dawid se skraal gesig is stroef. Hy klem die stuurwiel so styf vas dat sy kneukels wit deurskyn.
Steffi byt op haar lip. Dawid verloor nooit sy humeur nie. Nooit nie. Sy grys oë raak gewoonlik net ysig en afkeurend en sy tong raak vlymskerp terwyl hy haar morele waardes en haar selfvertroue aan flarde skeur. Maar nou is hy sonder twyfel die duiwel in.
Sy kan hom seker nie kwalik neem nie. Om so vroeg op ’n Sondagoggend uit die bed gejaag te word, en dit oor so ’n simpel affêre, is genoeg om enigiemand kwaad te maak. Daarby is dit die tweede keer in minder as ’n maand dat hy haar uit ’n yslike moles moes red. Geen wonder hy is sy gewone selfbeheersing kwyt nie.
“Ek weet,” sug sy bedremmeld.
“Verdomp, waar was jou verstand? Weet jy nog absoluut niks van mans af nie? Het niemand jou ooit die feite van die lewe vertel nie?” tier hy voort. “Goeie hemel, Stephanie, wanneer gaan jy grootword en ophou om jou soos ’n onverantwoordelike, stout kind te gedra? Skaars drie weke gelede is jy saam met daardie klomp dwelmkoppe vir dwelmmisbruik gearresteer en moes ek jou in die middel van die nag uit die polisieselle gaan haal, en nou al weer dié moles.”
“Ek het nie dwelms gebruik nie, Dawid.”
Hy sug ergerlik. “Ek weet, Stephanie, maar as mens in die modder wil rondrol, moet jy nie verwag om skoon te bly nie.”
Steffi antwoord nie. Normaalweg sou sy haarself verdedig, maar hy hét darem dadelik gekom toe sy gebel het. Boonop moes hy alle spoedrekords oortref het, want skaars ’n halfuur nadat sy gebel het, het hy voor die woonstelblok stilgehou.
Buitendien, sy wás kliponnosel.
Dawid draai sy kop en gluur na haar voordat hy weer sy aandag by die pad bepaal.
Hulle lê die res van die rit in doodse stilte af.
“Gaan jy vir my pa sê?” vra sy in ’n klein stemmetjie toe hulle voor haar ouerhuis stilhou.
Dawid se vingers trommel op die stuurwiel. “Wil jy hê ek moet stilbly?”
“Asseblief.”
Sy frons verdiep. “Goed dan. Maar hemel, Stephanie, as so iets ooit weer gebeur . . . Ek behoort jou oor my skoot te trek en jou ’n dekselse pak slae te gee.”
Sy wil terugpraat, maar een blik na sy gesig snoer haar mond. Hy is dalk net kwaad genoeg om die daad by die woord te voeg.
“Dankie dat jy my kom haal het,” sê sy formeel, soos ’n goedgemanierde kind.
Dawid antwoord nie. Sy waag nog ’n blik na sy grimmige gesig, toe maak sy die motordeur oop en maak haar haastig uit die voete.
As sy gedink het sy gaan skotvry daarvan afkom, was sy verkeerd. Toe sy verby die sitkamer sluip, keer haar pa se stem haar voor. “Stephanie.”
Sy steek vas. Haar hart sink soos ’n klip. As haar pa haar die dag Stephanie noem, is daar moeilikheid.
Sy gaan met loodvoete die vertrek binne. “Pa is vroeg op,” probeer sy gemaak vrolik klink.
Haar pa se gesig is streng, sonder ’n teken van ’n glimlag. “Waar kom jy nou vandaan?”
Steffi sug innerlik. Dit help nie om te probeer lieg nie. “Ek was by ’n partytjie in Johannesburg.”
Haar pa staan stadig uit sy leunstoel op. Hy troon bokant haar uit: ’n lang, skraal man met geboë skouers, grys hare en rye plooie op ’n gesig wat verweer is deur baie ure in die son.
“Watter partytjie hou tot dié tyd van die oggend aan? En hoekom moes Dawid jou gaan haal?”
Sy staan verstorwe. Sy moes noodgedwonge vir Dawid sê hoe stupid sy was, maar dis ’n ander ding om die hele vernederende storie voor haar pa oop te vlek.
“Genugtig, Stephanie, jy is nie meer ’n kind nie, maar jy hou aan om soos ’n bedorwe kleutertjie op te tree. Het ek jou nie ná die dwelmepisode belet om uit te gaan nie?”
