Skip to main content

Uittreksel | n Liedjie vir Anine

Een

Nog ’n fees, nog ’n tent vol mans wat te veel gedrink het en vrouens wat hom uitlokkend en leepoog aankyk. Zander sluk die frustrasie terug terwyl hy die laaste note van die liedjie klaarmaak.

Daar was ’n tyd toe hy nie kon wag om op die verhoog te klim nie.

Hy wil sing, hy wil musiek maak wat mense raak, maar iewers oor die afgelope ruk het dit ’n werk geraak, iets wat sy rekenings betaal. Die louter vreugde wat musiek nog altyd vir hom gebring het, is weg.

Reg voor hom is daar weer ’n stampery en stoeiery tussen die mense, maar hy kyk af na sy kitaar en probeer dit ignoreer. Tydens sy eerste liedjie het hy al die bottelblondine raakgesien. Die een wat die meeste ander mense eenkant toe gewerk het met haar elmboog. Sy het baie min klere aan en dit maak nie saak in watter rigting hy kyk nie, sy is daar.

Nou het iemand heel waarskynlik voor haar probeer indruk en sy veg vir haar plek. Daar is nog drie liedjies op sy program, maar hy beduie vir sy klankman hy maak klaar en die eerste note van die finale een vul die tent. Die blondie begin die bandjies van haar toppie aftrek, ’n dronk middeljarige man skree ’n belediging van die kant af en Zander maak sy oë toe en sing.

Hy sny al die ander geraas uit. Hy wil sing, hy wil die klanke in sy hart met ander deel. Maar hy is moeg om van fees na fees te ry, om sy liedjies te sing vir ’n gehoor waarvan die helfte nie eens nugter is nie en die ander helfte nie minder kan omgee wie op die verhoog staan nie. Dis nie wat hy wil doen nie. Hy moes lankal ’n nuwe album klaargemaak het, hy weet dit, maar die musiek wat vandat hy kan onthou, in sy hart, in sy siel, in sy bloed, rondom hom was, is net weg.

As kind het hy gedink almal hoor wat hy hoor, almal weet van die musiek in die lug, almal hoor dieselfde note wat hy heeltyd hoor. Hy het eers op skool agtergekom hy is al een wat dit hoor. Dis ’n unieke gawe, het sy ma hom vertel.

Maar ’n geruime tyd al hoor hy niks nie. Die musiek, die note dis weg. Presies wanneer dit gebeur het, weet hy nie, maar die tye wat hy nie kon wag om musiek uit lirieke en note maak nie, blyk verby te wees. Nou al vir maande.

Wanneer ’n noot af en toe wel diep in die nag opklink, is dit ’n hartseer mineurklank. En hy weet nie wat om daarmee te maak nie. Hy soek na note, na woorde om uitrukking te gee aan wat in sy binneste aangaan, maar sy vingers is vir die eerste keer dom op die kitaar en hy het niks om te sê nie. Iets moet gebeur, dis tyd. Hy raak ongeduldig.

Hoekom antwoord die Here hom nie? Waarvoor wag Hy? Wat is dit wat moet gebeur voordat hy weer musiek terugkry? Uiteindelik het hy klaar gesing en met ’n wuif van sy hand stap hy vinnig van die verhoog af. Agter hom raas die mense in elk geval so, hy dink nie eens hulle kom agter hy is klaar nie. Charles, sy agent, wag hom in.

“Jy het gouer klaargemaak as die uur waarvoor jy betaal is,” brom Charles.

“Ek weet. Betaal hulle terug. Ek gee nie om nie, maar vir daai dronk spul sien ek nie verder kans nie.”

“Daar is ’n paartie by . . .”

“Ek gaan terug hotel toe,” val Zander hom in die rede.

“Wat van die CD-verkope? Daar is klaar ’n ry mense wat op jou wag om foto’s te laat neem.” Zander sug. Of hy dit nou wil doen of nie, hy sal maar moet gaan staan en smile vir selfoonfoto’s en die omslae van CD’s teken totdat sy hand kramp. Hy is baie dankbaar oor wat hy bereik het en hy besef baie goed as dit nie vir sy ondersteuners was nie, sou dit nooit gebeur het nie. Hulle verdien ’n stukkie van sy tyd.