“Pa, ek is negentien jaar oud. Pa kan my nie meer hok soos ’n skoolkind nie. Pa het nie meer ’n sê oor my nie.”
“Ek gee nie om of jy negentien of negentig is nie, Stephanie. Solank jy in my huis bly, geld my reëls.”
“Dan gaan soek ek ander blyplek,” sê sy opstandig. “Ek kan by my vriende gaan bly. Henko-hulle het plek in hulle kommune en hulle het lánkal gevra ek moet by hulle intrek.”
Haar pa se mondhoeke buig smalend na onder. “Waarvan gaan jy nogal leef? Dink jy daardie niksnuts gaan jou onderhou? Moenie dink jy gaan nog jou toelaag kry as jy nie meer onder my dak bly nie.”
“Ek kan altyd trou,” sê sy vermakerig. “Ek weet wat die bepalings van Ma se trustfonds is – ek kry my erfgeld wanneer ek getroud is. Ek is seker Henko sal bereid wees om met my te trou as ek hom vra.”
Haar pa word wit en toe rooi. Sy vuiste gaan oop en toe. Dit lyk asof hy ’n beroerteaanval gaan kry.
“As jy wil trou, trou dan liewers met my.” Dawid se koel stem sny soos ’n sweepslag deur die vertrek.
Sy swaai om. Dawid moes die hele gesprek aangehoor het. Hy leun ongeërg teen die deurkosyn. Sy hande is in sy broeksakke en die uitdrukking in sy grys oë is onpeilbaar. Van sy woede is daar geen teken meer nie. Hy is weer sy eie gelykmatige, onversteurbare self.
Haar pa kom eerste tot verhaal. “Moenie laf wees nie, Dawid. Ek is jammer om dit te moet erken, maar my dogter is ’n selfsugtige, onvolwasse egoïs. Ek kan nie toelaat dat jy jou lewe op haar weggooi nie. Buitendien, volgens die bepalings van die trustfonds . . .”
“In elk geval, nee dankie, Dawid,” val sy haar pa ongeskik in die rede. “Ek wil nie met jóú trou nie. Ek kan my nie aan ’n verveliger, meer irriterende, meer frustrerende lewe voorstel as om elke dag teen jóú gesig te moet vaskyk nie.”
“Nie eens as dit jou sal help om jou erfgeld te kry nie?” treiter hy.
“Ek kan my geld kry as ek met Henko trou.”
“As jy is bereid om jou lewe weg te gooi op ’n leeglêer en ’n nikswerd soos Henko Smith het jy nog minder verstand as wat ek gedink het, Snip,” kap hy terug. “Nog voordat die ink op die huweliksertifikaat droog is, sal hy begin om jou geld uit te mors – karre, drank, dwelms, partytjies, meisies. Voor jy jou mooi blou ogies kan uitvee, sal al jou geld op wees. Hy sal jou soos ’n warm patat los en aanbeweeg na die volgende mooi, goedgelowige meisietjie wat hom kan onderhou.”
“Buitendien, volgens die bepalings van die trustfonds moet ek die man met wie jy trou, goedkeur,” kry haar pa weer ’n woord in. Hy klink moeg. “Anders moet jy in elk geval wag tot jy dertig is voordat jy jou geld kry. Jou ma het haar foute gehad, maar minstens het sy geweet wat sy doen toe sy daardie trustfonds geskep het.” Hy swaai om en stap met hangskouers deur toe, en sy en Dawid bly alleen in die vertrek agter.
“Dis onregverdig!” bars sy uit. Van dié bepaling het sy nie geweet nie.
Dawid glimlag sardonies. “Word groot, Stephanie. Die lewe is onregverdig. En hou op om jou pa so te treiter. Hy is nie gesond nie. Tydens sy laaste doktersondersoek het die dokter hartmedikasie vir hom voorgeskryf en gewaarsku dat hy hom nie moet ontstel nie.”
Sy frons. Hartmoeilikheid? Hoekom het niemand haar gesê nie? Hoekom weet Dawid, maar nie sy nie? Maar dis tipies. Vandat Dawid by hulle kom bly het toe sy tien was en hy sestien, behandel almal háár altyd soos ’n lastige kind, terwyl Dawid die uitverkorene is: die skrander, pligsgetroue, verantwoordelike witbroodjie wat nooit ’n voet verkeerd sit nie.
“Hoe moes ek dit geweet het? Hoekom het niemand my gesê nie?”
“Jou pa wou jou nie omkrap nie.”
“Ek wens julle wil ophou om my soos ’n kind te behandel!”
“Ons sal – sodra jy ophou om jou soos ’n kind te gedra.”
“Dis so onregverdig! Die enigste man wat my pa ooit sal goedkeur, is jy. Die son skyn mos uit jou dinges uit.”
Dawid gooi sy kop agtertoe en lag. “Dan het jy nie ’n keuse nie, Snip. Jy sal maar met my móét trou as jy jou geld wil hê.”
“Ja, dit sal natuurlik sy volle goedkeuring wegdra. Jy is mos só verstandig en betroubaar; ’n regte staatmaker. Jy sal my seker in toom hou en sorg dat my geld goed belê word en ek dit nie uitmors nie.”
Die grys oë lag haar uit. “Natuurlik, dis tog vanselfsprekend – iémand moet toesig oor jou hou totdat jy jou eendag soos ’n grootmens begin gedra. Dink daaroor na en besluit maar self hoe belangrik dit vir jou is om jou hebsugtige handjies op jou erfgeld te kan lê.”
Haar gedagtes woel te veel om haar aan die belediging te steur. Haar stem keer hom toe hy by die deur kom. “Dawid, jy is nie ernstig nie, is jy?”
“Waaroor, Stephanie?”
“Sal jy regtig met my trou om my te help om my erfgeld te kry?”
Die lagliggies is weg. Sy blik is ondeurgrondelik.
“Ek sal dit oorweeg.”
“Hoekom? Ek en jy kan mekaar nie verdra nie. Ons baklei aanmekaar.”
“Ek sou dit suiwer ter wille van jou pa doen, Stephanie. Dit sal hom breek as jy jou lewe weggooi deur halsoorkop met ’n skorriemorrie te trou. Jy weet hoe baie ek aan hom verskuldig is. As ek hom op dié manier kan terugbetaal, doen ek dit met graagte.”
Haar verstand werk teen die hoogste versnelling. Mens hoef nie vir altyd getroud te bly nie. Sodra sy haar erfgeld het, kan hulle weer skei. Of selfs die huwelik nietig laat verklaar, want as Dawid dink hy gaan soveel as ’n vinger op haar lê, maak hy die fout van sy lewe.
“Ons gaan nie soos man en vrou leef nie. Ek bedoel . . .”
Die grys oë glim. “Ek verstaan wat jy bedoel. Toemaar, ontspan, Snip. Dit sal net ’n huwelik in naam wees. Ek het nie die minste behoefte om aan jou te raak nie. Ek verkies ’n vrou wat ’n bietjie meer styl aan die dag lê as om haarself deur elke Jan Rap, Henko en Tertius te laat gebruik.”
Sy word wit. Is dít wat hy dink? Dat sy by elke Jan Rap en sy maat slaap? “Ek laat my deur niemand gebruik nie. Tertius het nie . . .”
Sy bly stotterend stil. Sy was in Tertius se arms met net twee stukkies onderklere aan haar bas. Wie weet wat sou gebeur het as Yolande en die ander mansmens nie ingestap het nie?
Dawid se mondhoeke buig sinies na onder. “O ja? Ook maar net omdat hy die ander paartjie by sy katelkaskenades wou betrek, as ek jou reg verstaan het. Wat van al die ander mans in jou lewe? Henko en sy spul trawante in die kommune?”
Vaderland, maar hy dink min van haar! As hy maar kon weet hoe verafsku sy mans se vatterigheid en hulle beheptheid met seks; hoe gekonfyt sy daarin is om hulle op ’n afstand te hou; hoeveel moontlike verhoudings al oor haar koudheid skipbreuk gely het! Selfs Henko het ná ’n paar mislukte pogings om haar bed toe te sleep, moed opgegee en aanvaar dat hulle nooit meer as bloot pelle gaan wees nie. Haar bynaam onder Henko en sy orkeslede is nie verniet Koelkat nie.
Tertius was die één uitsondering op die reël. Sy het regtig gedink sy is verlief op hom en hy gee vir haar om, maar selfs in sy arms het sy iets van die ou paniek wat in haar opstoot wanneer ’n man te naby aan haar kom, ervaar.