Toe hy twee uur later by die hotel aankom, is ’n lang stort en sy bed al waarna hy uitsien. Dit was ’n rowwe week en die een wat voorlê, lyk nie veel beter nie.

Volgende naweek het hy gelukkig geen besprekings nie en hy kan nie wag om terug te wees by sy eie huis nie. Toe sy broer ’n jaar gelede getroud is, wou hy nie sy nuwe bruid na die huis toe neem waar sy eerste vrou gewoon het en waar sy dood is nie. Stephen het ’n nuwe huis gekoop en Zander het sy huis by hom gekoop. Hy het tot op daardie stadium in ’n woonstel gebly en nou het hy ’n huis, ’n tuin, ’n plek wat hy sy eie kan noem.

Hy is mal oor sy huis al is hy min daar. Die plek is heeltemal te groot vir hom, dis ’n huis vir ’n gesin, ’n hond . . . Goeiste, waar loop sy gedagtes vanaand? Trou en kinders kry, is iets wat seker iewers vorentoe sal gebeur, hy is beslis nie haastig nie.

Buitendien, van wat hy in die bedryf sien, is daar min vrouens wat die uitdaging kan hanteer om met ’n bekende sanger getroud te wees. En, het hy oor die afgelope paar jaar agtergekom, die meeste vroumense stel ook net belang om aan sy sy te wees sodat hulle mediablootstelling kan kry.

Niemand stel hoegenaamd in hom as persoon belang nie. Hy is seker baie sinies, maar ses jaar nadat hy bekend geword het, is roem ’n wrang smaak in sy mond. Aanvanklik was al die aandag opwindend, maar hy het vinnig geleer die pers bou jou op sodat hulle jou met mening van jou voetstuk kan afmoker. Dit maak nie saak hoe hulle dit doen en of hulle feite reg is nie, hulle spekuleer oor enigiets van die kleur van sy hare tot die huis wat hy gekoop het.

Kopskuddend sluit hy sy kamerdeur oop. Hy knip sy oë, maar hy hallusineer nie. Sonder ’n draad klere aan sit die blondekop wat vanaand voor by sy show gestaan het op sy bed.
“Hoe het jy hier ingekom?” vra hy bars. Sy spring van die bed af en kom heupswaaiend nadergestap. “Ek ken die regte mense,” glimlag sy.

“Wat soek jy hier?”

“Jy’t met my geflirt,” pruil sy. “Ek het die boodskap gekry. Kom, ek wag al lank vir jou.” Sy steek haar arms na hom toe uit, maar hy vlieg om en storm by die kamer uit. Hy bel vir Charles. Minute later stap hy saam met die hotel se sekuriteitsbeamptes terug na sy kamer toe. Hulle stap voor hom in. Die vroumens het ten minste intussen klere aangetrek.

“Kom, Juffrou,” sê die een en vat haar arm.
Sy ruk los en kyk Zander beskuldigend aan. “Jy’t my kamer toe genooi, hoekom is jy nou snaaks met my? Daar is iets tussen ons, ek verstaan nie hoekom jy daarteen baklei nie. Jy flirt die hele aand al met my!”

“Ek het nie eens met jou gepraat nie,” sê hy vies.

“Jy hét met my geflirt!” roep sy oor haar skouer terwyl die sekuriteitsbeamptes haar by die deur uitsleep. “Ek sal jou kry, hoor jy my? Niemand behandel my so nie. Wie dink jy is jy?”
Hy druk die kamerdeur agter hulle toe en sluit die deur.

Haar stemtoon klim ’n hele paar oktawe, maar hy strompel weg en maak die kamervensters oop. Haar swaar, klewerige parfuum se geur hang nog in die lug. Wat is dit met vroumense? Magtig, vroeër vanjaar het een selfs beweer sy verwag sy baba! Walging maak hom naar. Hy voel vuil. ’n Stort. Dis wat hy nou nodig het.