“Wat ek en Henko en sy trawante aanvang, het niks met jou uit te waai nie. Solank jy maar net jou hande tuis hou. Ek verkies ’n man wat my respekteer en my soos ’n vrou laat voel, nie ’n beterweterige, veroordelende snob soos jy nie,” snou sy terug.
Dawid lag, daardie hoonlag wat haar altyd teen die mure wil uitdryf van frustrasie, en sy moet haar bedwing of sy bespring hom en gaan hom te lyf. “As jy jou erfgeld wil hê, sal jy maar hierdie beterweterige snob se ring aan jou vinger moet verduur, Snip.”
Sy ignoreer die gehate kinderbynaam en byt op haar lip. Dis ’n belaglike idee. Maar as dit ál manier is waarop sy haar erfgeld kan kry . . . Dink net, sy kan haar eie baas wees. Haar eie besluite neem. Haar eie blyplek kry. Onafhanklik wees.
“Een voorwaarde is dat ék besluite neem oor my geld,” sê sy stadig. “Dit bly in my naam, en ék het die finale seggenskap oor hoeveel ek wil spandeer, sonder inmenging of kritiek van jou kant af.”
Dawid se blik word skerp. “Jy hoef nie bang te wees dat ek agter jou geld aan is nie, Stephanie. Ék het nie ná matriek op my bas gesit of rondgejol nie. Ek het goeie kwalifikasies en ’n goeie werk. Ek kan vir ’n vrou en ’n hele tros kindertjies sorg as dit nodig is.”
Sy weet hy oordryf nie. Met sy briljante verstand en sy uitstekende eksamenuitslae het ’n plaaslike ouditeursfirma hom opgeraap pas nadat hy gekwalifiseer het. Hy was een van die jongste rekenmeesters wat nog ooit aangestel is, en hy sal waarskynlik ’n vennoot in die firma wees vóór sy dertigste verjaarsdag. Hy skimp nou weer oor háár werklose, kwalifikasielose toestand.
Sy laat haar egter nie uitlok nie en konsentreer op die laaste deel van sy sin. ’n Tros kindertjies? Dream on, Dawid Deysel.
“Ek het self ’n paar voorwaardes,” maak sy diep stem inbreuk op haar gedagtes. “Ek wil nie met ’n rebelse, onvolwasse tiener getroud wees nie, nie eens net in naam nie. Jy begin om jou soos ’n grootmens te gedra. Jy breek heeltemal met jou spul losbolvriende, en jy skryf vir ’n graad-of diplomakursus in sodat jy oor ’n paar jaar ’n kwalifikasie agter jou naam kan skryf, anders kan jy maar vergeet daarvan om jou erfgeld te kry.”
Dis maklik genoeg om ja te sê. Dis tog net vir ’n rukkie. As sy eers beheer oor haar geld het, kan hy en sy voorwaardes in die dam gaan spring.
“Dis reg so,” antwoord sy inskiklik.
Te inskiklik. Sy oë vernou. “Ek wil jou erewoord hê dat jy vir ’n graad-of diplomakursus sal inskryf én die kwalifikasie sal voltooi, Stephanie.”
Sy pers haar lippe gefrustreerd opmekaar. Dawid ken haar te goed, die derduiwel. Hy weet haar erewoord is iets wat sy nie sal verbreek nie.
“Goed, jy het my erewoord,” bevestig sy nors.
“Nog iets: Ná die troue bly ons steeds hier in jou pa se huis aan, jy in jou kamer, ek in myne.”
“Oukei.” Sy weet sy werk wil hom binnekort vir minstens ’n jaar oorsee stuur, en as die kat weg is . . .
“Selfs wanneer ek oorsee is, bly jy steeds hier, in jou pa se huis, minstens totdat jy jou studie voltooi het.”
Dit sal die dag wees, dink sy rebels, maar haar stem is stroopsoet toe sy instem. “Goed.”
“Gee my jou erewoord, Stephanie,” kom dit onverbiddelik.
Sy sug ongeduldig. “Goed dan tog, ek gee jou my woord – maar dan moet jy en my pa ophou om my soos ’n skooldogtertjie te behandel.”
“Ons sal, wanneer jy ophou om soos een op te tree. Besluit wat jy wil studeer. Sodra jy vir ’n kursus ingeskryf het, kan jy begin reëlings tref vir ons troue. Wil jy ’n groot troue hê?”
“Nee, asseblief nie!” keer sy. Hoe minder mense weet, hoe minder verduidelikings sal later, wanneer die huwelik ontbind word, nodig wees.
“Net nog een ding, Stephanie.” Dawid beweeg nader, tot reg voor haar, en skielik is die skraal seun wat destyds sy intrek hier in hulle huis geneem het, net ’n vae herinnering. Hy staan te naby . . . hy is so groot, so oorweldigend, so manlik . . . nie uitermate gespierd nie, maar sterk en lenig. Sy skouers is breed en hy is ’n kop langer as sy, en met sy donker oggendbaard en sy deurdringende grys oë voel dit meteens asof sy nie asem kry nie.
Haar oë sak na sy mond. Haar vriendinne wou altyd swymel oor sy mond. Dis eintlik regtig ’n ongelooflike mond: sensueel, wyd. Soms beweeglik. Soms, soos nou, reguit en hard.
Haar hart klop wild en vinnig en sy gee ’n treetjie terug.
Sy blik verskerp.
Hy het mooi oë: groot en grys, met digte swart wimpers. ’n Donker randjie omsoom die irisse. Wanneer hy lag of skerts, skitter hulle liggrys, maar wanneer hy ernstig is of kwaad word, raak hulle ’n diep donkergrys, byna swart.
Hulle is nou amper pikswart.
“Ek verwag lojaliteit van my vrou, Stephanie, selfs wanneer ek oorsee is, en selfs al is dit net ’n huwelik in naam. Verhoudings met ander mans is buite die kwessie. Dit is absoluut ononderhandelbaar. As jy lus kry om uit te gaan en te gaan jol, gaan jy saam met vriendinne, of jy wag tot ek beskikbaar is en gaan saam met my. Is dit duidelik?”
Sy skeur haar oë weg van sy mond en lig haar ken. “Wat van jou en die spul vroumense wat altyd jou selfoon warm bel en alewig soos bye om ’n pot heuning om jou ronddraai? Geld dieselfde reël vir jou?”
“Ja.”
“Dan pas dit my.”
Hy tik met ’n voorvinger teen haar neus. “Goed. Dan is ek en jy verloof, Snip.”
“My naam is nie Snip nie.”
Die streng gesig versag en ’n effense glimlag lig sy mondhoeke en laat hom skielik jare jonger lyk. “What is in a name?” haal hy Shakespeare aan. “Stephanie, Steffi, Snip, Vroulief – vir my is dit om’t ewe. Nog iets, was asseblief hierdie pers gemors uit jou hare vóór ons troue. Dit pas nie by ’n grootmens nie.” Lang vingers vroetel haar hare deurmekaar en sy ruk haar kop vererg terug. Hy wéét sy verpes dit as hy haar hare deurmekaarkrap.
Sy voel snaaks toe sy kamer toe gaan. Haar hart fladder. Sy voel lighoofdig en uitasem, asof sy ’n ver ent gehardloop het. Hoe belaglik dat iemand wat sy al soveel jare ken haar so kan ontsenu!
Nadat sy gestort en aangetrek het, gaan sit sy voor haar rekenaar om te kyk watter kursusse die plaaslike universiteit aanbied.
Haar pa sal bly wees oor die verwikkelinge. Veral as sy begin studeer. Doktor Leon Steyn is ’n gebore akademikus, met ritse grade en kwalifikasies in argeologie en geologie en geochemie en geowetenskap en die joos weet watter geo’s nog agter sy naam. Toe sy ná matriek volstrek weier om te gaan studeer, het hy gekerm en gepreek en geraas en baklei, maar sy het voet by stuk gehou. Watter nut het kwalifikasies tog deesdae in die rietskraal arbeidsmark? Dit was veel meer pret om te flirt en te flankeer, te paartie, te dans, te drink en te jol.
Sy sal dit nooit hardop erken nie, maar die jollery is besig om afgryslik saai te raak. En ná laas nag se fiasko voel dit vir haar asof sy nooit in haar lewe weer ’n partytjie wil bywoon nie.
Dit kan dalk interessant wees om iets anders, iets nuttigs en sinvol, te doen.
Wie weet, as sy eendag ’n akademiese kwalifikasie agter haar naam kan skryf, sal haar pa en Dawid haar dalk met meer respek behandel.